Sosialemedia-gebruik en kinders: the good, the bad and the ugly

  • 0

'n Paar weke gelede was 'n laerskoolmeisie se gedrag op die sosiale media in die nuus. En elke dag spandeer miljoene Suid-Afrikaanse internetgebruikers van alle ouderdomme ure lank aanlyn

Hugo Theron is ’n kliniese sielkundige wat ’n spesifieke belangstelling in kinders en tieners het, en wat sy PhD-navorsing gedoen het oor die gebruik van sosiale media en die impak daarvan op tieners.

Hy gesels hier onder met Naomi Meyer nie net oor gevare op die internet nie, maar ook oor ouer-kind-verhoudings in die algemeen, en oor die impak van die sosiale media op slaap, op menslike warmte en empatie. En hy gesels ook oor nuwe ontdekkings op die wêreldwye web, 'n ruimte wat niemand kan ignoreer nie. 

Hugo, so 'n paar weke gelede het die gevare van jong tieners en hul bedrywighede op die sosiale media (weer) in die nuus opgeduik. Is “gevare” ooit die regte woord? 

Ek dink “gevare” ís een van die woorde wat korrek is om te gebruik, want daar ís gevare – soos die afgelope tyd se nuus wel weer op ’n nugtere wyse uitgewys het. Maar sosialemedia-gebruik deur tieners kan ook wonderlik wees, opbouend, stimulerend, ’n uitdaging, ’n realiteit … en al hierdie woorde spreek tot ’n sekere aspek van die wisselwerking tussen sosiale media en tieners.

“Gevare” is wel, ongeag die presiese woordkeuse, die eerste woord wat by ouers opkom. Hoe anders? Ons almal voel oorbeskermend en oorbesitlik en beangs as dit by ons kinders kom. Laat ek daarby begin: Is dit goeie emosies om te ervaar as dit by kinders kom (emosies van die ouers, voogde, beskermers)? Of, anders gestel: Is dit ‘n positiewe vertrekpunt vanwaar ‘n gesprek met mens se kind oor die internet kan plaasvind? Hoe benader mens gesprekke met kinders oor die internet? 

Vir my is die belangrikste van hierdie vraag, dat wat ook al die katalisator is vir die gesprek(ke), dit fundamenteel belangrik is vir ouers/voogde om betrokke te raak met sosiale media en om met hulle kinders daaroor te gesels – en nie net itv dit wat gevaarlik of negatief is nie – ook dit wat lekker is, snaaks, mooi – om te mentor, om nuuskierig te wees saam met jou kind en nuuskierig te wees oor jou kind se sosiale media. Kinders en tieners reageer meestal positief as daar met hulle gesels word, eerder as wat daar vir hulle “gepreek” word.

Ek het reeds begin praat oor reg en verkeerd, maar is dit ‘n goeie benadering? Tog soek ons seker almal duidelike riglyne. Ons wil weet hoe ons kinders kan weghou en begrens en ruimtes omlyn waar hulle nie te doen gaan kry met iets of iemand wat hulle skade gaan aandoen nie. Hoe kan mens dit op die internet regkry?

Riglyne en grense is belangrik vir kinders. Dit was nog altyd deel van ouerskap – ’n kind moet weet wat van hom of haar verwag word, en wat nie aanvaarbaar is nie. En hierdie beginsel van ouerskap kan voortgesit word wanneer daar gedink en gepraat word oor sosialemedia-gebruik. Dit kan byvoorbeeld dinge insluit soos wanneer en waar tegnologie gebruik mag word in julle huisgesin, vir hoe lank, watter sosialemedia-platforms gebruik mag word, watter inligting wenslik is om te deel en watter nie. ’n Goue reël is om vir jou kinders te leer dat hulle niks moet doen of skryf of stuur wat hulle nie gemaklik mee sal voel om in die “werklike” wêreld (vs die wêreld van die internet) vir ’n persoon te wys, of te sê, as daardie persoon in dieselfde kamer as hulle sou wees nie.

Gesels met my oor ouerskap in die gewone, alledaagse wêreld – ouerskap sonder skerms en aan tafel, byvoorbeeld. Verskil dit van ouerskap waar die internet ter sprake is?

Ek het reeds in van die vorige antwoorde aangedui dat ouerskapsbeginsels wat die toets van die tyd deurstaan het – grense, gesprek, mentorskap, ouers wat ingeligte besluite kan neem – ook absoluut van toepassing kan wees wanneer dit kom by die moderne era van sosiale media en tieners. Ouers wou nog altyd weet waarheen ’n kind gaan as hulle uitgaan; daar sou ’n inkomtyd wees en ’n sekere verwagting van watter gedrag aanvaarbaar sou wees vir die ouers. Dit is net so geldend op die internet – sekere webbladsye is aanvaarbaar, sekeres nie; sekere vriende of kontakte is aanvaarbaar, sekeres nie … Die belangrike verskil is dat as ’n mens nie as ouer in gesprek is met jou tieners oor sosiale media en tegnologie nie, jy onder die wanindruk kan verkeer dat alles 100 persent is, want hulle sit in hulle kamer onder jou dak, maar nie bewus is van waar hulle op watter wyse op die internet “rondkuier” nie.

Wat dink jy is die grootste bates van die internet (gefokus op kinders en tieners)?

Dit help met die versterking van reeds gevormde verhoudings en vriendskappe, wat weer verder ’n gevoel van sosiale ondersteuning kan uitbou en interpersoonlike konneksie kan verstewig en bestendig. Dit bied oneindige opsies mbt inligting en verkenning van die wonderlike wêreld waarin ons leef, wat weer positiewe implikasies vir akademiese bedrywighede inhou. Dit kan met matige gebruik ’n kind se selfvertroue verbeter tydens adolessensie. Die opsies vir kreatiwiteit is legio. En natuurlik is dit vir die tiener met spesifieke leer- en siekte-uitdagings ’n wonderlike hulpmiddel om ’n so normaal as moontlike lewe te leef.

Wat dink jy is die mees negatiewe aspekte met betrekking tot die internet en menswees – hetsy grootmens of kind?

Die mees negatiewe feite wat uit navorsing uitkristalliseer, is: die impak op slaap (beide kwaliteit en kwantiteit) vir tieners – wat dan weer ’n verdere negatiewe gevolg het vir gemoed, emosionele regulering, konsentrasie en geheue; die impak op algemene gesondheid as gevolg van ’n baie minder aktiewe leefstyl; die impak op ’n ontwikkelende kind se siening van hom- of haarself (agv ’n oordrewe fokus op wat ander van my gaan dink, of ek inpas, of ek die regte goed doen of sê); te min tyd vir “verveeld” wees of tegnologievrye tyd – wat beide nodig is vir dieper breinfunksies, wat weer verbind word met oorspronklike kreatiewe denke en aspekte van empatie.

Ek praat nog heeltyd van “die internet”, maar dit verwys na al die omgewings waar “connectedness” ter sprake is: WhatsApp, YouTube, Facebook, Instagram – die lys kan baie lank word. Wat toon jou navorsing omtrent enige van hierdie ruimtes – waar is die beste plekke vir kinders om rond te snuffel? Waar maak kinders veilige ontdekkings? Is ontdekkings óóit “veilig”? Soms is dit immers goed as ‘n ontdekking ‘n grens verskuif en nie sodanig veilig is nie, of hoe?

Sjoe, dit is ’n belangrike vraag hierdie – maar die werklikheid is dat ’n sosialemedia-ruimte soos Facebook of WhatsApp of Instagram nie inherent goed of sleg is nie – ons moet ons kinders aan die begin vergesel, later monitor, dan mentor en uiteindelik met belangstelling en omgee af en toe “incheck” en gesels oor hulle doen en late op hierdie ruimtes. Daar is natuurlik vir jong kinders definitiewe kindervriendelike ruimtes, en ruimtes wat selfs vir volwassenes onwenslik is.

En hoe gemaak met boeliegedrag op die internet? Wanneer is gedrag boeliegedrag?

Die hele onderwerp van “cyberbullying” (kuberafknouery) is uiters relevant en belangrik. Wanneer ’n kind verbaal of met foto’s of videomateriaal geteister of afgekraak word, beskou ’n mens dit as boeliegedrag – en dit is ernstig en verkeerd en vereis onmiddellike optrede deur ’n ouer, onderwyser of volwassene. Gevaartekens sal dinge wees soos dat jou kind se gemoed skielik wesenlik verander het; hy of sy skielik verander nadat hulle sosiale media gebruik het; nie meer skool toe wil gaan of een of ander gereelde aktiwiteit wil bywoon nie; nie meer met (byvoorbeeld) hulle selfoon omgaan soos altyd nie.

Ons weet dat die internet ‘n belangrike rol speel in bemarking – niemand kan dit ontken nie. Wat is die impak hiervan op ‘n skaam, teruggetrokke kind se psige – iemand wat haar nie graag op byvoorbeeld YouTube wil bemark nie maar sien haar klasmaats dit doen? Ek vra dalk vir jou: hoe verskil die wêreld waarbinne ons en ons kinders vandag leef van die wêreld van dekades gelede, met daardie dekades se uitdagings?

Nuwe mediavorme bring altyd nuwe uitdagings mee – dit was nog altyd waar van die mensdom. Wat belangrik is, is dat ons ons kinders leer hoe om ’n gesonde selfbeeld (en die klem is hier op “gesonde” – eg, nie oordrewe nie) te ontwikkel, die sosiale en tegniese aspekte van sosiale media te bemeester, en nog steeds hulleself te wees, in ’n wêreld waarin die kamera omtrent altyd deesdae jok. Die klem is dus weer eens op “mentor” soos wat en terwyl hulle grootword in ons huise én op die internet.

Wat is die voor- en nadele van meer en meer tegnologie: e-leer, e-boeke, sulke dinge?

Ons wêreld het onherkenbaar verander die afgelope tien jaar. Die wyses waarop ons leef, werk en ontspan het wesenlik verander, en alle aanduidings is daar dat hierdie veranderinge net gaan vermeerder en versnel. Dit is ook waar van die wêreld waarin kinders grootword, tieners word – van die wyse waarop hulle vermaak word, tot hoe hulle met hulle maats kommunikeer en leer. Die voor- en nadele is duidelik: ’n mens kan meer doen, vir langer tye (bv laatnag met ’n vriend kommunikeer in jou bed op ’n skoolaand … iets wat nie vir ons en ons ouers se generasie beskore was nie), goeie inligting bekom vir ’n skooltaak sonder om deur dik stowwerige boeke in die naslaanafdeling van die biblioteek te worstel. ’n Mens kan op datum bly met ander se doen en late. Jy kan video’s maak, die weer voorspel, nooit weer verdwaal nie, die presiese boek bestel wat jy wil hê –  alles sonder om van jou rusbank af op te staan. ’n Mens is egter bekommerd oor die tyd wat kinders en tieners voor skerms deurbring – te lank – en wat ’n voordeel was, verander en word nadelig. Ons breine het tyd weg van skerms nodig – dit is belangrik vir ons breinfunksionering; dit is belangrik vir ons gesondheid; en hier relevant: dit is belangrik vir die ontwikkelende kind en tiener.

Die sosiale media is ‘n werklikheid waarmee die meeste ouers van kinders vandag nie grootgeword het nie. Dis onbekende terrein, dit maak ons bang. Wat maak mens as ouer met daardie emosies?

Die belangrikste taak wat ons as ouers het, is om ons kinders en tieners te leer, te ondersteun en te mentor – nie een van hierdie kan ons doen, wanneer dit by sosiale media kom, as ons nie bereid is om onsself bloot te stel aan sosiale media en met ’n oop gemoed daarvan en daaroor te leer nie.

Glo jy in benaderings soos kort tyd op die internet; verbied sekere ruimtes; kontroleer en hou dop waar jou kinders aanlyn besoeke aflê; wees Facebook-vriende met jou kinders en kyk wat hulle doen? Of hoe is mens ‘n betrokke ouer wat omgee en seker maak jou kind is veilig, sonder om hulle af te skrik en te laat toeklap?

Ek het vroeër genoem dat ’n mens ’n reis met jou kind tov hiervan onderneem. Aan die begin is my gevoel dat ’n ’n mens grense sal stel as hulle jonk is, dan vergesel jy hulle; later kontroleer mens, nóg later stel ’n mens belang en gesels en bespreek (terwyl jy die tiener se privaatheid respekteer). Net ’n gedagte of nota hier oor respek vir privaatheid: dit is belangrik, maar nie ’n absolute reg nie – net soos ’n mens uit die aard van die saak sal ondersoek instel as jy daggawalms onder jou tiener se slaapkamerdeur sien uitborrel al is sy deur toe, net so sal ’n mens mag en moet ondersoek instel as daar spesifieke dinge is wat jou pla tov hulle foon of rekenaar.

Hier is ‘n kristalbal. Vertel my wat die toekoms inhou. As jy nie kan nie, vertel my wat vandag aan die gebeur is – wat die impak van die internet op menseverhoudinge is van mense met wie jy te doen kry, positief of negatief.

In die toekoms sal al hoe meer dinge (van yskaste tot motors) aan die internet verbind wees. So ook mense. Rekenaars en sagteware wat “dink” is en wat leer uit jou bewegings, kommunikasie en voorkeure of andersins sal ’n wêreld vir jou skep wat al hoe meer spesifiek vir jou “ontwerp” is – van nuus tot roetevoorkeure, van leesboeke tot moontlike vriendkonneksies. Om koers te hou in so ’n wêreld, terwyl ’n mens jouself probeer leer ken, sal uitdagend wees vir tieners – hulle gaan ons meer nodig hê as ooit.

Dink jy die internet het ‘n impak op mense se alledaagse omgaan met mekaar? As jy op Facebook iets van iemand lees, hoe beïnvloed dit jou verhouding met daardie persoon as jy volgende keer met hom of haar praat? En kinders? Hoe lees en hanteer hulle sulke situasies?

Navorsing wys duidelik dat ons kinders se generasie nie ‘n onderskeid maak tussen ondervindinge of inligting wat oorgedra word op sosiale media en dié van die “werklike”  wêreld nie – inligting of ervaringe met of oor of rondom ’n ander persoon of onderwerp of gebeurtenis word dus as ’n geïntegreerde geheel ervaar deur ons kinders se generasie. As dit in ag geneem word, sal ’n moontlike antwoord op hierdie vraag dan wees dat omdat daar soveel meer inligting beskikbaar is oor ander mense, ons kinders (en tot ’n mindere, maar tog belangrike mate, ons self), dit sal insluit hulle bewustheid van iemand of iets, en dus daarop sal reageer. Hóé hulle daarop reageer, hang natuurlik af van die individuele kind, sy of haar ouderdom, die verhouding wat hulle met hulle ouers of voogde het, die inligting of situasie self.

Wat van emosies soos empatie en die internet?

Ons het nodig om ook tyd weg van ons geliefde tegnologie te leef – dit is belangrik vir hoe ons ander mense ervaar, dit is belangrik vir ons dieper breinfunksies. Empatie is ’n uiters belangrike produk van laasgenoemde dieper breinfunksies. Dit is dus nie verrassend dat te veel tyd voor ’n bloulugskerm (tipies van moderne selfone, tablette en rekenaars) empatie by mense affekteer nie.

Wanneer dink jy is ‘n kind oud genoeg om sonder toesig die internet te verken?

Daar is nie vaste reëls oor op watter ouderdom ’n mens wát kan of mag of behoort te doen op sosiale media nie (bedoelende wettige dinge). Wat te jonk is vir een kind, is weer te laat vir ’n ander – hier is dit weer ’n waarheid dat elke ouer sy eie kind die beste ken, en dat as ’n mens bereid is om ’n reis met hulle te reis, veral ook wat sosiale media betref, ’n mens sal weet met waarmee jy jou kind kan vertrou op watter tydstip van daardie reis na volwassenheid.

Wat is die beste raad wat jy vir ‘n ouer kan gee ten opsigte van kinders, tieners en die sosiale media?

Beste raad: alles is makliker, en meer effektief, met ’n verhouding tussen jou en jou kind/tiener – werk dus kliphard aan jou verhouding met jou tiener of jonger kind.

  • Foto's: Pixabay
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top