Tieners vol angs, al wedywer hulle vir sterretjies

  • 2

Danie Kloppers - onderwyser en LitNet Akademies-navorser (Foto: verskaf)

Danie Kloppers is ’n wiskunde-onderwyser en akademiese navorser wat vanjaar twee artikels in LitNet Akademies gepubliseer het oor tieners se belewing van die grendelstaat as gevolg van die COVID-19-pandemie. Melt Myburgh het hom uitgevra oor sy jongste artikel, “‘We are not just stats and facts!’ Tienermeisies se stemme tydens die grendelstaat”. Dié artikel volg op “‘Eish – this lockdown!’ Navorsing oor tieners se belewenisse tydens die grendelstaat” wat vroeër vanjaar in LitNet se akademiese joernaal gepubliseer is.

In jou navorsingsartikel ondersoek jy tienermeisies se emosies en menings gedurende die grendelstaat. Hoekom het jy besluit om spesifiek op dogters te fokus?

Tienermeisies is nie net getalsgewys ’n belangrike deel van die samelewing nie, hulle is ook die meningsvormers van die toekoms. Tog wil dit voorkom asof hulle meestal deur besluitnemers geïgnoreer word. Met hierdie navorsing wou ek dit wat húlle voel en dink, uitlig. Want die samelewing moet hulle hóór. Nasionale Vrouedag op 9 Augustus en Desember se 16-dae-teengeweldveldtog beteken niks as ons nie na tienermeisies – die jong vroue – luister nie.

Volwassenes huldig in die algemeen die siening dat tieners en adolessente ’n warboel van emosies oor allerlei dinge ervaar. Dikwels onderskat ons die intensiteit waarmee jongmense dinge soos die politieke situasie en die COVID-19-pandemie beleef. Iets soos Suid-Afrika se ekonomiese, politieke en maatskaplike werklikheid veroorsaak inderdaad angs en spanning onder jongmense, al is dit ons wens dat hulle nie oor “grootmenssake” moet stres nie. Is ouers en onderwysers genoegsaam bewus van die vrese wat tieners laat wakker lê?

Nee, ons is nie. Die redes daarvoor is legio, maar ek kan vinnig aan drie dink:

Ons probeer dikwels so hard self oorleef dat daar nie tyd is om aan en oor ons tieners se probleme te dink nie.

Ons verstaan nie altyd hulle wêreld nie. Tieners sien alles deur ’n vergrootglas: verliefdheid is LIEFDE; een klein puisie is ’n RAMP; ’n dag sonder data is ’n LEEFTYD. En omdat ons nie hulle wêreld verstaan nie, verstaan ons ook nie hulle angs en spanning nie.

Ons vergeet: Hulle kán lees, sien en hoor. Hulle weet wat aangaan, hulle voel aan wat aangaan, maar hulle is te bang om met ons daaroor te praat. En omdat hulle niks aan ons stres kan doen nie, hou hulle ’n front voor en probeer drieuur soggens die drake doodmaak.

In hoe ’n mate is ouers en onderwysers daadwerklik toegerus om tieners met hul bekommernisse by te staan? Waarvoor behoort ’n mens op die uitkyk te wees om die beste moontlike ondersteuning aan ons jongmense te bied?

Ons almal probeer, maar tieners herinner jou heeltyd daaraan dat vlees en bloed nie alwetend is nie en dat daar nie handleidings saam met hulle uitgereik word nie.

Waarvoor om op die uitkyk te wees? Ek dink ouers is bewus van tekens soos gedragsverandering, eetversteurings, buitengewone buierigheid (baie tieners is in elk geval donderbuie wat wag om te gebeur), sosialemediaplasings en stilstuipe. Onderwysers sien dit ook in nuwe, ongewone gedrag, prentjies in die kantlyn van skrifte en – as die tieners jou vertrou – ’n briefie wat in die verbyloop op jou tafel of in jou sak gelos word.

Maar die belangrikste is seker “kropgevoel”. As iets oor ’n tiener verkeerd voel, ís daar waarskynlik fout. Moet dit nie ignoreer nie.

Juis omdat tieners “donderbuie is wat wag om te gebeur”, word hulle maklik geïrriteer deur grootmense se inmengery in hul welstand. Hoe moet ouers en onderwysers tieners benader wanneer hulle agterkom dat iets pla?

Klop by ’n professionele berader of sielkundige aan. As daar iets fout is met jou motor, gaan jy maklik na ’n werktuigkundige toe. Waarom is ons dan bang om die “mind mechanics” se hulp te vra? En terloops, selfs al is jy die beste berader, gaan jou tiener nie na jou luister nie, want ouers weet mos niks!

Danie Kloppers in die klaskamer by Koster Intermediêre Skool (Foto: verskaf)

Suid-Afrikaanse tieners is in die besonder uitgelewer aan spanning – juis vanweë ekonomiese ongelykhede, armoede, bedenklike onderwys en so meer. Dink jy ons tieners is erger daaraan toe as in die res van die wêreld?

Nee, ek dink tieners is internasionale wesens. Tog kan ons tieners wel, te midde van alles, bly wees hulle is nie midde-in oorloë, godsdienstige geweld of in ’n samelewing waar meisies minder as slagvee gereken word nie.

Jou artikel belig die kwessies van “verveeldheid, alleenheid en inkluistering” as bron van spanning by tieners tydens die grendelstaat. Hoekom is dit so belangrik dat jongmense binne ’n gerigte, ondersteunende raamwerk besig moet bly?

Daar word nie verniet gesê ledigheid is die duiwel se oorkussing nie. Tieners is, in hulle aard, altyd besig om iets te doen of aan iets te dink. As hulle nie positief besig bly nie, sal die duiwel hulle vinnig oortuig van alles wat verkeerd is of lyk. Dieselfde geld alleenheid en inkluistering: Tieners is kuddediere – neem die kudde weg en die tiener is uitgelewer aan emosies soos verwerping, uitsluiting en swaarmoedigheid.

Wat is die grootste oorsaak van depressie onder tieners?

Dit is ’n vraag vir die “mind mechanics”, maar ek dink ’n gebrek aan selfaanvaarding. En die rotresies, waar daar nie plek vir sissies is nie.

Dit is vir my interessant dat jou artikel die volgende kwessies as bron van vrees vir tieners uitlig: die koronavirus self, die ekonomiese gevolge van die grendelstaat, en geslagsgeweld. Laasgenoemde twee kwessies klink na ’n aanklag teen volwasse Suid-Afrikaners omdat ons toelaat dat jongmense aan dié dinge blootgestel word. Hoe sien jy Suid-Afrikaanse volwassenes as ouers en hoeders? Dop ons die toets?

Ons meisiekinders is nie net “statistiek en feite” nie, maar kyk na die statistiek en feite: Kinders word elke dag verwaarloos, verniel, verkrag en vermoor. Oral, ongeag hulle adres. Ek is bevrees ons rapport lyk nie baie goed nie. Maar gelukkig, soos wyle Jeanne Goosen gesê het: “Ons is nie álmal so nie.”

Een van die verrassende bevindinge wat tydens jou ondersoek na vore kom, is dat tienermeisies ’n negatiewe mening het oor die gebruik van aanlyn en afstandsonderrig, en dat tienermeisies hier – ook in die VSA en Australië – eintlik onderwysers binne die klaskamers verkies. Hoekom is dit so?

Afstandonderrig vereis toerusting (rekenaars en selfone), deurlopende, bekostigbare data en betroubare datanetwerke. Die grootste deel van die wêreld se tieners het nie toegang hiertoe nie. Maar ek dink die belangrikste is dat die meeste tieners menslike onderwysers verkies omdat ons, soos hulle, emosies het en foute maak. Ek dink nie dis al moontlik om ’n blikbrein te oortuig om jou nog ’n kans met die opstel te gee omdat jou kêrel jou gelos het nie. En buitendien, ’n afstandonnie kan nie sterretjies in jou boek plak nie. Ek het nooit geweet tienerseuns hou nog van sterretjies nie, maar my graad 9’s wedywer daarvoor!

Wat is jou raad vir ouers en onderwysers in hierdie onstuimige jaar met soveel onderbrekings in die onderwys?

Byt vas, ons sal hierdeur kom. En gelukkig kan die gewysigde leerplanne, aangepaste gewysigde leerplanne en herbelynde, aangepaste, gewysigde leerplanne nie vir altyd verander nie. Daar is bloot nie genoeg byvoeglike naamwoorde om dit te benoem nie!

Danie, jy is wiskunde-onderwyser by Koster Intermediêre Skool. Ek haal my hoed vir jou af omdat jy jou, te midde van die harde werk in die onderwys, besig hou met akademiese navorsing. Vertel asseblief hoe jy op Koster beland het. Hoe maak jy tyd vir die onderwys én akademiese navorsing in jou besige skedule?

Ek het hier grootgeword, en ons hou van die rustigheid.

Die grendelstaat het darem ’n bietjie ekstra tyd gegee tot die begin van Junie, toe ons weer vir die graad 7’s terug hok toe is. En met ’n graad 1-juffrou, student en matrikulant in die huis is dit moeilik om nié iets nuttigs te doen nie. Dit help natuurlik ook dat daar nie ’n TV in die huis is nie en ons netwerkopvangs te swak is om video’s af te laai.

 

Lees Danie Kloppers se LitNet Akademies-artikels oor tieners en die grendelstaat hier:

“We are not just stats and facts!” Tienerdogters se stemme tydens die grendelstaat

"Eish – this lockdown!" Navorsing oor tieners se belewenisse tydens die grendelstaat

Lees ook kenners se gedagtes rondom Danie se LitNet Akademies-artikel:

Tieners se stryd met die "nuwe normaal" in ’n grendelstaat

 

  • 2

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Sjoe, nog ʼn regsgeleerde wat die toga (in Thabazimbi) afgewerp het vir ʼn klaskamer in Koster. ʼn Kwessie van kies tussen beurs en die gewete ‒ hekwagter wees teen ʼn hongerloon. Ek geniet nog altyd jou menings, Danie.

  • Marinda Hattingh

    Wat ’n voorreg om hierdie ewige student en akademikus persoonlik te ken en sy stimulerende geselskap te geniet. Sy hele gesin is beslis ’n aanwins in Koster.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top