Estelle Kruger, LitNet Akademies se Opvoedkunde-redakteur, fasiliteer ’n gesprek oor Danie Kloppers se navorsingsartikel “Eish – this lockdown!” Tieners in die grendelstaat – ʼn intydse studie” wat op 25 Junie 2020 verskyn het. Danie se gespreksgenote is Bernie Plaatjies en Henry Fillies.

LitNet Akademies-gespreksgenote: Henry Fillies, Danie Kloppers en Bernie Plaatjies (Foto’s verskaf)
Welkom, Danie, Bernie en Henry. Julle elkeen het navorsing gedoen oor veerkragtigheid – vertel asseblief vir ons kortliks wat die kern van julle elkeen se artikels was.
Danie: Die wyse waarop mense – en tieners in die besonder – rampe belewe en die menings en emosies van ʼn groep tieners oor die grendelstaat en hoe hulle dit hanteer.
Bernie: My navorsing het gehandel oor ’n inwoner in ’n histories benadeelde gemeenskap wat te midde van die blootstelling aan uiterste armoede besondere veerkragtigheidseienskappe getoon het om ’n streekslanddros te word.
Henry: Die kern van my artikels1 was dat daar ʼn blinde kol in die huidige akademiese geleerdheid is wat bydra tot die voortbestaan van wanopvattings oor hoe leerders by opvoedkundige prosesse betrokke raak. Dit het getoon hoe leerders hul menslike agentskap aanwend ten opsigte van die wyse waarop hulle leer en wat hulle kies om te leer. Binne die artikels poog ek om die fokus te plaas op die hulpbronne in die woonbuurt waartoe hulle hulself in hul geleefde omstandighede wend ten einde produktief by hul leer betrokke te raak. Met ander woorde, ek bespreek die interaksies van hierdie leerders met alledaagse netwerke, hulpbronne en ander diskursiewe materiaal waartoe hulle hulself wend om produktief te leer, insluitend hul veerkragtigheidsstrategieë. My argument is dus dat die wyse waarop hierdie leerders hul sosiale ruimtes bewoon en interaksie daarin het, bepaal word deur die spesifieke netwerke, bewegings en praktyke wat hulle in hierdie ruimtes mobiliseer, en dit beïnvloed die manier waarop hulle hul leerpraktyke konstrueer.
Wat was julle elkeen se ervaring in die onderwys?
Danie: ʼn Papieroorlog met meer werk as wat buitestanders dink. ʼn Gesegde lui: “Soms is die bloedjies so oulik jy kan hulle opvreet en soms so onmoontlik jy wens jy hét hulle opgevreet.” Dit som ons beroep mooi op.
Bernie: Ek was vir ongeveer 22 jaar ’n onderwyser aan ’n Wes-Kaapse plattelandse skool. Die skool ervaar, soos ander in lae-inkomste-woongebiede, ontsaglike kontekstuele uitdagings vanweë die sosiale probleme in die gemeenskap. Kinders kom uit lae-inkomste-gesinne, en dit veroorsaak talryke uitdagings, waaronder ’n gebrek aan intelletuele stimulasie, hulpverlening met skoolwerk en genoegsame blootstelling aan leesstof. Vanweë die sosiale uitdagings is veral dissipline in die klaskamer ’n groot kopseer, en bemoeilik dit goeie onderrig. My ervaring is dat onderwys by baie van hierdie skole nie werklik daarin slaag om die kontekstuele uitdagings die hoof te bied nie. In dié verband word daar in navorsing soms verwys na die dubbele duo, bedoelende dat kinders vanuit ekonomies uitdagende omstandighede gekonfronteer word met beide ’n ontoereikende tuisopset en ’n ontoereikende skoolopset. Die tekort aan geld by sodanige skole maak dit moeilik om mense in SBL-poste aan te stel, asook om genoegsame geleenthede vir sport- en kulturele aktiwiteite te verseker. Prestasie in wiskunde en geletterdheid is op uitsonderings na oorwegend swak. Sterk leierskap ontbreek dikwels en hoofde moet baie aandag aan swak dissipline spandeer, asook die pastorale rol wat hulle moet speel. Onderrigleierskap word afgeskeep, en skoolbestuurspanne behoort beter opleiding in kurrikulum-/onderrig-leierskap te ontvang, veral omdat onderrig en leer die kern vorm van wat by skole moet gebeur. ’n Groter fokus is ook nodig om die kontekstuele uitdagings by sulke skole te pak en gepaste tussenkomsprogramme te ontwikkel.
Henry: Onderwys is ʼn veeleisende beroep. Die skool waar ek my bevind, word gevorm deur die leerders se blootstelling aan aantreklike jeugsubkulture en die gebrek aan opvoedkundige ondersteuningstrukture, sport- en ontspanningsfasiliteite. Dikwels word ek ook gekonfronteer met die hantering van leerders se welsyns-/welstandsprobleme wat spruit uit hulle minderbevoorregte sosio-ekonomiese omstandighede of ontwrigte familiestrukture. Verder word ek gekonfronteer met die vreesaanjaende taak om vernuwend te wees en stelselverandering teen hierdie agtergrond te implementeer. Die huidige hoë vlakke van werkloosheid en negatiewe persepsies van toekomstige indiensnemingsvooruitsigte veroorsaak ook dat leerders die waarde van skoolbywoning vernalatig. Hulle bring hierdie oriëntasies na die klaskamers, waar hul gebrek aan motivering ontwrigtende gedrag tot gevolg het en negatief op leer inwerk.
Danie, wat is die agtergrond van die studie – met ander woorde:
Watter omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer?
Die grendelstaat op die plaas, my eie tiener se frustrasies, en WhatsApp-boodskappe van ander tieners daaroor.
Hoe het jy bewus geword van tieners in die grendelstaat en die implikasies daarvan in die onderwys?
Aanvanklik omdat ek moes probeer klasgee, wiskunde verduidelik en tieners moed inpraat met net ʼn selfoon en WhatsApp-gesprekke. Daaruit het sessies met dr Google en uiteindelik navorsing voortgespruit.
Wie dink jy is die lesers van die artikel en ons gesprek?
Ek hoop dis die ouers, onderwysers en praktisyns wat met tieners werk.
Wat dink julle is die kern van Danie se artikel en hoe vul dit (moontlik) ’n leemte in die onderwysberoep?
Bernie: Hierdie navorsing fokus op die uitdagings wat ’n groepie Suid-Afrikaanse tieners tydens die inperkings van die COVID-19-periode ervaar. Die artikel fokus op hulle ervarings, vrese, emosies en sienings. Dit beskryf leerders se welstand en die positiewe ervaringe tydens die inperking. Die navorsing bied ’n uitstekende kyk in die leefwêreld van jongmense, en kan daarom bydra tot ’n beter verstaan van tieners se behoeftes. Dit plaas die aandag ook op die uitdagings wat sommige mense ondervind, veral ten opsigte van ’n gebrek aan hulpbronne.
Henry: In hierdie artikel word voorgestel dat die menslike vermoëns ʼn goeie raamwerk is waarbinne die menslike, sosiale en kulturelekapitaalprosesse wat ʼn invloed op die opvoedingsvermoë van jongmense het, oorweeg kan word.
Danie, as jy die skoolhoof in ’n plattelandse skool was:
Hoe sou jy onderwysers se indiensopleiding aangaande e-leer bestuur in die werksituasie tydens die grendelstaat?
Jy vra die verkeerde persoon. Ek hou skool waar e-leer so onbekend soos dataprojektors is. Dis onmoontlik om e-leer te implementeer as die skool en leerders nie oor slimfone, rekenaars en data beskik nie.
Hoe dink jy kan leerders meer ondersteun word sodat hulle moreel om te leer hoog is/bly?
Deurlopende kontak met leerders, wat gespreksgroepe, aantekeninge en persoonlike teksboodskappe beteken. Maar dit word moeiliker – hoe motiveer ʼn mens ʼn graad 9-leerder wat eers in Augustus terug kan kom as sy reeds die eerste twee kwartale se werk gedoen het?
In watter mate dink julle het die artikel die aktualiteit van die COVID-19-onderwerp (asook ander soorte rampe) vernuwend en met kreatiewe perspektief vir die leser ontsluit? Motiveer asseblief.
Bernie: Min navorsing is tot op datum oor hiedie spesifieke, hoogs relevante en aktuele onderwerp gedoen. Die navorsing word geplaas binne die konteks van rampe en die effek daarvan op mense, ekonomieë, ondernemings ens. Met dit in gedagte, ly daar min twyfel oor die aktualiteit van die COVID-19-onderwerp op die menslike ervaring. Binne die domein van rampe is die bespreking gesentreer rondom die gevolge daarvan op aspekte van menswees, soos verhoudings, stres, angs, derpessie, fisieke versteurings en posttraumatiese spanning. Die aantal internasionale rampe wat bestudeer is, en die wyse waarop dit verbind word met die onderwerp ter bespreking, dra daartoe by om die omvang van die probleem te verstaan. Die bespreking oor COVID-19 word sinvol en kreatief hierby aangehaak en bring nuwe perspektiewe vir die leser na vore met betrekking tot menslike ervaringe tydens sulke uitdagende gebeure. Deurdat die skrywer fokus op die probleme wat COVID-19 vir skoolgaande tieners meebring, verbind hy sy bespreking met die onderwys. Die skrywer slaag daarin om die uitdagings wat tieners ondervind, asook hul emosies, vir die leser duidelik te skets.
Henry: Dit bied ʼn vernuwende en kreatiewe perspektief deurdat dit weg doen met statistiese aanwysers met betrekking tot onderwys wat ons nie die hele verhaal vertel van hoe dit met kinders gaan met betrekking tot hul opvoedkundige prosesse nie. Dit ondersoek ook die dinamiese verwantskap tussen leerders se ruimtelike leefdinamiek en hoe hulle daarin hul weg baan te midde van moeilike omstandighede ten einde gestalte te gee aan hul opvoedkundige prosesse.
Danie, jou navorsing handel oor plattelandse tieners in Noordwes, wat ’n spesifieke plaaslike gemeenskap is. Dink jy dit is aanduidend van die menslike dinamika tydens die pandemie op provinsiale en nasionale vlak in Suid-Afrika? Verduidelik asseblief.
Ja, dit was trouens ʼn openbaring om deelnemers se menings met ander navorsing te vergelyk. Tieners bly tieners – of hulle in ʼn krot of kasteel bly.
Die infasering van e-leer sedert die begin van die grendeltyd het tot verskillende opvoedkundige probleme gelei. Dink julle dat opvoeders nou (na ongeveer drie maande) geleer het om hierdie uitdaging die hoof te bied? Motiveer asseblief.
Danie: Uit my leefwêreld moet ek “nee” antwoord, omdat onderwysers weens die gebrek aan tegnologie nie in staat was om dit te gebruik nie. Selfs WhatsApp-groepe was net gedeeltelik suksesvol.
Bernie: Hierdie kwessie hang af van die konteks waarbinne e-leer geskied. Dit is algemeen bekend dat kinders uit ekonomies armer gesinne nie die nodige toestelle het en hulp tuis ontvang nie. Ek weet dat skoolhoofde en onderwysers by sulke skole met die hande in die hare sit om die kurrikulum te voltooi. Baie van hulle sê dat hulle eenvoudig maar net moet wag totdat leerders skool toe moet kom. Hierdie skole kan dus nie die uitdagings die hoof bied nie. Daar is gevalle waar die owerhede geen ondersteuning bied nie, en hoofde moet pa staan vir die situasie. Daar is wel onderwysers wat strategieë ingestel het om werk in die leerplan te voltooi. Dit is hoofsaaklik die onderwysers wat by die meer gegoede skole onderwys gee, en wat self meer geïntereseerd is in die benutting van allerlei e-leer-metodes. Sommige onderwysers het ook die noodsaaklikheid daarvan besef om hul eie e-leer-praktyke te verbeter. Toewyding en verantwoordbaarheid speel ook ’n rol, en natuurlik veerkragtigheid. Meer ondersteuning is nodig vir skoolhoofde, onderwysers en leerders in die laer kwintiele.
Henry: Nee. Die gebrek aan hulpbronne in die meerderheid publieke/openbare skole is een van die grootste probleme met ons onderwysstelsel. In my gesprekke met baie onderwysers meld hulle dat hulle kontaktyd in die klaskamer as die hoeksteen van leer beskou en dat kontakonderrigtyd noodsaaklik vir die aanbieding en verduideliking van nuwe inhoud en konsepte is ten einde duidelike instruksies aan die leerders te kan gee omtrent hoe om hul leer tuis te begelei. Baie is ook van mening dat sosiale leer wat in die klaskamer plaasvind, nie deur digitale verbindings vervang kan word nie. Hulle spreek ook dikwels hul misnoeë uit oor die manier waarop die owerhede die implementering van e-leer uitgerol het. Baie van hulle weier om die siening van onderrig te aanvaar wat impliseer dat leerders individueel en persoonlik verantwoordelik is vir hul eie leer tuis en via aanlyn interaksies.
In ’n ideale wêreld ...
(a) Hoe sou julle die kwaliteit van opvoeders se opleiding en toerusting mbt die veerkragtigheid van leerders sien?
(b) Hoe sou dit op plaaslike vlak manifesteer?
(c) Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom?
Danie: (a) Ek dink nie ek het ooit die woord veerkragtigheid of iets wat die beginsel verwoord, tydens my voorgraadse studie of op een van die talle “professional support forums” gehoor nie.
(b) Onderwysers is tans onseker, gefrustreerd en ontnugterd. Begin dus by húlle. Ondersteun húlle veerkragtigheid. Die “positiewe energie” sal weldra na leerders oorspoel.
(c) Ek is bevrees nie die onderwysdepartemente nie, en die meeste skole kan nie nou motiveringsprekers bekostig nie. Dus: Óf leerkragte doen dit self óf dit gaan nie gebeur nie.
Bernie: (a) Formele opleidingsprogramme sowel as professionele ontwikkelings-/ indiensopleidingsprogramme behoort voorsiening daarvoor te maak om opvoeders behoorlik te sensiteer rondom die belangrikheid en waarde van veerkragtigheid. Sulke programme behoort egter konteksresponsief te wees. Veerkragtigheid behoort groter aandag binne die kurrikulum te kry.
(b) In die klaskamer behoort opvoeders die waarde en belangrikheid van veerkragtigheid binne bepaalde vakinhoude, soos lewensvaardighede, in te bou. Motiveringsprekers wat self te midde van moeilike lewensomstandighede uitgestyg het en suksesstories met leerders kan deel, behoort gereeld by skole praatjies te lewer. Aansporingsmaatreëls vir leerders wat uitsonderlik presteer behoort deel te vorm ’n strategie om veerkragtigheid te bevorder.
(c) Skoolhoofde, skoolbestuurspanne, skoolbeheerliggame en onderwysers behoort die leiding te neem om ’n omvattende strategie by skole te implementeer ter bevordering van veerkragtigheid. Die nasionale onderwysdepartement sowel as provinsiale onderwysdepartemente behoort egter ’n leidende rol te speel.
Henry: (a) Opvoeders se opleiding mbt die veerkragtigheid van leerders is ontoereikend.
(b) Die opleiding/ontwikkeling van onderwysers is tans gewortel in die hulpeloosheid wat spruit uit die oënskynlike onmoontlikheid om hul skoolkontekste te verander.
(c) Stabilisering en verbetering van die skoolomgewing, sowel as ’n toename in leerhulpbronne wat deur die staatsonderwysdepartement gelewer word, kan opvoeders help om by hierdie ideaal uit te kom.
Enige pandemie bied eiesoortige uitdagings en stres. Hoekom is opvoedkunde so ’n verreikende probleem?
Danie: Die goeie nuus is dat opvoedkunde die basis van menslike ontwikkeling en uiteindelik van wetenskap is. Die slegte nuus is dat dit wat onderwysers oor die volgende vyf maande gaan doen, ʼn hele geslag se toekoms kan bepaal.
Bernie: Ons het hier te make met ’n katastrofe wat kinders se algehele welstand op die mees ingrypende maniere tans beïnvloed. Kinders het verskeie behoeftes wat bevredig moet word. Hulle mis die sosiale interaksie met vriende en klasmaats. Kulturele en sportaktiwiteite is nodig vir hul fisieke en geestelike welstand, terwyl die aanpassings wat gepaard gaan met die akademie, enorme uitdagings stel. Veral in die moeiliker vakke soos wiskunde mag kinders wat nie akademies sterk genoeg is nie, sukkel. Dit kan lei tot agterstande en herhalings. Die hele kwessie om die kurrikulum binne die oorblywende tydperk te probeer afhandel en te red wat te redde is, kom voor as uiters problematies. Leerinhoude en konsepte in sleutelvakke mag dalk nie behoorlik vasgelê word nie (veral in die laer grade), en dit mag kinders in die daaropvolgende grade nadelig raak. Hierbenewens moet opvoeders groot aanpassings maak ten opsigte van beplanning, onderrigmetodiek en assessering.
Henry: Die maatreëls in skole tydens die COVID-19-pandemie stel baie uitdagings aan onderwysers. Hulle is bekommerd oor wat die haas is om skole te heropen gesien die huidige omstandighede waar dit moeilik is om sanitasie, diep skoonmaak en fisieke distansie te waarborg. Verder is onderwysers ook bekommerd oor die aanlynleerbenadering tot die kurrikulum weens sosio-ekonomiese ongelykhede. Met die vermindering van kontaktyd oorweeg die onderwysers ook maniere om te organiseer hoe tuisonderrig moet plaasvind. ʼn Groot uitdaging is om te verseker dat leerders bedags roetines gebruik om hul skoolwerk te doen. In ’n breë sosiale konteks oor opvoedkundige uitkomste mbt skoling word skole uitgebeeld as instansies wat konstante en aansienlike ingryping benodig.
Danie, waarmee het jy in hierdie navorsingsproses gesukkel? Enige kritiek?
Geduld. Dis redelik steurend om in vlak 5 navorsing te doen as die internet af, of die aflaaispoed 61 grepe per sekonde is. (En by nabaat was dit nogal belangrik om te onthou dat ʼn akademiese artikel nie soos ʼn koerantartikel verloop nie, selfs al is dit ʼn aanlyn publikasie.)
Watter verrassings het jy in hierdie navorsingsprojek gekry?
Die persentasie deelnemers wat hulleself steeds as “bly” of “gelukkig” beskryf het. En die hoë premie wat hulle op onderwys plaas. Soms lyk of dit net volwassenes hulle daaroor bekommer.
Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?
Die grendelstaat, en hoe dit tieners en die onderwys raak, gaan my waarskynlik nog besig hou.
Wat het jy as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van jou bevindinge?
ʼn Mens is nooit te oud om te leer nie – en jou leermeesters se ouderdom is onbelangrik.
Op watter maniere dra hierdie artikel en gesprek by tot ’n groter debat aangaande ubuntu, gemarginaliseerde skole en tieners?
Danie: As net ʼn paar lesers besef dat al ons tieners – maak nie saak waar hulle skoolgaan nie – dieselfde drome het en dat almal van ons se menswees en toekoms werklik ineengevleg is, kan ʼn paar oë (en harte) oopgaan vir die plattelandse skole waar lopende water ʼn luukse is en kinders op ʼn daaglikse begroting van drie rand per kind hulle enigste maaltyd kry.
Bernie: Danie se navorsing toon beslis dat Suid-Afrika een van die mees ongelyke samelewings is. Gemarginaliseerde skole mag voel dat daar baie min of selfs niks gedoen word om hulle te help met die probleme wat hulle tans tydens die pandemie ervaar nie. As sulks, blaas dit die ideaal van ubuntu uit die water. Hierdie artikel het opnuut getoon dat die menings van tieners uiters belangrik is.
Henry: Hierdie artikel van Danie ontketen die debat oor hoe onderwys in skole en opvoedkunde in die breë daar sal uitsien in die post-COVID era.
’n Laaste vragie, Danie, om my nuuskierigheid te bevredig: Hoe gebeur dit dat iemand met so baie kwalifikasies ’n onderwyser op Koster word?
Ek en my vrou dreig heeltyd om weer weg te trek (want hier gaan benewens die skole nie veel aan nie). Maar nou weet jy ook: As die stilte en die rustigheid van die platteland en plaaslewe in jou is, is selfs ’n verkeerslig ’n onnodige rumoer. Die ander voordeel is dat daar (sonder televisie in die huis) soms ’n bietjie tyd is om navorsing te doen. My laaste kwalifikasies en artikels het juis gebeur vandat ons hier is.
1 a. Fillies, H en A Fataar. 2015. Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp. LitNet Akademies, 12(3).
b. Fataar, A en H Fillies. 2016. Die leerpraktykvorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp. LitNet Akademies, 13(2). (Ontvang ’n prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.)
(c) Fillies, H en A Fataar. 2017. Die leerpraktykvorming van plattelandse werkersklasleerders gegrond op hulle fondse van kennis. LitNet Akademies, 14(1).
Lees Danie Kloppers se navorsingsartikel “Eish – this lockdown!” Tieners in die grendelstaat – ʼn intydse studie” hier:
"Eish – this lockdown!" Navorsing oor tieners se belewenisse tydens die grendelstaat