’n Ondersoek na Dennis Boks se veerkragtigheidshoedanighede in die konteks van ’n histories benadeelde gemeenskap

  • 0

’n Ondersoek na Dennis Boks se veerkragtigheidshoedanighede in die konteks van ’n histories benadeelde gemeenskap

Bernadictus Plaatjies, Departement Onderwysbestuur- en leierskap, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 16(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Inwoners van histories benadeelde gemeenskappe toon soms ’n fatalistiese ingesteldheid (’n negatiewe en magtelose gevoel waarvolgens gegewe uitkomste en veral slegte gebeure nie vermy kan word nie). Verswelg deur formidabele armoedeverwante invloede is dit dikwels vir baie van hulle ’n massiewe uitdaging om sukses in die lewe te behaal. Tog is daar voorbeelde van mense wat dit regkry.

Die doel van hierdie ondersoek is om Dennis Boks se veerkragtigheidshoedanighede as ’n rolmodel in ’n histories benadeelde gemeenskap te belig en te waardeer. Ten spyte van vele omgewingsuitdagings binne die opset van ’n histories benadeelde gemeenskap waarmee hy gekonfronteer is, het hy ’n suksesvolle streeklanddros geword. Hierdie studie is in die veerkragtigheidsteorie-raamwerk geanker. Die metodologiese raamwerk is voorsien deur die 5D-siklus van die waarderende-ondersoek- (WO-) paradigma. Die WO-benadering het die lens verskaf om die aandag te verskuif van ’n agterstandmodel (dit wat onaangenaam in histories benadeelde gebiede is) en eerder te fokus op dit wat prysenswaardig en ’n dryfkrag agter die ontwikkeling van nog meer rolmodelle kan wees.

Ondanks sy omgewingsuitdagings, haglike huislike omstandighede, beperkte ondersteuning en geleenthede, het Boks bepaalde hoedanighede geopenbaar wat hom in staat gestel het om nie ’n slagoffer van sy omstandighede te word nie. Sy deursettingsvermoë en wilskrag was merkwaardig. Hiermee saam het hy buitengewone moed, toewyding en taaiheid getoon. Hy het gewys dat dit moontlik is om vanuit moeilike lewensomstandighede en armoede los te breek, nie toe te laat dat omstandighede die toekoms bepaal nie en uiteindelik deur pure vasberadenheid sukses te behaal.

Die waarde van hierdie artikel is oor ’n wye veld versprei. Hoewel dit nie noodwendig spesifieke riglyne vir mense in histories benadeelde gebiede bied om uitdagings te konfronteer nie, kan dit bydra tot beter begrip van wat dit verg om armoede en uitdagende lewensomstandighede te oorkom. Die artikel kan ook opnuut bewuswording onder gesagsfigure in die Departemente van Onderwys en Sosiale Ontwikkeling bevorder oor die stand van die maatskaplike uitdagings wat steeds in histories benadeelde woongebiede teenwoordig is.

Trefwoorde: histories benadeelde gebiede; rolmodel; veerkragtigheid; waarderende ondersoek

 

Abstract

An investigation into the resilience traits of Dennis Boks in the context of a historically disadvantaged community

Residents of historically disadvantaged communities sometimes have a fatalistic attitude (a negative and helpless feeling according to which given outcomes and things/events cannot be avoided). Overwhelmed by formidable poverty-related influences, it is often a massive challenge for them to achieve success in life. A large percentage of South Africans display visual signs of the demoralising effects of this privation (Landsberg, Kruger and Swart 2016:52). Residents are frequently confronted by a lifestyle characterised by a wide array of negative issues in the community. Nel, Nel and Hugo (2016:3) emphasise, in particular, the high rates of unemployment, gang-related activities, drug and alcohol abuse by parents and the high rates of HIV/Aids as well as vandalism, illiterate parents, various home languages and a lack of sufficiently trained teachers in terms of learning support and adequate support services. Poverty also often manifests in the form of high dropout rates, teenage pregnancies, low academic performance and tertiary education (Adhikari 2004:172). Poverty’s consequences are far-reaching in many ways. Acosta, Chandra and Madrigano (2017:ii) indicate that the long-term interpersonal financial challenges that people and communities experience can affect individuals, communities and institutions socially and physically. The consequence of this is often a culture of individual and collective apathy that can further paralyse such communities physically, emotionally and socially. Given these environmental challenges, it is logical that for many it is an uphill battle to work towards upward mobility.

Yet there are examples of people who succeed; people who managed, in the midst of the most challenging life circumstances, to work towards a better life and a successful career. It is clear that these communities are in dire need of stories of hope, stories that inspire which may act as a catalyst to shift people’s mindset towards what is possible to attain great heights regardless of difficult socio-economic circumstances. One way of offering hope, inspiration and future expectations to people in historically disadvantaged contexts is to share success stories of those who, as Moseneke (2016:xx) puts it, were able to jump the fence of poverty and rise above it to make a success of their lives. These stories of success can become the story of many children in similar circumstances. I found one such a person, someone who was determined to rise above his circumstances and worked tirelessly to do so despite terrifying circumstances at home. His name is Dennis Boks. He was born in Vanrhynsdorp and is currently a regional magistrate in Oudtshoorn.

The purpose of this investigation was to highlight and appreciate Dennis Boks’s resilience as a role model in a historically disadvantaged community. Despite the numerous environmental challenges within the historically disadvantaged community with which he was confronted, he managed to become a successful regional magistrate. I investigated his upbringing and how he was confronted by severe environmental challenges in a poverty-stricken neighbourhood. The article sheds light on how Boks refused to accept the status quo, but instead displayed remarkable willpower and unrelenting determination to complete his school career and tertiary studies. He had a dream and he pursued that dream to become a regional magistrate. The article also addresses certain gaps in the literature that are very seldom addressed and written about. This study is anchored in the resilience theory framework. As I have portrayed certain attributes of Boks, theories relating to resilience in this article have provided me with the blueprint to describe Boks’s resilience, focusing, in particular, on issues regarding the ability to adapt amidst trauma, tragedy and threats of significant stress. The work of authoritative scholars in resilience literature was studied and the resilience traits described were put forward as traits necessary to being suitable as a role model in a historically disadvantaged context. The methodological framework is provided by the 5D cycle of the Appreciative Inquiry paradigm. The Appreciative Inquiry approach provided the lens to shift attention from a handicap model (that which is unpleasant in historically disadvantaged communities) to focus, rather, on that which is commendable and can be a driving force behind the development of even more role models. Questions posed in the individual interviews aimed to elicit specific responses about the challenges that Boks was facing. These responses shed light on Boks’s remarkable attributes that he has displayed.

Despite his environmental challenges, home environment, limited support and opportunities, Boks displayed certain qualities that enabled him not to become a victim of his circumstances. His perseverance and willpower were remarkable. Together with this, he had extraordinary courage, dedication and strength. He showed that it is possible to break free from difficult circumstances and poverty and not to allow conditions to determine the future, and, through pure perseverance, ultimately to achieve success. This qualifies him as a noteworthy role model in the context of historically disadvantaged communities.

The value of this article spans a wide field. Although it does not necessarily offer specific guidelines to people in historically disadvantaged areas on how to confront environmental and life challenges, it can contribute to a better understanding of what it takes to overcome poverty and challenging living conditions. The article can also raise awareness among authority figures in the Departments of Education and Social Development concerning the social challenges that are still evident in historically disadvantaged residential areas.

In a scientific way, this article also tries to bring to the fore some other conceptual perspectives regarding an understanding of resilience with the contexts of historically disadvantaged environments. Firstly, it aims to add to the literature of resilience that focuses on the conversation regarding successful role models and what may act as evidence for children of what is possible if you pursue your dreams. The value of this article may also be found in affirming that it is possible for anyone, irrespective of the demanding social background of some children and the challenges associated with it, to aspire to greater heights. Secondly, the article brings some new perspectives on an asset-based approached, as opposed to the deficit-approach.

Keywords: appreciative inquiry; historically disadvantaged areas; resilience; role model

 

1. Inleiding

Die gevolge van strukturele armoede as sosiale krag op inwoners in arm, histories benadeelde gemeenskappe word wyd en diepgaande in die literatuur aangespreek. Gale (2007:11) beweer dat mense in sulke gemeenskappe dikwels aan die ontvangkant is van ontelbare sosiale, ekonomiese en politieke uitdagings. Volgens Adhikari (2004:172) skets navorsing ’n somber prentjie van ’n wrede spiraal van uiters onaangename, uitmergelende en uitsiglose lewensomstandighede wat in sodanige gebiede voorkom. So wys Landsberg, Kruger en Swart (2016:52) asook Nel, Nel en Hugo (2016:3) byvoorbeeld uit dat spesifieke uitdagings in armoedige woonomgewings die volgende kan insluit: swak gesondheid, ondervoeding, ontneming van voorregte, agterstande in onderwys, ongunstige woonomgewings, kommunikasie- en taalagterstande, beperkte sosiale status en negatiewe toekomsverwagtinge. Suid-Afrikaners wat in armoede leef, is kwesbaar, magteloos en geïsoleerd. Chapman en Carbonette (2011:683) het ook vroeër bevind dat armoede kan lei tot kwesbaarheid vanweë diskriminasie, sosiale uitsluiting en stigmatisering.

Die leefstyl van die grootste persentasie arm mense in Suid-Afrika toon opsigtelike tekens van die demoraliserende invloede van hierdie ontberings (Landsberg e.a. 2016:52). Nel e.a. (2016:3) beklemtoon veral die voorkoms van ’n hoë werkloosheidsyfer, bendeverwante aktiwiteite, dwelm- en alkoholmisbruik deur ouers, ’n hoë koers van MIV en Vigs, vandalisme, ongeletterde ouers, baie verskillende huistale, onvoldoende opgeleide onderwysers in terme van leerondersteuning en ’n gebrek aan voldoende ondersteuningsdienste. Armoede manifesteer ook dikwels in die vorm van ’n hoë uitsaksyfer, tienerswangerskappe, en lae vlakke van akademiese prestasie en tersiêre onderrig (Adhikari 2004:172). Die gevolge van armoede is in vele opsigte verreikend. Acosta, Chandra en Madrigano (2017:ii) wys daarop dat die langdurige interpersoonlike en finansiële uitdagings wat mense en gemeenskappe ervaar, individue, gemeenskappe en instansies sosiaal en fisiek kan raak. Die uitvloeisel hiervan blyk dikwels ’n kultuur van individuele sowel as kollektiewe belangeloosheid te wees wat sulke gemeenskappe uiteindelik verder op emosionele, sosiale en fisieke vlak kan verlam.

Een manier om hoop, inspirasie en toekomsverwagtinge aan mense in sulke kontekste te bied, mag wees om die suksesverhale te deel van diegene wat, soos Moseneke (2016:xx) dit stel, oor die hoë, skerp draad van armoede kon spring, kon uitstyg en op eksplisiete wyse ’n sukses van hul lewens kon maak.

Ek het so ’n persoon gevind – iemand wat te midde van die mees vreesaanjaende huislike omstandighede met vasberadenheid gewerk het om bo sy omstandighede uit te styg. Hy is Dennis Boks, gebore in Vanrhynsdorp en tans ’n streeklanddros in Oudtshoorn.

 

2. Motivering vir die navorsing

Behalwe my eie, intense persoonlike belewing – as ’n inwoner, onderwyser, gemeenskapsleier en navorser – van die gevolge van die onaanvaarbare sosiale toestande in histories benadeelde woongebiede op mense se kanse in die lewe, het ook gapings in twee verskillende studies my belangstelling in die tema van rolmodelle in sulke gebiede aangewakker. Eerstens dui Hurd, Zimmerman en Reischl (2011:238) se studies oor rolmodelle aan dat volwassenes ’n positiewe én negatiewe invloed op die jeug mag hê ten opsigte van die bereiking van sukses. Ofskoon hierdie navorsing belangrike data verskaf oor die invloed van ’n rolmodel as sodanig, meen Hurd e.a. (2011:238) dat hierdie studies nie daarin kon slaag om te identifiseer hoe rolmodelle enersyds risiko kon vergroot of andersyds meer positiewe uitkomste kon bevorder nie. Die studie is ook nie daarop gemik om die impak van rolmodelle (positief en/of negatief) op mense in histories benadeelde gemeenskappe te demonstreer nie, maar eerder om bewusmaking en hoop te bevorder van hoe bepaalde hoedanighede te midde van uitdagende lewensomstandighede tot ’n suksesverhaal kan lei. Deur middel van hierdie perspektief sou Boks as rolmodel beskou kon word, wat positiewe uitkomste vir ander kan help bevorder.

Die tweede beweegrede vir my belangstelling in die betrokke onderwerp het daarmee te doen dat dit blyk dat daar in navorsing hoofsaaklik gefokus word op die negatiewe aspekte binne hierdie opset. Clarey (2012:2) beaam hierdie tendens en sê dat navorsing in histories benadeelde kontekste steeds hoofsaaklik fokus op kwessies rakende gedragsprobleme, onderprestasie, kwessies rondom beperkte loopbaanaspirasies, onvoldoende of onbeskikbare rolmodelle en veelvuldige ander onaangename omstandighede wat ervaar word. As gevolg van die hoeveelheid aandag wat aan die negatiewe aspekte gegee word, is daar toenemend ’n behoefte onder navorsers om op positiewe uitkomste te fokus.

In antwoord op die gaping in navorsing betreffende die bevordering van positiewe uitkomste deur rolmodelle, soos aangedui deur Hurd e.a. (2011:238), was die doel van hierdie studie eerstens om deur Boks se verhaal positiewe uitkomste onder inwoners in benadeelde kontekste te bevorder. Positiewe uitkomste mag insluit hoop, ’n geloof in die self en ’n “dit is moontlik”-lewensbeskouing. Tweedens het die artikel ten doel gehad om ’n positiewe situasie – soos deur Clarey (2012:238) se navorsing verduidelik – binne ’n oorwegend negatiewe opset te identifiseer en te beskryf. Boks se uitdagings word gevolglik geïdentifiseer en beskryf en die eienskappe wat hom in staat gestel het om die uitdagings binne die opset te oorkom, word vir die leser belig. Deur hierdie prestasie sou hy dan kon dien as voorbeeld en rolmodel vir ander in soortgelyke omstandighede.

Die waarde van ’n sterk rolmodel is onbetwisbaar en kan as sodanig ’n uiters noodsaaklike bydrae daartoe lewer om ’n ommekeer in die lewensuitkyk van mense in benadeelde omgewings te bewerkstellig. Garriga (2013:2) meen in dié verband dat ’n navolgenswaardige voorbeeld kan lei tot beter selfvertroue onder jongmense, en ’n beter selfbeeld, en dat dit voortydige skoolverlatings kan verhoed. Hierteenoor kan ’n negatiewe voorbeeld daartoe aanleiding gee dat die jeug neig om negatiewe rolmodelle na te volg (Hurd, Zimmerman en Xue 2009).

’n Verdere leemte in die navorsing oor hierdie tema is dat terwyl navorsers primêr op die teenwoordigheid van rolmodelle gefokus het, hulle nie die hoedanighede en gedrag van sodanige rolmodelle volledig ondersoek het nie (Hurd e.a. 2011:238). Soos reeds in die vorige paragraaf aangedui, fokus hierdie artikel op die spesifieke veerkragtigheidshoedanighede wat Boks as rolmodel demonstreer en word die leemte in navorsing soos hier bo uitgewys, aangespreek.

As daar vanuit ’n veerkragtigheidsteoretiese beskouing gefokus word op die veerkragtigheidshoedanighede van ’n rolmodel, is daar na my kennis nog nie deeglik daaroor navorsing gedoen nie. Acosta e.a. (2017:3) skryf:

Although scholarly interest in individual and community interest has grown exponentially in recent decades, leading to a large body of evidence for key factors driving resilience, in individuals and communities, the evidence is not fully integrated across levels and sectors.

Die studie poog om ook hierdie gaping in die navorsing te vul deur te wys hoe Boks se hoedanighede hom gehelp het om op veerkragtige wyse as ’n rolmodel vir ander in die benadeelde konteks op te tree. Die studie sal dus ook kan dien as katalisator om verbeterde uitkomste onder die jeug in sulke kontekste te bewerkstellig.

Cicchetti (2010:151) bevestig die potensiaal en waarde van so ’n ondersoek. Volgens hom het navorsing oor veerkragtigheid aansienlike potensiaal vir die ontwikkeling en implementering van tussenkomste in diverse hoë-risiko-bevolkings wat betekenisvolle teenspoed ervaar. Teoreties beskou kan die studie ’n bydrae lewer tot die verdere ontwikkeling van die veerkragtigheidsparadigma, veral ten opsigte van hoe dit in hierdie navorsing aangewend is met betrekking tot kennisoopvlekking van wat nodig is ter opheffing van histories benadeelde mense.

 

3. Biografiese besonderhede van Dennis Boks

Dennis Boks is in 1963 te Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap gebore. Hy is die oudste van drie kinders. Sy vader is vroeg oorlede en hy is deur sy ma grootgemaak. Hy het sy skoolloopbaan te Maskam Primêre Skool, Vanrhynsdorp begin en sy matriekjaar in 1980 by die Fanie van der Merwe Sekondêre Skool op Calvinia voltooi. Tydens sy matriekjaar was hy een van die toppresteerders.

Nadat hy sy seniorsertifikaat verwerf het, het hy, ten spyte van uiters karige finansiële en emosionele ondersteuning, met sy tersiêre opleiding begin. Nadat hy ’n Nasionale Tegniese Sertifikaat met wiskunde as hoofvak behaal het, verwerf hy ’n BIuris-graad en in 1984 ’n LLB-graad, beide aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK). Gedurende hierdie tyd het Boks merkwaardige veerkrag getoon deur deurentyd voltyds te studeer én te werk.

Na voltooiing van sy studies het hy in Kimberley in die Noord-Kaap by die Departement van Justisie as ’n staatsadvokaat begin werk en het hy verskillende streekkantore onder sy toesig gehad. Hierna het hy sy eie regspraktyk in Carnarvon in die Noord-Kaap geopen. In 2000 is hy tot advokaat in die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat. In 2007 behaal hy ’n LLM-graad aan die Universiteit van die Vrystaat. Vervolgens aanvaar hy ’n aanbod om as landdros in die Departement van Justisie in Johannesburg te gaan werk. Hiervandaan is hy bevorder tot sy huidige posisie van streeklanddros in Oudtshoorn van waar hy verskeie takke bedien in plekke soos Mosselbaai, Ladismith, Beaufort-Wes en Murraysburg. In 2015 is die Oudtshoorn-hof (met Boks as die voorsittende beampte) aangewys as die hof met die grootste aantal vervolgings vir seksuele misdrywe in die Wes-Kaap.

Foto 1. Dennis Boks op die trappe voor sy kantoor by die streekhof op Oudtshoorn

Foto 2. Dennis Boks, voorsittende beampte van die hof met die hoogste vervolgingsyfer vir seksuele misdrywe in die Wes-Kaap, met die trofee wat vir hierdie prestasie verwerf is.

Soos vroeër gemeld, is hierdie studie op veerkragtigheidsteorieë gegrond. In die volgende paragrawe word teorieë oor veerkragtigheid asook literatuur wat daarmee en met rolmodelle verband hou, bespreek. Hierdie bespreking sluit in ’n definisie van veerkragtigheid, ’n bondige bespreking van die oorsprong van die teorieë, asook ’n oorsig van die standpunte van gesaghebbende teoretici in die navorsingsveld. Dit word gevolg deur ’n motivering vir die bestudering van rolmodelle binne die veerkragtigheidsterrein, asook ’n bespreking van bepaalde voorvereistes wat nodig is vir veerkragtigheid om te gedy. Die literatuurstudie word afgesluit met ’n bespreking van die hoedanighede en karaktertrekke van veerkragtige individue.

 

4. Veerkragtigheidsteorieë en literatuurstudie

4.1 Definisie en oorsprong van die veerkragtigheidsteorieë

Volgens Taormina (2015:36) is die term “resilience”, wat ons in Afrikaans as veerkragtigheid vertaal, ontleen aan die Latynse woord resilire wat beteken om vinnig terug te spring; dit het te doen met die vermoë om elasties, buigsaam te wees, om te kan herstel. Lee, Cheung en Kwong (2012:1) beskryf veerkragtigheid as die proses van, kapasiteit vir of die uitkoms van suksesvolle aanpassing ongeag dreigende of uitdagende omstandighede. As ’n mens sou praat van veerkragtigheid by individue, beskou Acosta e.a. (2017:vi) dit as die vermoë om goed aan te pas te midde van teenspoed, trauma, tragedie, bedreigings of betekenisvolle stres.

Die oorsprong van veerkragtigheidsteorieë kan teruggevoer word na navorsers se belangstelling in die redes waarom kinders wat met teenspoed gekonfronteer word, in staat is om risiko’s te oorkom, die negatiewe gevolge daarvan te hanteer en desondanks te gedy om uiteindelik suksesvol te wees in die lewe (Hurd e.a. 2009:778). Veerkragtigheidsteorieë is volgens Ledesma (2014:1) oor baie dissiplines heen nagevors, insluitende die psigologie, psigiatrie, veranderingsbestuur, menslike ontwikkeling, asook die mediese en verpleegkundeterrein. Hierdie studie word egter beperk tot die dissipline van menslike ontwikkeling, bedoelende dat Boks se bewese hoedanighede as voorbeeld vir menslike ontwikkeling kan dien.

Met verdere verwysing na die oorsprong van veerkragtigheidsteorieë noem Shean (2015:4) dat navorsers gedurende die 1970’s opgemerk het dat sommige van die sogenaamde risiko-kinders, nieteenstaande die teenspoed wat hulle ervaar het, steeds goeie uitkomste bereik het. Die veerkragtigheidskonsep was daarom betekenisvol, omdat dit tot ’n klemverskuiwing van geestesongesteldheid na geesteswelstand gelei het. Shean (2015:4) stem saam met Buchanan (2014:6) dat veerkragtigheidsteorieë ook ingebed is in dit wat vir jong mense kan werk, eerder as om te fokus op dit wat kan skeefloop. Die waarde van die teorieë strek verder. Shean (2015:4) stel dit dat veerkragtigheidsteorieë data kan voorsien wat die potensiaal het om die psigologiese, opvoedkundige, sosiale en emosionele uitkomste by jongmense betekenisvol te verbeter.

Volgens Shean (2015:4) kan Michael Rutter, Norman Garmecy, Emmy Weber, Suniya Luthar, Ann Masten en Michael Ungar oor die algemeen beskou word as ses van die sleutelteoretici in die veerkragtigheidsveld. ’n Ontleding van hierdie navorsers se werk toon dat die sleutelkomponente van veerkragtigheid die volgende insluit: beskikbaarheid van materiële, fisiese en emosionele hulpbronne, ’n sterk ondersteuningsnetwerk, ’n ekologiese beskouing van veerkragtigheid en spesifieke hoedanighede wat met die konsep verbind kan word.

Om hierdie studie met die konteks van die histories benadeelde omgewing te belyn, is daar binne die sleutelkomponente soos hier bo vermeld in die bespreking ook gefokus op die idees van die transaksionele veerkragtigheidsmodel van Kumpfer (1999). Volgens Parsons (2005:23–8) omvat hierdie model ’n dinamiese raamwerk ter verheldering van veerkragtigheid. Dit ondersoek onder meer die interaksie tussen die individu en sy omgewing. Glantz en Johnson (in Parsons 2005:29) verklaar dat die kernfokus van die transaksionele model omgewingsfaktore (risiko- en beskermende faktore), karaktereienskappe van veerkragtige individue, veerkragtige herintegrasie of positiewe uitkomste na negatiewe lewenservarings en die dinamiese proses tussen die individu, sy omgewing en uitkoms insluit.

Alvorens hierdie genoemde aspekte onder 4.3 tot 4.5 bespreek word, word die motivering van rolmodelle binne die veerkragtigheidsterrein vervolgens bespreek.

4.2 Motivering vir die bestudering van rolmodelle binne die veerkragtigheidsterrein

Navorsing wat fokus op die bestudering van rolmodelle binne die veerkragtigheidsterrein is skaars. Vroeëre navorsing deur Hurd e.a. (2009:777) bevestig dat rolmodelle nog nie in die konteks van hierdie teorieë bestudeer is nie. Die keuse vir hierdie teoretiese lens is dus op hierdie skaarste aan literatuur gegrond, sowel as om die toepassing van veerkragtigheidsteorieë in die studie te belyn met die beginsels van die waarderende ondersoek- (WO-) paradigma. (Die metodologie van WO word onder punt 5 bespreek). Buchanan (2014:6) verklaar dat die kern van die WO-paradigma is om ’n deeglike ondersoek te loods na wat in ’n organisasie werk en die sterkpunte daarvan as ’n beweegrede vir voortgesette groei te gebruik. Die WO-paradigmafokus van wat kan werk, sluit aan by Lee e.a. (2012:2) se sienswyse van die veerkragtigheidsbegrip. Hulle beskou dit as ’n paradigmaskuif. Na die identifisering van die risikofaktore word die sterkpunte van die individu geïdentifiseer.

4.3 Beskikbaarheid van hulpbronne en ’n sterk ondersteuningsnetwerk

Shean (2015:6) dui aan dat veerkragtigheid, volgens Rutter (Rutter 2006; 2007; 2012; 2013) nie noodwendig verbind kan word met individuele of meerdere funksionering nie, maar dat dit eerder ’n gewone aanpassing is, gegewe die beskikbaarheid van die regte hulpbronne. Soos Rutter, meen Werner (1989) ook dat hulpbronne onontbeerlik is om veerkragtigheid te bevorder. In dié verband noem sy (Werner 1989) dat verandering altyd moontlik is as kinders en volwassenes oor die regte hulpbronne beskik (Shean 2015:13). Shean (2015:22) dui aan dat betekenisvolle hulpbronne nie slegs tot betrokkenheid nie, maar ook tot veerkragtigheid lei. Volgens Mampane (2014:7) kan bates en hulpbronne die individuele en kontekstuele hoedanighede aan die jeug voorsien wat nodig is vir gesonde ontwikkeling en die bevordering van veerkragtigheid. Zimmerman(2013:1) verwys na hulpbronne as faktore buite individue, soos ouerondersteuning, volwasse mentors en jeugprogramme wat die jeug van geleenthede voorsien om te leer en vaardighede te beoefen. Die afwesigheid van hulpbronne kan volgens Kumpfer se model (Kumpfer 1999) as ’n stressor beskou word. Parsons (2005:25) beskou ’n stressor as ’n gebeurtenis of ervaring wat stres veroorsaak by ’n individu, met die moontlikheid dat dit die normale funksionering van die betrokke persoon kan belemmer.

Masten (2011:498) vestig verder die aandag daarop dat hulpbronne nie noodwendig slegs fisies van aard is nie. Sy wys in haar navorsing daarop dat die sleutelveranderlike wat veerkragtigheidsuitkomste kan bevorder, die beskikbaarheid van bepaalde psigologiese hulpbronne is (Shean 2015:17).

In ooreenstemming met hierdie denkwyse verklaar Garriga (2013:2) betekenisvol dat die welstand van elke kind van drie ondersteuningspilare afhang, te wete die huis, die skool en die gemeenskap. Volgens hierdie uitgangspunt kan die rol van gesonde gesins- en gemeenskapsomgewings as hulpbron- en ondersteuningsaspek nie gering geskat word nie. Volgens Parsons (2005:30) sluit die omgewingskonteks binne Kumpfer se transaksionele model die balans en interaksie van risiko en beskermende faktore en prosesse in die eksterne omgewing in, soos die kind se gesin, sy ouderdomsgroep, die gemeenskap en die skool wat ’n kritieke invloed op hom of haar uitoefen. Southwick, Bonanno, Masten, Panter-Brick en Yehuda (2014:12) noem in dié verband dat een van die belangrikste maniere om veerkragtigheid te bevorder is om gesonde gesins- en gemeenskapsomgewings te skep sodat individue se natuurlike beskermingstelsels ontwikkel kan word om effektief te funksioneer. Sosiale ondersteuning is dus een van die voorvereistes vir die ontwikkeling van veerkragtigheid en vereis omgee- en ondersteunende verhoudinge. Marais (2010:xv-xxii) beklemtoon die belangrikheid van ouers en ander versorgers se ondersteuningsrol deur woorde, dade, gedrag, die omgewing en omstandighede.

Parsons (2005:30) veronderstel verder dat hoë-risiko-kinders dikwels in hoë-risiko-omgewings leef wat deur die gesinsopset bepaal word. Die waarde van goeie ondersteuning tuis word sterk deur die literatuur onderskryf, maar gegewe die hoë-risiko-opset waaraan kinders blootgestel word, kan dit bepaalde positiewe vaardighede bevorder. Masten (2011:498) sê byvoorbeeld dat goeie ouerskap te midde van risiko die ontwikkeling van selfbeheersing en ander skoolgereedheidsvaardighede kan bevorder, wat dan weer positiewe aanpassing teweeg kan bring. Haar navorsing toon egter ook dat goeie hulpbronne minder algemeen is vir kinders wat grootword in omstandighede waar hoë vlakke van teenspoed ondervind word; dit dra by tot wanaangepastheid en dat jongmense in die wanaangepaste groep hoër vlakke van teenspoed as enige ander groep ervaar (Shean 2015:18). Vir Theron (2016:37) is dit belangrik dat hierdie sosiale-ekologie-rolspelers soos ouers, onderwysers en ander gemeenskapsleiers ’n plig het om jongmense van die hulpbronne te voorsien sodat hulle suksesvol kan wees. Gegewe die skaarste aan fisiese sowel as psigologiese hulpbronne binne die konteks van arm woongebiede mag die hulpbronne-eis vir inwoners problematies wees, veral in die lig van die kumulatiewe hulpbron- en beskermingsvereistes wat Wright, Masten en Narayan (2013:17) as allernoodsaaklik vir die ontwikkeling van veerkragtigheid ag. Hierdie vereistes kan die volgende insluit: bates, hulpbronne, kognitiewe faktore, bevoegde ouerskap, ’n hoë sosiale klas, ’n veilige huis, ’n ondersteunende gesin, ’n skooltutor en ’n verbintenis met prososiale vriende of gemeenskapsorganisasies.

Ter aansluiting by die skaarste aan hulpbronne, blyk dit dat individuele intellektuele vermoëns binne ’n gemeenskap ’n bepalende rol kan speel in die benutting van beskikbare hulpbronne. Mampane (2014:6-7) waarsku juis in dié verband dat adolessente wat te veel teenspoed ervaar, mag sukkel om noodsaaklike en beskikbare hulpbronne te identifiseer of te verkry en om dit wat wel in hulle omgewing beskikbaar is, te benut. Psigies en fisies uitgeput deur die wrede, gedugte sosio-ekonomiese las in die armoede-opset, mag dit nie slegs bykans bomenslike eise stel aan die identifisering van hulpbronne nie, maar veral ook aan die volhardings- en aanpasbaarheidsvermoë van individue. In samehang hiermee blyk dit dat die skaarste aan of afwesigheid van kollektiewe intellektuele kapitaal in die benadeelde konteks ’n verdere bydraende faktor mag wees. Aan die ander kant lyk dit egter of werklik veerkragtige individue – met hul sterk fokus op prestasie-oriëntasie – wel in staat is om hierdie sosio-ekonomiese las na ’n syspoor te rangeer en sosiale-ondersteuningsnetwerke sowel as ekonomiese hulpbronne te identifiseer en dit dan (tot hul voordeel) te benut.

Parsons (2005:31) stem saam en noem dat die veerkragtige jeugdige gewoonlik betekenisvolle ander soek om mee te bind, wat positiewe lewensverandering kan fasiliteer. Sosiale-ondersteuningsnetwerke sluit die volgende in: uitgebreide familie, sosiale en gemeenskapsondersteuning, rolmodelle en mentors, empatiese en emosioneel-responsiewe versorgers, die skep van geleenthede vir betekenisvolle versorgers, die skep van geleenthede vir betekenisvolle betrokkenheid, effektiewe toesig en dissipline en ander soortgelyke fasilitering van ondersteuningsgeleenthede (Parsons 2005; Walsh 2016:7).

Vervolgens kyk ons na ’n ekologiese beskouing van veerkragtigheid.

4.4 ’n Ekologiese beskouing van veerkragtigheid

Soos elders in hierdie artikel genoem, fokus die transaksionele model van Kumpfer (1999) op die interaksie tussen die individu en sy omgewing. Dit sluit in die rol van omgewingsfaktore, insluitende risiko- en beskermende faktore. Daar is dus ’n bepaalde samehang tussen sy (Kumpfer 1999) en Garmezy (1991) se idees betreffende veerkragtigheid. Volgens Shean (2015:8-10) het Garmezy – ’n pionier in veerkragtigheidsnavorsing – hoofsaaklik ’n ekologiese sienswyse van veerkragtigheid gehad. Hy het ondersteuning as ’n beskermingsmeganisme beskou. Sy uitgangspunte het sterk klem gelê op die waarde en belangrikheid van beskermende faktore betreffende die wyse waarop individuele en gesinsvlakondersteuning die veerkragtigheid van veral kinders kan beïnvloed. Lee e.a. (2012:3) dui aan dat hierdie beskermende faktore die volgende insluit: ’n positiewe gesinsklimaat, ’n lae vlak van konflik en betrokkenheid by die kind se opvoeding, noue verhoudinge met ondersteunende volwassenes, verbintenisse met prososiale en wetsgehoorsame vriende, en die verbintenis met prososiale organisasies. Walsh (2016:5) asook Acosta e.a. (2017:6) wys daarop dat studies oor langer tydperke bevind het dat kinders se veerkragtigheid grootliks afhang van ondersteunende gesinsprosesse en hoe beide ouers en die uitgebreide familie stresfaktore kan buffer terwyl hulle bepaalde uitdagings navigeer en koöperatiewe-ondersteuningsnetwerke regoor huishoudings oor ’n bepaalde tyd vestig. Gekonfronteer met die afwesigheid van hierdie soort uitgebreide ondersteuning kan veerkragtigheid inderwaarheid in individue wat uit histories benadeelde gebiede kom, ontketen word. Parsons (2005:30) verwys tereg na die kroniese stressituasies wat binne benadeelde omgewings teenwoordig kan wees. Die stressors kan ’n impak op die kind hê, want dit kan dien as buffer, of as ’n verskerpte agent. Lee e.a. (2012:5) bevestig ook hierdie tendens en wys daarop dat alhoewel die histories benadeelde woongebied ’n bron van teenspoed mag wees, dit ook die geleentheid kan bied vir veerkragtigheid om te manifesteer.

Volgens Shean (2015:13) handhaaf Werner (1989), soos Garmezy (1991), ook ’n ekologiese beskouing oor veerkragtigheid. Haar werk fokus veral op die beskermende invloed wat veerkragtigheid op die individu, die gesin en die gemeenskap het. Hierdie beskermende faktore sluit die ingesteldheid van die individu in, asook affektiewe bande met die gesin wat emosionele ondersteuning kan bied, en eksterne ondersteuningstelsels soos die kerk en ’n persoon se beroep. Werner (1989) is van mening dat hoe meer stres mense ervaar, hoe meer beskermende prosesse is nodig om hulp aan sodanige persone te verleen. Werner glo dat hierdie beskermende prosesse beide direk en indirek optree. As voorbeeld noem sy dat betrokkenheid by die kerk ’n moeder mag help, omdat haar geestelike kapasiteit mag toeneem en sy dan beter ondersteuning aan haar kind kan bied (Shean 2015:13).

Shean (2015:8) meen dat Garmezy (1991) die belangrikheid van gesinsamehorigheid en warmte beklemtoon wat mag voorkom ten spyte van armoede of huwelikstwis, asook die teenwoordigheid van ander volwassenes wat omgee, in die afwesigheid van simpatieke ouers (byvoorbeeld ’n grootouer). In ’n soortgelyke argument oor die saak verklaar Mampane (2014:7) dat die ondersteunende rol van betekenisvolle ander nie buite rekening gelaat kan word nie. Garmezy (1991), wat ’n ekologiese beskouing van veerkragtigheid gehad het, beklemtoon verder ondersteuningsfaktore ekstern tot die gesin, soos byvoorbeeld ’n ondersteunende en besorgde onderwyser of ’n institusionele struktuur wat bande met die groter gemeenskap vorm (Shean 2015:8). Cicchetti (2010:147) verwys ook na die belangrikheid van noue verhoudinge met bekwame en besorgde volwassenes in die gesin en die gemeenskap. Samevattend argumenteer Acosta e.a. (2017:6) egter dat veerkragtigheid in ’n gemeenskap beïnvloed kan word deur die kapasiteitsontwikkeling van individue. Dit kan die volgende insluit: vroeë ingrypingsprogramme, relevante ondersteuningsdienste, veilige woonbuurte, toegang tot fasiliteite, gesondheidsdienste, asook menslike, sosiale, natuurlike, fisiese en finansiële kapitaal.

Die ekologiese bespreking van veerkragtigheid het gefokus op die interaksie tussen die individu en sy omgewing. Ten einde fokus te behou op die doel van hierdie artikel – naamlik om Boks se veerkragtigheidshoedanighede te belig en te waardeer – is beskryf hoe hierdie risiko- en beskermende faktore binne die histories benadeelde konteks veerkragtigheid enersyds kan belemmer of andersyds kan bevorder.

Voorts word die hoedanighede of eienskappe van rolmodelle bespreek.

4.5 Hoedanighede van rolmodelle

Daar bestaan ontelbare definisies en beskrywings oor die term rolmodel. Volgens Clarey (2012:18) gebruik navorsers dikwels die term sonder om ’n bevredigende definisie aan te bied. Die teoretiese beskrywing verwys na ’n voorbeeld van ’n spesifieke rol. Terwyl modellering ’n algemene sosialiseringsproses is, is rolmodellering ’n meer spesifieke sosialisering tot ’n “rol”, “toestand”, “eienskap”, “aktiwiteit” of “karaktertrek”. Ter byvoeging en vanuit ’n ander hoek in hierdie debat verwys Johnson, Buckingham, Morris, Suzuki, Weiner, Hershberg, Fremont, Batanova, Aymong, Hunter, Bowers, Lerner en Lerner (2016:126) na die term character role models (karakterrolmodelle). Deur op hierdie wyse daarna te verwys, wys die skrywers op maniere waarop jongmense ander mag beïnvloed deur vir ander om te gee en deur goed te doen. In ’n konseptuele definisie van die term mag rolmodelle fiktief, histories, verbeeldingryk, konkreet, bekend of onbekend wees. Die rolmodel beskik oor ’n vaardigheid of vermoë wat die waarnemer in hom of haar laat glo. Verder is die rolmodel demonstratief – of dit direk of indirek is – vir die waarnemer of persoon vir wie gemodelleer word. Op hierdie manier tree die rolmodel as ’n voorbeeld vir ander op, deur aan te toon hoe iets gedoen moet word (Clarey 2012:18). Johnson e.a. (2016:126) beskryf ’n rolmodel as iemand na wie jy kan opsien en iemand wie se voorbeeld jy kan nastreef. In haar definisie van rolmodel gaan Clarey (2012:24) ’n stap verder en beskryf sy ’n rolmodel as ’n individu wat deur ’n ander individu nagevolg kan word deur erkenning, ’n begeerte, of die aanneem van soortgelyke karaktertrekke, of ’n individu wat deur ander hooggeag word.

Hierdie artikel fokus ook daarop om Dennis Boks as ’n rolmodel vir ander in histories benadeelde gebiede te beskryf vanweë die hoedanighede, karaktertrekke en voorbeeld wat hy gedemonstreer het. Die bespreking oor rolmodelle in die bostaande paragraaf het ’n bondige oorsig verskaf van wat nodig is om as ’n rolmodel beskou te kan word. In die volgende paragraaf word gefokus op spesifieke persoonlikheidshoedanighede waaroor veerkragtige individue beskik en wat as maatstaf kan dien waarvolgens ’n rolmodel in ’n histories benadeelde konteks beoordeel kan word.

4.6 Hoedanighede en karaktertrekke van veerkragtige individue

Die literatuur bied ’n verskeidenheid van hoedanighede en karaktertrekke aan wat met veerkragtigheid verbind kan word. Garmezy (1991) glo dat veerkragtigheid die volhoubaarheid van bevoegde funksionering vereis, nieteenstaande die emosionele impak daarvan (Shean 2015:8). Cicchetti (2010:147-8) identifiseer ’n positiewe selfbeskouing en positiewe emosionaliteit, terwyl Taormina (2015:36) van mening is dat dit ’n persoon is wat uithouvermoë toon en van moeilike situasies kan herstel. Cicchetti (2010:147) se sienswyse oor veerkragtigheid is soortgelyk, maar hy voeg by dat veerkragtige individue oor aktiewe hanteringstrategieë beskik en dat hulle oor die kapasiteit beskik om moeilike situasies direk te konfronteer, asook om betrokkenheid by moeilike situasies te minimaliseer.

Ten opsigte van veerkragtige mense se ingesteldheid verklaar Walsh (2016:7) dat hulle ’n positiewe uitkyk het. Hulle het hoop, ’n optimistiese houding, selfvertroue in die oorkoming van uitdagings, ’n fokus op potensiaal, aktiewe inisiatiewe en ’n “ek kan dit doen”-gees. Hulle kan die onmoontlike bemeester, hulle aanvaar dit wat nie verander kan word nie en kan onsekerheid verduur. Vir Cicchetti (2010:147–8) is dit duidelik dat veerkragtige individue stresvolle gebeure op ’n minder intimiderende manier ervaar en dat hulle oor die vermoë beskik om teenspoed op ’n positiewe manier te hanteer, asook om spiritualiteit en betekenis te midde van traumatiese omstandighede te vind.

Volgens Luthar (in Shean 2015:13) demonstreer veerkragtige individue die vermoë om positiewe aanpassings te maak en veerkragtigheid te demonstreer, ten spyte van blootstelling aan betekenisvolle bedreigings of ernstige teenspoed en dat hulle desondanks positiewe aanpassings kan maak (Shean 2015:13). Van groot belang is die feit dat dit wil voorkom of veerkragtige individue oor ’n soort stresweerstandigheid beskik. Met verwysing na hierdie besondere gehardheid sê Mampane (2014:6–7) dat ongeag die feit dat veerkragtige individue doelgerig en aanpasbaar is, hulle ook die uitwerking van stres sal verduur en teen teenspoed sal veg. Parsons (2005:30) maak ’n interessante opmerking wanneer sy sê dat inkomende stresvolle of uitdagende stimuli die proses van veerkrag aktiveer, maar dat die stimuli as ’n stressor of uitdaging ervaar moet word, omdat veerkragtigheid slegs onder sulke omstandighede ontwikkel en gedemonstreer kan word. Walsh (2016:7) vat saam en verwys na sulke mense se vermoë om aan te pas, asook dat hulle oor buigsaamheid en die vermoë beskik om nuwe uitdagings die hoof te bied.

Ten opsigte van die persoonlike karaktertrekke wys Cicchetti (2010:147) daarop dat veerkragtige individue oor probleemoplossingsvaardighede, versiendheid t.o.v. beplanning en ’n toekomsoriëntasie beskik. Hulle het morele waardes en ’n sosiale verbintenis (Lee e.a. 2012:4). Verder beskik hulle oor emosionele bevoegdhede, vasberadenheid en ’n geloof in die toekoms. Ingebed in selfreguleringsteorieë wat proaktiewe aksie en verwagting vooropstel, demonstreer hulle selfreguleringsvaardighede deur probleme te takel, en die behoefte aan verandering of selfregulering te skep (Cicchetti 2010:147; Lee e.a. 2012:3). Ten opsigte van karaktereienskappe identifiseer Zimmerman (2013:2) asook Mampane (2014:5) selfvertroue, selfdoeltreffendheid, ’n positiewe temperament en die vermoë om besluite te neem, as persoonlike faktore wat veerkragtigheid kan laat manifesteer. Veerkragtige mense is taai te midde van teenspoed, en hulle demonstreer toewyding ten einde uitdagings te oorkom (Mampane 2014:6).

Eley, Cloninger, Walters, Laurence, Synott en Wilkinson (2013:10) wys op hoedanighede soos ’n besonder hoë vlak van deursettingsvermoë en dat veerkragtige persone deurgaans aanneemlike gedrag openbaar, ten spyte van frustrasies wat hulle mag ondervind. Hulle is gemaklik en ontspanne en nie bang om risiko’s te loop nie. Hulle openbaar goeie samewerking, is verdraagsaam, hulpvaardig, beginselvas, konstruktief, vasberade, hardwerkend, tree met beslistheid op, is optimisties, dapper en pas hulle gedrag aan in ooreenstemming met bepaalde eise wat aan hulle gestel word. Hulle doelwitte is gebaseer op die evaluering van feite.

Afifi en MacMillan (2011) en Noltemeyer en Bullock (2012) (in Acosta e.a. 2017:6) voeg by dat persoonlikheidskenmerke soos humor, om jouself te laat geld, sosiale vaardighede en emosionele regulering ook iets is wat tekenend is van individue wat oor veerkragtigheid beskik. Vindevogel, Ager, Schiltz, Broekaert en Derluyn (2015:11–3) maak ’n lys van ’n hele aantal hoedanighede waaroor veerkragtige jeugdiges beskik. Hierdie skrywers noem dat veerkragtige jongmense selfaangewese is en dat hulle kennis en vaardighede verwerf wat hulle toelaat om hul eie gesondheid en welstand te verbeter. Hulle weet hoe om tussen goed en sleg te onderskei, is gedissiplineerd, verantwoordelik en toon morele gedrag. Hulle gebruik hul geleenthede en bates, is selfonderhoudend en onafhanklik en weet terselfdertyd hoe om ondersteuning van ander mense te verkry wanneer dit benodig word. Hulle soliede sosiale bande en netwerke help hulle om moeilike situasies beter te hanteer. Hulle laat nie toe dat enigiets hulle geluk affekteer nie, omdat hulle in staat is om die uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word, die hoof te bied.

Parsons (2005:33–5) is van mening dat veerkragtige kinders oor goeie akademiese vaardighede beskik, ’n goeie selfbeeld het en die vermoë het om hul selfbeeld te herstel. Hulle het geestelike of motiveringseienskappe. ’n Belangrike karaktereienskap van veerkragtige kinders in hoë-risiko-omstandighede is hul vermoë om te droom. Hierdie kinders skep aanvaarbare fantasieë vir hulself en ontwikkel op hierdie wyse ’n doel vir hul lewe, asook sosiale en gedragsvaardighede. Die individuele faktore wat volgens Gamezy (1991) ’n invloed op ’n kind se veerkragtigheid mag uitoefen, sluit hoedanighede in soos die temperament van die kind, positiewe simpatie met ander mense, asook kognitiewe vaardighede (Shean 2015:13–4).

Dit dan wat teorieë en literatuur met betrekking tot veerkragtigheid betref.

Vervolgens word die metodologie van die studie kortliks bespreek.

 

5. Metodologie

Die metodologie van die waarderende ondersoek (WO) van individue is goed gevestig. Die eerste WO van ’n individu is deur Crous, De Bruyn, Roodt, Van Vuuren, Schoeman en Stuart (2006) gedoen. Hulle het die hoedanighede van die briljante psigometris Johann Scheepers ontleed en sy bydrae en nalatenskap ten opsigte van die veld van psigometrie aangedui. Daarna het Pretorius (2010) ’n WO van die pedagogiese hoedanighede van ’n hoogstaande biologie-onderwyser, Gerhardus Bosch, onderneem. Dit is opgevolg deur waarderende ondersoeke van Emme-Lancia Veronique Faro, voortreflike hoofdogter van die Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein (Pretorius 2012), die skilder Michelangelo Merisi da Caravaggio (Pretorius 2013), die sanger Neil Diamond (Pretorius en Van Wyk 2013) en die skrywer Hennie Aucamp (Pretorius 2014). Hierdie studies dek hul hoedanighede oor ’n wye veld. Soos egter vroeër in hierdie artikel vermeld, is die metodologie van WO nog nie voorheen spesifiek verbind met suksesverhale uit histories benadeelde omgewings nie. Hierdie studie se bydrae kan ook daarin gevind word dat die hoedanighede binne sodanige konteks beklemtoon en waardeer kan word.

Betreffende etiese voorskrifte is toestemming vir die uitvoering van die navorsing verkry van die etiese komitee vir Opvoedkunde van die Universiteit van die Vrystaat. Verder is die aard en doel van die navorsing vooraf aan Boks verduidelik. Etiese riglyne is verder eerbiedig deurdat die deelnemer onder meer ingelig is dat sy deelname vrywillig is, dat hy te eniger tyd aan die studie kan onttrek en dat die studie geen risiko’s vir hom inhou nie. Vanweë die aard van die navorsing, is hy ook gevra of hy sou omgee dat sy identiteit bekend gemaak sou word.

Die 5D-siklus van WO bied ’n praktiese, prosesgebaseerde model aan waarvolgens verandering op alle vlakke binne ’n stelsel benader kan word (Cooperrider, Whitney en Stavros 2008; Whitney en Trosten-Bloom 2010; Pretorius 2014). Die siklus bied dus ’n geskikte raamwerk aan waarvolgens Dennis Boks se veerkragtigheidshoedanighede belig en waardeer kon word.

Tydens die eerste fase van die 5D-siklus (sien diagram 1) – bekend as die definiëringsfase – is die agenda vir verandering vasgestel en die keuse van ’n rolmodel gemaak. In die geval van my studie is dit, soos reeds genoem, die samestelling van ’n profiel van die hoedanighede van die rolmodel Dennis Boks. Tydens die tweede fase – die ontdekkingsfase (diagram 1) – is ’n waarderende onderhoud met Boks gevoer en is die volgende vrae aan hom gestel:

  • Ek wil graag vra dat jy ’n kort samevatting gee van die haglike omstandighede waaruit jy gekom het – en hoe jy ten spyte daarvan ’n suksesvolle loopbaan as streeklanddros bereik het.
  • Vertel vir my van ’n buitengewone ervaring of ’n hoogtepunt in jou loopbaan as streeklanddros – ’n tyd toe jy op jou lewendigste of die meeste betrokke gevoel het – of rêrig trots was op jouself of jou werk.
  • Wat was dit omtrent jou, die situasie en/of die firma wat daardie buitengewone ervaring moontlik gemaak het?
  • Vertel vir my van ’n gedeelte van jou werk wat jou fassineer of waarin jy besonder geïnteresseerd is.
  • Watter aspekte waardeer jy die meeste omtrent die feit dat jy groot moeilikhede en haglike omstandighede oorkom het om dan uiteindelik in ’n posisie soos dié van ’n streeklanddros te staan?
  • Watter rol het die gemeenskap gespeel wat jou gehelp het om die posisie te bereik?
  • Vertel vir my watter rol jou skool en onderwysers in jou lewe gespeel het.

Tydens die droomfase (diagram 1) waartydens kreatiewe aktiwiteite dikwels gebruik word om die uitkomste van die waarderende onderhoud uit te beeld, het Plaatjies en Pretorius (2016) ’n koerantartikel vir Die Burger geskryf wat op 17 Junie 2016 gepubliseer is. Tydens die ontwerpfase van die WO is Boks se hoedanighede in die vorm van ’n profiel saamgestel en in bestaande literatuur binne die omgewing van die veerkragtigheidsteorie ingebed om die geldigheid daarvan aan te toon. Tydens die laaste fase (die bestemmingsfase – diagram 1) is die artikel vir publikasie voorgelê in die hoop dat dit sou lei tot deurlopende prestasie, bemagtiging en leer. In die proses is die positiewe kern van Boks geïllustreer (diagram 3).

Diagram 1. Die waarderende-ondersoek-5D-siklus (Aangepas van Cooperrider, Whitney en Stavros 2008:5; Whitney en Trosten-Bloom 2010:6 en Pretorius 2014)

 

6. Aanbieding en bespreking van die waarderende ondersoek

Lee e.a. (2012:1) noem dat daar drie belangrike voorwaardes is waarvolgens veerkragtigheid bestudeer kan word: deur in haglike lewensomstandighede groot te word, wat uitdagende omgewings insluit wat as betekenisvolle bedreigings of ernstige teenspoed gesien kan word; die beskikbaarheid van beskermende faktore, insluitende interne bates en eksterne hulpbronne; en laastens die positiewe aanpassing, nieteenstaande ervaringe van betekenisvolle teenspoed. Hierdie voorwaardes sluit aan by die idees soos uiteengesit in Kumpfer (1999) se transaksionele model, wat volgens Glantz en Johnson (1990:180) omgewingsfaktore, karaktereienskappe van die veerkragtige individu en veerkragtige herintegrasie of positiewe uitkomste na negatiewe lewenservaring en die dinamiese proses tussen die individu, sy omgewing en uitkoms insluit. Die konsep van veerkragtigheid is ook bestudeer aan die hand van die idees soos verwoord deur die teoretici wat in die literatuuroorsig behandel is. Dit word as riglyne gebruik om die temas uit die onderhoud met Dennis Boks te identifiseer.

Drie oorkoepelende hooftemas is geïdentifiseer. Die eerste tema beskryf die erns van die haglike huislike omstandighede waarin hy grootgeword het, maar ook hoe hy die omstandighede tot sy voordeel aangewend het om homself te motiveer. Tema twee verduidelik die ondersteuning wat hy tuis en in die gemeenskap ontvang het (die beskermende faktore). Die rede vir die bespreking van sy huislike omstandighede het ten doel om sy gedemonstreerde veerkragtigheidshoedanighede te midde daarvan aan te toon. Die derde tema handel oor die veerkragtigheidshoedanighede soos gedemonstreer deur Dennis Boks (die positiewe aanpassings wat hy gemaak het).

6.1 Tema 1: Haglike huislike omstandighede en ontwikkeling as rolmodel

Die volgende opmerking deur Boks is tekenend van die haglike huislike omstandighede en gevolglik ook veelvoudige stressors wat hy moes hanteer:

Ek het in haglike omstandighede grootgeword. Haglik in die sin dat dit ’n enkelouer is wat my moes groot maak: ’n ma. My moeder moes vir R10 per maand werk en dan was daar nog erge vorms van gesinsgeweld ook. Ter wille van ’n moeder se kinders, moes sy maar die houe vat. Daar was soms nie kos nie. Drank was aan die orde van die dag … ’n moeder wat dronk is … daar was nie geld nie, daar was niks nie.

Hierdie verarmde, ingeperkte gesinsmilieu waar opvoedingsverwaarlosing ’n alledaagse verskynsel was, is in skrille kontras met die uitgangspunte van Marais (2010:xv-xxii); Masten (2011:498) en Southwick e.a. (2014:12) wat ons herinner dat gesonde, omgee- en ondersteunende verhoudinge in die gesin, asook ’n soliede, navolgenswaardige voorbeeld van die ouers onontbeerlik is vir veerkragtigheid om te gedy. Die afwesigheid van wat Afifi en MacMillan (2011:268) as onontbeerlike gesinsvlak- beskermende faktore in Boks se lewe beskou, en hoe hy nie toegelaat het dat dit hom onder kry nie, toon egter sy besondere deursettingsvermoë en vasberadenheid om iets met sy lewe te doen.

Tesame met die ontoereikende, onstabiele en ontwrigtende gesinsmilieu, blyk dit dat finansiële tekortkominge ’n wesenlike impak gehad het op die ondersteuning wat Boks ontvang het. Wright e.a. (2013:26) se bevindinge bevestig hierdie tendens, wat dikwels voorkom onder ekonomies-armoedige gesinne of ouers wat met alkoholisme of geestesongesteldhede worstel. Sulke mense is onvoldoende toegerus om aan hul kinders die nodige hulpbronne, basiese beskerming en hulpmiddels te verskaf. In Boks se geval het die finansiële tekorte selfs sy toekomsgeleenthede benadeel, tot so ’n mate dat hy nie soos sy maats onmiddellik na die voltooiing van sy laerskoolloopbaan na ’n hoërskool toe kon gaan nie: “Al my vriende was na verskillende hoërskole toe, net ek het nog in Vanrhynsdorp agtergebly.”

Boks het egter nie toegelaat dat sy vernederende huislike omstandighede ’n slagoffer-mentaliteit by hom kweek nie. Toegerus met ’n positiewe denkwyse en positiewe emosionaliteit (Cicchetti 2010:147–8) wat gemik was op doelgerigtheid en groei, blyk dit eerder dat sy omstandighede hom aangevuur en geïnspireer het om op persoonlike vlak te transformeer. Uiteindelik het dit daartoe bygedra dat hy ’n rolmodel vir ander kon word. Dit blyk verder dat dit hom in sy professie as landdros gelei het tot ’n diepgaande insig en kennis van sy medemens:

Dit [die huislike omstandighede] het van my ’n beter mens gemaak. Ek kan ’n voorbeeld vir ander wees. Ander se behoeftes in ag neem, met ’n breër fokus kyk. Want was dit nie vir hierdie moeilike omstandighede nie, sou ek nooit hierdie ervaring positief kon aanwend in my beroep as landdros nie.

Boks se sienswyse van die saak stem ooreen met wat Walsh (2016:3) uitwys, naamlik dat veerkragtigheid meer behels as slegs die bestuur van stresvolle omstandighede of om slegte ervaringe te oorleef. Die blootstelling aan slegte ervaringe kan trouens die potensiaal ontsluit vir persoonlike groei sowel as vir die transformasie van verhoudinge en positiewe groei wat uit sodanige teenspoed verkry kan word. Sulke mense ontwikkel tot sterker individue deur die gesukkel; hulle is liefdevoller en gretiger om toekomstige uitdagings die hoof te bied (Walsh 2016:3).

Saam met Boks se swaarkry as gevolg van die haglike huislike omstandighede het teleurstellings, pyn en die gebrek aan ouerondersteuning ’n ongemaklike metgesel geword. Hy sê: “Toe ek die geleentheid gekry het, het my ma in my eerste jaar op universiteit gesterf. Dit het my droom heeltemal verwoes, ek moes toe op my eie bene staan.” Ten einde sy studie te voltooi, moes hy groot opofferings maak en ook soms die diepe vernedering smaak om om hulp te bedel. Elektrisiteit was nie in die huis beskikbaar nie en om saans te kon studeer, moes hy dikwels by ander gaan aanklop om hulp: “Dit was moeilik, moeilik om te studeer by ’n kerslig of straatlamp … moeilik en dan die vernedering om olie of kerse te gaan vra.” Selfs hierdie negatiewe en pynlike sielkundige terugslag, asook die moeilike tye kon nie Boks se vasberadenheid, wilskrag en aanpasbaarheid blus nie. Dit staaf die bevinding in die navorsing van Lee e.a. (2012:2) wat beweer dat veerkragtige mense die vermoë het om op ’n gesonde manier by veranderinge en stresvolle situasies aan te pas. Wat sy verhaal so merkwaardig maak, is die feit dat hy deur meer as een stressor gekonfronteer is, wat die bereiking van sukses net soveel meer bemoeilik het. Rutter, soos aangehaal deur Rak en Patterson (in Parsons 2005:25) belig die invloed van veelvoudige stressors soos volg: “[A] single stressor did not have a significant impact, but combinations of two or more stressors diminished the likelihood of positive outcomes, and additional stressors increased the impact of all other existing stressors.”

Boks se vermoë om deur te druk ten spyte van stresvolle situasies en sy karige hulpbronne word selfs meer prysenswaardig wanneer na Shean (2015:18) se verklaring gekyk word wat die belangrikheid van hulpbronne uitlig: “… that if reasonably good resources are present, competence outcomes are generally good”.

6.2 Tema 2: Ondersteuning deur sy ma en die gemeenskap

Om veerkragtigheid te kan demonstreer, vereis ook sterk sosiale ondersteuning (Mampane 2014:6; Theron 2016:37). Tydens die onderhoud met Boks het hy die waarde van ’n soliede ondersteuningsnetwerk beklemtoon en het hy die ondersteuning van rolspelers soos sy ma, familielede en persone of instansies in die gemeenskap geloof: “Die rol wat my ma gespeel het, sal ek nooit vergeet nie. Hoe eenvoudig dit ook al was, sal jy eers later sien wanneer die skille van jou oë afval, dat hulle (familie) vir jou eerlikwaar baie beteken het.Die sóórt ondersteuning wat aan hom gebied is, word nie gespesifiseer nie,maar wat Boks se veerkragtigheid in dié verband egter so lofwaardig maak, is dat die ondersteuning – boonop deur ’n laaggeskoolde enkelouer ̶ hoofsaaklik bemoedigend van aard was. Hierdie ondersteuning is in teenstelling met die vereiste sterk, konkrete ondersteuning en beskermingsprosesse wat benodig word en dikwels vir meer bevoorregte mense beskikbaar is, en wat ’n definitiewe voorvereiste vir veerkragtigheid is (Acosta e.a. 2017:6).

Die bemoediging vanuit die gemeenskap word verder geïllustreer deur die volgende opmerking deur Boks:

Daar is van hulle wat jou met ’n simpatieke oog en oor hanteer, wat jou altyd bemoedig het op jou pad … wat altyd kon sê hierdie kind sal ’n sukses maak. Die gemeenskap van Vanrhynsdorp en Carnarvon het vir my baie beteken. Ek kan dit oor en oor beklemtoon.

Die belangrikheid van ondersteuning aan mense in uitdagende omstandighede word deur Wright e.a. (2013:25) se navorsing bevestig. Hulle noem dat ’n ondersteunende en uitgebreide familie, vriendskapsnetwerke of lidmaatskap van ’n kerk positiewe veranderinge vir hoë-risiko-individue kan fasiliteer. Die rol van ander belanghebbendes word ook in navorsing beklemtoon. Acosta e.a. (2017:6) skryf in dié verband dat onderwysers, beraders, afrigters en bure ook ’n ondersteuningsrol kan speel, terwyl Mampane (2014:5) onomwonde verklaar dat wanneer dit by veerkragtigheid kom, ’n sterk ondersteuningsnetwerk ons in staat stel om moeilike situasies te oorkom. In Boks se geval het ’n plaaslike gemeenskapsorganisasie se finansiële hulp nie net baie beteken nie, maar met dankbaarheid kon hy selfs ’n keuse uitoefen oor watter skool hy wou bywoon:

Vandag is ek dankbaar vir ’n Lions Club wat gehoor het van ’n kind wie se ouers nie geld het om hom verder skool toe te stuur nie en hulle het vir my gevra of ek belang stel om skool klaar te maak. Ek moes ’n keuse maak na watter skool ek wil gaan.

Boks maak ook melding van die waardevolle ondersteuning van sy onderwysers en die skoolhoof. Hy verklaar met waardering:

Ek is met ope arms deur die skoolhoof (by Fanie van der Merwe Sekondêre Skool in Calvinia) verwelkom wat vir my soos ’n vader was en hy het my deur die jare ondersteun. Ek dank my laerskool- en hoërskoolonderwysers.

Verdere hulp het gevolg deurdat die Departement van Onderwys toppresteerders met finansiële hulp vir verdere studies beloon het:

Die Departement … op daardie stadium vir Kleurlingsake … het elke keer ’n bedrag beskikbaar gestel vir die beste kandidaat op skool. Daar is genoeg geld, jy kan universiteit toe gaan.

Die waarde van ondersteuning deur rolspelers soos onderwysers word verder belig deur onder andere Cicchetti (2010:147) asook Shean (2015:8) en Theron (2016:37) se navorsing. Dit bevestig die waarde van noue verhoudinge met bevoegde en omgee-volwassenes, soos ’n ondersteunende en besorgde onderwyser of ’n institusionele struktuur wat bande met die groter gemeenskap vorm.

6.3 Tema 3: Veerkragtigheidshoedanighede soos gedemonstreer deur Boks

Uit die onderhoud met Boks kan afgelei word dat dit vir sy ma ontsettend moeilik was om hom deur sy skoolloopbaan te kry:

Ten spyte van die haglike omstandighede slaag die moeder daarin om haar kinders skool toe te stuur om ’n sukses te gaan maak. Moeilik het dit gegaan, maar ons het deurgedruk. Daar was nie geld gewees om my huur te betaal om by ’n ander skool soos Vredendal skool te gaan nie.

Sy merkwaardige doelgerigtheid, vasberadenheid, wilskrag, deursettingsvermoë en die “ek kan doen”-gees waarna Walsh (2016:7) verwys, is hoedanighede wat veerkragtige individue demonstreer en wat kritiek is vir sukses. Dit het tydens die tydperk wat hy geloseer het, selfs sterker na vore getree deurdat hy by sy losiesplek gewerk het om vir sy verblyf te betaal:“Maar ek het my lyf op die spel geplaas … om te werk in die persoon se huis, om die rent [sic] vry te spring. Ek was so gefokus, ek het volhard daarmee.” Dit is duidelik dat Boks bepaalde veerkragtigheidshoedanighede op ’n besonderse wyse tydens hierdie tydperk gedemonstreer het. Afifi en MacMillan (2011) asook Noltemeyer en Bush (2013) se navorsing betreffende die hoedanighede van veerkragtige individue wys uit dat hulle oor hope persoonlike hulpbronne soos selfregulering, uithouvermoë, sosiale vaardighede en emosionele dissipline beskik. Tydens hierdie tydperk in Boks se lewe het hy ook hierdie hoedanighede gedemonstreer.

Terugslae op sy reis na sukses het as verdere aansporing gedien om sy droom te verwesenlik om in die regte te gaan studeer. Om gelyktydig te werk en te studeer was ’n veeleisende tog waartydens sy merkwaardige innerlike dryfkrag, wilskrag en vasberadenheid selfs nog sterker na vore gekom het ten einde sy LLB-kwalifikasie te voltooi. Boks moes noodgedwonge op ’n stadium sy studie staak vanweë finansiële uitdagings. Dit het hom egter net nog meer vasberade gemaak: “Ek het in die privaatsektor gegaan om te werk, en ek het vir myself gesê: Ek sal eendag teruggaan om verder te gaan studeer om my droom te verwesenlik.” Parsons (2005:34) noem dat wanneer die oorspronklike beplanning na aanleiding van veranderende inligting of omstandighede nie suksesvol blyk te wees nie, is die veerkragtige jeugdige in staat om aan te pas deur middel van veranderende of nuwe doelwitte en planne. Vir Southwick e.a.(2014:5) vorm hierdie innerlike dryfkrag ’n belangrike komponent van veerkragtigheid en hulle noem dat hoewel veerkragtigheid deur verskeie ander faktore beïnvloed word, soos onder meer die beskikbaarheid van bronne, veerkragtige individue oor hul eie interne dryfkrag beskik om teen teenspoed te veg. Uit die onderhoude met Boks het sekere hoedanighede wat met veerkragtige individue verbind word, duidelik na vore getree. Boks het moed gehad, hy was toegewyd, dapper en taai, hoedanighede wat ook deur Mampane (2016:6) se navorsing betreffende veerkragtigheid beklemtoon word.

Wat verder van Boks uitstaan, is sy erkenning en lof aan sy Skepper. Sy verantwoordelikheidsin en pligsbesef teenoor die gemeenskap is ook belangrik. Op treffende wyse verklaar hy:

… Nie net gehoorsaam wees op die roep van die gemeenskap daar buite nie, maar gehoorsaam ook kan wees op die roep van my Meester wat my op hierdie rots geplaas het. Vir wie ek altyd dankbaar kan wees, dat Hy ’n doel gehad het om my in daardie haglike omstandighede te sit en vandag kan ek met trots praat waaruit Hy my gehaal het, en ek eer die Here daarvoor.

Vindevogele.a. (2015:13) dui ook hierdie hoedanigheid onder veerkragtige mense aan en verklaar dat sulke mense se spirituele welstand vir hulle uiters belangrik is omdat dit hulle in staat stel om uitdagings te hanteer.

Ter opsomming kan ons sê dat Boks die hoedanighede openbaar wat hom geskik maak om as ’n voortreflike rolmodel vir baie inwoners van histories benadeelde kontekste op te tree. Hierdie hoedanighede kan verbind word met die konsep van individuele veerkragtigheid, soos gedemonstreer in die literatuur en wat uit die onderhoude wat met Boks gevoer is, na vore gekom het. ’n Profiel van sy hoedanighede kan dus as volg saamgevat word:

  • Enorme deursettingsvermoë en vasberadenheid: Hy het nie toegelaat dat sy omstandighede hom onder kry nie, en hy het te midde van uiters moeilike omstandighede volhard, sy skoolloopbaan en tersiêre opleiding voltooi en ’n top- posisie in die regsberoep verwerf.
  • Aanpasbaarheid: Hy kon aanpassings maak te midde van die uitdagings wat hy moes hanteer.
  • Doelgerigtheid en innerlike dryfkrag: Boks was besonder gedrewe en hy het sy doelwitte doelgerig nagejaag en verwesenlik.
  • Waardestelsel: Boks het dankbaarheid en erkenning teenoor sy ma, sy gemeenskap en sy Skepper betoon vir die rol wat hulle gespeel het in sy vorming as mens en landdros, maar ook vir die hulp wat hulle verleen het.

 

7. Samevatting

Dennis Boks kom in hierdie studie voor as ’n persoon wat die karaktertrekke van integriteit, doelgerigtheid, verbete wilskrag, vasberadenheid en deursettingsvermoë op ’n ongewone en bewonderenswaardige wyse vergestalt. Hy demonstreer op indrukwekkende wyse dat dit moontlik is om oor ’n rooskleurige toekoms te droom, ongeag die hindernisse en letsels wat armoede mag laat. Gegewe sy benarde omstandighede, het Boks geweier dat gevoelens van hulpeloosheid en moedeloosheid die oorhand oor hom kry. Hy het ook nie toegelaat dat die monsters van selfbejammering en slagofferskap vatplek aan hom kry nie. Hy het trouens eerder onwrikbaar in sy potensiaal geglo en met die stukrag agter hom sy droom om ’n beroep in die regte te volg, nagejaag. Hy het nie toegelaat dat die toe heersende sosiopolitieke konteks sy gedrag beïnvloed nie. Behalwe die persoonlikheidshoedanighede wat hy gedemonstreer het, kan sy hoofbydrae as rolmodel vir baie gemarginaliseerde, kwesbare mense gevind word in die feit dat hy gewys het dat ’n sin vir selfverantwoordelikheid kan lei tot selfverbetering en loopbaanbevordering. Dit kan uiteindelik sinvolle ekonomiese, sosiale en selfs spirituele vryheid verseker. Soos Moseneke (2016:358) dit so treffend stel: “Each one of us is his or her own liberator …”

Elke studie het beperkings, en hierdie studie was nie ’n uitsondering nie. Die doel van hierdie studie was om bepaalde veerkragtigheidshoedanighede van Dennis Boks te beskryf. Boks het vrywillig aan die gesprek en onderhoud deelgeneem. Vrywillige deelname het komplikasies ten opsigte van die veralgemening van die studie. Babbie (2010:65) wys in dié verband daarop dat bevindinge in sosiale navorsing waarin onderhoude met vrywilligers gevoer word, nie optimaal veralgemeen kan word nie. Ook die feit dat die onderhoud met net een persoon gevoer is, kan as ’n beperking beskou word, aangesien dit nie op die groter geheel van die populasie binne die konteks van die histories benadeelde gebied veralgemeen kan word nie.

Boks se meesleurende storie is ’n lewende getuienis van wat gedoen kan word as ’n mens bereid is om verby die pyn van swaarkry te kyk en vorentoe te beur na ’n lewe van uitnemendheid en hoër standaarde. Daarom kan hy met reg beskou word as ’n ware en buitengewone rolmodel vir inwoners in histories benadeelde gemeenskappe.

 

Bibliografie

Acosta, J., A. Chandra en J. Madrigano. 2017. An agenda to advance integrative resilience research and practice. Key themes from a resilience roundtable. Princeton NY: Rand Corporation.

Adhikari, M. 2004. “Not black enough”: Changing expressions of coloured identity in post-apartheid South Africa. South African Historical Journal, 51:167–78.

Afifi, T.O. en H.L. MacMillan. 2011. Resilience following child maltreatment: A review of protective factors. The Canadian Journal of Psychiatry, 56(5):266–72.

Babbie, E. 2010. The practice of social research. Belmont, Wadsworth: Cengage Learning.

Buchanan, P.L. 2014. Appreciative inquiry: A path to change in education. PhD-proefskrif. California State University, San Bernadino.

Carey, K.L. 2012.Role models and racial identity for African American males at historically black and predominantly white colleges and universities. PhD-proefskrif, Ball State University, Munschie, Indiana.

Chapman, A. en B. Carbonette. 2011. Human rights for valuable and disadvantaged groups: The contributions of the UN committee on economic, social and cultural rights. Human Rights Quarterly, 33(3):682–732. http://www.stor.org/stable/23015998 (14 April 2016 geraadpleeg).

Cicchetti, D. 2010.Resilience under conditions of extreme stress: A multilevel perspective. World Psychiatry, (9):145–54.

Cooperrider, D.L., D. Whitney en J.M. Stavros. 2008. Appreciative inquiry handbook. 2de uitgawe. Brunswick, OH: Crown Custom Publishing, Inc. en San Francisco: Berrett-Koehler Publishers, Inc.

Crous, F., G.P. de Bruyn, G. Roodt, L. van Vuuren, W.J. Schoeman en A.D. Stuart. 2006. Appreciating Johann M. Scheepers. SA Tydskrif vir Bedryfsielkunde, 32(4):3–7.

Eley, D.S., C.R. Cloninger, L. Walters, C. Laurence, R. Synott en D. Wilkinson. 2013. The relationship between resilience and personality traits in doctors: Implications for enhancing well being. Peer J,1:e216.

Gale, C.E. 2007. Role model development in young African American males: Towards a conceptual model. Smith Scholar works. http:// scholar works.smith.edu/theses (9 Mei 2017 geraadpleeg).

Garmezy, N. 1991. Resilience in children's adaptation to negative life events and stressed environments. Pediatric Annals,20:463–6.

Garriga, M. 2013. Mentoring and role models and their impact on emotional distress of Latino adolescents from families headed by single mothers. A thesis presented to the school of social work. California State University, Long beach: ProQuest LLC.

Glantz, M.D. en J.L. Johnson (reds.). 1990. Resilience and development: Positive life adaptations. New York: Plenum Publishers.

Goldstein, S. en Brooks, R.B. (reds.). 2013.Handbook of resilience in children. 2de uitgawe. New York: Springer US.

Hurd, N.M., M.A. Zimmerman en Y. Xue. 2009. Negative adult influences and the protective effects of role models: A study with urban adolescents. Youth Adolescence, 38(6):777–89.

Hurd, N.M., M.A. Zimmerman en T.M. Reischl. 2011. Role model behavior and youth violence. A study of positive and negative effects. Journal of Early Adolescence, 31(2):323–54.

Johnson, S.K., M.H. Buckingham, S.L. Morris, S. Suzuki, M.B. Weiner, R.M. Hershberg, E. R. Fremont, M. Batanova, C.C. Aymong, C.J. Hunter, E.P. Bowers, J.V. Lerner en R.M. Lerner. 2016. Adolescents’ character role models: Exploring who young people look up to as examples of how to be a good person, Research in Human Development, 13(2):126–41.

Kumpfer, K.L. 1990. Factors and Processes contributing to resilience: The resilience framework. In Glantz en Johnson (reds.) 1990.

Landsberg, E., D. Kruger en Swart, E. 2016. Addressing barriers to learning. A South African Perspective. Pretoria: Van Schaik.

Ledesma, J., 2014. Conceptual frameworks and research models on resilience in leadership. Sage Open, 4(3):1–8.

Lee, T., C. Cheung en W. Kwong. 2012. Resilience as a positive youth development construct: A conceptual review. The Scientific World Journal, Mei(4):1–9. https://doi.org/10.1100/2012/390450. (8 Maart 2017 geraadpleeg).

Mampane, R.M. 2014. Factors contributing to the resilience of middle-adolescents in a South African township: Insights from a resilience questionnaire. South African Journal of Education, 34(4):1–11.

Marais, V. 2010. Veerkragtigheid by ’n groep kinders in die middel-kinderjare. MA-verhandeling. Noordwes-Universiteit, Vaaldriehoek-kampus.

Masten, S. 2011. Resilience in children threatened by extreme adversity: Frameworks for research, practice and translational synergy. Development and Psychopathology, 23:493–506.

Moseneke, D. 2016. My own liberator. A memoir. Johannesburg: Picador Africa.

Nel, M., N. Nel en A. Hugo. 2016. Learner support in a diverse classroom. A guide for foundation, intermediate and senior phase teachers of language and mathematics. Pretoria: Van Schaik.

Noltemeyer, A.L. en K.R. Bush. 2013. Adversity and resilience: A synthesis of international research. School Psychology International, 34(5):474–87.

Parsons, J. 2005. Die identifisering van veerkragtigheid en nie-veerkragtigheid by die middel-adolessent in ’n voormalige model C-skool. MEd-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Plaatjies, B.O. en J.H.P. Pretorius. 2016. Jou storie: Inspirerende verhale. https://www.pressreader.com/south-africa/die-burger/20160617/281539405242634 (14 April 2018 geraadpleeg).

Pretorius, J.P.H. 2010. ’n Waarderende ondersoek na die pedagogiese hoedanighede van Gerhardus P.V. Bosch. LitNet Akademies, 7(3):212–35.

—. 2012. ’n Positiewe profiel van ’n buitengewone hoofmeisie as rolmodel: Emme-Lancia Veronique Faro van die Sekondêre Meisieskool Oranje.LitNet Akademies,9(1):118–43. http://www.litnet.co.za/assets/pdf/6_Pretorius.pdf (14 April 2018 geraadpleeg).

—. 2013. ’n Persoonlike waardering van Michelangelo Merisi da Caravaggio (1571–1610). LitNet Akademies, 10(1):475–512. https://www.litnet.co.za/n-persoonlike-waardering-van-michelangelo-merisi-da-caravaggio-1571-1610/ (14 April 2018 geraadpleeg).

—. 2014. ’n Persoonlike waardering van Hennie Aucamp. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 10(1):123–48.

Pretorius, J.P.H. en C. van Wyk. 2013. The utilisation of the performances of Neil Diamond for improving the classroom practices of educators: an educational appreciation. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 9(3):493–504.

Rutter, M. 2006. Implications of resilience concepts for scientific understanding. Annals of the New York Academy of Sciences,1094:1–12.

—. 2007. Resilience, competence, and coping. Child Abuse and Neglect,31:205–9.

—. 2012. Resilience as a dynamic concept. Development and Psychopathology,24:335–44.

—. 2013. Annual research review: Resilience – clinical implications. The Journal of Child Psychology and Psychiatry,54:474–87.

Shean, M. 2015. Current theories relating to resilience and young people: A literature review. Melbourne: Victorian Health Promotion Foundation (VicHealth).

Southwick, S.M., G.A. Bonanno, M.S. Masten, C. Panter-Brick en R. Yehuda. 2014. Resilience definitions, theory, and challenges: Interdisciplinary perspectives, European Journal of Psychotraumatology, 5(1):1–14.

Taormina, R.J. 2015. Adult personal resilience. A new theory, new measure, and practical implications. Psychological Thought, 8(1):35–46.

Theron, L.C. 2016. Enabling resilience: Shifting the intergenerational career expectations of South Africans challenged by structural disadvantage. South African Journal of Higher Education, 30(3):37‒53.

Vindevogel, S., A. Ager, J. Schiltz, E. Broekaert en I. Derluyn. 2015. Toward a culturally sensitive conceptualization of resilience: Participatory research with war-affected communities in northern Uganda. Transcultural Psychiatry, 0(0):1–21.

Walsh, 2016. Family resilience: A developmental systems framework. European Journal of Developmental Psychology, 1-13. http://dx.doi.org/10.1080/17405629.2016.1154035 (30 Maart 2016 geraadpleeg).

Werner, E. E. 1989. High-risk children in young adulthood: A longitudinal study from birth to 32 years. American Journal of Orthopsychiatry, 59:72–81.

Whitney, D.K. en A. Trosten-Bloom. 2010. The power of appreciative inquiry: A practical

guide to positive change. San Francisco: Berrett-Koehler Publishers, Inc.

Wright, M.O.D., A.S. Masten en A.J. Narayan. 2013. Resilience processes in development: Four waves of research on positive adaptation in the context of adversity. In Goldstein en Brooks (reds.) 2013.

Zimmerman, M.A. 2013. Resilience theory: A strength-based approach to research and practice for adolescent health. Health Education and Behavior, 40(4):381–3.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top