ATKV Skrywersalbum | Writers

 
Carina Stander (1976-)

Sêgoed van Carina Stander

“Afrikaans is die taal waarin ek dink en daarom ook skryf. Rou klanke soos g, k, r en die vryheid om nuwe woorde uit ’n betreklik jong taal te skep, is opwindend.”

“Soos my gedigte, is ook my beeldhouwerke en skilderye ’n spel tussen die natuur en bonatuur, die sigbare en onsigbare, die werklike en onwerklike. Dit is ’n soeke na ’n droomsfeer of geheim, na iets wonderbaarliks. My kuns neig na Surrealisme en is verhalend, terwyl my skryfwerk visueel is.”

“Poësie – enige kunsvorm – is relevant wanneer dit die verwondering en vrese van ’n gemeenskap uitbeeld. Of ’n harde werklikheid ontbloot, sodat die gemeenskap homself kan verstaan.

Of ’n realiteit van genade te midde van onheil skep, sodat die gemeenskap weer kan hoop. Ek glo die Afrikaanse poësie vermag al hierdie dinge.”

Haar inspirasie: “’n Liefde vir stories, kuns, mense, God, musiek. Ook ’n liefde vir die wildernis en ’n brandende nuuskierigheid oor die aarde laat my reis soos die wind.”

Waaroor kan sy glad nie skryf nie? “Ek skram weg van wanhoop. Hoop is revolusionêr. Dit ontbloot en verken ’n bedekte realiteit van genade, genesing en vervulling te midde van dreigende onheil. Ek sal ’n werk uit geweld of lyding laat ontspring, maar dit nooit in sinnelose brutaliteit laat eindig nie. Vir my is dít protespoësie: om téén die wreedheid van die wêreld in te skryf. Om vryheid en vrede te skree, sónder om die omvang van die slagting te ontken. Wanneer ek oor die skoonheid van Afrika dig, is dit meermale as reaksie. Skoonheid is ’n aanklag teen wreedheid.”

“Soms is kuns ’n ontvlugting van skryf. As skryf te eensaam raak, wil ek net kuns maak. Verder finansier die kuns en skryfwerk mekaar. As student het ek bronsbeelde gegiet, sodat ek kon toer, waarna ek ’n kortverhaal, ‘Vrydagaande praat jy in jou slaap’ oor Duitsland geskryf het, wat opgeneem is in ’n bundel. Laasjaar het ek met kunsgeld ’n nuwe laptop vir my skryfwerk aangeskaf. Die artikels wat ek vir tydskrifte skryf, betaal weer my olieverf en grinder discs en die brood en patees wat julle by vanaand se boekafskop eet, word gefinansier met ’n skildery wat laasweek verkoop is!”

Oor die rol van geloof in haar werk: “Geloof sypel oral in, asof al die putte waaruit ek water skep, gevoed word deur dieselfde onderaardse aar.”

“In my kuns en skryfkuns gebruik ek die natuur om die Onsigbare tasbaar te maak. Water is byvoorbeeld ’n simbool van geestelike deursigtigheid en vlerke laat my dink aan ’n duifagtige gees.”

Het sy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer sy aan ’n vers werk? “Nee. Ek hou my deure oop vir die literati én die nieletterkundiges. Ek wil inklusief skep, want elitisme is die dood van die kunste. Ek skryf beslis nie net vir myself nie, anders sou ek nie wou publiseer nie. Poësie is klankkuns – dit moet gehóór word.”

“Skryf is stil woorde. En stilte raak soms eensaam. Om te skilder is veel geselliger. Wanneer ek na geselskap verlang maar baie werk het om te doen, gooi ek my deure wyd oop en klets en drink koffie of rooiwyn saam met vriende terwyl ek voort skilder of beitel.”

Hoe word haar gedigte geskep, hoe ontstaan hulle? Ek is ’n rommelraper – loop oral en versamel idees. In kuiers met vriende. As ek skilder of saam met my seuntjie balskop. Op ’n berg met ’n kamera. In spreekwoordeboeke. Ek skryf dikwels met musiek. Klassieke musiek of world music van Bulgarye, Kenia, Ierland, Brasilië. Sommige gedigte het ek gedroom (‘om op die rug van ’n donkie in die see te swem’) of gedroom terwyl ek wakker is (‘voor-beeld’ gaan oor ’n visioen). Soms wanneer ek alleen bid, begin die sinne vanself te rym.”

“As kunstenaar leef ek nie in isolasie nie. ’n Kind met Vigs het op my skoot gepie, ek het geslaap in ’n hut waar ’n vrou aan malaria sterf, moes ’n hele bende Alzheimerlyers se doeke ruil, het boere sien knak onder droogte, het lydende diere versorg en nekomgedraai, my man se bloed opgemop en geskrop ná ’n inbraak, my dooie dogtertjie in my hand gehou. Ek het geweld gesien en gevoel aan eie lyf. Wanneer die water so donker raak, doen ek wat ek my lewe lank doen: ek duik by die diepkant in – en skep.”

“Meegevoel met mense laat my skryf. Soms voel dit asof ek doodbloei aan die wêreld se wonde, dan probeer ek om mense gesond te skryf. Tog is pyn nie die grootste impuls vir my kuns nie. Indrukke van volheid is dikwels só oorweldigend dat dit eenvoudig verbeeld moet word.”

“Elke mens het ietsie ‘vreemds’ aan hom of haar. Ek het nog nooit ’n vervelige persoon ontmoet nie.”

Gebore en getoë

Carina Stander is op 20 November 1976 in die Nylstroom Hospitaal gebore. Dit was die naaste hospitaal – twee en ’n halwe uur se ry – vanaf haar ouers se plaas buite Ellisras (vandag Lephalale) in Limpopo. Carina is doof gebore en kon op agt maande wonderbaarlik hoor.

Sy is die jongste van drie kinders. Haar suster, Annelie, is vier jaar ouer en haar broer, Jaco, is drie jaar ouer as sy.

Carina se pa is Sarel Francois Stander. Hy het in die Bosveld grootgeword en toe hy sestien jaar oud was, moes hy die nuwe plaas wat sy pa gekoop het, oorneem omdat sy pa baie sieklik was. Sarel is alleen doer in die boendoe afgelaai met ’n tweeskaarploeg en osse. Maar die Waterberg was in 1952 nog wilde wêreld, met luiperds en selfs leeus in die berge, vertel Carina. “My pa was bietjie van ’n cowboy. Hy het op die perd gespring en 200 myl ver gery om beeste te gaan opkoop. Op 21 het hy die plaas waar hy vandag steeds boer, by my oupa oorgekoop. Hy het eers op 31 getrou. My ma was toe 32. Ek is gebore toe hulle 40 jaar oud was, soos my gedig ‘Wildernis’ sê: ‘uit die woorde van ’n ma en die wildheid van ’n pa’.

“My pa is ’n goeie storieverteller en vertel graag sulke verbeeldingryke, verregaande kontreistories. Ek het my kunstalent van hom gekry. (Hy het as skoolkind borsbeelde van sy onderwysers uit klei gemaak vir sakgeld.) Hy het ’n oog vir detail – pluk fyn veldblomme en toe ek klein was, het hy my geleer om my oë toe te maak en te tel hoeveel soorte voëls ek hoor. Van my twee ouers, is my pa die dromer.

“Pa is ’n joviale, emosionele man en is rustig oor sy manlikheid – hy huil maklik oor ander se lief en leed. Hy huil as ’n kind gebore word, as dit reën en by troues; hy kan so kwaad raak dat hy wil moor; hy lag so lekker dat lagbuie gereeld in hoesbuie oorgaan. Hy hou van mense en klassieke musiek en geskiedenis – programme op die radio wat hy al jare lank stiptelik volg. Ek het my avontuurlus en vryheidsin van hom gekry. Hy is ’n man van die grond. Ons deel ’n diep liefde vir die natuur.

“My ma, Truiki Stander, het grootgeword op ’n plaas buite Brits. Sy was bietjie van ’n nerd, ’n kultuur-junkie en altyd lief vir tale. Sy het Duits en Afrikaans by die Universiteit van Pretoria geswot en toe vir veertig jaar lank dié vakke onderrig. Meestal vir matrikulante, maar by tye vir volwassenes. Sy het ook redenaars en debatte en sulke dinge behartig. Sy sal gereeld in ’n gesprek opspring as ’n woord haar tref en dit gou gaan naslaan – die oorsprong, die presiese betekenis. Sy het ’n fyn humorsin wat neig na ironie en woordespel. Woorde roer haar werklik tot in haar gebeentes.

“Van my helderste herinneringe as kind is waar my ma se leerlinge Duitse gedigte voordra en die praatkoor Raka van Van Wyk Louw opvoer. Ek was so vier jaar oud en kon nog nie lees nie, maar het probeer om die woorde van Marais se ‘Dans van die reën’ en ‘Mabalêl’ te onthou. Wanneer niemand kyk nie, het ek dié gedigte (vol verdraaiings) voor die badkamerspieël opgesê. Hierdie verse het waarskynlik my siening van die Afrikaanse digkuns en Afrika gevorm – ’n eksotiese, geheimsinnige, gevaarlike plek.

“My ma is baie uitgesproke, eerlik, nogal kwaai, maar deernisvol. Niemand smokkel met haar kop nie. Sy het ’n geweldige sin vir reg en geregtigheid, al druis dit ook hoe teen die bestaande orde in. Sy is ’n vegter vir individualisme – ek het grootgeword met mense van alle geure en soorte aan huis. Boemelaars en professore het kom oorslaap.

“My ouers het van jongs af kuns- en skryftalent in my raakgesien en dit aangemoedig, sonder om ooit die pen uit my hand te haal. Hulle is deurdrukkers, mense met ’n sterk oorlewingsinstink. Ek raai dis na aanleiding van hulle voorbeeld dat negatiewe resensies en afgekeurde manuskripte my nie sommer omvergooi nie. Wanneer teleurstellings tref – ongelukke, misoeste, droogtes, vloede, terminale siektes, dood – raak hulle prakties. Dit is een ding wat ek by my ma afgekyk het: die vermoë om ’n oomblik lank te rou, op te staan en te kyk wat mens kan maak uit die rommel en die reste wat voor jou lê.

“Ek het opgegroei met geborge vryheid – die oop deur om te verken, te skep en myself kreatief uit te leef. Albei my ouers het ’n besonderse, byna tasbare Godsbewussyn. Verhale oor wonderwerke en die teenwoordigheid van die bonatuurlike is sommerso oor die mieliepap heen aan kombuistafel vertel. Onopgesmuk. Alledaags.

“Die afgelope tien jaar neem ek hulle elke jaar saam op reis. Hulle is fantastiese reisigers: entoesiasties, aanpasbaar en veral nuuskierig.”

Carina skryf haar eerste gedig toe sy agt jaar oud is nadat haar enigste maatjie na ’n ander dorp verhuis het. “Daardie aand, terwyl ek besig was om te bad, het die eerste versreël my bekruip. Ek het dit dadelik neergeskryf: Die ‘Leonie-week’ was ’n hele bladsy lank. ‘As ek eendag groot is,’ het ek gesê, ‘gaan ek gedigte skryf.’ My ma het geantwoord: ‘Hierdie is ’n gedig’, en vir my ’n boek gegee waarin ek my versie kon neerskryf. Van toe af het ek in die middae na skool met Opperman se Groot Verseboek en ’n gehawende HAT gesit en lyste gemaak van woorde wat vir my mooi is. Ek het geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord wou wy.”

Op elfjarige ouderdom maak Carina vir haarself die reël dat sy elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf. Van toe af het sy elke jaar so vyf-en-twintig verse geskryf – ’n ritueel wat sy volgehou het totdat sy sewentien jaar oud was. Sy het nog al daardie verse.

Vanaf Carina se twaalfde jaar is haar broer en suster reeds uit die huis. Sy was alleen saam met haar ouers op die plaas en het amper soos ’n enkelkind grootgeword – meestal in grootmens-geselskap, wat sy stimulerend en fassinerend gevind het.

Sy bring haar laerskooljare aan die Laerskool Ellisras deur en is vanaf 1990 ’n leerling aan die Hoërskool Ellisras in Limpopo. As hoërskoolleerling neem sy deel aan talle debat- en redenaarskompetisies. Op skool verkoop sy haar kunswerkies sodat sy die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom kan bywoon. Op vyftien het sy genoeg kunsgeld gespaar om self die R700 vir die week van die Skryfskool te betaal. Sy woon die Skryfskool drie jaar (1992–1994) lank by. Die eerste twee jaar is sy die enigste skoolkind. “Om regte skrywers soos Antjie Krog en Henning Pieterse in aksie te sien, het my vinnig uit die fase van tienerpoësie geklap,” vertel sy aan Etienne Bloemhof.

In matriek (1994) wen sy die ope afdeling van ’n nasionale skryfkompetisie van die Congress of South African Writers (COSAW) met die kortverhaal “In ’n neutedop”. Dié verhaal is in 2006 gepubliseer in ’n bundel met die gelyknamige titel wat vir skole voorgeskryf is (Bateleur Books, saamgestel deur Izak de Vries). Twee ander verhale wat Carina as skolier geskryf het, is ook later voorgeskryf vir skole: "Kleurblind" en "So begin haar storie" is opgeneem in Braaivleis in die bos en ander verhale, saamgestel deur Neil Cochrane (Aktuapers, 2003).

Reeds terwyl sy nog op skool is, word Carina se gedigte ook in versamelbundels opgeneem. Vyf gedigte word in Poort, ’n tydskrif van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, opgeneem, twee gedigte in Hans du Plessis se Kamers en twee verse in Antjie Krog se Losvoor wat in 1994 deur Shuter & Shooter gepubliseer is.

Op die gebied van beeldende kuns neem sy privaatklasse in pottebakkery en kuns en maak sy kuns op bestelling. In 1994 ontwerp sy ’n inkleurboek vir die Departement van Gesondheidsontwikkeling.

Op skool blink Carina veral op kulturele gebied uit, asook op leierskapgebied. Sy is redakteur van die skoolkoerant, voorsitter van die debatsvereniging en die jeugkerk en skoolprefek. Sy verwerf ook kleure in redenaars waar sy ’n semifinalis is in die nasionale ATKV-redenaarskompetisie, asook vir debat, waar sy ook ’n semifinalis is in die nasionale kompetisie van die Rapportryers. Die trofee vir die Beste Vroulike Byspeler op provinsiale vlak word aan Carina toegeken en sy verwerf ook kleure vir Koor. Sy ontvang haar skool se wisseltrofee vir die Kultuurpersoonlikheid van die Jaar in 1994.

Die invloed wat haar grootwordomgewing op haar skeppende sy uitgeoefen het, beskryf sy as volg: “Die plaas, Bergfontein waar ek grootgeword het is afgeleë. Vanuit die berge het die visarende gekom en die jakkalse, ystervarke, koedoes, klipspringers, luiperds. Ons het hulle gehoor, soms gesien, die spore herken. Wanneer die boorgat opdroog, het ons gesin in die Mokolorivier tussen die waterlelies en riete gebad. Hierdie landskap het my gefassineer, ontroer, woedend gemaak en lief. Die natuur het ook my belewenis van die erotiese gevorm. Ek wou daaroor skryf.

“Ek was tien jaar oud toe ons elektrisiteit gekry het en ’n televisie. Voor daardie tyd is my verbeelding wakker gemaak deur my ma se boeke en my pa se kontreistories. My ouma wat by ons gebly het, het graag rymspeletjies gespeel en ons sou partykeer sommer ’n hele gesprek net in rymsinne praat. Visuele prikkels was die bekende: in die houtplafon en leiklipvloer van die plaashuis, het ek verbeelde diere gesien; daar was gesigte in die vlamme; ek het beeldjies van miershoopklei gemaak. Vandag nog dryf die visuele my om te skryf.”

Carina matrikuleer in 1994.

Terug na bo

Verdere studie en werk

In 1995 skryf Carina haar in vir die graad BA (Beeldende Kuns) aan die Universiteit van Pretoria. Behalwe die vakke wat deel is van die Beeldende Kunste-graad neem sy ook filosofie, pedagogiek en Sepedi. Sy dien as komiteelid van Studentekultuur en is verantwoordelik vir konserte (1995–1997) en bemarking en publikasies (1998). Sy skryf ook kuns- en boekresensies vir Die Perdeby, die weeklikse kampuskoerant en organiseer die Wedvlug-skryfkompetisie vir universiteitstudente. Sy behaal haar Beeldende Kunste-graad in 1998.

Oor haar studentejare vertel Carina vir Die Perdeby wat sy onthou: “Om in die son op Suidkampus te beitel, sweis, swets en lag terwyl die Beatles speel. Om elke naweek te dans dat die vloere vonk. Hoe wow dit was om vir die Die Perdeby stories uit te snuffel. Om die Vlieg-bundel vir Studentekultuur saam te stel. Ek was in Magrietjie en moes twee keer die Eerstejaarskonsert skryf – ek onthou hoe vrekskaam ek was én hoe opgewonde toe dit ’n prys wen. Om vakansies saam met vriende na Zimbabwe, Zambië, Malawi en Zoeloeland te toer en daar saam met swart oumas op landerye te werk, kliniek en poppekas te hou, bakstene te maak, water uit putte te skep, om ’n te vuur sing.”

In haar eerste jaar op universiteit word haar kortverhaal "’n Viking se voorskoot" opgeneem in die bundel Drif, saamgestel deur Lindeque de Beer (JP van der Walt-uitgewer, 1995). Die volgende jaar wen sy ’n derde prys in De Jager-HAUM Kagiso-FNB se kortverhaalwedstryd. Sy wen ook Finesse se Millennium-kortverhaalwedstryd in 1999. Sy publiseer in hierdie tyd ’n aantal gedigte in Tydskrif vir Letterkunde.

In 1998 organiseer die Suid-Afrikaanse Waterverfvereniging die kunswedstryd Eiers vir Afrika. Die wedstryd is in Desember 1998 bekend gemaak en in Februarie 1999 het hulle uit 97 inskrywings wat ontvang is, 66 vir die uitstalling uitgesoek. Carina se inskrywing “24 eggs in 1 day” in gemengde medium is as die wenner aangewys. Dit het bestaan uit ’n houtpaneel met 24 afdelings wat elk ’n ander voorwerp van herwinde Afrika-materiale bevat. Daar was ’n volstruiseier, sade, akkerdoppies, ’n bal waarom tou gedraai is, draad, pampoentjies, balle, eierhouers, Coca-Cola-blikkies, vere en draad, ’n bal wat vol saad geplak is, ’n klein skilpaddop, sonneblomsaad en ’n veer in ’n volstruiseier. “Ek wou die diversiteit van Afrika in een dag uitbeeld,” het Carina gesê. “Afrika vorm ’n eenheid, maar bestaan uit uiteenlopende kulture, lande en nasies net soos een dag uit 24 uur en ’n warboel uiteenlopende emosies bestaan. Die eier of eiervorm maak deel uit van daardie dag.”

In 1999 verwerf sy haar BA Honneurs-graad in Beeldende Kuns met beeldhoukuns en visuele kommunikasie as vakke. Haar beeldhouwerke word onder andere gekeur vir uitstallings by Sasol Nuwe Handtekeninge (Pretoria Kunsmuseum), PPC Beeldhouer-uitstalling (Pretoria Kunsvereniging) en die FNB VITA Awards-uitstalling by African Window.

In 2004 en 2005 doen sy ’n MA-graad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad en behaal dit cum laude. Gedurende haar nagraadse studiejare ontvang sy die volgende beurse: Prof JJ Smith Scholarship van R11 000, die Harry Crossley Beurs van R4 000 en die KW Johnstone Beurs van R3 000.

Carina beskryf haar beeldende kuns as ’n spel tussen natuur en bonatuur. “’n Jakkals ruik aan ’n vrou se hand: na wie aard ons? Wat is die verskuilde aard waarmee ’n lewende wese gebore word? Waar aard ons, waar voel ons tuis? Die aarde as planeet verskyn in ’n aantal sirkelvormige skilderye, maar uiteindelik wens my kuns vir die terugkeer na Eden of die Nuwe Aarde. As die kind ’n pofadder onder ’n druiwetros vashou, is dit asof vrede tussen dier en mens en God herstel.”

As kunsstudent bly Carina saam met ’n klomp vriendinne in ’n kommune en op ’n dag trek ’n vreemde man, Gerrit van Niekerk, ’n ingenieur, daar in. Sy loop draaie om hom, want sy verpes ingenieurs omdat hulle oor “alles stry en nooit ’n grappie kan vang nie”.

Sy vertel in die verhaal “Tweespoor” wat sy vir Ware Liefde / Romances to Remember (saamgestel deur Corlia Fourie, Human & Rousseau, 2008) opgeteken het hoe sy een aand, terwyl Gerrit beskuit bak, vir hom vra of hy ’n reisdroom het, want daar is ’n stuk aarde wat haar al sedert haar kinderjare roep: die Amasone. “Wag, laat ek jou my droom wys,” sê hy en gaan haal ’n boek wat hy as laerskoolkind present gekry het – ’n oerwoudboek.

“Ek was heimlik verlief, maar dié krulkop wou net my reismaat wees. Saam het ons ons rugsakke gepak, Cambridge bestorm en in ’n driehonderd jaar oue houtskuur gaan woon. Die landheer, John McGill was ’n bebaarde afgetrede beeldhoudosent. In sy studio het ek hout gekerf, brons gevyl, hars gegiet en só my verblyf in die ruim solder betaal. (...)

“Midsomer het Gerrit se broer in Italië getrou. Die Toskaanse klipdorp Pitigliano was ouer as die berge en reddeloos romanties: daar was kerktorings met koperklokke, kasteelmurasies, sipresse, papawervelde, katjiepierings, olyfboorde en wingerde. Die oggend van die troue het al veertien gaste salami gekap en veldblomme gepluk. (...)

“In Italië het die verliefdheid Gerrit op die skouer getik. Hou my dop, het hy gesê, en kyk hoe dit in liefde verander. My eie hart was egter onder narkose. Vir my was hy nou ’n boesemvriend, my reismaat. Sonder dat ek hom ’n greintjie hoop gegee het, het hy ’n volle jaar lank gewag dat my hart stadig ontwaak.

“Ná agtien maande in Engeland het die Skotse Hoogland gewink. Hier het hy blinkoog gevra of ek sy meisie sal word. Ons blyplek was ’n kothuis wat 150 jaar tevore aan die rand van Fairies Wood gebou is. Ons landheer, ’n eksentrieke Frazer, se familie het sedert vyftientoet op dié landgoed in die vallei naby Loch Ness gewoeker. Ons huisie had twee slaapkamers, vuurherde en ’n liggeel houtkombuis. Die eerste aand in die woudhuis het ons die Bybel oopgeslaan by Jesaja 63:14 en verstom gelees: ‘Soos ’n trop beeste na ’n groen vallei toe afgaan, so het die Gees van die Here sy volk na ’n woonplek toe gebring ...’ (...)

“In Skotland werskaf ek vir die beeldhouer Gerald Ogilverie Laing in sy kasteel-studio en by Kilmorack Gallery – ’n katedraal tussen die berge wat in die grootste kunsgalery in die Skotse Hoogland omskep is.

“Ná ’n halfjaar in Skotland was dit tyd om die waterval en rooiborsvoëltjie, die dynserige berge wat ligpers en spookwit skakeer, die wildeaarbei en rankroos by die voordeur te groet.

“Met 2002 se sonsverduistering is ek en Gerrit saam met sy gesin na die Kruger-wildtuin. Een middagete het ek ’n waatlemoen op my kop gedra, toe ’n wildvreemde man my voorkeer en vra of ek oor drie dae op safari wil gaan – vir ’n volle maand, gratis. In ruil daarvoor moes ek vir tien Nederlandse toeriste kook.

“Vir die eerste keer vandat ek en Gerrit twee en ’n half jaar tevore ontmoet het, sou ons mekaar vir langer as ’n dag nie kon kontak nie. Hy was rustig oor ons pad saam vorentoe, maar ek was benoud dat ’n huwelik my vryheid sou steel. (...) In die Okavango het die roete vir my helder geword. Die mekoro met toeriste het dieper die delta in vertrek en ek moes drie nagte alleen op Makwena-eiland agterbly. Met ’n sarong om my lyf en ’n kop vol vlegsels het ek deur die oopgerolde tentflap na die maan gekyk. Ek het onthou hoe vry Gerrit is, hoeveel eenheid daar in ons gedeelde vryheid lê. Toe het ek my koplig aangeskakel en geskryf: Nou weet ek, oor grense heen, jy is vlees van my vlees en been van my been.

“Gerrit het al die pad van Pretoria af gery om my in Kaapstad te ontmoet waar die safari geëindig het. Met die weersiens was daar genoeg elektrisiteit in die lug om die ganse Koeberg van krag te voorsien. Een skemerdag, toe ek dit die minste verwag het, het hy my geblinddoek na ’n klipkop buite die stad ontvoer. Daar het ’n pootjiesbad op my gewag met kerse in ’n kring. Binne-in die bad was geweefde kussings, bakkies vye en neute, kaas en druiwesap. Ons het gesels oor die drie jaar saam, ons het gebid. Met donderweer in die verte het hy gevra of ek die langpad saam met hom sal vat. Die ring was twee blaartjies van rooigoud wat om ’n ambersteen krul. Gerrit het dit self met ’n ystervarkpen uit modelleerwas gekerf en by ’n juwelier laat giet.

“Stiptelik drie jaar nadat hy as vreemdeling in ons studentehuis ingetrek het, het ons getrou. In die tuin op die Bosveldplaas waar ek grootgeword het, is houttafels in ’n spiraal onder die reuse maroelaboom gepak. Fakkels en lanterns is aangesteek. Tagtig gaste was uitgedos in safaridrag, Basothokomberse en Ndebelerokke. Ek was kaalvoet, in wit. Die broers en suster het bekfluitjie en jembetrom getokkel, tjello en kitaar. My pa se speenvark en skaap was op die spit en soetmielies het oor die kole gesis. Daar was ’n stewige pot mieliepap, stervrugte en druiwe in uitgeholde boerpampoene, geroosterde groente, ’n kruiwa vol potbrood en biltongbrood, koeksisters en kolwyntjies, gemmerbier en moerkoffie. Later het ons in die skuur getiekiedraai.

“Agt maande later het ons Kaapstad toe getrek sodat ek ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk kon aanpak. Drie studiebeurse het my in staat gestel om voltyds te studeer. Bedags het Gerrit oorkant my by die kombuistafel geprogrammeer. Sy seeklippie-oë en stoppelbaard was mooi om na te loer. Soggens het bye in die peperboom gezoem. Daar was ’n kaggel en ’n pootjiesbad in die huis. Wanneer die suidooster gewaai het, het die dakbalke, gemaak van ’n ou appeltrok, gesels.

“Ná agtien maande in Houtbaai het ons drie-uur een Saterdagoggend wakker geskrik met inbrekers in die huis. Op pad na ons slaapkamer het drie mans Gerrit met geslypte metaalstawe gesteek en gewurg. Hy het met sy lewe geveg om te keer dat hulle by my uitkom. Ek het deur die oop venster gespring en gevlug. Toe die inbrekers hoor dat ek buite is, het al drie my agtervolg. Die aanvallers was skaars ’n armlengte ver, die ysterstawe reeds in die lug, gereed om my te steek. Skielik het ek die Krag ervaar. Ek het my vinger uitgesteek en hard uitgeroep: ‘In the name of Jesus Christ you will not touch me!’ Hulle het die wapens laat sak en met ’n uitdrukking van totale skok na my gestaar. Toe het hulle gevlug.

“Hulle het Gerrit vir dood agtergelaat. Hy het ’n kopwond, ’n wond aan sy arm en ’n gaatjie in sy een longsak gehad. Sy nek was vol skrape waar hulle sy are probeer steek het. Hy het op die bebloede vloer gekniel en vir die siele van sy aanvallers gebid. Ek moes die vloer drie, vier keer mop voordat die water helder was. Snags was hy die ene angssweet. Soms was hy so taai dat ek oortuig was hy bloei. Ons het gedurig wipplank gery tussen uiterse vrees en verwondering. (...)

“Op my 29ste verjaardag word ons kinderdroom bewaarheid toe ons in die louwarm Amasonerivier bad. Visse vlieg met borsvinne deur die lug. Vleespienk rivierdolfyne blaas en spuit om ons. Hoog in die takke is ’n luidier. Die skarlaken-en-groen papegaai is so lank soos Gerrit se arm. Die blou-en-geel papegaai vlieg met die son op haar bors. Ons roei deur die vloedbos. Die waterlelies in die moeras is so groot dat ’n kind daarop kan dryf. (...) In Peru snuffel Gerrit ’n piepklein rooi poncho tussen stapels wolklere uit. Die kappie is met llamalammers geborduur. Hy glimlag: ‘Vir ons dogtertjie ... eendag.’

“Kersfees 2005 bid Gerrit: Die wêreld is wyd – waar op dees aarde moet ons nesskop? Hy kry die gevoel dat hy die atlas op bladsy 92 en 93 moet oopmaak. Skepties wonder hy hoe een plek op twee bladsye kan wees. Wraggieswaar: een kaart is ’n vergroting van die ander! Hy laai dié hoekie van Google Earth af en bewonder dit heeljaar. Elf maande later bel hy die eienaar op die dag dat die grond vir die eerste keer geadverteer word, en ons koop dié erf in die Tsitsikammawoud ...”

Carina se ouma Anna is met Alzheimersiekte gediagnoseer toe Carina twaalf jaar oud was. Carina het haar begin versorg: gebad, aangetrek, slaaptydstories vir haar gelees. Ses jaar lank. “Omdat ek wou. Omdat ek iets wou doen om dankie te sê, want toe ek ses jaar oud was en Ouma se verstand nog helder, het sy my leer rym. Sy sou ’n woord sê en ek moes vinnig met ’n rymwoord antwoord totdat ons later spontaan in rymsinne sou praat – soms ’n hele gesprek wat rym!”

Die week voordat Carina universiteit toe is, is haar ouma oorlede. Haar liggaam was nog warm toe sy langs haar inkruip met ’n potlood en papier om haar vir oulaas te teken.

“As ’n soort herbesoek aan Ouma het ek twee jaar lank een middag per week Alzheimer-pasiënte in Cambridge en die Skotse Hoogland versorg. Eendag kom ’n nuwe pasiënt, naamkaartjie in die hand, voor my staan. Verwonderd, verdwaas. Versteurd, ja, maar haar woorde was die klokhelderste definisie van waansin: ‘This is me name, but I can’t find me anywhere.’”

Carina vertel aan LitNet: “Ons het vier jaar in Kaapstad (in Houtbaai en Lladudno) gebly en in daardie tyd van die huis af gewerk. Gerrit as programmeerder en ek as skilder en vryskutjoernalis vir vyf tydskrifte. Ons het besef dat ons die stad nie werklik nodig het nie, maar dat ons al ons werk oor die internet kan aanstuur. Ons het in Januarie 2008 Tsitsikamma toe getrek. Ek het ’n jaar hier gewoon voordat die tydskrifte besef het ek is nie meer in Kaapstad nie. Veral vir reisartikels maak dit geen verskil nie. In die stad het dit my ’n uur geneem om lughawe toe te ry; hier neem dit my ’n uur en ’n half. Die Tuinroete is ook nie ’n konserwatiewe soort platteland nie, daarvoor is dit veels te internasionaal. Hier is meer as een Italiaanse restaurant, ’n regte Portugese bakkery, ’n boekmaker, puik boekwinkels en viswinkels, ’n string deli’s, kunsgalerye.

“Om hierheen te kom was ’n soort semigrasie – die laaste kans wat ons die land wou gee voordat ons emigreer as gevolg van die gewelddadige misdaad. En ja, dit is veilig hier in die kuswoud. Ons draf in die berge, stap volmaan op die strand, word wakker saans van bosvarke buite die huis – nie boewe nie. In ons straat het mense slegs heinings om hulle honde binne te hou. Daar is net ’n venster tussen my kind en die blouape en bosbokke in die tuin. Vryheid: dis hoekom ons hier is.”

In 2006 word Carina se eerste digbundel, die vloedbos sal weer vlieg, deur Tafelberg uitgegee. In 2004 en 2005 het Carina 45 nuwe gedigte geskryf vir die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad. “Omdat ek ’n beeldende kunstenaar is, is my beeldetaal-klier effe ooraktief. Joan Hambidge (alias Oubasie) was ’n baie toegewyde dosent. Sy het die lat ingelê totdat ek verstaan het van beeldkongruensie en konkreetheid. Die kursus het my ook geweldig baie geleer oor die tradisie waarbinne ons skryf. Van die sewentig verse in die bundel is vyf en twintig lank terug geskryf – sommiges selfs in my hoërskooljare. (...) Daar is egter dinge waaroor ek twee en twintig jaar lank probeer skryf, soos die skietongeluk waarin my broer sy oog verloor het. Laasjaar (2005) het die vers ‘blindelings’ uiteindelik ontstaan,” vertel Carina aan Etienne Bloemhof. die vloedbos sal weer vlieg is in 2007 op die kortlys van die Universiteit van Johannesburg se Debuutprys.

Carina beskryf die deurlopende tema in hierdie bundel as volg: “Die woord ‘vloed’ in die vloedbos sal weer vlieg herinner aan oorvloedigheid en aan ’n skare: ’n ‘vloed’ van mense. Om te sê dat die vloedbos weer sal vlieg, is ’n profetiese uitdrukking van hoop, ’n verwagting dat daar oomblikke is wanneer die aarde kan ‘vlieg’ of floreer.”

’n Vloedbos is ’n mangliet of “mangrove”: die wortelboom van die kuswoud. Nadat sy die bundeltitel gekies het, het sy in die Amasone gereis en gehoor dat die oerwoud die varzea of “flooded forest” genoem word. “Ek het sowaar deur ’n vloedbos geroei!” vertel sy aan Etienne Bloemhof.

“Die sewentig verse is in vier afdelings verdeel. Die ‘Oesjaar’-afdeling gaan oor my grootwordjare in die Waterberg – die landskap en mense wat my gevorm het. Ek speel met werklikheid en bowerklikheid. Die tweede afdeling, ‘Karkaskaal’ gaan oor seksuele geweld. Hier erken ek my vrees om die slagting in ons land in die oë te staar én my vrees om nie te staar nie. Die donker geheim word óópgeskryf, sodat die Verlosser-argetipe kan verskyn en inisiasie plaasvind.

“Die reisigers in die ‘Ewenaar’-afdeling is ook geliefdes. Die dinamika van die huwelik is een van vryheid en eenheid. Die natuur is die ruimte vir sensuele ontwaking, kreatiewe vloeiing, eenwording. In die slotafdeling, ‘Groeikrag’, vloei die ek-God-verhouding uit in ’n ek-kosmos-verhouding. Wanneer die vloedbosse geseën word, is daar herstel vir Afrika. Die terugkeer na Eden, die staat van onskuld, kom in vele verse voor.”

“Die groot vonds van enige gedig is sy beeldgebruik,” skryf Marius Crous, “en wanneer ’n visuele kunstenaar soos Carina Stander gedigte skryf, verwag ’n mens skerp waarneming en ’n juiste beskrywing van beelde. Wat haar beeldgebruik soveel varser maak, is dat sy aansluit by die bekende in haar omgewing en dit dan metafories omvorm.” Hy voel egter dat sy moet waak teen ouderwetse woordgebruik en te veel woorde.

Vir TT Cloete verken hierdie debuutbundel ’n besonder wye plaaslike wêreld, maar ook ’n wêreld van ander nasionaliteite en landskappe. “Daarbenewens is daar intieme en delikate liefdesgedigte, naas liries religieuse gedigte, daar is gedigte van medelye met lydendes, met loopneuskinders, vigswesies en verkragtes – ’n ruim verskeidenheid. (...) Die gedigte is vol sonskyn, vol lag en sing en klank (‘’n vink rinkink in klinkende taal’), benewens die pynlike. Veral word hier baie van saad gepraat en dit voorspel ’n talent wat gevul is met baie mooi dinge wat nog kan kom.”

Volgens Bernard Odendaal kenmerk ’n sintuiglike weelde die digteres se werklikheidsbelewing – waarskynlik meer akuut gemaak deur die feit dat sy doof gebore is, maar tog op wonderbaarlike wyse haar gehoor teruggekry het (‘Vrygeborene’). “Die weelde van daardie belewing spoel oor in haar digkuns, wat sprankelend klankryk aandoen en uitmunt deur sy frisse beeldingskrag.” Volgens hom is die vloedbos sal weer vlieg is ’n opwindende debuut.

“Stander se debuut tref jou met sy ruie sintuiglikheid en die tuimeling van beeld op beeld,” skryf Francois Smith. “Dit is ’n woordgevoeligheid wat in die eerste afdeling, ‘Oesjaar’ gekoppel word aan grootwordjare op ’n plaas, en die poësie wat dáár ontstaan, is gewortel in die aardse, in die geluide, kleure en teksture van dae en nagte in die veld. Maar dit is ook poësie ingegee deur die ‘erflating’ en ‘voorbeeld’ van ouers en grootouers, ’n intieme verwantskap tussen mense waarin daar ’n verband ontstaan tussen boer met verskalwers en boer met verse (gedigte). Die mistieke strekking is opvallend, ook ’n aardmistiek, en die skryfkuns word ’n bykans rituele opwekking van die grondstowwe.”

Op LitNet skryf Daniel Hugo dat Carina se debuut ’n mens beïndruk met die woord-, klank- en beeldvaardigheid. “Op die titelblad word die inhoud van die bundel aangegee as ‘sewentig vry verse’. Soos altyd in die geval van goeie poësie is die verse nie werklik vry of los nie, maar goed gekonstrueer met ryme, halfryme, refreine en sirkulerende elemente.” Hy beskryf dit as ’n meerdimensionele bundel wat tot die oog, die oor, die hart en die verstand spreek.

Henning Snyman beskryf Carina as ’n jong digter wat vars kyk na die wêreld, ongerep en vry van ’n verstikkende lading van teorie en intertekstualiteit. Nie dat intertekstualiteit nie ’n teks se onderbou kan versterk nie, maar dis heerlik bevrydend om iemand te vind wat daarsonder kan dig en pragtige poësie kan skep. “Stander se gedigte is inderdaad ’n oorvloed van beelde en geil waarnemings, maar kan dit dra omdat die tematiek intens daarmee verweef is. Die vier afdelings behels ’n wye bestekopname wat die mens teenoor die skepping stel, die gewelddadigheid en wreedheid, die erotiek en die godsdiens. Dis ’n moedige onderneming in die hand van ’n ervare digter, te meer so vir die beginner. Maar dié debuutdigter kry meer reg as wat sommige ervare digters kan vermag. Miskien deur die oorweldigende skeppingsdrang, miskien vanweë haar opleiding in die skone kunste, maar veral danksy een sterk, deurlopende leitmotif: die mens staan in sy onbegrip gekonfronteer en weerloos teenoor en terselfdertyd afhanklik van ’n Goddelike Wese. Feitlik in mitologiese vorm en formaat probeer die digterlike siel die oorweldigende en verwarrende indrukke poëties karteer. Asof die geweld van die skepping hier oorgaan tot die geweld van die gedig en die digterlike skeppingsproses. (...) Daar is oordaad, soms te veel teenwoordige deelwoorde, soms haastige oorgange. Maar dié jong kunstenaar ervaar die wêreld rondom haar met oog en oor, absoluut sintuiglik, en beskik oor die vermoë van beeld en woord. Met meer ervaring sal die verse gestroop word, maar intussen geniet die leser die sentiment van geil woord en beeld.”

Wanneer maak sy tyd om te skryf? “Daar is drie dinge waarsonder ek nie kan skep nie: verbeelding, stamina en ’n sperstreep. Verbeelding is wat dit is: ’n binne-sintuig. Stamina is ’n soort hardkoppigheid, ’n single-minded wil om aan te hou skep, of mens nou wil of nie. ’n Sperstreep of deadline is ’n grens wat ek skep en waarby ek eenvoudig hou. Want wanneer die wilde perde van verbeelding deur my tuin hardloop, is daar ’n tyd om hulle te ry en ’n tyd om hulle tot rus te bring. Soos almal griffel ek ook maar oral inspirasie-notas neer. Die werklike verwerking en voltooiing van idees gebeur dan in die drie ure bedags wanneer my peutertjie slaap en van sewe tot elf saans as alles stil is.

“Daar was ’n stadium wat ek agt weke aanmekaar sou werk sonder om naweke te halt, maar ek vind dat tyd en effektiwiteit nie noodwendig parallel loop nie. Daarom maak ek nou weer tyd vir ou rituele wat my help om stamina te behou: klim twee keer per week berg, gaan boogy, rumba en tango elke week saam met my man, bid skemertyd op die strand, speel behoorlik met my kind, kuier in die hangmat met vriende, fliek. Eers daarná oorleef ek maklik ’n week waarin ek artikels of ’n kortverhaal, opdragvers en nuwe skildery moet inhandig. Werk hard, speel hard – dís die ritme wat my laat rimpel van kreatiewe plesier. En as ek ná ’n groot projek voel dat ek getrou genoeg was aan verbeelding, stamina en sperstreep, beloon ek myself altyd met ’n reis na ’n wonderlike plek waar ek weer nuwe skryf- en kunsidees kan versamel.”

woud van nege en negentig vlerke word in 2009 by Tafelberg uitgegee. Oor die dieper betekenis agter die titel van die bundel sê Carina dat voëls die simbole van onsterflikheid is, omdat hemelwesens vlerke het. “Engele word ook verbind met die lug, wind en vrymaking. Die swerms trekvoëls in my verse staan vir grensloosheid, vir reis. Nege en negentig vlerke is ’n amper-daar. ’n Byna-volledigheid. ’n Afvlerkdier. En ’n woud is ’n droomwêreld, ’n primordiale ruimte van skoonheid en gevaar, ’n plek om te verdwaal. Heelwat van die verse is in paradyslike grond geplant, maar daar is byna altyd ’n spanning tussen skoonheid en gevaar. Skoonheid, wat gevaar impliseer, soos ’n vloeiende vulkaan of sneeustorting. Gevaar wat in skoonheid opgesluit is, soos die reënboogvel van ’n slang.”

Sy vertel dat die bundel vol vulkane, tropiese korale, eilande, moerasse en erotiek is. Ook vol vloede, woude, berge, swangerskap, vreemdsoortige diere en engele, gesprekke met digters, familie en vriende. “’n Tematiese hegrank tussen die twee bundels, is die reismotief. Maar waar die vloedbos sal weer vlieg meestal in Afrika afspeel, gooi ek hierdie keer die vensters oop na ander kontinente, veral Suid-Amerika. Hier is meer uitheemse spesies as voorheen.”

Oor die voorblad verduidelik Carina dat op dieselfde oomblik as wat die titel, woud van nege en negentig vlerke, drie jaar voor die publikasie in haar kop gespring het, sy die prentjie van die voorblad in haar verbeelding gesien het. Sy het ’n voorskets daarvan gemaak en dit geliasseer. Maar eers nadat sy al sewentig gedigte klaar geskryf het, het sy die omslag geskilder. Die boom op die voorblad is net ’n geraamte, maar die drie vere wat daaraan hang, is die ene lig en lewe. Ook op die agterblad groei daar nuwe blaartjies uit die voël se dooie takvlerke. “Die boom is simbool van opstanding uit die dood, omdat sade herleef en wortels en takke uitloof selfs ná droogtes of brande of boomslagtery. Met sy ondergrondse wortels en takke in die lug, verwys die boom na die hemelse, aardse en onderaardse. Die boom as organiese ritueel, as seisoendraer, is deel van my geestelike identiteit.”

Die bundel is in ses afdelings ingedeel en die sentrale tema in elk is die volgende:

“Die eerste afdeling, ‘vlam onder die water’ speel af op die vulkaaneilande van Hawaii, in Bolandse wingerde, langs die Kaapse kus, by Argentinië se 270 watervalle, in die Amatola en Kalifornië se woude. Hierdie gedigte is opgedra aan ‘die God van hemel en aarde’. Hy is die Vlerkman of Skutsengel wat die verdwaaldes opsoek en terugneem na neste wat sterker is as die storms.

“Die tweede afdeling, ‘vasteland, wankelland’, handel oor Suid-Amerika en Afrika. Vastelande is nie vas nie – hulle wankel: die Brasiliaanse slawe dans vir vryheid. Suid-Afrikaners immigreer, maar verlang. ’n Malawiese vrou met malaria versorg ander. Hier is die wonderwerk soms groter as die wond.

“Afdeling drie, ‘sondoop’, is gesprekke met vriendinne en met literêre voormense soos Jonker, Leipoldt en Weideman.

“In die vierde afdeling, ‘wildernis’, besoek ek weer die plaas in die Waterberg waar ek opgegroei het en waar my ouers steeds boer. Ek is nie meer ’n buikspreker vir die kind wat ek was nie, maar skryf nou oor my ouers in ’n tyd toe hulle so oud was soos wat ek nou is. Dit gaan hier oor herinneringe aan eenvoudige oorvloed en oorvloedige eenvoud.

“Afdeling vyf, ‘palm-pas’ is liefdesgedigte vir my reismaat en man. Dit speel af in die woudhuisie in die Skotse Hoogland waar ons vir ses maande gewoon het en oor ons saamwees in die Amasone-oerwoud. Dis verse oor eenwording, sensualiteit, bevrugting.

“Die sesde afdeling, ‘die nege-maande-moeras’, gaan oor die wonderlike wagtyd toe ek swanger was met ons eersteling. Die moerasse, riviere en oseane in hierdie gedigte, is ’n ruimte vir swangerskap: in die donker waterwêreld broei ’n geheim uit, ’n onsigbare seuntjie. Die bundel eindig by ’n nuwe begin: die geboorte.”

Vir Bernard Odendaal kenmerk pragtige klankgebruik en beelding woud van nege en negentig vlerke, spesifiek die laaste twee afdelings. “Die gevaar dat die ekstase-getinte lewensingesteldheid kan aanleiding gee tot inhoudelike en stilistiese oordaad, word myns insiens grootliks deur Stander vermy. Slegs die herhaalde, selfs opvallende gebruik van intensiverende of nuanserende samestellingsvorme, dikwels in verband met kleure, het plek-plek gesog wou aandoen. Ek haal ’n paar voorbeelde aan: ‘ryp-sagte buik’, ‘gebrande-oranje somers’, ‘tongpienk bloeisels’ en ‘siekblou see’. Talle besonder aantreklike gedigte deurspek egter die bundel. Dit bied ’n optimistiese lewensbeskouing wat egter nie so naïef is om die verskrikkinge en droewighede van die wêreld mis te kyk nie.”

Carina voer Catrina Aldrich mee na ’n wye verskeidenheid landskappe, weerstoestande en stemmings. “Beelde van lewe en bevrugting is terugkerende motiewe in die bundel. Die kunswerk op die voorblad, deur Stander self geskilder, word op paratekstuele vlak ’n rigtingaanduider by die interpretasie van die teks, omdat dit een van die sentrale temas in die bundel op treffende wyse visueel belig. Die omslag beeld ’n skeletagtige boom teen die agtergrond van ’n blouerige naghemel uit. Die afwesigheid van sterre in dié hemelgewelf trek die aandag na die drie byna gloeiende vere wat uit die boom se dooie takke spruit. Die vitaliteit van hierdie vere is in skerp kontras met die indruk van doodsheid en verval wat die boom skep. Sodoende word die leser se aandag toegespits op die aanwesigheid van bevrugting, groei en nuwe lewe – temas wat op inhoudelike vlak sentraal staan.

“Ten spyte daarvan dat vernietiging en aftakeling in sommige afdelings en verskeie gedigte voorop gestel word, vleg Stander die temas van polsende lewe met ’n behendige kunstenaarshand dwarsdeur die bundel. Elke kwynende boom bevat gloeiende, lewende vere. Die implikasie van die titel, in kombinasie met die kunswerk op die voorblad, is dat die leser met ’n hele woud van sulke betowerende bome te make het. Die gegewe word nie beperk tot die drie vere op die voorblad nie, maar uitgebrei tot nege-en-negentig vlerke. Die getal nege-en-negentig suggereer ’n element van onvolledigheid en onvolkomenheid wat die prosesmatige voorop stel deur ’n onvoltooide, wordende siklus onder die leser se aandag te bring. Sodoende dui die titel aan dat die perspektief voortdurend op die toekomstige – op dit wat nog mag kom – moet wees. Dit is ’n aanbeveling wat beslis ook op Stander se digterskap betrekking het. Die bundel sluit immers af met ’n metapoëtiese bepeinsing oor hoe om ‘dié vroeglente’, die nuwe fase in haar lewe, doeltreffend te verwoord: ‘dit weet digter alleen’ (110). Hierdie digter het onteenseglik die gereedskap om dié voortdurende verkenningstog met haar fyn belewenis en seggingskrag so aan te pak dat haar lesers graag sal wil saamreis.”

Ampie Coetzee skryf as volg in Die Burger oor woud van nege en negentig vlerke: “’n Bundel wat met verbeelding en metafoor só begin soos woud van nege en negentig vlerke van Carina Stander beloof om iets te beteken: om op die rug van ’n donkie in die see te swem / deur ’n land bo die wolke / oor landskappe van droom / ’n pen soos ’n staf in die hand / ... / om veerlig te dryf / ­verse te skryf / die son ’n engelkop / vanaf ’n eselrug aanskou.

“Dit is dán moeilik om op die wyse van die prosa te her-vertel wat die metafoor op ’n ander manier ­vertel, op ’n ander manier na ­betekenis soek. Die inhoud, wat betref die spesifisiteit van tyd en plek, word grootliks oorheers deur digmiddele – ‘’n pen soos ’n staf in die hand’. (...) Dit is hinderlik dat subjekte in gedigte skielik verander; en dat sekere wendings nie verstaanbaar uit die konteks van ’n gedig kom nie. Maar dié besware wat ’n mens kon hê, is min in vergelyking met die metaforiese krag en die sterk verbeelding in die bundel.”

Vanaf 2006 vryskut Carina vir ’n aantal koerante en tydskrifte, onder andere vir Rapport Boeke, Beeld, De Kat, Rooi Rose, Insig, Sarie, Huisgenoot-boekebylaag en Lééf . Sy voer meestal onderhoude met medekunstenaars en skrywers of skryf essays en reisartikels. Saam met haar man vat sy die langpad deur Afrika, Suid-Amerika, die VSA en Europa en omskep dit later in reisstories. In 2006 en 2008 is sy aangewys as Artikelskrywer van die Jaar by die Media 24-tydskrif Lééf.

Carina het haar eerste solo-kunsuitstalling in 2008 in die Breytenbach-sentrum in Wellington in die Wes-Kaap gehou. Dit was getitel Aard – ’n spel tussen natuur en bonatuur.

Agt van Carina se gedigte is in Groot verseboek se nuwe uitgawe in 2008 opgeneem. Sy vertel op LitNet dat toe sy die e-pos kry wat haar vertel dat haar gedigte opgeneem is, sy gevoel het soos toe sy in matriek gehoor het dat sy gekeur is om beeldende kuns by Tukkies te gaan swot. “Al is ek (tussen Opperman, Breytenbach en meeste ander) net ’n eerstejaar met ’n eerstelingbundel, is ek nou in die geselskap van die Groot Geeste. Ore gespits, potloodskerpmaker en papier in die hand.”

Na die publikasie van die vloedbos sal weer vlieg het Carina in samewerking met Francois le Roux (die Ha!man) ’n CD met verse uit die bundel saamgestel. Haar gedigte beskik oor ’n musikaliteit wat spreek uit die refreine, rympatrone, alliterende en assonerende klank. Die woorde is nie net op papier musikaal nie, maar ook op die oor. Die CD, Vyftien musiekverse: die vloedbos sal weer vlieg, bevat vyftien van Carina se gedigte wat sy self voorlees, met agtergrondmusiek en -klanke deur Francois. Dit is nooit oorheersend-dominerend nie, maar subtiel op die agtergrond. Carina se voorlesings is op sigself musiek en daaruit spreek haar kunstenaarstalent. Nie net is sy ’n beeldende kunstenaar en woordskepper nie, maar ook ’n stem-kunstenaar.

Vir die kunsliedere-produksie Nuwe woorde word nuwe liedere is ’n aantal van haar gedigte getoonset deur komponiste soos Niel van der Watt en opgevoer by Woordpoort in Pretoria in 2009 en die Woordfees in Stellenbosch in 2010. Drie van Carina se gedigte is ook getoonset deur die Nederlandse musiekgroep Souldada en word in November 2010 op hulle jongste CD, Oer de grins, vrygestel.

By die Volksbladfees in 2009 en Woordfees in 2010 is Carina deel van die kunsuitstalling Allooi, wat ’n tweegesprek tussen beeldkuns en woordkuns is. Vooraanstaande Suid-Afrikaanse visuele en woordkunstenaars is genooi om individueel of in pare twee nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreer word. Die enigste riglyn was dat elemente van sowel die visuele as woordkuns in elkeen moes voorkom. Carina was saam met Ingrid Winterbach die enigste individuele deelnemers.

Carina vertel aan Adolf van Coller van De Kat dat sy en Gerrit ’n nuuskierigheid oor die aarde en die mensdom by Aden, hulle seun, wil kweek. Ook ’n wete dat mens oraloor met God kan gesels. Hy moet weet dat dit goed is om skaamteloos lief te hê. “Voor Aden se speelvenster (my skryfvenster) is ’n bessieboom waaraan Knysna loeries op die oomblik smul. Vanoggend weer wakker gemaak deur blouape op die dak. Netnou saam getrippeldans op die wysie van ‘I’ve got joy like a fountain in my soul’. Ons lees stories, hou poppespel, bou blokkies, brrrmmm die karre, kruip oor duine, jaag seevoëls, soek met laagwater die pers seesterre in die getypoele, steek ons vingers in die anemone, teken met kryt, bou legkaart. Want ek wil hê hy moet wéét ek is hier. Dat ek síén hoe heerlik hy sy groottoon suig of sy dinosourus druiwe voer. Dat ek hóór as hy agter ’n vlieg aanhol en ‘wag, mot, wag!’ roep. Of slaaptyd die ganse heelal groet met ‘tatta blaar, tatta water, tatta maan’. Die ure wat hy bedags slaap, skryf of skilder ek soos weerlig; dan weer van sewe tot elf saans. Só het ek ’n ses-uur-werksdag. Aden is gemaklik met vaste rituele én verandering, daarom reis hy altyd saam. Laasjaar in Frankryk het ons hom vir drie weke lank elke aand in ’n ander gîte d’etape (stappershut) se wasbak gebad. Vanjaar is ’n camper van toer. Op 21 maande was hy al 26 keer saam met ons in die pens van ’n vliegtuig.”

Carina se eerste roman, Wildvreemd, word in 2011 gepubliseer. Dié roman het nie maklik gekom nie. Vyftien jaar het dit haar geneem, om presies te wees. Twintig keer se oorskryf. Al wat haar laat aanhou het, was geloof, hoop en liefde, sê sy. Sy het geglo in haar karakters en die storielyn, maar dikwels getwyfel aan haarself.

Die manuskrip is sewe keer deur uitgewers teruggestuur, elke keer met ’n vriendelike briefie: dis ’n sterk storie, jy het skryftalent, maar hier’s nog nie genoeg nie. ’n Jaar terug, weer vir die romanwedstryd, nóg so ’n briefie. “Ek onthou hoe’t ek vir my troostee gemaak en by die venster gaan sit en vir die eerste keer in die vyftien jaar gehuil.”

Jeannette Ferreira se keurverslag met praktiese wenke het haar op die regte spoor gesit. “Ek’s lus en koop ’n kas wyn en blomme vir almal wat die manuskrip deur die jare afgekeur het, want hulle’t my gered van om die manuskrip te vroeg op die mark te sit.

“Die eerste keer dat my storie in my kop gespring het, was ’n sin uit my hoofkarakter se mond, nou op die eerste bladsy van my boek. Dit was in 1996, ek het kuns op Tukkies geswot en ek was in die stort, toe spring hierdie sin in my kop: ‘Stilte is ’n oergeluid.’

“Ek het geweet dis die eerste sin van my roman. Ek het dit neergeskryf, en gaandeweg het die vrou in my gedagtes vorm aangeneem. Sy is stom, en die rede daarvoor is dat ek haar een wou maak met die diere, die stemloses. Sy is die verpersoonliking van stemloosheid.”

Die verhaalgebeure het in die vyftien jaar omtrent niks verander nie, maar Carina het een oggend – “nogal terwyl ek tande gevlos het!” – skielik glashelder besef sy moet die verteller vervang deur agt ek-vertellers. Dit was die deurbraak wat die manuskrip nodig gehad het.

“Ná soveel jaar wat ek met die karakters saamgeleef het, het ek hul stemme gekén, ek het presies geweet hoe elkeen klink; ek het toe bloot die mikrofoon aan hulle gegee. En toe werk die boek.”

Andersheid, “buitestanderskap”, is ’n tema in haar eerste roman. “Dit gaan oor doodgewone mense, maar êrens voel hulle hulle pas nie in nie. Dis nie ’n soekende identiteit nie, dis meer ’n viering van individualisme. Elkeen is ’n wildvreemdeling, maar in die buitestanderskap is hulle ook eenders in hul weerloosheid teenoor mekaar.”

Deur die verloop van die verhaal ontwikkel hulle deernis vir mekaar. Met die hoofkarakter, ’n stom byeboer, gebeur dit oor ’n tydperk van nege jaar, waarin sy vrede maak met haarself.

Oor haar hoofkarakter vertel Carina aan Elmari Rautenbach: “Nege jaar gelede trek ’n vreemdeling van onsekere herkoms alleen in die Ruig in, ’n stuk oewerbos in die Waterberge van Limpopo. In die ­jare wat volg, bekwaam sy haar as uitsonderlike byeboer en veg vrou-alleen teen onwettige jagtery, soms op wraaklustige wyses. Almal vrees haar. Hulle glo die byt van ’n hiëna is die rede dat sy stom is.

“Vir my is die byeboer die verpersoonliking van die stemloses, die diere. Byeboerdery is een van die primitiefste boerderye op aarde. Dit pas by die ‘oergeit’, die sprokiesagtige of fantasmagoriese in Wildvreemd. Die koninginby is ook ’n metafoor vir die byeboer wat iets vreemd wonderliks in die geheim vorm. Soos ’n by is sy potensieel gevaarlik, selfs dodelik, maar ook heilsaam soos heuning.

“Die sikliese konsep van viriliteit ná die dood lê ook na aan die hart van hierdie verhaal. Die byeboer word uitgebeeld as ’n soort inisiant omdat sy die siklus van slagting tot genesing voltooi. Nadat sy uit die sogenaamde skyndood opgewek is, weet sy wat benede die onbewuste lê. Ek werk hier met die idee van die inisiant as bonatuurlike wese – ’n konsep wat sterk inspeel op onsterflikheid of ewige lewe, van skeppingskrag wat heers oor die dood.”

Of soos sy in dié kort uittreksel “vertel”: “Vir hulle is ek die alleendier, die eenkant een, die sondebok. Die woordstom vrou wat slaap tussen donker skaduwees.”

Carina het nog nooit self gevoel sy’s ’n buitestander nie. “Dis vir my half snaaks dat dit die hooftema in die boek is.”

Oor die diere- en insekteryk wat so ‘n belangrike rol in Wildvreemd speel, vertel Carina aan Rautenbach dat sy van kleins af ’n passie vir bewaring gehad het. Poppe is dood, het sy kleintyd gesê, maar diere práát. “In my slaapkamer as kind was daar duifkuikens wat uit neste gewaai het, boskatjies wat deur miere opgevreet is, ’n duikerlam sonder ma. Op skool wou ek ’n ruk lank veearts word, maar toe kry ek 29% vir wiskunde en 92% vir stelwerk!

“Ek is nie gekant teen jag as sodanig nie. D Scott se artikel ‘Strikke en valle – die vloek van die natuurlewe’ wat in 1982 deur die destydse Fauna & Flora (Transvaalse afdeling Natuurbewaring nr 39) gepubliseer is, was die prikkel vir die stryd teen onwettige jagmetodes in Wildvreemd.

“Strikke en slagysters is die wreedste denkbare wyse om ’n dier dood te maak. Onwettige jagters het geen genade vir lydende, verminkte diere nie. Die vernietiging van die natuur maak my woedend. Woede is soms suurstof vir die vuur wanneer ’n mens skep.

“Veral woede wat gebore is uit ’n liefde – in die geval van Wildvreemd was dit my liefde vir die wildernis. Ook my liefde vir vryheid en my woede teenoor diegene wat ons daarvan probeer ontneem.

“Die verhaal gaan dus nie net oor die bewaring van die natuur nie, maar oor die beskerming van lewe – ook die sielslewe van die mens. Dit is ’n verhaal van slagting in al sy vorme hierdie, van die doodgeswygde en vryheid. Veral vryheid.”

Volgens Carina omarm die titel Wildvreemd heelparty betekenismoontlikhede. Daar is die Waterberge se “wildernis” waar die verhaal afspeel, die gramadoelas, die ongerepte, idilliese landelike ruimte. Daar is die “verwildering” van Byeboer: haar verdrywing of verjaging uit die gemeenskap; ook die sinsverbystering en verwesenheid van sommige karakters. “Wildheid” in die verhaal word gevind in trekke van onmenslikheid en barbarisme in die skakeling van een mens teenoor ’n ander, en ook in gerugte van promiskuïteit. Maar dinge is ook “wildvreemd” in die gewone sin van die woord: elke karakter – selfs dié wat volgens algemeen aanvaarde norme en standaarde leef – het ’n vreemdsoortigheid of rariteit wat van elkeen op sy eie manier ’n “wildvreemdeling” maak.

Saam met die bekendstelling van die roman is ’n solo-uitstalling van kunswerke wat op die roman gegrond is, by die Lanzerac Hotel op Stellenbosch gehou. Hieroor vertel Carina aan Elmari Rautenbach dat sy altyd geweet het dat sy haar lewe aan die skeppende woord én beeld wou wy; aan skryf én kuns. Dis soos ’n spiraal: eers het sy Wildvreemd in haar gedagtes sien afspeel, soos ’n fliek, toe het sy dit geskryf, en nou is sy terug by die sien: die visuele kuns.

Haar solotentoonstelling by Lanzerac is ’n visueelmaking van karakters en tonele uit dié verhaal. Woorde word beelde. Vandaar die titel van die uitstalling: Wildvreemd: verbeelde woorde.

Op haar webwerf sê Carina die tekeninge is van karakters met wie sy saamgeleef het. “Ek het soveel jaar met die karakters in my gedagtes saamgeleef dat ek voel asof ek hul stemme en geite volkome ken,” verduidelik sy. “Jare gelede het ek selfs een aand gedroom hoe ek in ’n huis instap en daar is al my karakters almal saam in een vertrek, besig om met mekaar te kuier!

“Hulle het hulle nie juis aan my gesteur nie, asof ek ’n vreemdeling vir hulle was. Maar ja, ek weet hoe hulle lyk en klink en nou, vir die uitstalling by Lanzerac, deel ek hierdie prentjies in my kop met lesers in ’n reeks van 40 kunswerke.”

Die verhaalgegewe van Wildvreemd lyk heeltemal eenvoudig: Nege jaar tevore trek ’n vreemde vrou in die Ruig in. Die Ruig is ’n stuk ongerepte natuur in die Waterberge. Vreemd, want sy praat nie en skakel nie in nie, en vreemd vanweë haar eienaardige, maar aantreklike voorkoms en gewoontes.

Sy leef na aan die aarde, boer met bye en voer haar stryd teen wildstropers alleen en ongesiens. Een maal per maand verkoop sy heuning en kerse op ’n boeremark. Haar enigste vertroueling is ’n ruimgeestige boer, Braam Botha, wat haar heuningoes aanry mark toe en haar korwe uitverhuur aan die vrugteboere in die omgewing.

Die gemeenskap beskou haar as mal; ’n heks, ’n skarlakenvrou van die nag wat seuntjies vergiftig. Sy is die hoofverdagte as ’n verwoestende veldbrand groot skade aanrig en mense daarin omkom. Ná die brand onttrek sy haar selfs nog meer, omring met haar bye en geheime. En gerugte wat nie gaan lê nie.

Wildvreemd is in vyf hoofstukke verdeel: “1. Daar was ’n brand”; “2. Vier maande ná die vuur”; “3. Heuning na die reën”; “4. Ou bloed, jong bloed” en “5. Vlees teen vlees”. Carina stel ’n agttal vertellers aan die woord wat, volgens Saartjie Botha, vernuftig afgewissel word om perspektief-skuiwe te bewerkstellig. En hoewel die byeboer of brandgegewe sentraal in al die vertellers se betrokkenheid staan, het elkeen ook ’n eie persoonlike verhaal te vertel.

Daar is Braam, die goedhartige boer, en sy vrou, Brenda, wat sy motiewe met die heuningboer nie vertrou nie. Hul enigste seun, Jarus, staan op skei en was jare laas op die familieplaas. Sý seun, Ebro, ’n nagraadse student in die kunste, besoek sy grootouers, en sy vriendin, Ingrid van Aarde, dogter van Zach, is ’n natuurbewaarder in die gebied.

Wouter Hartman is verlief op Ingrid, wat op haar beurt ’n fassinasie met die heuningboer het en ’n kreatiewe skryfprojek aan haar wil wy. Daar is ook Meraai en haar man, Jan Mampoer, wat arbeiders op die Bothas se plaas is. Hulle het twee seuns, Jan Rats, ’n natuurbewaarder, en Jan Pampoen, met die skeel oog en stadige verstand.

Botha beskryf Wildvreemd as vol kinkels. “Stander is aanvanklik suinig met inligting wat die verhaal in sy volle omvang laat ontvou. ’n Sterk spanningslyn word gehandhaaf en die slim afwisseling van vertellers laat die leser in afwagting uitsien na ’n volgende spreekbeurt. Dit is uiteraard onmoontlik om aan al die vertellers ewe veel gewig te verleen en sommige is aan die skrapse kant. Veral Wouter, Zach en Jarus is veel minder aan die woord as die ander vertellers.”

Botha meen dat ’n sterker teenwoordigheid van laasgenoemde drie karakters en ’n paar snitte in Ingrid en Ebro se soms studentikose relase ’n digter-gekonstrueerde verhaal daar kon gestel het en die reikwydte van die beleweniswêreld kon verbreed het. Dit is egter veral Meraai as verteller wat Botha beïndruk het. Haar taal is ’n heerlike hutspot van Afrikaanse dialekte met ’n skeutjie ou Nederlands tussenin.

Botha beskou Wildvreemd as ’n bevestiging van Stander se talent, deursettingsvermoë en gedrewenheid as skrywer. Daar is ’n paar steurnisse wat deurgeglip het, soos die slot wat gedwonge voel, met sommige karakters wat te vroeg in die verloop ’n soort lotsbepaling aanvaar. Die beskrywings van sensualiteit is soms te blatant en opdringerig vir Botha en die lesers word ook nie subtiel genoeg gelei in die vorming van perspektief op die vertellers nie en het beslis nie ewe veel simpatie met en begrip vir elkeen nie. Dit is egter ’n moedige poging en nie sonder bekoring nie. Sy sien met verwagting uit na Carina se volgende roman.

Carina het haar ook in Wildvreemd bewys as ’n vaardige skrywer wat net so tuis in die oordadigheid van prosa as in die gestrooptheid van poësie is. Veral haar natuurbeskrywings van ’n grootliks ongedokumenteerde gedeelte van Suid-Afrika is uitstekend.

Vir Nini Bennett maak Stander se buitengewone kennis van die natuur en sensitiewe beelding van Wildvreemd ’n roman wat die leser meevoer. Die gedagtewêreld van die karakters oorheers die teks, en die atmosfeer is dromerig en impressionisties: “Toe sy die flesse aangee, het ek die vars bloed onder haar vingernaels gesien, haar handpalms rooi gevlek, soos herfsblare. Aaneen het sy gehuil, sag soos ’n reëntjie. Maar ek het nie gevra nie; sy sou nie kon sê nie.”

Op haar beste grens Stander se waarneming aan die sublieme, terwyl die intriges en legkaart van perspektiewe die leser sal boei. Wildvreemd is sterk aan te beveel. Stander skryf met hoop, meen Bennett – hoop téén wreedheid en ongeregtigheid in, en met die gerusstelling dat liefde, versoening en geregtigheid seëvier.

Carina was van kleins af die kind vir wie almal hul stories en geheime kom vertel het. “Ek het partykeer een storie uit 17 windrigtings gehoor en vroeg al begryp hoe mense mekaar verkeerd verstaan.”

Ná haar twee digbundels is dit vir haar lekker om “oorvloediger” te kon skryf, sê sy aan Hanlie Retief. Haar inspirasie kom van die “prose poets”, soos Anne Michaels (Fugitive Pieces), Michael Ondaatje (The English Patient), Clarissa Pinkola Estés (Women Who Run with the Wolves).

En Breyten Breytenbach betower haar met sy vrye vlug, spontane wording. Hy is ’n regte skilderdigter – hy skryf met sy oë. Pablo Neruda lees sy vir metaforiese taal, Sheila Cussons vir haar verstommend helder spiritualiteit en Rilke omdat hy die meester van simboliek is.

“Ek kry ook ’n hengse kiek uit Bill Bryson (Notes on a Small Island) en Bill Watterson se Calvin and Hobbes: Scientific Progress goes 'bonk'. Niefiksie wat vir my kragtige rigtingwysers is, is What Is So Amazing about Grace (Philip Yancey) en die What to Expect-trilogie. (By elkeen van my kinders se koms lees ek al 3 000 bladsye weer van voor af, van dag een van die swangerskap tot aan die einde van die peuterjare.)

“Afrikaanse romanskrywers wat my hart warm laat klop, is Chris Barnard, Etienne van Heerden (Toorberg) en Elsa Joubert (Die swerfjare van Poppie Nongena).

“Ek het ’n ewige plekkie vir Hemingway se Old Man and the Sea. En die Bybelboek Jesaja, ’n pragtige stuk poësie, maar ook prosa. Dit laat mens verstaan waarom die Hebreeuse werkwoord vir ‘dig’ en ‘profeteer’ dieselfde is: ‘naba’.

“So, ek wil nie afskeid neem van poësie nie, maar ek wil dit net in ’n meer gedrewe vorm doen. Dat ek nie so veilig hoef te wees van die woorde nie …”

Carina se raad aan voornemende digters is die volgende:

  • As jy net lank genoeg kan lewe om een gedig te skryf, waaroor sal dit gaan? Skryf vandag nog daardie gedig. Só keer jy dat die groot vonk binne jou geblus word deur ’n uitstellery en, uiteindelik, ’n afstellery.
  • Maak dadelik ’n nota van daardie sterk sin of beeld wat by jou opkom wanneer jy by die vliegtuig uitkyk, ’n openbarende droom of brief ontvang, of ’n blaargeraamte sien as die son by jou kamer inskyn. Dalk omskep jy dit eers jare later in ’n gedig, maar as jy die oomblik van inspirasie nie neerpen nie, is dit water deur jou vingers. Vir altyd verlore.
  • Poësie is klankkuns: lees jou vers hardop. Hóór of die ritme en klank aansluit by die inhoud van jou gedig.
  • Publiseer ’n gedig slegs as jy bereid is om dit in lewende lywe voor ’n gehoor te lees; as jy jouself ten nouste aan daardie vers kan koppel.
  • Moenie jou onklaar gedigte sommerso verloën nie. Op my rekenaar is ’n lêer met die heerlik dubbelsinnige titel, “Gedigte om te verwerk”. Dit is 117 bladsye lank.
  • Skryf binne en buite seisoen. Dus: of jy nou lus is of nie. Op 11 het ek vir myself die reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf – ’n ritueel wat ek volgehou het totdat ek 17 jaar oud was. Dit het my selfdissipline geleer.
  • Wees groeigereed, nie kleinserig nie.
  • Omring jouself met reuse: op hoërskool het ek vir drie jaar die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom bygewoon. Die eerste twee jaar was ek die enigste skoolkind – totaal verskrik én verwonderd. Om regte skrywers soos Antjie Krog in aksie te sien, het my laat besef hoe ontsettend baie ek moet leer. Dié besef het my uit die fase van tienerpoësie geklap – iets wat my andersins dalk dekades sou geneem het. Met die MA in Kreatiewe Skryfwerk by Kaapstad het Joan Hambidge my gewys op hebbelikhede waarvoor ek in my pasoppens moet wees en natuurlike sterk punte waarmee ek kan woeker.
  • As jy regtig wil groei, bestaan daar nie iets soos om vir ontspanning te lees nie. Selfs al lees jy ook ’n slapstick komedie. Of jy nou blaai deur ’n mediese joernaal, ’n vakkundige natuurboek, ’n atlas, resepteboek, spreekwoordeboek of kinderboek, koerant en veral ’n digbundel: lees altyd met ’n pen in die hand, besig om die tricks of the trade te ontsyfer.
  • Gaan lééf. Gooi jou deure oop. Snorkel kaal in die see. Besoek jou grootwordplek. Bid op ’n berg. Luister stip hoe mense gesels, na hul taal en lyftaal, veral na dit wat ongesê bly. Keer dan terug na jou binnekamer. En skryf met al duisend jou sintuie. Jou eie storie in jou eie stem.

By 2011 se Woordfees het Carina ’n uitstalling van haar kunswerke gehou. Daar was ses inksketse op die uitstalling: die oorspronklike weergawes uit haar digbundel Woud van nege en negentig vlerke, asook ’n sewende een – spesiaal vir die Slenterfees/Woordfees, getiteld Elwe en Selwe. Sy het ook twee ronde olieverfskilderye op bord uitgestal. Die hoofkarakter uit haar eerste roman, Wildvreemd, asook ’n roerende Return to Eden, waar ’n jakkals aan ’n vrou se gesig ruik. Dis vars en diep en vol hoop, soos haar aanhaling uit Jesaja 11:8.

Die laaste twee skilderye was Tuinier en ’n amper lewensgrootte-uitbeelding van Desmond Tutu getiteld Hemel en Aarde.

Carina is in 2011 genomineer vir ’n ATKV-Mediaveertjie, kategorie Beste Leefstyl-artikel.

Oor die drie verskillende genres waarin sy werk – romankuns, poësie en skilderkuns – sê sy: “Gedigte is soms vir my ’n soort kitsverligting, soos om ‘help!’ te skree wanneer ’n klip op jou voet val of ‘kyk hier!’ as jy iets besonders beleef. Digters is dikwels gerig op die gevoelens en waarnemings van die ‘self’. Hulle skryf na binne. Ek dink romanskrywers is in die algemeen minder doenig met die ‘self’ omdat hulle ander mense se stories skryf. Hulle skryf meer na buite. Ek het die laaste paar jaar die behoefte om eerder my gedagtes in stories uit te stort. Liriese stories met ’n digterlike stembuiging. My gedigte, aan die ander kant, het steeds ’n verhalende of narratiewe element.

“In ’n poging om die onverklaarbare te verklaar wou ek die werklikheid herskep deur middel van ’n eie mitologie. Deur die gebruik van metaforiese beelding – in visuele kuns, digkuns of prosa – soek ek na ’n moontlike wêreld, ’n nuwe beelding. ’n Metafoor bring kategorieë saam wat voorheen vreemd vir mekaar was sodat die huidige kategorisering verskuif kan word deur die proses van assimilering - een voorwerp neem ’n ander voorwerp se eienskappe oor, al lyk dit asof hulle nie saamhoort nie. In een skets verander ’n vrou se hare in ’n vlindervlerk. ’n Uil omvorm tot ’n tak. ’n Jakkals ruik aan ’n vrou se gesig. Na wie aard ons? Wat is die verskuilde aard waarmee ons gebore word?
Mitologiese en metaforiese beelding is draers van hoop omdat dit moontlikhede in die werklikheid ondersoek wat voorheen onmoontlik gelyk het. Hierom skep ek. Hierom sal ek aanhou skep.”

In ’n rubriek in Rapport skryf Carina onder die titel “Ek wil ook graag asemskryf, my kind ...”

In die Bosvelddorpie van my kinderjare was daar net een verkeerslig – ’n verskoning vir die bestaansreg van die laerskool se padpatrollie.

Ek was nie in die padpatrollie nie. Ek was ook nie ’n biblioteekprefek nie. Ek is nie eens gekies om pouses toiletdiens te doen nie. Ek dink ek was die enigste standerd vyf sonder ’n balkie.

Want ek had “’n houding”.

“Wat bedoel hulle met ‘houding’, Ma?”

Ma Truiki, ’n opvoeder in murg en been (sy het 40 jaar lank Afrikaans en Duits vir matrikulante gegee) trek die HAT nader.

Sy lees en sê gewoon: “Hulle praat twak, my kind.”

Die dag toe ek kom vertel het van die nuwe woord wat ons in Bybelonderrig geleer het, het Ma ook die HAT so nadergehark.

“Meneer het vandag vir ons gelees van Ragab die hoer. Ek het gevra wat ’n hoer is, toe maak hy of hy my nie hoor nie.

“Toe steek ek maar weer my hand op.”

“O ja?”

“Hy sê ’n hoer is ’n slegte vrou. Ek het gevra of dit iemand is wat haar kinders mishandel, toe sê hy ja, net so.”

Sit Ma weer HAT in die hand. “Houding” is die verkeerde woord, besluit sy. “Nuuskierige bliksempie” is nader aan die waarheid.

Beland ek met my houding en al by die enigste sielkundige op die dorp.

Ek haat skool, sê ek. Mens moet ’n lelike, dik rok en ’n poniestert dra, balle vang en …

Daar was ’n ding waarvoor ek nie naam gehad het nie. Die ding dat Die Sisteem my wurg.

“Nou wat wil jy doen?” vra die sielkundige.
“Ek wil skryf. Met los hare.”

Al was ek net 12 jaar oud, was ek in my eie oë reeds jare al ’n skrywer.

Op agt het die eerste versreël my besoek en op elf het ek vir myself die reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf – ’n ritueel wat ek volgehou het vir die res van my skooljare.

Die sielkundige het my gediagnoseer met vervroegde adolessensie.

“Maar wanneer jy 15 is en jou maatjies begin wonder oor hul plek in die lewe, gaan jy so mak soos ’n lammetjie wees.”

Sy was reg. Op hoërskool het ek ’n kalm, kreatiewe ruimte in Die Sisteem gevind.

In my matriekjaar daag Ma soos ’n stout kind by die huis op: Sy het my edlapkaart by die skool gesteel. Pure nuuskierigheid!

Ons lees my gr 1-juffrou se verslag: “Carina lewe in ’n wêreld van fantasie, ruil b en d om, maar maak mooi sinne.”

Ek was glo so stilverskrik in gr 2 dat ek eers in die derde kwartaal my hand in die klas opgesteek het. Dit was kort voor huistoegaantyd, toe Juffrou ’n prentjie ophou en vra wie ’n storie daarvan wil maak.

Ek het my hand opgesteek, die skaam handjie waarmee ek nooit iets wou vra nie, die hand met die vratjies wat soos aartappelmoere uitspruit, was so hoog in die lug dat die hele klas kon sien toe ek vra: “’Seblief, ’seblief, mag ek …?”

Laas week kry ek Vonk@verse in die pos: ’n nuwe digbundel vir laerskole, saamgestel deur Jeanette Ferreira. Versies wat ek as negejarige kind geskryf het, is hierin opgeneem.

Ek wys dit vir my drie-en-’n- halfjarige seuntjie, Aden. En hy oorrompel my met ’n sin so mooi, so vreemdbekend, dat dit my stil laat: “Mamma, ek skryf ’n storie van toe God lief was vir alles op die aarde. Ek skryf dit met my asem.”

Ek wil ook asemskryf, my kind.

 

Publikasies:

Publikasie

die vloedbos sal weer vlieg

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044807 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Woud van nege en negentig vlerke

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047971 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Wildvreemd

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053392 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Carina Stander beskikbaar op die internet

Artikels deur Carina Stander beskikbaar op die internet

 


Terug na bo

Bygewerk: 2010-10-20
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment