Carina Stander oor kuns, verse en 'n Facebook-vendusie

  • 1

Carina Stander gesels met Naomi Meyer oor kuns op 'n kunstefees en kuns vier-en-twintig uur lank op die sosiale media.

Jy het onlangs by die US Woordfees uitgestal. Het jy dalk kuns wat daar op uitstalling was om vir ons lesers te wys?

Vir die uitstalling Portretteer het die kurator en kunstenaar Louis Jansen van Vuuren ons genooi om selfportrette te maak. Om dit eg en oortuigend te hou, het ek gedink om iets te skep wat 'n weerspieëling is van die plek in die lewe waar ek my tans bevind. Ek het twee jong seuns van sewe en vier jaar oud en ek het twee kinders voor geboorte verloor. 'n Kind is tog in 'n mate 'n genetiese nabyskoot van die ouer. Selfs al is hulle in 'n ander generasie, 'n ander geslag, met 'n unieke persoonlikheid en voorliefdes en 'n voorkoms van hulle eie, kan mens dit nie miskyk nie: die ouer se beeld (portret) sluimer in die kind. Amper soos wat outobiografiese gegewens van skrywers in hul boeke sluimer – al probeer mens dit ontken. Belangrik vir my was dat die elemente aanvanklik verskuil moet wees vir die leser/kyker en eers met 'n bietjie moeite raakgesien/raakgelees word, net soos wat die ooreenkomste tussen ouer en kind 'n geheim is wat hom tydsaam openbaar. Hier is die inkskets en versie wat ek gemaak het vir my vierjarige rakker, Ilan:

by die plek waar wolke gebore word
het die droom by Ilan se oë in gevlug:
ons hoor die geknaag van oerdiere,
'n trop vreet plante met wortels vol lug.

Maar is jy nie eintlik 'n digter nie? Dink jy dan in prente of in woorde?

Prente, woorde – alles water uit dieselfde boorgat. "I'm just telling stories," soos Tracy Chapman sing. Wildvreemd het ek in 2011 bekendgestel met 'n kunsuitstalling by Lanzerac in Stellenbosch en in Pretoria waarin ek die karakters en tonele uit die boek visueel verbeeld het. Verbeelde woorde kan mens dit noem.

Heelwat van my skryftyd word die afgelope jare gewy aan 'n tweede roman, 'n allegorie met die werktitel Die Bergengel. Vir hierdie verhaal het ek 'n nuwe werkswyse ontwikkel: ek sit musiek aan, blinddoek myself met 'n serp en beskryf die tonele wat soos 'n fliek in my gedagtes afspeel. Dit stel my in staat om tegelykertyd in prente én in woorde te dink. Om geblinddoek te skryf is 'n ongekarteerde roete, 'n inbeweeg na die binnelandskap, na die rivier onder die rivier. (Elke vyftien minute of so loer ek darem gou of my vingers nog op die regte toetse is!)

Korreksie: Is jy nie eintlik 'n romanskrywer nie? Hoe kry mens dit reg om oor te skakel na hierdie (langer) woordmedium ook nog, as mens gewoond is daaraan dat woorde so ekonomies en presies min genoeg moet kom?

Weet jy, Naomi, daar is niks aan skryfkuns wat ek meer verafsku as om my woorde te tel nie. Ek haat dit gewoon om my woorde op hok te hou. En tog, al is digkuns 'n medium wat vereis dat mens elke klank weeg en oorweeg, was dit my eerste liefde. Want daar is iets dringend en dwingend omtrent poësie: dis die foto van die vlietende oomblik, die reënwater wat jy nie durf verspil nie; soms is dit 'n lewensnoodsaaklikheid soos nies of hik, 'n kitsverligting.

In Hebreeus en Aramees word daar tussen passiewe en aktiewe profetering onderskei en nataf kan letterlik vertaal word as "om te wag op reën vanuit die hemel" of “om te wag op verkwikkende inspirasie”. Ek sien poësie as dié soort inspirasie, 'n geheul met die Anderwêreldse. Omdat my verse eintlik maar stories in die kleine is, gebruik ek dit soms as "voorsketse" of buitelyne vir prosawerk. Beide Wildvreemd en Die Bergengel, my rubrieke en reisartikels en al my kortverhale wemel van die versreëls. Of dalk is my verhale eintlik maar net uitgebreide metafore of lang gedigte?

Ek het 'n perd hoor runnik dat jy 'n plaasmeisie is. En perde gaan aanjaag op die sosiale media. Kom hier pêre? Verduidelik bietjie hoe dit werk.

Gerrit se Kersgeskenk aan my was om 'n derde van ons garage in te rig vir my kuns. Daar val lieflike natuurlike lig op die lessenaar waar ek teken – bo deur die deursigtige dakplaat en ook deur die venster met die wilde rankroos wat nog nie blom nie. In Januarie het ek moue opgerol en my nuwe akker begin bewerk dat die stof so staan. Die reeks inksketse wat ek gemaak het, het verbasend flink nuwe huise gevind en gevolglik was daar 'n lied in my litte en 'n splinternuwe plan in my agterkop: in die Bosveld waar ek grootgeword het, het my pa, Sarel, op Vrydae sy verskalwers vendusie toe gevat. En soos dit 'n behoorlike boeremeisie betaam, jaag ek ook voortaan my verse na die Facebook-kraal. Of eerder: 'n inkskets van 'n vers. Die sketse is almal in ink en gouache op Hahnemühle-papier, A3-grootte met 'n gedig as titel. Ink en papier as medium is 'n natuurlike pasmaat vir skryfkuns. Die Facebook-vendusie is deursigtig, in die oopte, en vriende kan meedoen aan die boerse liefde deur te bie of die tekening en haar volbloedversie aan ander te voorwaarts.

Nie almal is op Facebook nie. Hoe nou? En ook nie almal wat jou kuns wil koop of sien, is nie daar nie. Gee bietjie raad.

Op my webwerf, www.carinastander.com, is daar onder die "visuele kunstenaar"-skakel 'n galerytjie met drie afdelings – beeldhou, skilderkuns en inksketse - waarop ek my maaksels laai, ook die weeklikse inksketse. Mense kan gerus die werf bewandel en my dan vonkpos by [email protected].

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek het al die kontak inligting wat ek gehad het van Carina verloor. Kan u asseblief minstens vir my haar e-pos adres stuur? Nie seker of die een op die blad korrek is nie. Dankie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top