ons word vanmôre weer wakker
gesig teen gesig
gewrigte beskermend oor mekaar se naakte rûe -
jy is my verbond en my enigste gelofte
sonder jou sal ek gewoon in makheid verval
vanmôre word ons in ’n hemelbed wakker
deur die bamboesblinders kruip die dag
af met die trappe
die kombuis maak oop op ’n kuswoud
waar kleur in ruigtes sluimer
voëls drink buite die venster
en ons skink nog filterkoffie, my lief
want dis vandag reeds sewe jaar
vandat die troutafels in spirale gepak is
onder die maroelaboom in die Bosveld
was familie en vriende soos fakkels
en ’n stewige pot mieliepap
soetmielies aan't sis
skaap en speenvark op die spit
en koeksisters, gemmerbier
landelike gelag
wie sou ooit dínk om dít te groet?
ons skrik vanmôre weer saam wakker
in ’n land krank van moordlustigheid
vlug uit oor die kreukelrots
grýp jou aan die arm:
onthou die winter toe ons kaal swem
onder ’n Kaapse waterval
en gifstowwe sif oor ’n landery
en ’n duisend swerms trek of vrek
onthou die oopbars van ons voordeur
mans wat huis-in beur
gate in jou kop, jou long
dat ek jou bloed drie maal moes mop
moet my aan dié onbeskawing nie oorlaat nie, my lief
ons wil wegsnoei maar ons rank
ons bloeisel oor heinings en hekke
bo-oor die blaffende bekke van ’n bloeddeurdrenkte land
op berge primitief soos geplooide olifant
salueer ons die sonwarm grond
groei vaster aan mekaar
ons rank
soms het ons niks meer om te gee nie
behalwe ’n voetspoor vlugtend oor die see