"laat woorde die laaste sê hê"
('n pleitskrif in vyf dele)
1.
Ons taal 'n basterkokerboom -
hoor jy hoe die takke sprei
as vingers oor die grofstam gly.
Muishond tol Hollands in die rondte,
skilpad rol sy oë à la Frans.
Kraai sketter en skel Maleis.
Die kleurvolk waai gekopdoek verby
vanuit 'n gevlegte biesiehuis.
Die sterre in Boesmanland verraai:
'n Digter het die aarde
om sy as laat draai.
2.
'n Honderd jaar tevore
moes my ouma Anna donkieore dra
as sy iets op Afrikaans in die klas wou vra;
ook dié skandmerk om die nek:
I'm a donkey, I speak Dutch.
Ek sal jou onthou, verbanne taal,
snye aan die tong
stilswyende dier.
Van geslag tot slagpaal
sal ek onthou
hoe Ouma my op ses laat rym het
(ster > vêr, kos > vos, leer > seer, gil > stil)
in die tuin op die plaas
in geloof dat haar Heer
selfs kan praat deur 'n donkie
en brandende bos.
3.
'n halfeeu gelede
het die bannelingdigter
dit teen die muur van sy huurkamer
aan die voet van Montmartre
geskryf: werkwantdienagkomnader
die skrif is aan die muur
laat ons in hierdie uur
weer die ink en die veer opneem
om 'n sinkende skip blou te verf
op die beenwit papier
van verderf
4.
sal 'n gespook wees as die taal nóú saliger raak
ontydig as woorde sou wegval
só voor die geboorte van my beroep
sal ek ook in Ingels kan vertel
van spookasem in die mond van my eersteling
of word dié woord dalk 'n stomme wond
'n asemlose spook
wat draal
bo die hel van onttaling
5.
Liewe Jesus met die Naam-soos-die-begin-van-'n-brief
U weet hoe lief het ek dié taal
waarin mens maar vryelik kan vloek
met behulp van die donders in die lug
en die moere wat onder die kluite sug.
U wat die heelal geskep het met 'n woord
(die bloedblom en die duiwelsklou,
die seester en planeet)
laat woorde tog die laaste sê hê.
In hierdie uur vra ek nie veel nie,
net 'n vers soos 'n vuurvlieg
vol vuur, vol vlieg
- spikkel lig vanuit die niet -
en drukkers wat die boeke druk
van bogrymers en mymers
en liriekskrywers met vingers soos krieke
en dramaturge met rooimiere in die murg
en tolke, vertalers, romansiere
van plaashuis tot praalpaleis.
Eers dan sal selfs stommerik die stem verhef
soos die pasifis die pen opneem
(hoe bloederig die ink, hoe geraamtewit die blad.)
Wag dan nog net vir die lesers;
wag en wag sonder skaamte.
Ek sal arbeid adel op my akker,
ek sal blomme plant en bye voed
en as dit moet: dubbelspoed skryf
met albei hande, duim-teen-duim
in 'n gebaar van vlinders wat paar,
in 'n saluut van weerlose weerbaarheid.
Want eendag as ek klaar ingespit is
en ingelyf in die Anderkant,
wil ek nie hoor dat Afrikaans 'n wasige insek was
wat sonder taal of tyding
nag-in geswerf het
om geruisloos
in die donker te sterf nie ...
Grote God van my voordigters,
van Cussons en Cloete en Krog,
neem in hemelsnaam dié mosterdsaad
en seën dit met sonskyn en reën.
Die uwe
Gelowige Twyfelaar
Kommentaar
As my sewe-en-sewentig jarige bors nie so benoud was nie sou jy my jubellied oor jou pleit gehoor het.
Baie dankie, Samuel. Jou gejubel word van harte waardeer.
Dis uitstekend.
Dankie Liewe Heer vir hulle wat nog omgee vir onse Taal.
Dankie vir hierdie pragtige stukkie taal-nostalgie.
Dis so besonders en mense lees nie ver genoeg nie. Wens al die onbeholpenes wat so graag hierdie mooi taal met die alleraaklikste Engels ontsoer lees jou getuigskrif en doen iets aan hul taalgebruik.