Lesersindruk: Die Wonderwese deur Carina Stander

  • 1

Titel: Die Wonderwese
Skrywer: Carina Stander

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485310136

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Net buite die hek van Kleinkaap Boetiekhotel, waar die bekendstelling vir Die Wonderwese laas week gehou is, staan ʼn skewe lamppaal vol koerantopskrifte – meestal slegte nuus – en minder as vyfhonderd meter verder kruip die besoedelde Hennopsspruit moeg voort. Maar binne die hoë klipmure was daar daardie aand feetjieliggies, wyn vir jolige gaste in kostuums en maskers, en sjefgeskepte smulhappies. Laasgenoemde is geïnspireer deur kos wat die skrywer in haar boeke vir lesers voorsit, met dieselfde sorg waarmee sy alles, van die geografie van die mitologiese Gabriëllië tot die diepste geheime van haar karakters, skep.

Watter plek het fantasie in ʼn tyd waarin dit voel asof ons wêreld tot stilstand knars? Is dit bloot ontsnapping, ʼn literêre kostuumpartytjie; die lees daarvan ʼn tussenspel voor die volgende verpletterende nuusberig?

“Hoe dapper moet jy regtig wees om sagmoedig te bly in hierdie wrede wêreld? Mens moet rêrig baie dapper wees, om jou eie sagte hart te bewaar” (Carina Stander in gesprek met Matthys Boshoff by die bekendstellingsfunksie).

Die Bergengel-trilogie is baie meer as fantasie. Dit is allegorie, besinning, kommentaar en prosa, en in die eerste plek ʼn goeie storie.

Na die redelik skokkende slot van die eerste boek, speel die verhaal verder af sonder om ʼn tree te mis. Eron Verberger moet sy verlies verwerk voordat hy sy reis voortsit om die res van die agt geseëndes te vind – hulle wat hom moet help op sy pad na hereniging met sy pa, Gibor, waar dié in ʼn verre land ʼn plek van veiligheid vir vlugtendes probeer skep. Dis ʼn onvoorspelbare, lewensgevaarlike reis deur ʼn landskap verskroei deur die gierigheid van walvisoliemagnate en die boosheid van Eron en Gibor se aartsvyand Velvel Azazel, die oëverblinder.

Om die leser te help om die storielyn (weer of vir die eerste keer) op te tel, word daar slim en binne konteks teruggeflits na Eron en sy reisgenoot Talia se agtergrondstories, en die aard van die Rewolusie word weer kortliks beskryf. Hierna kry Die Wonderwese as vertelling sy eie momentum en neem vars wendings. Met die vind van elke geseënde verdiep Eron se karakter as Bergengel-in-wording, soekend na die ontwykende Wonderwese – ʼn mistieke teenwoordigheid in die gedaante van ʼn klein voëltjie wat volgens oorlewering slegs twee of drie keer tydens ʼn Bergengel se bewind van 20 jaar verskyn.

Dit is heeltemal moontlik om die verhaal te geniet sonder vermoede van of insig in relevante intertekste, soos Dante se Heilige Komedie of (baie sentraal ten opsigte van die agt geseëndes) die Bergpredikasie uit Matteus 5. Dit is egter baie bevredigend wanneer hierdie tekste, wat die skrywer met genotvolle vaardigheid in die struktuur van die verhaal gebruik, herken word.

In dié verband was dit vir hierdie leser reeds in Die Bergengel duidelik dat sekere dele (veral tydens Eron se tyd saam met sy oom, die wyse kluisenaar Ruach) doelbewus geskryf is om te klink soos die Ou Testamentiese profeteboeke. Vir die haastige leser mag dit effens uitputtend wees, maar binne konteks is dit in die kol.

Die skrywer put mildelik uit die apokrief Die Boek van Henog, ʼn antieke Hebreeuse geskrif wat verwys na reuse en demone, en uit Leo Tolstoy se The Kingdom of God is within you. Deur te verduidelik hoe hierdie tekste die trilogie beïnvloed, het sy die gaste wat by die bekendstelling was laat deel in die “binnepret” wat sy tydens die skeppingsproses hiermee gehad het; agtergrondkennis wat beslis bydra tot waardering van die boek, en die moeite werd is om te ondersoek.

Let wel: Eron se verhaal is boeiend en meesleurend. Wat ek in die volgende paar paragrawe gaan probeer uitpluis, is dus heeltemal subjektief.

Die Wonderwese lees vir my vloeiender as Die Bergengel, dalk omdat ek as leser saam met die karakters en dalk selfs die skrywer algaande meer reisfiks raak in die landskap van Gabriëllië, en al meer gewoond aan die verteltrant.

Feitlik alle fantasiefiksie word in die verlede tyd aangebied. Nou, vir my is dit iets van ʼn verleentheid om te erken dat ek telkens met die lees van beide boeke te bewus daarvan geraak het. Wat anders sou ek dan verwag? Ek lees my lewe lank Tolkien, Narnia, Ursula K Le Guin, Arthur C Clarke – alles in past tense geskryf. Ek het al Terry Pratchett se boeke, en onlangs het my dogter so tussen swottings en etenstye deur die oudioboeke van George RR Martin se oorspronklike epog geluister, en ek het my onwillekeurig met tye laat meesleur. Nog nooit het dit my bewustelik gepla wanneer ʼn storie terugskouend vertel word nie.

Dalk het dit my net getref omdat hierdie die eerste keer is dat ek epiese fantasie in my moedertaal lees. Miskien omdat die ritme van verledetydvertellings anders op die oor val in Afrikaans as in Engels, dikteer dit ʼn effens moeitevoller pas om vol te hou, selfs al is dit subtiel, en onbewustelik? Laat die gebruik van die verlede tyd die verhaal selfs meer epies klink as wat dit sou as dit in die teenwoordige tyd geskryf was? Of vertraag dit dalk die tempo? Struikel ʼn leser dalk baie effens om tred te hou met die lompheid van “het” en “ge-” terwyl die verhaal met dringendheid en onmiddellikheid voor hom afspeel?

Die verskil tussen ons Afrikaanse aanwending van die verlede tyd, en die meer elegante (moet my nie stenig nie) Engelse werkwoordverbuigings wat past tense nie veel anders in ritme laat vloei as present tense nie, is iets waaroor ek graag ander se menings sou wou hoor.

Ek gaan juig die dag wanneer die Bergengel-trilogie vertaal word. Ja, al is die derde boek nog nie eers geskryf nie, sien ek reeds uit na die vertaling. Nie omdat ek sou verkies om dit eerder in iets anders as Afrikaans te lees nie – inteendeel! Maar hierdie fenomenale werk verdien dit; verdien blootstelling aan lesers wat wêreldwyd goeie fiksie in hierdie genre verslind.

Daar is deur resensente uitgewys dat ons hier iets het wat nog nooit tevore in Afrikaans aangepak is nie. Die briljantheid waarmee landskappe, dialekte, persone, etniese groepe, legendes en soveel ander fyn geweefde detail uitgewerk is terwyl daar terselfdertyd onder dié tapisserie met onderstrominge van maatskaplike en etiese dilemmas gewerk word, is indrukwekkend. Enige iemand wat in haar (en Eron se) voetspore sal wil volg, sal Carina Stander se verbeelding, haar dapperheid, maar ook haar sagtheid, moeilik ewenaar.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top