woud van nege en negentig vlerke
Tafelberg Uitgewers, Kaapstad
Sagteband
112 bladsye
R140
ISBN: 9780624047971
In haar nuwe digbundel, woud van nege en negentig vlerke, voer Carina Stander haar lesers mee na ’n wye verskeidenheid landskappe, weerstoestande en stemmings. Die bundel is in ses afdelings verdeel, elkeen met ’n sentrale tema. Daarbenewens is daar terugkerende temas en motiewe wat die bundel tot ’n hegte eenheid saambind. Die spirituele sowel as die sintuiglike vorm die basis van die gedigte in verskeie versvorme, onder meer die vrye vers, rondeau, pantoen, villanelle en haikoe. Die natuur word aangewend om die verhouding tussen mens en God, mens en grond, man en vrou, kind en ouer met besonderse beeldingskrag in die onderskeie afdelings te omskryf.
Die openingsafdeling, “Vlam onder die water”, is opgedra aan “die God van hemel en aarde”. Hierin verwoord Stander as metafisies-religieuse digter haar deurweefde Godsbegrip deur haar intens persoonlike ervaring van ’n heilige teenwoordigheid in verband te bring met haar natuurbelewenis in die verskillende ruimtes waarbinne sy haar bevind. Daar is ’n spel tussen natuur en bonatuur. Dit is van meet af aan duidelik dat Stander as ywerige reisiger die indrukke wat sy tydens haar omswerwinge opdoen, in haar poësie verwerk. Reeds in die eerste afdeling kom tonele uit Hawaii, Argentinië, Kalifornië en die Amatola ter sprake.
Die feit dat uiteenlopende omgewings ingespan word om die verhouding tussen mens en Opperwese uit te beeld, maak van hierdie afdeling ’n goeie voorbeeld van reismistiek. Mistisisme is volgens Stander (2009:6) “’n strewe na die innige vereniging van die siel met God; ’n aanraking tussen mens en God”. In die eerste afdeling streef die digter-spreker na hierdie soort aanraking deur die beskrywing van die grootsheid van natuurverskynsels soos vulkane, vloede, seë, die wind en berge. Sy verwys byvoorbeeld na “die Windmaker se asem/ [wat] die water stadig roer” (11) en beskryf ’n berg in Hawaii as “’n Sigbare Raaisel/ soos God” (14). Die onnoembare almag van die Skepper weergalm oor afgronde: “Ek is die groot Ek Is” (17).
Die teenstelling van skepping en verwoesting is ’n terugkerende tema in hierdie bundel. Die tweede afdeling, “Vasteland, wankelland”, bevraagteken byvoorbeeld die standhoudendheid van kontinente, spesifiek Afrika en Suid-Amerika. Beelde van armoede en ellende oorheers in sommige gedigte, veral dié wat oor Suid-Amerika handel. Ander gedigte het ’n sterk ekologiese inslag, omdat hulle handel oor die verwoestende impak wat menslike bedrywighede op die natuur het (vgl “Ontman”, p 48). In hierdie verband erken Stander in “Papierplantasie” medepligtigheid wanneer sy bieg: “skuldig moet ek skryf en dig/ mond teen mond/ vollyf teen lyf/ met ’n penveer teen die lug/ papierplantasie brande stig” (49).
Die stelselmatige aftakeling en vernietiging van die natuur lei tot onvoldoende hulpbronne wat van die betrokke kontinente onherbergsame “wankelland” maak. Hierteenoor spreek verskeie gedigte van onbaatsugtige versorging en verknogtheid aan die “brokkelgrond” (29). Soos die slotreëls van die titelgedig van dié afdeling aandui, is hier ‘n hoopvolle perspektief op ’n nuwe dag en dus die toekoms: “Oopwond-Afrika/ wat die rooi dagbreek agter die berg suutjies nader neurie” (27).
Die volgende afdeling, “Wildernis”, is ’n hoogtepunt. Hierin skryf die digter oor waar sy vandaan kom. Bergfontein, die plaas in die Waterberg-streek van Limpopo, is die gemoedelike ruimte waarin Stander se ouers saam ’n lewe gebou het en waarin Stander se persoonlike identiteit wortel geskiet het. Die metaforiese, ’n wesenskenmerk van Stander se digkuns, word hier gekombineer met ’n innige deernis vir die ruimte van haar jeug. Die liefdesverhouding tussen haar ouers word in verhalende vers weergegee, terwyl die impak van ’n Afrikaans-onderwyser op Stander as skoolkind, asook die besonder hegte verhouding tussen dogter en vader, verder verwoord word. In “Bid” kry die leser deur middel van ’n deerniswekkende, veelstemmige gebed toegang tot die alledaagse praktyke op Bergfontein – waar dit voor die wind gaan, al kry hulle soms die wind van voor (59).
Stander se intieme betrokkenheid by die gegewens in hierdie afdeling verleen plek-plek aan die gedigte ’n sekere sentimentaliteit wat nie in die ander afdelings te bespeur is nie. So bestaan die plaas en die opstal byvoorbeeld uit “geloof op die tafel/ hoop in die boord/ liefde by die kraal” (53). In “Verstrooitjie” word die leser bekend gestel aan ’n twaalfjarige Stander, ’n “stukkende stukkind”, wat na haar onderwyser verwys as “die laaste oorlewende op die planeet” omdat hy belangstelling in haar toon en haar skryftalent erken. Op twaalfjarige ouderdom ervaar Stander die wêreld as ’n verwronge en wrede plek. Daarom skryf sy Bybelversies op geel kaartjies neer en dra dit in haar skoolrok se boonste sak, teen haar “amper-lyf”, rond “soos ’n pleister oor ’n pitsweer”. Laasgenoemde vergelyking neutraliseer in ‘n mate die stroperigheid van die gedig en beeld terselfdertyd die pynlikheid van die lewe uit.
Die meer persoonlike aard van “Wildernis” word voortgesit in twee ander afdelings, naamlik “Palm-pas” en “Die nege-maande-moeras”. “Palm-pas” is “vir my reismaat en man” en bevat liriese liefdesgedigte en geboekstaafde herinneringe aan gedeelde ervarings tydens gesamentlike reise na die Skotse Hoogland en die Amasone. Die erotiese skakel in hierdie afdeling met die eksotiese. Die sensuele kwaliteit in “Várzea” word byvoorbeeld goed gerugsteun deur die tropiese humiditeit van die Amasone-omgewing. Hierdie verse spreek van vleeslike én geestelike eenwording wat ’n hoogtepunt bereik in die sensuele “Vyf haikoes met bevrugting” – ’n gepaste inleiding tot die volgende afdeling in die bundel, “Die nege-maande-moeras”. Hierdie verse handel oor die digter se belewenis van haar swangerskap en word opgedra aan “my eersteling voor geboorte”. Die watervalle, oseane, moerasse en riviere word in hierdie gedigte primordiale ruimtes van vrugbaarheid en swangerskap. Die bundel eindig by ’n nuwe begin: die geboorte van haar seun.
Beelde van lewe en bevrugting is terugkerende motiewe in die bundel. Die kunswerk op die voorblad, deur Stander self geskilder, word op paratekstuele vlak ’n rigtingaanduider by die interpretasie van die teks, omdat dit een van die sentrale temas in die bundel op treffende wyse visueel belig. Die omslag beeld ’n skeletagtige boom teen die agtergrond van ’n blouerige naghemel uit. Die afwesigheid van sterre in dié hemelgewelf trek die aandag na die drie byna gloeiende vere wat uit die boom se dooie takke spruit. Die vitaliteit van hierdie vere is in skerp kontras met die indruk van doodsheid en verval wat die boom skep. Sodoende word die leser se aandag toegespits op die aanwesigheid van bevrugting, groei en nuwe lewe – temas wat op inhoudelike vlak sentraal staan.
Ten spyte daarvan dat vernietiging en aftakeling in sommige afdelings en verskeie gedigte voorop gestel word, vleg Stander die temas van polsende lewe met ’n behendige kunstenaarshand dwarsdeur die bundel. Elke kwynende boom bevat gloeiende, lewende vere. Die implikasie van die titel, in kombinasie met die kunswerk op die voorblad, is dat die leser met ’n hele woud van sulke betowerende bome te make het. Die gegewe word nie beperk tot die drie vere op die voorblad nie, maar uitgebrei tot nege-en-negentig vlerke. Die getal nege-en-negentig suggereer ’n element van onvolledigheid en onvolkomenheid wat die prosesmatige voorop stel deur ’n onvoltooide, wordende siklus onder die leser se aandag te bring. Sodoende dui die titel aan dat die perspektief voortdurend op die toekomstige - op dit wat nog mag kom - moet wees. Dit is ’n aanbeveling wat beslis ook op Stander se digterskap betrekking het. Die bundel sluit immers af met ’n metapoëtiese bepeinsing oor hoe om “dié vroeglente”, die nuwe fase in haar lewe, doeltreffend te verwoord: “dit weet digter alleen” (110).
Hierdie digter het onteenseglik die gereedskap om dié voortdurende verkenningstog met haar fyn belewenis en seggingskrag so aan te pak dat haar lesers graag sal wil saamreis.
Bron
Stander, Carina. 2009. O, wat is die brand? Rapport Boeke: 1 November.