Die Wonderwese
Carina Stander
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310136
Met Die Bergengel, die eerste roman in haar Gabriëllië-fantasietrilogie, het Carina Stander lesers betower met haar liriese prosa, enigmatiese karakters en unieke storiewêreld.
Vir aanhangers van die genre wat gesmag het na ’n fantasiewerk in Afrikaans wat met trots saam met Tolkien se The Lord of the Rings-reeks op die boekrak uitgestal kon word, was Die Bergengel soos manna uit die hemel.
As kanniedood-aanhanger van fantasie, en nou ook van Carina Stander, het ek met groot afwagting die posbus dop gehou vir my kopie van Die Wonderwese, die tweede boek in die reeks. Maar tog was daar ook ’n greintjie kommer. Hoe volg mens ’n baanbrekerboek soos Die Bergengel op? Hoe moeilik is dit om jou eie nommer 10-skoene vol te staan?
Na die eerste paar bladsye wéét ek. Die Wonderwese is nie sommer net nog van dieselfde nie.
Die opvolgroman is donkerder, digter verweef, meer gemaklik in die liminale posisie iewers tussen digkuns en prosa, fantasie en allegorie. Stander speel met ’n geoefende hand met die taal. Haar slim verwewing van Bybelse tekste, sprokies, filosofiese vraagstukke en tong-in-die-kies verwysings na haar eie digkuns en populêre kultuur dui op ’n volwasse skrywer in volkome beheer van haar kuns.
Met die leser reeds bekend met die geskiedenis, geografie en etniese groepe van Gabriëllië, kan Stander vir eers wegbreek van versigtige wêreldbouery en haar toespits op die komplekse binnewêreld van haar hoofkarakter.
Die sestienjarige Eron Verberger is lankal nie meer die grootoog kind wat saam met sy pa die veilige hawe van Skittering verlaat het om ’n lang klokreis aan te pak nie. Erin, nou ’n volwaardige Voetwerker vir die Geheime Rewolusie teen Vuurstorms, is op soek na die laaste van die agt Geseëndes sodat hy met sy pa in Afrika herenig kan word. Kan hy op die heilige Wonderwese staatmaak om hom te bewaar teen die gevare wat op hom wag? Bestaan dié Teenwoordigheid werklik?
Volgens die nawoord van Die Wonderwese speel die trilogie in op die drie kantikas van Dante Alighieri se Heilige Komedie. Die Bergengel sinspeel op Hel; Die Wonderwese eggo Purgatorium; en Die Waterplek sal idees put uit Paradys.
Die Wonderwese, as verteenwoordigend van Dante se Purgatorio, bou op die tema van loutering. Soos Dante en Virgil moet reis deur die sewe vlakke van lyding en spirituele groei, is Eron ook een van die “wurms wat geleidelik verander in gevlerkte insekte met engelpluime” (bl 213).
Eron dra die fisieke en sielkundige letsels van sy avonture wat in Die Bergengel uiteengesit word. Sy verminkte hand is nie net aan die donker hebsug van sy aartsvyand Velvel Azazel ’n konstante herinnering nie, maar ook aan die duisternis in homself.
Eron worstel ook met die besef dat die helde in sy lewe miskien nie so leliewit is as wat hy gedink het nie – dat daar baie skakerings van grys tussen die wit van reg en die swart van onreg is.
Soos in Die Bergengel, blaas Stander weer lewe in die natuurwêreld van Gabriëllië. Maar ook hier is die letsels van die Skoonbrand duidelik sigbaar, soos die erosie en hongersnood wat heers oor die eens vrugbare Klaagtermeer.
Die Wonderwese trek vergelykings tussen die menslike en niemenslike slagoffers van die Skoonbrand: tussen die weeskinders van die Lammerhuis en hulle gebroke troeteldiere, tussen die weerloses en armes en die ongenaakbare landskap waaraan hulle uitgelewer word, en tussen Eron se onderdrukte seksualiteit en die onvrugbare natuur.
Die parallelle wat hier getrek word tussen die lyding van die natuur en dié van die mens bied ook ’n sweempie hoop. Eron se geleidelike ontwaking beteken ook die herstel van die natuurlike orde.
Na die loutering kom immers die Paradys.
Vir die ontknoping sal ons natuurlik moet wag vir die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek. Hierdie keer sal ek Carina Stander nie so maklik onderskat nie.
Lees ook: