die vloedbos sal weer vlieg: 'n meerdimensionele bundel

  • 0

die vloedbos sal weer vlieg

Carina Stander
Tafelberg
ISBN: 0624044807

Gepubliseer: 2006

 

Beeldende kunstenaar Carina Stander se debuut as digter beïndruk ’n mens met die woord-, klank- en beeldvaardigheid.
 
Op die titelblad word die inhoud van die bundel aangegee as “sewentig vry verse”. Soos altyd in die geval van goeie poësie is die verse nie werklik vry of los nie, maar goed gekonstrueer met ryme, halfryme, refreine en sirkulerende elemente.
 
Stander het ’n musikale oor wat klankryke reëls soos die volgende kan komponeer:
 
skielik klink die skaterlag
van springbokkies
deur die graspolveld,
wippend oor ’n klipperplaat
volg ’n speelse kuttelspoor.
 
Woord- en klankspeletjies soos wond/wonder (p 18), verskalwers/verse (p 37), pensmis/menspis (p 45) en pap/papaja (p 123) kom meermale voor. Dit word selfs uitgebrei tot ’n wrange syferspeletjie in die gedig “Droogte is stil chaos”:
                  
met melktyd as die dag breek
stap die boer weer na die kraal,
vir elke dier wat stywebeen
dubbel-dubbelloop
word die .22 oorgehaal.
 
Carina Stander se sterk beeldende vermoë blyk uit reëls soos:
 
Pa moes deur vele droogtes swem
met bloedgrond
onder die naels (p 28).
 
Hierdie visuele, konkrete ingesteldheid verlei haar ongelukkig soms tot beeldoordaad en beeldverwarring, byvoorbeeld:
 
Jy laat ’n stippelspoor van vlerke
oor my voorkop, teen die lug (p 68).
                  
Die gedigte is – ondanks die talle reisverse – geaard in haar jeugwêreld, die Waterbergomgewing in Limpopo. In die openingsgedig van die bundel staan daar:
                  
in hierdie grond is jy begrawe
en keer jy telkens terug
soos ’n hond na ’n been.
 
Die beeldryke aardsheid van die gedigte word mooi voorspel én opgesom in die slotreëls van dieselfde vers:
 
die stokgogga by die groen sifdeur
se vlerk vou oop soos ’n gedig.
 
En die klankrykheid van die verse is ook deur haar “singende geboortegrond” ingegee, waar
 
muskiete tros in riete
en ’n vink rinkink in klinkende taal.
(“Vrygeborene”)
 
Die eerste afdeling (“Oesjaar”) bevat familiegedigte waarin die digter self – die “vrygeborene” wat “vry verse” skryf – en haar ouers, broer en ouma figureer. Dit is die sterkste afdeling van die bundel, selfs al slinger ’n gedig hier en daar ’n bietjie rigtingloos voort (soos “Droogte is stil chaos”), of is die verwysings té kripties-persoonlik (“Voor-beeld”). Die bonatuurlike dinge wat hier opduik, word miskien ook net te maklik in Christelike terme verklaar en besweer.
 
Hierdie gelowige wêreldbeskouing kulmineer in die slotafdeling “Groeikrag” – opgedra aan “die Drie-enigste”. Die piëtistiese en gekunsteld-naïewe aanslag (God word byvoorbeeld as “Pa” aangespreek deur ‘n dogtertjie-gelowige) doen vir my gevoel afbreuk aan die aardse en realisties-aktuele onderbou van die bundel. (In hierdie afdeling is daar onder andere sprake van die “snotneuskinders” van Malawi, en die kinders met “omlope” en “uitpeulnaeltjies” van Zimbabwe.) In een gedig, “As Jy weer hierlangs kom”, word die gegewe van die kind-as-gelowige of die gelowige-as-kind wel geïroniseer. Die gevolg is ’n vers met ‘n groter diepgang en spankrag as die res. Die beste vers in hierdie afdeling is die metafories-gedronge “Groen Vingers”, juis omdat die diskoers poëties gedrewe is en nie deur emosie bepaal word nie:
 
          God het Sy vingers geklap
          “Groen!” het Hy gesê
 
          en daar was bome met mosbaarde
          waarteen die varings krul,
          sampioene wat giftig stoel
          uit die aarde
          en ’n klipkussing vir Sy kop.
 
          God het gesê dis in Sy wil
          dat niks die stilte hier steur
 
          want op die sewende dag
          wou Hy hier rus
          en onverstoord fotosinteer.
 
Die tweede afdeling (“Karkaskaal”) is – ietwat sensasioneel – opgedra aan “almal op die pad van slagting tot genesing”. Dit is terselfdertyd die uitwerking van die slotstelling van die gedig “Credo II”:
 
ek skryf om heel te skryf
want my hele wese weersin geweld.
 
Die geweld wat dan ter sprake kom, is die seksuele misbruik van vroue en kinders. Die enigste geslaagde gedigte in hierdie afdeling is myns insiens die herskrywing van Ingrid Jonker se “Die kind” as “Die kind is dood, maar sy haal asem”, en die inkanterende oorwinningslied “Daardie nag sal die vuurvlieg ’n bosbrand wees”. Die digter het klaarblyklik geweld van naby ervaar, soos blyk uit die gedigte “Verse”, “Die slaapbroek” en “In die nag het ek Jou naam geroep”.
 
Die afdeling “Ewenaar” is opgedra aan “my reismaat en man” en bevat inderdaad reis- en liefdesgedigte. Die beste hiervan is die Namibiese vers “Oerklip”, met sy sikliese sluiting, en “Die slaapbroek”.
 
Laasgenoemde vers is een van die oortuigendste oor die Nuwe Misdadige Suid-Afrika wat ek ken. Die slotreëls sidder van die ironiese paradoks van egte poësie. Man en vrou het die aanval van drie inbrekers oorleef en nou vier hulle die lewe en die liefde uitdagend met “die voordeur oop”:
                  
          genade sif soos digstof neer
          want jy is hier jy is hier
 
          luister hoe sluimer
          ons vrese op die vensterbank.
 
Carina Stander se die vloedbos sal weer vlieg is ’n meerdimensionele bundel wat tot die oog, die oor, die hart en die verstand spreek.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top