Wisselende stemminge deur Cas Vos: ’n lesersindruk

  • 4

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.

Titel: Wisselende stemminge
Skrywer: Cas Vos
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256690

Wisselende stemminge deur Cas Vos (Uitgewer: Naledi)

Cas Vos is ’n bekwame digter met verstommende mensekennis en ook kennis van die literatuur, skilderkuns en die musiek. Hy is ook bekend as vertaler en sy vertalings van Il Paradiso en Inferno van Dante is hoogtepunte in sy oeuvre. Sy kennis van die klassieke dra ook by tot insiggewende teksverwysings in sy gedigte. Sy jongste bundel, Wisselende stemminge, getuig van sy besondere kennis en digterlike vermoëns.

Daar is 10 afdelings in die bundel. Dit neem ’n aanvang met “I wisselende stemminge van gedigte”, “II Getuies van wisselende stemminge” en “III Seisoene van wisselende stemminge”, gevolg deur skilders, komponiste en woorddelwers se wisselende stemminge. Liefde, kwatryne, lydendes se wisselende stemminge en wisselende stemminge op die lewenspad sluit die bundel af.

........
Donker tye en belewenisse word afgewissel met verwysings na menslike verhoudinge. Die liefde is hierin sentraal.
........

In hierdie bundel is daar sterk aanduidings van sy besondere mensekennis. In Wisselende stemminge word die mens se lewensomstandighede uitgebeeld. Donker tye en belewenisse word afgewissel met verwysings na menslike verhoudinge. Die liefde is hierin sentraal. In “Ode aan die liefde” (bl 105) dig Vos:

’n Mens moet hoë waarde aan haar verleen.
                       Liefde trek my onweerstaanbaar aan
en dit het my tot die insig gebring
                       dat liefde is en my laat vasstaan
in die wete: op liefde kan ek vertrou,
                       my liefste; daarom wy ek my aan jou.

Die bundel verwys insiggewend na die klassieke. Nie alleen word daar na klassieke digters verwys nie, maar ook na antieke vormgewing. In hierdie verband is die gedig “Palimpses” (:5) indrukwekkend.

Die gedig is ’n palimpses waar die oerskrif
wat op perkament onleesbaar bly,
afgekrap word sodat digwoorde deurskemer
en weer in ’n eietydse gedig ’n tongval kry.
Ons kan ons verlustig in die verbeeldingryke
gedigbrokke van antieke digters wat neerslag
vind in maaksels van lewende digters.

........
Die gedigte beweeg tussen die klassieke en die moderne wêreld.
........

Verwysings na klassieke digters soos Ovidius en Catullus; veral Ovidius verkry besondere aandag. Daar is ook verwysings na klassieke figure soos Sokrates. Die gedigte beweeg tussen die klassieke en die moderne wêreld.

Intertekstuele gedigte met Afrikaanse digters kom ook voor en digters soos NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Sheila Cussons en Breyten Breytenbach se stemme kan gehoor word in sy gedigte.

Die gedig “Dat Liefde” (bl 109) herinner aan Van Wyk Louw:

Dat liefde so kon krimp en verbleik.
Liefde wat eens soos sterre gedans het
en nou voor mankvoet haat die wyk
geneem het; verpes en verdryf is.

Hy tree ook in gesprek met verskeie ander gedigte van dié digters. “Die Beiteltjie” van Van Wyk Louw, “Paddas” van Opperman en “Maria” van Eybers is voorbeelde hiervan.

Skilders soos Da Vinci, Rembrandt, Vermeer en Van Gogh se skilderye word in gedigte erken. Ook komponiste soos Bach, Mozart en Beethoven se musiek word in wisselende stemminge na vore gebring. Vos se besondere voorliefde vir Mozart se musiek is bekend en sy gedig “WA Mozart (1756-1791)” (bl 63) getuig daarvan:

Skemer het uitgesak en donker saamgetrek.
Wolke het swaarmoedig oor Wene opgestapel.
Wind het die een litanie na die ander gesnik.
Swermvoëls het verslae na nagneste voortgespoed.
Die Wunderkind het magteloos op sy sterfbed gelê.

Vos dig in die laaste afdeling oor die tragiek van die menslike bestaan. Daarin speel die dood ’n onuitwisbare rol. Hy bring die dood, Thánatos, in verband met die digter se taak.

die gedig se leef-wyse
skuil in donker dieptes
van elke mirakelsel
totdat dit uit-mond
in woordwonde
en my laat besin oor hoe ek
die pyn verder gaan verduur
en onder kruisdra struikel.
’n gedig is soos geleende vere
wat ek sterflangs kwytraak.

(bl 140)

Al is die dood en verganklikheid ’n groot werklikheid, is alles nie vernietigend en tevergeefs nie. Daar is die groot verwagting van heerlikheid. Daar is iets méér as die doodstilte. Vos dig dan in die gedig “Ná doodstilte” (bl 147):

Ná die doodstilte sal engelkore
op die glansende dag vir na-mense
sing en hulle vol bruisende geluk
na misterie en verwondering begelei.

En dan ook:

Mense sal mekaar in die oë kan kyk;
al die boosheid en onreg het gewyk.
Dáár sal mense, soos Dante dig,
die sterre in al hul prag aanskou.

Vos se bundel neem ’n mens op ’n reis van wisselende stemminge. Die gedigte wek verskeie emosies op. Dit resoneer op baie vlakke met ons bestaan as mens op aarde. Dit is daarom beslis aangrypende poësie wat meesleur.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

Ligloop op jou lewenspad deur Cas Vos: ’n lesersindruk

Inferno, vertaal en verklaar deur Cas Vos: ’n lesersindruk

Die lewe is ’n plek deur Estelle Brits: ’n lesersindruk

Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n lesersindruk oor juridiese perspektiewe

Vlug van gister deur Jan Bonthuys: ’n lesersindruk

aalmoes vir die bootman deur Andries de Beer: ’n lesersindruk

  • 4

Kommentaar

  • Ek reageer graag op Pieter Verster se lesersindruk van Cas Vos se digbundel 'Wisselende stemminge'.
    Dankie, Pieter: jy bring hierdie merkwaardige bundel onder die aandag van LitNet-lesers. Reeds met die aanskou van die voorplat met die roerende tekstuur voel mens die stemminge van lewe.
    Treffend ervaar mens die sterwensnote van Mozart se skeppende klanke!
    Die begeleidende notas is insiggewend.
    Cas het wyd aangevoor met insigvolle woordskeppings. Hy neem die leser van die klassieke tot die hiernamaalse bestaan.
    Wat 'n monumentale woordkonstruksie!

  • Susan Vorster

    Wisselende stemminge - hoe gepas is die titel van hierdie bundel. 'n Paar dekades deur 'wisselende' seisoene het beslis 'stemminge' ingeweef.
    Cas se verwysings na klassieke digters, skilders, komponiste en figure is duidelik nie net omdat hy van hulle kennis geneem het nie - hy lééf met hulle saam, blaas lewe in half vergete kunswerke.
    Hoe kan mens nie uitsien na die lewe 'bo die son' na hierdie lewe 'onder die son' nie? Ek hoor die engele sing en sien hulle dans op maat van groot komponiste.
    Dankie, Cas.

  • Gerben Heitink

    De titel klink veelbelowend, de inhoudsopgave geeft een beeld van de mens in deze tijd, kwetsbaar en weerloos, maar ook tastend en hoopvol. De omslag is een gedicht op zich, de kleuren rijmen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top