Inferno, vertaal en verklaar deur Cas Vos: ’n lesersindruk

  • 2

Inferno: Dante Alighieri
Cas Vos
Naledi
ISBN: 9781928530565

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Daar is ’n wonderlike skat in die wêreldletterkunde wat slegs deur middel van die vertaling daarvan toeganklik is. Daar bestaan puik romans, soms in tale soos Russies of Sweeds, wat moeilik ervaar sou kon word indien dit nie vertaal is nie. Wat poësie betref, bestaan daar besondere gedigte en eposse, beide in Latyn en Grieks, soos die Aeneas van Vergilius en Homeros se Ilias en Odusseia wat alleen maar in vertaling vir die meeste mense toeganklik is. Dit is inderdaad lieflik dat talle van hierdie werke wel in Afrikaans vertaal is. Om poësie te vertaal vereis nie alleen kennis van die oorpronklike taal nie, maar ook van die ontvanger se taal en daarmee saam die besondere vermoë om self te kan dig. Hiervoor is Cas Vos uitnemend geskik om gehaltevertalings uit Hebreeus, Grieks, en nou onlangs uit Italiaans te doen. Sy vertaling uit Italiaans van Dante se Inferno het onlangs verskyn. Dit volg op die vertaling van Il Paradiso. Vos hou in beide die groot vertalings op besonderse wyse vol met rym. Dit is ’n geweldige uitdaging waarin Vos met onderskeiding slaag.

.........
Hy hou in Afrikaans met rym vir die kanto’s van Inferno vol en slaag ook daarin om die essensie van Dante se poësie deur te gee.
..........

Hy hou in Afrikaans met rym vir die kanto’s van Inferno vol en slaag ook daarin om die essensie van Dante se poësie deur te gee. Die groot uitdaging is om die klassieke teks van Dante in huidige Afrikaans te laat leef. Daar is groot afstand tussen die tale en die vertaling moet meesterlik gedoen word om reg aan die teks te laat geskied. Daar is 34 kanto’s in Inferno. Dit vertel die verhaal van Dante wat deur die groot Latynse digter Vergilius deur die onderwêreld of hel begelei word. Daar beleef hy hoedat ’n verskeidenheid van mense die oordeel van die hel beleef: politici, kerkleiers, geliefdes en misdadigers. Veral die tragiese verhaal van Francesca en Paolo word meesterlik deur Dante uitgebeeld.

Vos (2021:28) self skryf soos volg oor die werk: “La Divina Commedia is histories, retories en komposisioneel van ongekende rykdom. Dit is bowenal ’n aangrypende gedig, ’n meesterwerk, waarin Dante, die literêre genie, die pronkstuk met woorde ontwerp en gebou het wat deur soveel eeue nog steeds lesers ontroer en verwondering wek. In die manjifieke werk word die gedagtes gedra deur die musiek van maat en rym, ritme, alliterasie en assonansie.”

Vos gee volledige inligting aan die begin deur met Dante Alighieri op reis te gaan. Hy verwys na die politieke en kerklike konflikte, na Dante se vorming en ook ander sake soos die insig in die kosmos en spiritualiteit en hermeneutiek. Interessant is ook die opmerkings oor die blywende aktualiteit van die Inferno in Afrikaans. Hy verduidelik ook die Bybelse perspektiewe op die onderwêreld en die hel. Dante sluit by die Bybelse agtergrond aan, maar wyk ook af van die Bybelse aanwysings. Vos verduidelik ook sy eie interpretasie van die Bybelse gegewens. Dit het dus ook teologiese betekenis, en studente in die teologie, predikante en predikers sou met vrug daarvan kennis kon neem.

Naas die vertaling is daar ook telkemale verduidelikende aantekeninge van die teks. Inferno sou inderdaad ’n uitdagende werk wees om te lees sonder die verklaring van talle aspekte. Vos bied daarmee verhelderende insigte tot die teks. Nie alleen word die agtergrond tot die teks verduidelik, nie maar daar word ook literêre en ander inligting deurgegee.

Dit is egter veral die vertaling in rym wat uniek en betekenisvol is. Vos hou vol om die tersines met aba-rym in heerlike Afrikaans te vertaal.

Voorbeelde hiervan is

Kanto II 

127

Soos blommetjies snags hulle koppies laat sak
en toevou, en dan, wanneer die son op hulle skyn,
regop kom en geurig oopvou en in strale bak,

130

só het ek my ook verhef, al het ek angstig gedraal;
ek is so deurstroom deur goeie moed en hoop
dat ek soos ’n bevryde mens my weer kon staal.

Kanto V

82

Net soos duiwe, deur een innige begeerte se behae,
met uitgespreide vlerke, en stil op pad na die soet nes,
luglangs vlieg, deur begeerte geroep, deur instink gedra,

Kanto XII         

49

O, blinde hebsug en dwase onbeheersde woede,
wat ons in ons kortstondige lewe prys,
laat ons ewig knak onder pyn-smart se roede!

Kanto XXXIV

10

Daar is skimme, totaal deur ys toegedek;
maar sigbaar soos strooihalms in glas geplet, ek voeg
dit met vrees in my verse – daar word dit verstrek.

Mens word inderdaad meegevoer op die reis van Dante en Vergilius, soms met die ontsetting daarvan, maar ook soms met besef van die humor van die beskrywing. Dante lewer sosiale en politieke kommentaar wat steeds relevant is en Vos slaag daarin om dit steeds vir die huidige Suid-Afrika van belang te maak. Dit is dus geen dooie teks nie, maar steeds ’n lewende teks ook vir die wêreld waarin ons tans leef. Selfs korrupte politici, bestuurders en kerkleiers kan met vrug daarvan kennis neem. Dante het self ook soms veel gewaag om sekere mense in die Inferno te plaas. Groot letterkunde is selde sonder gevolge. Die skokkende in Inferno het ook steeds betekenis.

Vos se vertaling is inderdaad ’n kragtoer. Saamgelees met Il Paradiso is dit ’n meesterstuk, nie alleen in die oorspronklike nie, maar ook in die vertaling. Dat een van die grootste literêre werke ooit in Afrikaans vertaal is, is rede tot groot erkenning, des te meer omdat die poësie behoue gebly het. Dit word ’n waardevolle skat in Afrikaans wat vir dekades sal staan as ’n voorbeeld van die wonder van Afrikaans waarin die wêreldletterkunde steeds beslag kan kry.

Die uitsonderlike buiteblad waar uitgebeeld word hoe die lig deurbreek ná die reis deur Inferno, moet ook vermeld word.

.........
Samevattend kan alleen maar oor die uiters betekenisvolle vertaling met bewondering getuig word. Klassieke werke word sodoende toeganklik vir ’n wye leserskring.
...........

Samevattend kan alleen maar oor die uiters betekenisvolle vertaling met bewondering getuig word. Klassieke werke word sodoende toeganklik vir ’n wye leserskring. Nie alleen studente in die letterkunde nie maar ook die algemene publiek kan kennis van die vertaling neem. Dit is ’n skat van inligting wat ten sterkste aanbeveel kan word.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 2

Kommentaar

  • Cas Vos maak dit meet af duidelik dat Dante se reis saam met die Latynse digter Vergilius deur die Inferno sy eie maaksel is. Dante het in ’n onstuimige tyd geleef. As banneling het hy rondgeswerf en die meesterwerk geskryf.

    Vos open ’n verrassende perspektief waarin hy die aktualiteit van die Inferno vir ons huidige tyd besmet met korrupsie, boosheid, haat, moord en oneerlikheid op byna elke terrein van ons samelewing aantoon. Die rampe in die Oekraïne vorm deel van die wêreld waarin ons leef en moet probeer oorleef. Daar kom ook kladmerke soos jaloesie, nydigheid, eiewysheid, op godsdienstige gebied voor.

    Vos se eerste rymende vertaling is voortreflik. Dit verryk en verruim die Afrikaanse taal.

    Die derde kring word deur die mitologiese monster bewaak. Hier is ’n voorbeeld van ’n indrukwekkende tersine:

    Cerberus, wrede en vreemde ondier, gewis,
    blaf en gaan te kere soos ’n hond, uit drie kele,
    bo-oor die mense wat hierin gedompel is.

    Dante se inferno wil ons help om te midde van die donker lig te sien en te bly hoop. Hiervan is die laaste tersine ’n voortreflike voorbeeld:

    Ons het opgeklim – hy was voor , en ek tweede,
    tot waar ons die hemelse prag in die oog kon hou,
    deur ’n klein ronde opening, ’n deurgang tot vrede.

    En daar het ons uitgekom om die sterre weer te aanskou.

    Dante wil ons bemoedig om in ons donker wêreld steeds die sterre te sien skitter. Daar is hoop. Daar is lig.

    Met reg skryf W.J. Henderson: Die vertaling van Cas Vos is ’n prestasie wat in die voorsienbare toekoms onherhaalbaar is en lank ’n standaardwerk sal wees. Die vertaling van die Inferno behoort op elkeen se boekrak te wees.

  • Fanie Swanepoel

    Die vertaling van die Inferno is, afgesien van uitstekende rym en vertaling,'n handleiding in die noodsaaklikheid van morele hervorming van die huidige samelewing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top