Die lewe is ’n plek deur Estelle Brits: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.

Die lewe is ’n plek deur Estelle Brits (Turksvy)

Titel: Die lewe is ’n plek
Skrywer: Estelle Brits
Uitgewer: Turksvy Publikasies
ISBN: 9780796149558

Meer as 20 jaar gelede het ek ’n paar maal per dag ’n dial-up modem se tieng-tong-tieng-tieng-tang-tieng trotseer om te kyk of LitNet se webmeester SêNet se briewe al geplaas het. Dit is twee maal per dag opdateer en het meer van my tyd geverg as enige sosiale media vandag.

Tog het ek daar heelwat “regte” vriende gemaak. Dis ook daar waar ek as MaanKind vir Vega en Kathuter leer ken het. Ek onthou Vega se staaltjies uit haar lewe as onderwyser en Kathuter het van die lewe op Kathu vertel. Later het ek vir Vega (en Kathuter) as Estelle Brits leer ken. Sy het baie komplimente oor haar skryfwerk gekry, ook van myself.

Nie almal met skryftalent kom sover om die bloed te sweet en te vervang met ink in die are om stories te skryf nie, wat nog te sê te publiseer.

Vandag is ek dankbaar dat Estelle een van dié is wat haar talent geslyp het deur skryfskole en dit verder geneem het en aan die leserspubliek beskikbaar gestel het. Haar kortverhaal “Die rooi stiletto’s” is in die Woordfees-kortverhaalbundel van 2023 opgeneem. Dit verskyn ook in haar debuutbundel met kortverhale, Die lewe is ’n plek, wat deur Turksvy uitgegee is.

Verskeie van die verhale in Die lewe is ’n plek het vir my bekend gevoel, asof ek dit al gelees het, maar by navraag het die skrywer gesê dat behalwe vir “Die rooi stiletto’s” in die Woordfees-kortverhaalbundel, het net “Jik vir tant Drieka” elders verskyn – in Vrye Weekblad. Daaruit kan ek net aflei dat die skrywer daarin slaag om stories te skryf oor mense se geite en hebbelikhede wat so bekend is dat dit voel asof jy die verhaal of karakters ken. Die eindes van die verhale het telkens ’n onverwagse draai gegooi, net so onvoorspelbaar soos die lewe self ... Kudos daarvoor!

Die voorblad en lynsketse by elke verhaal is deur die vaardige hand van haar kleinseun Ethan Oosthuizen, beslis ’n uiters talentvolle kind.

Die voorblad en van die verhale herinner ’n mens aan Amanda Strydom se pragtige lied “My Kamer”:

Ek het lankal immigreer na ’n kamer in my kop
Vandaar hou ek versigtig die wêreld om my dop

Ander verhale laat mens weer dink aan haar lied “Pelgrimsgebed”:

Vader God U ken my naam
My binnegoed en buitestaan
My grootpraat en my klein verdriet
My vashou aan als wat verskiet.

U ken my vrese en my hoop
Die pad wat ek so kaalvoet loop
Die pad het U lankal berei
Elke swerwer kom weer tuis

Alle pelgrims keer weer huis toe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op U grootpad
Soekend na U bordienghuis.

’n Paar verhale speel af op Rysmierbult, waar PG du Plessis se plaas ook was. Selfs die klipmure waarvoor PG self so lief was, verskyn op bladsy 102.

Daar is nie ’n oorhoofse tema nie, behalwe die lewe self. Daar is wel ’n paar verhale wat in ’n kamer afspeel, en gedagtig aan Amanda Strydom se “My kamer”, is daar ’n konnotasie met ’n kamer in die skrywer se kop waar die verhale se oorsprong is. Die titel is daarom goed gekies, want alles gebeur iewers. En iewers is ’n plek waar dit gebeur. Dit is egter nie kontreiverhale, komvandaanstories of grootwordstories nie.

Die bundel is ’n mengelmoes. Die heel eerste verhaal, “Wêreld sonder grense”, slaan jou op die maag, want jy kan hierdie verhaal in honderde huise sien afspeel, al maak dit die leser ongemaklik. Daar is meer verhale wat jy met ’n knop op die maag lees en die einde wil uitstel, maar jy kan nie. Die lewe gebeur en die lewe is ’n plek. Die liefde in verskeie vorme is inderdaad deel van die lewe en die bundel sluit dit ook in.

Die bundel stel nie besondere uitdagings aan die leser nie, maar dit is ook nie blote ligte ontspanningsfiksie nie; dit voel te werklik, te na aan die bas.

Daar het ’n hele paar vreemde synchronicities gebeur terwyl ek lees. Ek lees op Facebook of sien op TV ’n vreemde situasie en as ek die bundel optel, is dit die tema van die volgende verhaal. Onder ander omstandighede sou ek dalk gedink het ’n verhaal soos “Die vrou met die rooi rok” se einde is darem net te toevallig, maar die besondere toevallighede wat my opgeval het tydens die lees van die bundel, het my laat besef dat dit is soos dit moet wees – die regte ding op die regte tyd op die regte plek is so bedoel. En dit gebeur. So waarom nie ook in ’n verhaal nie?

Aangesien ek Estelle op LitNet leer ken het, het dit vir my gepas gevoel om die lesersindruk ook hier aan te bied. Daarom moes ek my ook voorneem om eerlik en objektief te lees, maar dit was maklik. En aan die einde kon ek my eie vraag maklik antwoord. Sou ek ’n vreemde skrywer se bundel net so geniet? Beslis ja, sonder twyfel.

Die lewe is ’n plek deur Estelle Brits kos R260 en is verkrygbaar by Turksvy Publikasies, of kontak die skrywer by 083 256 6516.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

Die geheime klippieklub deur Erla-Mari Diedericks: ’n lesersindruk

Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n lesersindruk oor juridiese perspektiewe

Vlug van gister deur Jan Bonthuys: ’n lesersindruk

aalmoes vir die bootman deur Andries de Beer: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top