Die geheime klippieklub deur Erla-Mari Diedericks: ’n lesersindruk

  • 2

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die geheime klippieklub
Skrywer: Erla-Mari Diedericks
Uitgewer: ViVA-Uitgewers, waar dit aanlyn gelees kan word

Kan daar nog oorspronklike verhale en karakters uitgedink word ná al die jare waarin die gereedskap slegs 26 letters is? Tog verskil elke boek, selfs by genrefiksie waar die storie rondom ’n spesifieke struktuur gebou word? Erla-Mari Diedericks se vyf kortverhale in Die geheime klippieklub wat onlangs by ViVA-Uitgewers verskyn het, is so oorspronklik dat dit jou verbluf laat.

’n Welbekende aanbieder van skryfskole het jare gelede gesê daar is net sewe universele temas in fiksie. As ’n mens begin oplees daaroor, sien jy dat daar nie regtig ooreenstemming is nie, maar die feit bly dat dit beperk word tot ’n handvol. ’n Tema wat deesdae dikwels in fiksie voorkom wat ek nie op al die lysies raaksien nie, is vrywording. Erla-Mari se Die geheime klippieklub sou dit by enige lys van temas kon voeg as dit nie reeds daar is nie.

Erla is ’n baie veelsydige en produktiewe skrywer in verskillende genres. Haar onlangse Salemstraat het weer bewys hoe styf sy ’n spanningslyn kan trek met fleurige taalgebruik sonder dat dit in mooiskrywery ontaard. Haar woorde in elke boek ontplof in jou mond as jy na asem snak oor haar besondere beelde wat sy gebruik. Dis geen wonder dat die boek so goed ontvang is deur lesers nie.

Die geheime klippieklub is geen uitsondering nie. Dit bestaan uit vyf verskillende kortverhale oor eons heen wat elk apart gelees word, maar terselfdertyd al hoe stywer aan mekaar vasgeknoop word. Klippe is ’n saambindende faktor en speel ’n sleutelrol in elke verhaal.

Die titel is jammerlik misleidend en mag dalk die idee gee van ’n gesellige groepie vriendinne wat bymekaarkom en hulle geheime deel. Dit is allesbehalwe die geval.

Die stories rondom die klippe gee die gevoel van ’n verhaal binne ’n verhaal, ’n klip binne ’n klip, soos ons soms in die natuur teëkom waar ’n klip op die oog af skurf en bruin is, maar binne gevul met ametiskristalle

Die eerste verhaal, “Khoe”, is ’n vuishou in die maag en terselfdertyd lig soos wind. Dit tref jou op ’n oerplek van jou bewussyn, waar jy al voorheen was, maar net die klippe en die wind is nog getuie daarvan.

Daar is lewe in woorde. Daar is energie in klippe wat ook helend is. Dit is hierdie gevoel wat jy kry soos wat jy vorder deur die verhale. Vrymaking, heling met klippe as ’n gemene deler. Soos wat dieselfde klip in meer as een verhaal opduik, ontstaan die vraag ook vir lesers wat daaraan glo, of daar dalk sprake is van reïnkarnasie van die karakters na verskillende stories?

Vir elkeen van die vyf hoofkarakters bring die klippe iets – insig, heling en bevryding. Dis ook asof die insig in elke volgende verhaal verder groei en ontwikkel, omdat niks in die natuur ooit regtig tot niet gaan nie, dit word net hergebore. Stof tot stof.

Almal wat my ken, weet ek stapel spoelklippe opmekaar as ons tussen die klippe klouter by die rotsagtige kuslyn waar ons woon. Die simboliek daarvan het ek ook gevind in hierdie verhale. Laag op laag, elke een op sy eie met unieke eienskappe, maar as geheel vorm dit ’n perfekte balans. My oerwonde wat heelgemaak word daardeur, vind weerklank uit die gevoel van Die geheime klippieklub.

Een van my lewensfilosofieë is om my klip in die water te gooi, te doen wat ek doen, en dan te vergeet daarvan. Die rimpelings sal gaan waar dit moet. So is dit ook met hierdie vyf verhale.

Baie simbolies, sirkels wat met oker op gesigte geverf word. Doodsklippe wat middeldeur gekap word met sterfte. Khoe en Aib wat die doodsklippe versamel, was my gunstelingverhaal.

Elkeen in die stam het ’n klip wat met geboorte aan hulle gegee word. Babas wat tandjies kry, knaag daaraan, en later word dit gebêre in skeure of gate. Vir eendag. Die dag van jou dood. Partykeer gaan haal mense hul doodsklip uit sy wegsteekskeur. Vir vertroosting. Vir beskerming teen angsdrome en koorssiektes. Dit is egter eers op die dag van sterfte dat die doodsklip tot sy reg kom.

Daar is soveel lewenswysheid in hierdie verhaal om die grondslag te lê vir die ander verhale. Laag op laag. Klip op klip. Jy is jou klip, jy is van die aarde:

As jou klip gebreek word, verbreek dit jou lewensaar na Moeder Aarde, het Aib haar geleer. Dit is die afsnypunt van die siel. Dit stel jou vry om na die hiernamaals te gaan. ’n Klip wat breek, begin die proses van verganklikheid, want alle klippe vergaan eendag tot stof. Net soos die mens.

In die tweede verhaal word hierdie tema voorgesit. Daar is krag in woorde. Ook in klippe. Hanna se krag is van die aarde, uit die aarde. Klippe, oker, modder, grond. En dit wat grond voortbring: plante, groente, kruie. Lewe.

In die derde verhaal is Deborah se man betrokke by die opgrawings in die Wonderwerkgrot. Die doodsklip, soos hulle dit instinktief genoem het, was maar nog al die jare in die familie. Was dit instinktief of geheue wat in DNS bly sit het, of gefluister deur die wind, want Wilhelm het altyd vermoed dat dit gebruik is in doodsrituele – dalk selfs so ver terug as die steentydperk. Ons maak ook kennis met die hartseer van naderende dood.

In die vierde verhaal verander die stemming heeltemal en Elmarie is ’n vrou wat vir haarself opstaan.

Ons ontmoet vir Khloe in die laaste verhaal, waar sy ’n baie besondere ervaring het as sy lig word, vry en lig soos ’n skoenlapper. Vlieg en wees vry soos die wind waarop die eggo gekom het.

Die geheime klippieklub verskyn by ViVA-Uitgewers waar dit slegs aanlyn gelees kan word. Die irritasie van elke keer aanteken en deur die proses gaan as jy net gou twee bladsye wil lees, moet jou egter nie terughou nie. Jy wil die werk eers los en hierdie verhale klaar lees – dis Erla-Mari Diedericks op haar beste!

Hierdie besondere samestelling van kortverhale verdien om ’n volledige roman te wees.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top