aalmoes vir die bootman deur Andries de Beer: ’n lesersindruk

  • 0

aalmoes vir die bootman deur Andries de Beer (Turksvy Publikasies, 2024)

Titel: aalmoes vir die bootman
Skrywer: Andries de Beer
Uitgewer: Turksvy Publikasies (2024)
ISBN: 9780796151810

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

“If you have to ask what jazz is, you’ll never know” – Louis Armstrong

Ek sou daarvan hou om hierdie digter en sy werk op te som as die liefdeskind van ee cummings en André le Toit (Koos Kombuis), of selfs ’n samesmelting tussen Eugène Marais en Lou Reed. Maar dit sou ’n tragiese onderskatting wees. Ek is bevrees dit sal veel te reduktief wees. Andries van Pretoria is soveel meer as net sy begrip van die geskiedenis en kollektiewe geaardheid van die Afrikaanse siel en ruk-en-rol-woordkuns, of die diepsinnige troebadoer wat al meer kere om die bladsy of gepeupel geloop het as wat sy geboortejaar verklap. Die digter is ’n ou siel wat as intellektuele swerwer en ’n amperse bosveld-grunge-vakman meermale die hysbak ondertoe gestuur het vir beide gevestigde en onderwaardeerde kunstenaars as wat getel kan word. Die digter is ’n karakter binne die werk wat moeilik van mekaar losgemaak word. Sou mens meer fokus op dié werk as alleenstaande kulturele objek, sal mens moet fokus op die intensiteit en oorspronklikheid wat die subtiele maar selfversekerde hand neerpen.

Andries van Pretoria, oftewel Andries de Beer, se styl en temas sluit hom aan by ’n lang tradisie van skrywers wat die onsegbare eenvoud en alledaagse kompleksiteit probeer vasvang in ’n vrye en meedoënlose vorm. Die gedigte is, soos in die voorwoord bevestig deur een van ons mooiste en beste skrywers, ’n “punk-betragting” of -repliek op die hedendaagse leiding en tyding van ’n amper onopsetlike, voorstedelike straatprofeet. Verder is die verskeie post-Voëlvrygenerasies van ondermynende Afrikaanse figure en rock ’n roll-kunstenaars baie opgewonde vir die eindelike publikasie van De Beer se langverwagte debuutbundel. Hierdie skrywery broei al ’n lang tyd.

aalmoes vir die bootman is ’n bundel van rou maar fyn verse, asook ander mediums soos visuele stukke en vrye uitbeeldings van die Afrikaanse gees, wat sonder pretensie of die algemene stoere hekwagtervorm, meevoer; die boek illustreer en bevraagteken die angs of gang van ’n universele, tog spesifieke karakter en lewer kommentaar op sy en ons geskarrel.

........
aalmoes vir die bootman is ’n bundel van rou maar fyn verse, asook ander mediums soos visuele stukke en vrye uitbeeldings van die Afrikaanse gees, wat sonder pretensie of die algemene stoere hekwagtervorm, meevoer.
........

As kunstenaar kan mens moontlik soms die punt bereik waar suiwere uitdrukking die riglyne en regulasies moet oorskry. Miles Davis, Jackson Pollock, William S Burroughs en Bob Dylan is seker die mees vooraanstaande voorbeelde hiervan in die postmodernistiese diskoers. Die tong-in-kies verontagsaming vir wat al gedoen is en wat as gepas of van “waarde” in jou eie veld gesien word, ongeag van wat die gehoor of waarnemers mag dink. Ars gratia artis is die gesegde en geldige argument uit Latyn. aalmoes vir die bootman val sodoende in ’n soortgelyke subgenre as publikasies soos Kerouac se Scattered poems of Dylan se Tarantula, sou dit as hierdie tipe publikasie onthou word. Dit skakel ook losweg met die styl van Breytenbach en die liriese elemente van die musiek-en-liriekbeweging van die laat sewentigs. Sonder die kreatiewe waaghals in werke soos hierdie, sou die kanons van die wêreld ontneem wees van lewerings soos Bitches brew, Kitaar my kruis en Howl. Dit is sonder twyfel die geval, as die parodie en pastiche reg benader en beoordeel word.

Verse soos “Vir my seun”, “Dat hy ook weet”, “Kinders van Afrika”, “Sondes van my vaders”, “Pampoenspoke”, “Dwarstrekkers en Eregaste” kom al ’n lang pad saam met die digter, waar dit al talle kere opgevoer is. Tog, dit is die eerste keer waar die werke ten volle in al hulle glorie in ’n publikasie saamgevat word. Die temas en motiewe van hierdie gewilde, ou gunstelinge spreek boekdele oor die bogenoemde daaglikse uitdagings en waarnemings van die hedendaagse Afrikaanse gees, maar met ’n diep en donker historiese en amper mitologiese fondasie. Die gebruik van alliterasie en assonansie deurentyd, sowel as die uitleg van al die nuwe gedigte plaas soveel ritmiese klem op die betrokke temas dat dit ’n mens herinner aan ’n Patti Smith- of David Bowie-album, in Afrikaans natuurlik, uit ’n parallelledimensie. aalmoes vir die bootman is ’n literêre en visuele, poststrukturalistiese skepping en ’n aanwins en verryking vir die leser of student, asook vir die maatstaf van ons handewerk.

Die tekeninge en illustrasies wat lukraak die verse en woordkuns vergesel en die bundel deurdrenk, waarvan daar gerus meer kan wees, is ekspressionistiese fantasiekarikature en abstrakte proto-punkstukke wat herinner aan Jean-Michel Basquiat en die Gonzo-agtige werk van Ralph Steadman en dies meer. Dit gee ’n kleurvolle, bevrydende motief en verbeeldingryke toon aan die bundel as geheel.

........
Die tekeninge en illustrasies wat lukraak die verse en woordkuns vergesel en die bundel deurdrenk, waarvan daar gerus meer kan wees, is ekspressionistiese fantasiekarikature en abstrakte proto-punkstukke wat herinner aan Jean-Michel Basquiat en die Gonzo-agtige werk van Ralph Steadman en dies meer.
........

Die titel verwys na ’n mitologiese legende in verskeie antieke kulture waar ’n betaling benodig word om die wese wat die dooies na die ewigheid toe karwei, te vergoed vir sy dienste. ’n Vergelyking wat hierdie resensent baie na aan die hart lê, nie net omdat dit eie studies en belangstellings mooi saamvat nie, maar omdat dit dié kunswerk amper uitmaak as daardie metaforiese vergoeding vir die humanistiese ervaringe en menslike verganklikheid self. Dit is deel van die Afrikaanse en menslike ervaring. Styx, in die Griekse mitologie, is die rivier wat volgens die legende oorkruis moet word. Dit is die opinie van hierdie resensent dat hierdie spreekwoordelike rivier en reis, in ten minste Afrikaans, nooit weer dieselfde sou wees sou hierdie werk die sogenaamde vergoeding wees vir ons vaart vanaf die plek van die lewe na die hiernamaals toe nie. Dit bied die slagting van koeie, beide heilig en onheilig, sowel as die harde en die sagte waarnemings en ervaringe van ’n lewe in ons tyd en plek as muntstukke op die oë vir die kruising.

Dit lees soos Iggy Pop in ’n oupa se suiwer kombuis-Hollands. Dit klink soos Cobain se weergawe van die nuutste Briels-treffer. Dit haal asem soos ’n middelklas Poetic Edda deur Piet Botha of die Springbok Nude Girls. Dit gee ons hoop vir die “44” Afrikaanssprekendes, en vir die feit dat as dit ’n kulturele handwerk is wat beskou en bestudeer en gelees kan word, die taal en kuns nie nodeloos bestuur en bewaak word deur selfgeproklameerde verenigings, komitees, die elitistiese en smaaklose akademici, onvolwasse pseudo-intellektueles of ’n magdom volksvervlakkende, talentlose siele nie. Daardie partye wat eintlik en eerder die taal dooddruk as om dit kwansuis te “beskerm en bewaar” of daartoe by te dra. Hierdie resensent is duidelik partydig en het ’n onvermydelike vooroordeel, maar ek vind die bundel merkwaardig.

Lees ook:

It’s always Friday somewhere in the universe by Joe Kitchen: a reader’s impression

Gekaapte stad deur Martin Kruger: ’n lesersindruk

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top