Titel: Gekaapte stad
Skrywer: Martin Kruger
Uitgewer: Turksvy Publikasies, 2023
ISBN: 9780796114211
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Gekaapte stad is ’n boek met gedigte deur ’n argitek oor stadsargitektuur en stadsbewoners.
Die argitektuur het van die vroegste tye van sy bestaan as ’n afsonderlike deel van die menslike kultuur en samelewing telkens na ’n plek vir sigself tussen praktiese behoeftes en vereistes aan die een kant en die versoeking van verfraaiing aan die ander kant gesoek. Vitruvius Pollio (50–26 vC), Romeinse skrywer en “vader” van ’n teoretiese benadering tot die boukuns, het vroeg reeds drie eienskappe as vereistes vir ’n voortreflike gebou uitgelig wat tot ons moderne tydvak die meervoudige aard van die boukuns bepaal: duursaamheid, bruikbaarheid en skoonheid. Die boumeester moet daarvolgens oor beide ’n suiwer estetiese aanvoeling én behoorlike tegniese kennis en vaardighede beskik. Saam met oorwegings met betrekking tot onder andere grootte, harmonie, eweredigheid en ornamentasie is die estetiese aspek, die indruk op die waarnemer en gebruiker, asook die standplaas in die – meestal beboude, dikwels stedelike – omgewing telkens van primêre belang.
Deur die millennia heen het groot beskawings keer op keer hulle gewenste blywende waarde en betekenis deur imposante bouwerke, stewige mure, monumentele poorte, tempels, graftombes en stede van asemrowende indruk as hul permanente nalatenskap vertoon. Of dit die Assiriërs en Babiloniërs is, Chinese, Egiptenare, Asteke of Grieke en Romeine: Groot ryke word in die eerste plek aan hulle argitektoniese erfenis geken, dikwels selfs meer as aan beroemde individue of magtige heersers. En dit is dan ook met verwysing na groot bouwerke dat die digter Horatius die gewaande onsterflikheid van sy eie poëtiese werke beklemtoon: Exegi monumentum aere perennius – Ek het [met my digwerk] ’n monument opgerig wat duursamer is as brons. En ook die boumeesters se name skitter aan die firmament van argitektoniese prestasies, van Erwin von Steinbach tot Frank Lloyd Wright en vele meer. Maar al beskou menige argitek homself as ’n kunstenaar, is daar maar min wat groot hoogtes op meer as een veld van die kunste kon bereik. Veral die digkuns blyk buite die bereik van omtrent almal behalwe Michelangelo te wees.
Maar nou het die Kapenaar Martin Kruger met hierdie bundel tot die Gideonsbende van digtende argitekte toegetree. In Afrikaans is daar ook nog Andries Samuel, Antjie Krog se seun. Op die oog af maak die bundel ’n taamlik eklektiese indruk. Dit word aan die leser oorgelaat om die onderlinge verbande tussen die dele te lê. Deel I bestaan uit 41 gedigte; Deel II uit slegs een gedig wat funksioneer as inleiding by 14 sketse en tekeninge wat elk van ’n kort titel voorsien is.
’n Aantal van die grafiese stukke sluit aan by van die voorafgaande gedigte. ’n Mens moet aanneem dat party as ’n soort illustrasie tot die geskrewe tekste dien, soos in die geval van “Le Baux de Provence” of “Oewer, Oostewal”. Ander lyk eerder na abstrakte verbeeldingsvlugte, gekrabbelde golflyne (“Slaaploosheidsgedig”), meetkundige patrone sonder ooglopende verteenwoordigende funksie (“Verbindings”, “Gaia”), terwyl daar by ander ’n verband na die grafiese kuns van die modernisme deurskemer, byvoorbeeld die aantreklike “Venesiese labirint”. Dit sluit aan by die abstrakte en minimalistiese styl van een van die bekendste en rigtinggewende kunstenaars van die eerste helfte van die twintigste eeu, Piet Mondriaan (oftewel Mondrian). Dis dan sekerlik ook nie toevallig nie dat Kruger hulde bring aan hierdie kunstenaar deur ’n eie weergawe van die Grys boom van 1911, ’n werk wat op die drumpel van Mondrian se kubistiese fase verskyn.
Die titellose gedig waarmee Deel II open kan as ’n soort poëtologiese credo gelees word:
Om te teken is ’n
intuïtiewe ondersoek
na betekenis, soos
’n gedig, die alfabet
is die lyn wat jou
op ’n reis neem, ’n
avontuur, onvoorspelbaar
dikwels weet jy nie
wat jy gaan teken
of skryf nie, dis jou
vingergriffels op
papier wat die
tekening in ’n skets
’n storie of ’n gedig
in sy eie taal
gaan haal
Hier verklaar die digter sy eie opvatting met betrekking tot die kreatiewe proses en die wedersydse verwantskap en verheldering van die kunste. Hierdie benadering laat ’n mens dink aan die onderliggende veronderstelling van die surrealisme dat daar ’n dieper, inherente betekenis onder die oppervlak van alledaagse voorwerpe, of in ’n mens se onderbewuste, geleë is wat soos die sogenaamde objet trouvè net gevind moet word sodat dit dan in “sy eie taal” met ons kan praat. (Volgens Mondrian behoort die kunstenaar so min moontlik gebruik van die werklikheid te maak, aangesien die werklikheid afwysend is teenoor die spirituele.)
Wat die gedigte van Deel I betref, word daar egter genoeg verwysings na Italo Calvino se roman van 1972, Onsigbare stede, uitgestrooi om die leser van Kruger se bundel te wys in watter rigting die wind waai. In hierdie roman wentel die gegewe om die Venesiër Marco Polo se besoek aan die Tartaarse heerser, Kublai Khan, en eersgenoemde se menigvuldige beskrywings en (wolhaar-) stories van die baie stede wat hy glo op sy verskeie reise en omswerwinge gesien het. Die Khan luister met groot belangstelling, hoewel hy nie noodwendig alles glo wat sy jong besoeker aan hom opdis nie, maar veral omdat die stories hom as sulks fassineer.
Daar is ’n aantal verse wat by wyse van spreke met Calvino se magiese realisme deur middel van letterlike of onregstreekse verwysings na die roman, en spesifiek na Venesië, in gesprek tree. Die openingsgedig, wat aan Calvino opgedra is, se titel is byvoorbeeld “Onsigbare verse”. Kruger se bundel word deur die sentrale motief van die uitleg, struktuur en veral die bouwerke van groot, bekende of minder “sigbare” stede bepaal, soos die bundeltitel reeds aandui. Dit is egter veral die kaleidoskopiese geheelindruk van Kruger se bundel wat Calvino (én natuurlik Marco Polo) se gefragmenteerde weergawe van stedelike landskappe oproep, die tallose moontlike vorms wat ’n stad se argitektoniese uitleg kan aanneem. Stede wat in die gedigte opduik, is onder andere Parys, Barcelona, Amsterdam, Venesië, New York en uiteraard Kaapstad.
Hierdie blik op die mens se beboude omgewing verlei die digter ongelukkig telkens daartoe om by die blote opnoem van name, visuele flitse van eienskappe, momentopnames of abstrakte begrippe stil te staan, soos in die geval van New York in “NYC Broadway-boogie-woogie”.
Die veelbesproke globalisme dra natuurlik wesenlik daartoe by dat moderne grootstede al hoe meer na mekaar lyk, of dit nou Dubai is, Singapoer of Sjanghai, en dat die lewe in die sogenaamde global village skynbaar oraloor patroonmatig volgens dieselfde eenvormige regie afloop. ’n Mens kry soms die indruk dat die stadsbeplanners en argitekte grotendeels volgens een groot meesterbloudruk te werk gaan:
Wat hy onthou van die stede
is ’n reëlmaat ontluikende
roldeure, ritmies, klokslag
’n vertoning soos gestroopte verhale
die koffie, die dagnuus
uitgepak in spieëls vol gisters
(“Spaanse smeltkroes”)
Stede is onvermydelik en gedurig aan die verander; dit is ’n feit wat die kortstondigheid van die lewe by ’n mens tuisbring, maar in ons (post-) moderne tye skyn die kapitalistiese diktaat van “afbreek en vervang” boonop allesoorheersend te wees:
Tragies, geen omsigtigheid vir stede
uit die staanspoor ’n bedreigde verlede
kwesbare landmerk, stadspatroon
behoort ’n plek te wees waar algar woon
maar om een of ander duistere rede
word die publieke orde ondermyn –
gulsige geldgierigheid laat die oustad wegkwyn
(“Argeo-logies gesproke”)
Hiervoor is New York die kwintessens van die moderne stad-in-beweging:
dis ’n nonchalante stedelikheid
’n handelstad in konstante vernuwing
’n collage nuut-oor-oud
met vinnige, vlietende verandering
(“NYC Broadway-boogie woogie”)
Is die stad dus ’n metafoor vir die kuns wat ons leefruimte dalk versier, maar ten slotte nie veel meer kan bied nie as sy sprankelende oppervlak, soos “die betowering van La Serenissima [d.i. Venesië] / wat bekoor en / afwys maar uiteindelik / ons laat met niks meer / as indrukke” (“Stedelings”)?
Stede verander voortdurend van voorkoms, maar wat konstant bly, is die bewoners. Die digter se empatie met stadsbewoners, veral met die weeskinders van Kaapstad, die Moederstad, blyk uit onder meer “Vrydae, trolliedae”. Dieselfde woord, naamlik “krap”, word hier gebruik om die sosiaal-ekonomiese kloof tussen arm en ryk uit te wys. Die boemelaars en straatkinders krap in asblikke vir kos en ou klere; die gegoedes krap in kaste met boetiekklere op soek na iets om te skenk:
reent teen die helling
van loaderstraat waar
seinheuwel afwentel na die see
laaities draf verby in vuilblou jeans
na asblik-relikwieë
soekend, krappend
dis vrydae trollierommelskenkings
en dalk ’n hap ontbyt daarby
’n boemelbruilofbestaan, geen
aansoeke in drievoud
by die geskenkafdeling
jy moet krap ...
welaf goedgunstiges
krap tussen ou boetiekklere, skoene
hul negosie deurmekaar
op soek na ’n stukkie welwillendheid
dis winter op die klutskwyt-vrydag
allereers opwinding, maar
die uiteinde net ’n kerriestank, leë
wynbottels, en ’n papnat armlastigheid
Gekaapte stad is besonder aantreklik in swart, wit en grys uitgegee deur Turksvy Publikasies met ’n skildery deur die digter op die omslag.