Ligloop op jou lewenspad deur Cas Vos: ’n lesersindruk

  • 3

Prent: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780796323071

Titel: Ligloop op jou lewenspad
Skrywer: Cas Vos

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN:978-0-7963-2307-1 (Sagteband)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

..........
Cas Vos is nie alleen ’n hoog aangeskrewe akademikus, teoloog, digter en vertaler nie, maar hy skryf ook toeganklike Christelike publikasies. Die jongste voorbeeld daarvan is 366 dagstukke onder die titel Ligloop op jou lewenspad. Gedeeltes uit Job, die Psalms, die gelykenisse en verskeie ander Bybelboeke word deeglik hanteer.
.............

Cas Vos is nie alleen ’n hoog aangeskrewe akademikus, teoloog, digter en vertaler nie, maar hy skryf ook toeganklike Christelike publikasies. Die jongste voorbeeld daarvan is 366 dagstukke onder die titel Ligloop op jou lewenspad. Gedeeltes uit Job, die Psalms, die gelykenisse en verskeie ander Bybelboeke word deeglik hanteer. Vos wil jou as leser bemoedig om met ligte voetstappe op jou lewenspad te loop, maar ook te loop in die lig wat op jou afstraal van die lewende God. In ’n uitdagende wêreld vol van geweld, onreg, misdaad, liefdeloosheid en ellende wat oneindige eise aan struikelende mense stel, is die lig van God noodsaaklik. Die wonder is dat ons in die Bybel soveel van die liefde van die lewende God leer ken. Om deur die jaar telkemale versterk te word op jou pad is wonderbaar.

Cas Vos lei jou op lieflike wyse met die Bybel as gids na die Lig. Job maar ook Jona, Prediker maar ook die Psalms, die gelykenisse maar ook Johannes se bevestiging van die liefde van God en verskeie ander Bybelgedeeltes word die lig op die pad. Met besondere insigte in die Bybel en deeglike uitleg daarvan, maar ook met heerlik toeganklike taal verhelder hy besondere Skrifgedeeltes. Dit word juis van toepassing op die alledaagse lewe gemaak. Daar is ook gedigte en vertalings van liedere wat vertroos en versterk. Nie alleen verwys hy na gedigte van digters soos Ina Rousseau, NP Van Wyk Louw en Sheila Cussons nie, maar hy vul dit ook aan met gedigte van sy eie. Die besonderse Nederlandse liedere “Er is een God die hoort” en “Lichtstad met uw paarlen poorte” word deur hom vertaal en aangebied.

Hy skram ook nie weg van teksgedeeltes in byvoorbeeld Job, Jona, Hosea en die Psalms wat op die oog af vrae oproep nie, maar wat juis antwoorde op diepe vrae en worstelinge verskaf. Sy unieke hantering van veral Job, die Psalms en die gelykenisse is van groot waarde. Wat Job betref, is sy uitleg van die gedeelte wat handel oor die losser besonder betekenisvol. Hy verduidelik aan die hand van die Ou Testament, veral Levitikus, hoe die losser die persoon wat sy grond verloor het, moes bystaan om dit terug te koop en ook om die reg van ’n vermoorde te handhaaf. In Job word die losser God self. Daar is egter by Job ’n groot worsteling om te verstaan wie God waarlik is en hoe Hy optree. Vos slaag daarin om die worsteling met empatie uit te beeld sodat dit ook vir die huidige geslag mense wat daarmee worstel betekenis het. Wat die Psalms betref, hanteer hy ewe-eens die worstelinge van die Psalmdigters. Die unieke belydenis dat God God is te midde van die nuttelose afgode word deeglik aangetoon. Sy bespreking van Psalm 23 is waardevol. Die vraag is of ons op God kan reken te midde van rampe en ellende. Is God wel die goeie Herder? Vos verwys na sy eie gedig waarin die herder juis uitgebeeld word as een wat nie die goeie herder is nie, maar wys dan daarop dat God wel die Herder is wat sorg, bewaar en seën. Die Herder word ook self die Slaglam ter wille van die ander.

Ook die gelykenisse word vars en nuut aangebied. Veral die gelykenis van die verlore seun word diepgaande bespreek en dui op God se Vader-hart vir sondaars. Jesus se sondaarsliefde kom na vore wanneer hy hierdie gelykenis vertel. Die gebeure word op dramatiese wyse deur Vos uitgebeeld. By die Vaderhuis ontvang die pa die seun met onblusbare liefde. God se Seun moes self in ons plek na die ver land gaan om ’n gekruisigde te word om sonde te versoen. Vos neem die leser op ’n wonderbare reis met die gelykenisse.

Die reis gaan voort en Vos verduidelik op kragtige wyse hoe God byvoorbeeld in Hosea sy liefde selfs vir Israel in sonde betoon en hulle terugroep na Hom. Met toue van liefde trek Hy hulle nader. God se deernis kom ook in die boek Jona na vore. God is barmhartig en juis daarom is Hy ook barmhartig teenoor ons. Hy wys daarop dat die Heilige Gees ook vertroos en ons in ons swakheid bystaan. Sentraal in sy uitleg staan die liefde. Daar is ook verwysing na die opstanding om die prent te voltooi van die liefde van God vir mense in nood. Die verhaal word dan ook ’n Kersverhaal waar die Here die geroep na Hom hoor. Ongetwyfeld bring sy uitleg mens nader aan ’n lewende verhouding met God. Die Vader wat sorg, die Seun wat liefde betoon en die Heilige Gees wat vertroos, bied die lig waarin ons kan leef.

Van die aanbreek van die nuwe jaar in Januarie tot Kersfees aan die einde van die jaar is hierdie dagstukke ’n gids en hulp. Deur dit elke dag te lees en die gebede te bid kan jy op hierdie pad ligloop na en met God. Die gebede aan die einde van elke stuk is kort maar kragtig. Dit help om die dag se stuk saam te vat en af te sluit.

Daar is Lig in die wêreld. Lééf daarom met God. Hierdie dagstukke wil dit juis moontlik maak. Dit is geen oppervlakkige reis van ’n gelowige nie, maar dit lei tot ’n diepgaande ontmoeting met God. Selfs diegene wat uiters onseker geword het en in twyfel verval het, kan met vrug die reis saam met Vos meemaak.

.............
Dit is geen oppervlakkige reis van ’n gelowige nie, maar dit lei tot ’n diepgaande ontmoeting met God. Selfs diegene wat uiters onseker geword het en in twyfel verval het, kan met vrug die reis saam met Vos meemaak.
............

Dit is nooit veroordelend nie, maar ’n uitnodiging tot die vreugde van die pad met God. Daar is lig op die lewenspad vir hulle wat ligloop. Dit is ’n reis na God in ’n tyd waarin daar al meer mense weg van God reis. In die nuwe jaar kan hierdie boek elke dag met vrug gelees word. Die reis na God is inderdaad moontlik.

Vos sluit af met die vertaling van “Lichtstad met uw paarlen poorte”. Die slotsitate lui soos volg:

Wat ’n vreugde sal dit wees om
altyd lof aan Hom te bring
in die stad met pêrelpoorte
in die stad Jerusalem.

Daar sal ek my Heer bewonder,
luister na sy liefdestem.
Daar’s geen rou meer en trane
in die stad Jerusalem.

  • 3

Kommentaar

  • Cas Vos se dagstukke is net die teenmiddel wat mens benodig in hierdie donker en moeilike tye. Dis uitstekend!

  • Fanie Swanepoel

    Uit die kommentaar blyk dit dat hierdie dagstukke 'n goeie handleiding sal wees vir begeleiding vir 'n mens se lewenspad. Dankie, Cas, vir rigleiding om so ons skepper-God beter te leer ken en te volg.

  • Dankie, Pieter Verster, dat jy hierdie magnum opus van Cas Vos onder die aandag bring en bespreek! Ek is bevoorreg om my eie kopie in die huis te hê sodat dit tot my kan spreek!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top