Was dit die laaste KKNK-fees ooit?

  • 1

Ek het vir LitNet belowe dat ek vir hulle ’n storie sou stuur oor die pas afgelope KKNK in Oudtshoorn.

Soos julle teen hierdie tyd al sekerlik gehoor het, was dit die 30ste keer dat hierdie fees aangebied word.

Ja, net mooi 30 jaar gelede het iemand die blink idee gekry om ’n kunstefees op hierdie mooi dorp te hou.

En ons was toe ook daar, ja, by daardie eerste fees. Ek was toe nog nie getroud nie. Om die waarheid te sê, ek het toe so pas vir Kannetjie ontmoet. Ons liefdesverhouding het inderwaarheid begin vlamvat gedurende die treinrit op pad soontoe. Sy het ’n kamerbespreking gehad vir haarself alleen in die Queens Hotel op die dorp, en ek sou iewers by vriende gaan inkruip op ’n bed in iemand se tent of spaarkamer – ek kan nie presies onthou waar nie.

Soos dinge uitgewerk het (en om eerlik te wees, ek het dalk ’n bietjie druk toegepas om my sin te kry in hierdie verband), het ek saam met haar geëindig in die Queens Hotel – om die waarheid te sê, nogal toevallig in die sogenaamde honeymoon suite.

Dit is 30 jaar later. Tydens die pas afgelope fees het ons vanjaar weer eens in die Queens Hotel tuisgegaan. Weliswaar nie weer in die honeymoon suite nie, maar in ’n soortgelyke kamer.

Lekker!!!

Ek was daar omdat ek, soos gewoonlik, moes optree in ’n vertoning; Kannetjie se enigste doel was om ’n draai deur die stalletjies te stap en na die kunsuitstallings te gaan kyk. Ek kon haar nie vergesel nie, want ek moes rehearse aan die show.

Die Queens Hotel is, wonder bo wonder, nog presies dieselfde as destyds.

En die fees? Wel, ja, ongelukkig was alles nie so hunky-dory soos ons gehoop het nie …

Ek het ongelukkig twee stukkies kritiek om uit te spreek. Nie kritiek in die sin dat ek noodwendig iemand wil slegsê nie, maar ja, wel, teen wil en dank het ek na afloop van 2026 se fees wel negatiewe kommentaar om te deel.

Voordat ek by die eerste stukkie negatiewe kommentaar uitkom, wil ek dit net weer eens onomwonde stel: Ons het die fees terdeë geniet. In die drie dae dat ons daar was, het ons heerlik uitgeëet in ons drie gunstelingrestaurante: die Queens Hotel self en ook die twee beroemde restaurante wat nog oop is op die dorp, naamlik Jemima’s en Nostalgie. Jemima’s se kos was, teen alle verwagtinge in, nie heeltemal so voortreflik soos verwag nie, maar Nostalgie was, soos elke keer in die verlede, ’n absolute wenner.

En die atmosfeer op die dorp was, soos altyd, wonderlik. Nie eers die paar reënbuie kon ons geesdrif demp nie! Hoewel daar duidelik minder mense was as voorheen, was die hoofstraat van die dorp nie ’n vertrapping soos in die ou tyd nie, en dit was baie maklik om, sonder ’n bespreking, orals ’n oop tafel te kry. 

Dit is, trouens, my eerste stukkie negatiewe kommentaar: Waarom, o waarom, was die dorp so leeg?

Waar was al die mense? Stel Suid-Afrikaners nie meer belang in plaaslike kultuur nie? 

Anders as voorheen was dit maklik om plek te kry in die hotel, selfs sonder om  vooraf te bel.

En wat het geword van die tentdorpe wat altyd orals was? Die rugbyveld langs die skool, wat altyd tjok-en-blok vol was, was dolleeg; mense sou daar kon rugby kon gespeel het as hulle sou wou.    

’n Fees wat nie 100 persent  bygewoon word nie, is natuurlik, soos ek reeds gesuggereer het, nie noodwendig ’n slegte ervaring nie. Dit was, anders as vroeër jare, maklik om parkeerplek te kry. Daar was geen lang toue by die kaartjieskantoor nie. En, soos ek reeds gesê het, ons kon eenvoudig by enige restaurant instap en gaan sit sonder om in ’n tou te staan en wag vir ’n tafel om  oop te gaan.

Die feesterrein self, waar die meeste stalletjies gestaan het, was ook betreklik stil – moontlik as gevolg van die onverstaanbaar hoë toegangsgeld?

En dit bring my by die tweede stukkie negatiewe kritiek: Geen kunstefees behoort ’n toegangsfooi te hef vir die voorreg om slegs met jou gesin en vriende ’n draai deur die feesterrein te stap nie. 

Of, as hulle dan voel hulle móét iets charge, hou dit by ’n realistiese bedrag soos R20 of hoogstens R50.

Die KKNK van 2026 se toegangsgeld om tussen die stalletjies deur te stap, was – wag daarvoor, julle gaan my nie wil glo nie – ’n volle R175.

Ja, julle het reg gehoor. R175.

Per persoon. Per dag.

Laat ek dit weer sê.

Honderd-vyf-en-sewentig rand. Al stap jy net ’n vinnige draai om vanaf die hoofstraat tot by die feeskantoor te kom.

Honderd-vyf-en-sewentig rand, nog voordat jy ’n enkele sluk bier gedrink het of aan ’n roomys gelek het.

Hoewel daar ’n klein persentasie afslag verkry kon word vir gesinne of mense wat meer as een dag na mekaar op die feesterrein wou gaan kuier, sou dit die gemiddelde gesin van vier of vyf mense wat sê maar ’n week lank Oudtshoorn toe kom en elke dag die stalletjies wil besoek, iets tussen drie en vier duisend rand uit die sak gejaag het.

Hoe kan jy geld oorhou vir ’n wegneemburger of stuk roosterkoek, newwermaaind iets koop by enige stalletjie, as jy reeds al jou geld moes spandeer net om daar te wees?

Nou ja. Ek het gesê dat die Oudtshoorn-fees van 2026 nie goed bygewoon was nie. Ek weet natuurlik nie of teaterstukke self ook swak bygewoon is of nie. Ek was by een wat slegs kwart vol was, en by ’n ander wat byna driekwart vol mense was. Ek hoop nie die kunstenaars het daaronder gely nie, wat nog te sê die mense wat hul ware uit die hand wou verkoop.

Volgens wat ek gehoor het, is die kunsuitstallings – daar was vanjaar net een of twee, nie verskeie soos in die verlede nie – ook nie goed bygewoon nie. Baie van die skilderye is reeds vroeg op die laaste Saterdag, wat veronderstel was om die hoogtepunt van die fees te wees, verwyder.

So iets het glo nooit voorheen gebeur nie.

Ja, om dus op te som:

Die KKNK van 2026 was heerlik.

Baie heerlik.

Maar ek wil die vraag stel: Hoe nou vorentoe?

Wat hou die toekoms vir ’n fees soos hierdie in?

Wat hou die toekoms in vir ander Afrikaanse of Suid-Afrikaanse feeste?

Wat ’n hartseer dag sal dit nie wees wanneer ’n wonderlike geleentheid soos hierdie een moet eindig net omdat niemand meer belangstel om te gaan nie?

Hoe lank gaan die borge nog bereid wees om so ’n fees te dra as die mense nie opdaag om die kuns te support nie?

Ek is bang om te vra …

Lees ook:

Die klein oomblikke wat die KKNK nog 30 jaar gaan laat gedy

Die KKNK se kuns, en meer, in my truspieëltjie

Spoel: Laat die nostalgie oor jou spoel met dié 2026 KKNK Karoo Kaarte-produksie

Hortjies dig by die KKNK

KKNK 2026: Die gebed van ’n halfmens – ’n onderhoud

  • 1

Kommentaar

  • Ek stem saam met jou. Hoekom moet daar toe gangsfooie wees? Vandat daar toe gangsfooie was, kon die studente fees toe kom. Nou is dit knit one slip one vir studente.
    Om 'n plek vir jou stalletjie te bekom, is verskriklik duur. Hoeveel items moet jy verkoop voor jy 'n wins maak? Die fees slaan homself nie net met 'n plank nie, maar met n hele Wendy huis. Ek kan baie mense se name noem wat graag 'n stalletjie wil bekom, maar hulle kan nie, weens die ernorme bedrag wat gevra word. Almal wil 'n geldjie maak. Ons sal maar sien wat gebeur in 2027.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top