
’n Glas wyn met Luna Paige
...
Vergeet nie van die karwagte, die kelners, die kaartjiescanners en die mense wat die moeilike taak het om feestoilette skoon te hou nie. Of die sekuriteitswagte wat brawe dronkaards in toom moet hou nie. Vergeet nie die mense agter die skerms, die sound desk en die verhoog nie.
...
Die dogtertjie, seker nie veel ouer as ses of sewe nie, druk albei haar hande voor haar mond. Sy kan haar oë en ore nie glo nie. Dis waarskynlik die eerste maal in haar klein bestaan dat sy ’n boek van haar eie mag hê. Never mind iets wen. Sy staan op en vat skamerig die boek by Mandri Sutherland. Heeltemal oorweldig. En tranerig. Almal wat rondstaan en toekyk, óók. ’n Boekvoorlesing vir kinders word ’n oomblik.
Antoinette Kellerman sit en dans op haar stoel. Frank Opperman en Eldon van der Merwe brand op die verhoog. Agter hulle stook Schalk Joubert, Luna Paige en Stephan Cloete die vuur. Vreugde.
Antjie Krog kom vra vir ’n sigaret.
Danie Marais raak melancholies soos net hy kan. Tom Dreyer en Herman Wasserman dryf die perimenopausals onder ons verder tot trane. Jennifer Pape laat jou verlang na die Vrystaat. Bibi neem foto’s van honde en direct sommer ook ’n play.

’n Ligte oomblik met Marthinus Basson
Marthinus Basson diep wilde stories op uit sy kleintyd, terwyl dit bedompig reën en sy koffie, vergete, stoom afblaas. Atropa, die stuk wat op almal se lippe was, vir ’n kort oomblik, nié op die voorgrond nie.
Iemand koop nog ’n bottel wyn. Iemand anders raak liefdevol in die parking lot.
Is dit hoe ek die KKNK van 2026 gaan onthou? Gedeeltelik, ja. Klein vinjette wat my op pad terug huis toe, nadat ek vreeslike slegte koffie in Ladismith gekoop het, weer byval. Miskien is dit al wat later nog vatplek in mens se geheue gaan kry – dalk gaan die groter prentjie later vervaag. En wat maak dit dan nou eintlik saak?
Dit maak egter wél saak, en geweldig so. Vir posterity. Vir als en almal wat was en vir als en almal wat nog kom. Vir hulle moet jy die prentjie buite die lyne helder inkleur, sodat hulle nóóit vergeet wat ’n fees wat 30 jaar oud is, beteken nie. Maar jy doen dit veral vir daai siele wat tans met die spreekwoordelike fakkels die diep en donker nag moet indonner en hoop dat daar iewers nog mense is wat bereid is om agter die flou liggie aan te wals, totdat daai klein vlammetjie, groot asseblief tog, in ’n vreugdesvuur ontplof. Effe teatraal, reken jy? Seker maar. Maar wat verwag jy – ek was vir agt dae onder die invloed van die drama van die Klein Karoo.
Om nét te kan fees moet wraggies heerlik wees. Sonder om jou oor ’n enkele ding te bekommer, behalwe dalk die moontlikheid van slegte staanplekke by die Early B-show of dat Kobus se Gat hul laaste roosterkoek gaan verkoop (of die Engen hul laaste petrol). Dalk knel die hitte ook so effe, want die meeste mense, ek inkluis, weet elke jaar hoe verbysterend warm dit in Oudtshoorn kan raak. Miskien het jy jou sambreel vergeet, want wie op Gods aarde het gedink dat dit gaan reën? Dis regtig al waaroor die feesgangers senuagtig hoef te raak. Jy hoef nie woorde (in sommige gevalle vir twee of drie produksies) te onthou nie; jouself in stukke te pluk om by tien plekke gelyk te wees nie; jy hoef nie te stres oor hoeveel kaartjies jou show verkoop, of daar genoeg Cab Sav by Skandalig vir vanaand se party is, en of enige balansstaat gaan klop nie. Jy hoef nie vroeg op te staan om sound checks te doen nie; jy hoef nie te wonder of jou creative output aftrek gaan kry nie. Jy hoef eintlik nie eers ’n enkele sent te spandeer nie, want daar is gratis vermaak om elke tent en tacokaravaan – musiek, boek- en aktuele gesprekke, kuns. RSG Live. Léwe. Jy, mevrou Feeskat, moet net opdaag.
As jy ék is, wat ’n paar hoedjies tydens die fees moes dra, het jy elke oggend geworry of enige sterfling gaan opdaag vir jou daaglikse event; en of jy die regte woorde gaan vind vir die gesprekke wat jy moet voer en vir die berigte wat jy teen ’n deadline vir die feeskoerant moet lewer. Nie so erg nie. Mín verantwoordelikhede, in die lig gesien van dit waarmee honderde ander mense hulle al maande en maande lank bemoei. Trots wel, dat ek kon help om ’n klein ratjie in die enorme masjien te mag olie.
En juis omdat ek ’n loergaatjie het wat help dat ek van binne af buitentoe kan kyk, het ek dalk meer begrip en ontsag vir almal wat hulle die geweldige taak op die hals haal om ’n fees tot stand te bring, te bestuur en dan onvermydelik slapelose nagte oor te hê. En vir elke ander mens wat ook help dat dit om vadersnaam tog net nie ’n moerse flop is nie. Want, helaas, dit gebeur. ’n Pandemie kan jou fees as’t ware in die kiem smoor. Die regering kan befondsing by ’n belangrike sluitspier afknyp. (Gaan lees Cornelia Faasen se uitstekende pleidooi van ’n paar weke gelede indien jy nie heeltemal op hoogte is van die benardheid van sake nie.) Mense kan besluit hulle daag nie op nie and so be it. Etlike blinkogies het al ’n fees begin, maar moes dan net ’n jaar of twee later die gestorwene by ’n oop graf inskop en huilend onder die modder begrawe. It is no mean feat om jaar na jaar ’n KKNK (of ’n Aardklop, Woordfees of Suidoosterfees) uit daai moddergraf te sleep en weer asem te gee nie. Dit vat “balls of steel”, hope vertroue in die mensdom en waarskynlik ook ’n groot skeut kinderlike geloof van mense soos Hugo Theart, Saartjie Botha, Alexa Strachan en Jana Hattingh om die ondankbare taak van “feesdirekteur’” op hulle CV’s te wil skryf.
Hierdie titel beteken egter nie veel sonder die mense wat bereid is om hulle talent met die volk te wil deel nie. Eintlik is “bereid” nie die regte woord nie. Nee, hulle móét dit doen, want waar anders gaan hulle geld kry om huur te betaal? Nie by Kelders vol geheime nie, dis gewis (maar dis ’n ander gesprek). Dis hoekom, wanneer jy die feesgids oopslaan en sê nou maar die naam Dean John Smith gaan soek, jy dit op vyf verskillende plekke gaan kry. Uitgesluit die kinderboekvoorlesing en MC-werk wat hy ook gedoen het. Probeer dieselfde trick met Schalk Joubert, Christie van Niekerk en Anna Davel. En nog handevol ander. Ek hoop hulle almal slaap nog, want hoe mens so ’n uitmergelende pas kan volhou vir agt dae, weet nugter alleen. En dié dwaal waarskynlik nog halfdronk tussen die oorblyfsels van wat net nou die dag nog ’n stampvol feesterrein was. En vol was dit gewis. Want vergeet tog nie van die mense wat in kokende tente om den brode staan en smous nie. Hulle is óók afhanklik van die groot feeste vir voete om hulle biltong en vreemde breekware te koop. Vergeet nie van die karwagte, die kelners, die kaartjiescanners en die mense wat die moeilike taak het om feestoilette skoon te hou nie. Of die sekuriteitswagte wat brawe dronkaards in toom moet hou nie. Vergeet nie die mense agter die skerms, die sound desk en die verhoog nie. Probeer die sommetjie maak van hoeveel mense hulle ratjie nét genoeg olie moet gee om die ding wat homself “fees” noem, in beweging te bring.
Hoekom dan die lang, prekerige relaas, wonder jy? Nie net teatraal nie, nè, sommer ’n bietjie moerig ook, blyk dit. Want hoewel ek self op klein skaal by vele feeste betrokke is, is ek first and foremost nou al vir jare ’n feesganger. Baie min dinge maak my gelukkiger as om warm te kry op ’n feesterrein met ’n polistereenbakkie vol pap en sous in my hand. Niks gee my meer energie as ’n week se skamele nagrus en dae volgepak met Henk Serfontein en nomThunzi Mashalaba se kuns, Daneel, Marlo en Albert in volle swang, laatnag rock & roll by die Feeskafee, digters wat voorlees, en kindertjies wat huil omdat iemand vir hulle ’n boekgeskenk gegee het nie. Die samekoms, die belonging, die taal/tale in al sy weird and wonderful variasies, die geredekawel oor die meriete van ’n toneelstuk, die oggendgeselsies, die chip sticks, die honderde ou en nuwe vriende. Die klein, klein oomblikke. Ek kan aangaan as jy wil?
’n Bietjie moerig ja, want daar is altyd mense wat om ’n tentflap loer en fluisterend kritiseer. Dis altyd maklik om ’n foutjie iewers uit te snuffel, want wie soek, sal tog vind. Met enige ding wat op dié skaal aangebied word, sal daar waarskynlik dinge deur die krake val. Die show is te lank, die klank is vrot, die wyn is lou en die mense te min. Dis jou volle reg om jou sê te sê, want vryheid van spraak en al daai. Maar laat mý dan ook toe om te sê hoekom ek dink daar is ’n wanklank in jou tirade. En dalk selfs ’n skootjie schadenfreude.
There’s never pleasing everyone, nè? En dis seker ook maar oukei. Ek, aan die ander kant, I’m very well pleased, nes elke keer wat ek moeg, maar onbeskaamd gelukkig, van ’n fees af huis toe ry met ’n slegte koppie koffie in die hand. Want ek weet wat dit verg, en daarvoor kan geen mens wat al sorgvry by ’n kunstefees rondgehang het, genoeg dankie sê nie. Sonder ’n KKNK (en al die res) gaan ons “mere mortals” ’n baie droewige bestaan voer.
En as feeste nie jou ding is nie, Meneer, bly dan net by die blerrie huis.
- Foto’s deur Nadine Petrick
Lees ook:
Spoel: Laat die nostalgie oor jou spoel met dié 2026 KKNK Karoo Kaarte-produksie

