Super C: ’n onderhoud met Susan Coetzer

  • 0

Susan Coetzer, ’n bekende aktrise, motiveringspreker en skrywer het ingestem om ’n paar vrae oor haar jongste inspirerende boek, getiteld Super C, te antwoord. Oros vir die siel, Lekkergoed vir die lewe, Koeke en terte en Bruistablette vir die lewe is enkele van die boektitels uit haar pen. Louise Viljoen van Jeffreysbaai het met Susan gesels.

Som Super C asseblief in ’n kort paragraaf op.

Super C is ’n persoonlike handleiding van my pad na herstel, waarin ek my geloofsreis, regstellende aksies, asook die kopskuiwe wat ek moes maak, bespreek. Dit het my in staat gestel om van ’n onseker, teruggetrokke en morbiede persoon met ’n swak selfbeeld en min selfvertroue te kon ontwikkel tot ’n kragtige, gelukkige Super C-vrou – een wat my talente en potensiaal met blydskap en selfvertroue voluit leef. Ek hoop om met my jongste geestelike boek ander vroue te bemoedig om dieselfde te doen.

Jy skryf asof jy ’n persoonlike gesprek met jou leser voer. Super C se openingsin is dan ook: “Hoe gaan dit met jou?” Gebruik jy hierdie metode doelbewus om jou leser vanuit die staanspoor betrokke te kry en boei? Of is dit nie so ’n beredeneerde aksie nie en het jy net die boek so benader, omdat dit vir jouself makliker is om te skryf asof jy saam met iemand kuier?

........
Ek is nie ’n predikant, onderwyseres of sielkundige nie, en ook nie ’n vreeslike beredeneerde persoon nie. As outeur van Super C wil ek eerder as ’n kreatiewe, onveroordelende omgeevriendin met die lesers probeer bind deur my teleurstellings en oorwinnings met erns (en soms speelsheid) met hulle te deel.
........

Ek is nie ’n predikant, onderwyseres of sielkundige nie, en ook nie ’n vreeslike beredeneerde persoon nie. As outeur van Super C wil ek eerder as ’n kreatiewe, onveroordelende omgeevriendin met die lesers probeer bind deur my teleurstellings en oorwinnings met erns (en soms speelsheid) met hulle te deel. Juis daarom gebruik ek deurgaans ’n persoonlike en gemaklike geselstrant in Super C, asof ons oor ’n pot sterk tee en ’n lekker stuk koek eerlik en openhartig met mekaar kuier en klets.

Jy deel baie persoonlike ervaringe oor jou eie lewe in Super C. Jy huiwer nie om eerlik oor jou verlede, foute en al, te skryf nie en maak geen geheim van die moeilike pad wat jy gestap het nie. Vertel meer oor die skryfproses. Het jou seer en swaar en uiteindelike oorwinning uit jou gestroom asof ’n damwal breek? Of het jy stuk-stuk swaar aan flertse herinneringe geskryf en dit toe op ’n stadium saamgevoeg in ’n geheel?

Baie mense is bang om hulle eie foute te belig, omdat hulle vrees vir veroordeling of omdat hulle trots en ego hulle weerhou van enige bekentenis. Ons wil graag aanvaarbaar en geliefd wees. Tog is insig in jou eie foute en swak keuses ’n wonderlike leermeester. Dit kan jou aanspoor om ’n bewustelike kopskuif te maak (anders te dink en doen) en die pad na herstel aan te pak. Ek glo Super C sal minder impakvol wees vir die lesers as ek net vanaf ’n plek van oorwinning skryf en my eie oordeelsfoute wat ek in my verlede gemaak het, net onder die mat invee. Ons moet ’n maatstaf hê – watter aksies lei na ’n beter lewenservaring en watter nie? Die wysheid om te kan onderskei kom juis deur jou foute te identifiseer en regstellende aksies in plek te sit. Omdat ek op ’n goeie plek van herstel was en steeds is, was die skryf van hierdie boek nie te steurend vir my gemoed nie.

Was daar sekere gebeure waaroor jy eerder nie wou skryf nie? Het jy dit uitgelaat of het jy dit tog neergepen en in die boek opgeneem?

Ja, daar is vele traumatiese gebeure waaroor ek nie in detail geskryf het nie. Daarvoor het ek ’n terapeut besoek vir byna drie jaar. Ek het hierdie keuse gemaak om die persone wat bygedra het tot my ontwrigting en pyn, te beskerm. Van hulle is oorlede en ander lei nou hulle eie onafhanklike lewens. My hart het met insig en terapie verander van onstuimig na genadig. Ek wil niemand seermaak of onder die bus gooi in Super C deur ou, donker koeie uit die sloot te grawe nie. Dis agter my, verwerk en in plek gesit. Die fokus in Super C is op my geestelike ontwikkeling, nie ander se ontwikkeling of gebrek aan ontwikkeling nie.

Sien en ervaar jy skryf as terapeuties? Of sal jy sê dat die skryfproses jou uitmergel en trauma besorg, omdat jy soms pynlike herinneringe moet herbesoek en neerpen?

Skryf kan beslis terapeuties wees. Voorheen was dit baie uitmergelend om daardie donker plekke te besoek as ’n jonger en gewonde persoon. Omdat ek die werk ingesit het om heel te word, kan ek dit vandag terugskouend met baie meer emosionele afstand en nuwe perspektief neerpen. Elke herbesoek is minder emosioneel gelaai en nie meer ’n sneller vir woede of pyn nie.

.......
Skryf kan beslis terapeuties wees. Voorheen was dit baie uitmergelend om daardie donker plekke te besoek as ’n jonger en gewonde persoon. Omdat ek die werk ingesit het om heel te word, kan ek dit vandag terugskouend met baie meer emosionele afstand en nuwe perspektief neerpen.
.......

Skryf jy spontaan of beplan jy struktuurgewys eers jou hoofstuktemas en deel dan jou inhoud daarvolgens in?

Ek dink dis ’n kombinasie. Ek spring altyd eers spontaan weg om my skryfvoete te vind en skep dan struktuur langs die pad om dit sinvol aan te bied. Te wild en onbeplan veroorsaak chaos in my brein. En té netjies beplan, vind ek weer te klinies en sonder hart, én dit trek nie sommer die leser in nie.

Watter skrywers bewonder jy vir die inspirerende boeke wat hulle skryf en in watter mate inspireer hulle werk jou?

Ek het regtig rakke vol uiteenlopende inspirerende boeke wat ek in my soeke bestudeer het. Iemand soos Stephen R Covey staan vir my uit met sy praktiese stappe om toe te pas in jou lewe. Ek waardeer sy The 7 habits of highly effective people, asook sy The 8th habit: from effectiveness to greatness. Sy proaktiewe beginsels maak net soveel sin en die geleidelike toepassing daarvan in my eie lewe het my laat ontpop en blom.

Waarom skryf jy om ander te bemoedig en te inspireer?

Daar was nog altyd ’n gretige leerder in my, en deesdae is daar ook ’n gretige leermeester wat wyse wenke wil deel. Wanneer ek sien dat mense sukkel en swaarkry, is dit my kniereaksie om hulle te wil help deur dit wat ek op my eie lewensreis geleer het, met hulle te deel. Ek was van kleintyd af iemand wat graag ander wou help. Maar eers moes ek myself help om kerngesond te word. Ek sê altyd ek is nie die sopkombuis nie, maar ek is die rigtingwyser na waar die sopkombuis is, indien jy sielshonger is. En dan sal jy self die lepel na jou mond moet bring en die helende sop moet inneem.

Hoe het jy gevoel toe jou verhaal uiteindelik as voltooide manuskrip voor jou lê en jy besef ander mense gaan daardeur ’n geweldig intieme kykie in jou hart en herinneringe kry?

Ek dink dis ’n goeie tyd in my lewe om as ’n meer volwasse vrou aan ander ’n klein loertjie deur die sleutelgat in my eie terugskouende lewe te gee, sonder om al my onderklere in die openbaar op te hang. Ek het vrede met dit wat ek met omsigtigheid en sensitiwiteit in Super C gedeel het. Ek glo dit sal bemoedigend vir die lesers wees en nie afbrekend vir enigiemand wat in die boek genoem word nie.

Wat hoop jy sal jou lesers ervaar wanneer hulle jou boek lees? Met ander woorde, wat sou jy graag wil hê moet hulle daaruit leer?

Ek hoop werklik dat hulle nie net sal lees nie, maar proaktief ’n wilsbesluit sal neem om die kopskuiwe te maak, dat hulle anders sal begin dink en doen ten einde nuwe positiewe resultate in hulle lewenservaring te sien realiseer. Anders sal Super C maar soos die vele dieetboeke wees wat ek as tiener met ’n Coke in die een hand en ’n stuk koek in die ander hand gelees het, met die onrealistiese hoop op verandering. Ek hoop hulle sak in die blokke en sit die praktiese werk in ten einde te ontwikkel en vrug te dra.

Het jy enige praktiese raad en wenke vir voornemende skrywers van inspirerende niefiksie?

Ek dink jy moet vanaf jou eie, eerlike hart die boodskap wat jou Skepper daar geplant het en waarmee jy ander wil bemoedig, skryf. Ek self vra altyd die Heilige Gees se leiding en veral ook vir onderskeidingsvermoë wanneer ek niefiksie aanpak.

Baie dankie vir jou insiggewende antwoorde, Susan.

Lees ook:

Kom saam: ’n onderhoud met Sonja Goldberg oor haar dagstukkieboeke

Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur

Die geskenk deur Riette Rust: ’n onderhoud met die skrywer

Future-proof yourself by Nikki Bush: A reader impression

’n Vrou staan op deur Ilse Verster: ’n lesersindruk

Verskrikking in die ergste graad: So lyk ’n vrou ... deur Ilse Verster

Dink jouself gelukkig – verander jou denke, verander jou lewe deur Pieter van Jaarsveld: ’n resensie   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top