
Boekomslag: Kom saam: Wysheid vir jou lewensreis deur Sonja Goldberg; foto van Sonja Goldberg: verskaf
Titel: Kom saam
Skrywer: Sonja Goldberg
Uitgewer: LUCA
ISBN: 9781779880208
Die skrywer Sonja Goldberg was ’n grondslagfase-onderwyseres en later ook departementshoof by ’n skool vir fisiese en serebraal-gestremde leerders. Sy is tans die geestelike leier by FamilieKerk Bottelary in Brackenfell en skryf ook oordenkings wat op die YouVersion-Bybeltoep beskikbaar is. Dis haar passie om mense te bemoedig met die wete dat daar altyd hoop in Jesus Christus is. Sonja is onder meer die skrywer van Kom saam, inspirasie vir jou lewensreis en Kom saam, wysheid vir jou lewensreis, wat deur LUCA uitgegee word. Sy het ingestem om ’n paar vrae te beantwoord.
Louise Viljoen van Jeffreysbaai het ’n onderhoud met Goldberg gevoer.
Het jy enige teologie-opleiding?
Ek het onderwys studeer, maar het altyd Bybelkursusse gedoen. Dit was my passie om die Bybel te lees, na ander se preke te luister en die Bybel beter te leer ken. Dis vir my heerlik om Bybelkommentare te lees oor verse in die Bybel. Ek gebruik graag verskillende vertalings om seker te maak ek verstaan ’n vers. In 2015 het ek met ’n vier jaar teologie-graadkursus begin en is ná ek my graad ontvang het as pastoor georden. Ek sal seker nooit voel ek is bekwaam genoeg nie, maar die lewe het my werklik ’n paar lewenslesse geleer, en ek het deur al my swaar en seerkry ervaar hoe God se krag en liefde my deurgedra en heel gehou het. Daarom wil ek ander bemoedig op hulle lewensreis.
Waarom skryf jy dagstukkieboeke?
Vir my gaan dit daaroor om jou moed in te praat, hoop te gee, te wys dat daar werklik ’n God is en dat Sy Woord werklik ’n antwoord het vir elke probleem wat jy mag hê. Ek wil jou help om nie net die God in Sy Woord raak te sien nie, maar om ook die vriend wat Jesus Christus vir jou wil wees, te leer ken. Dis tog Hy wat die heel beste verstaan van al die slegte goed wat so vinnig en ongevraag met ’n mens gebeur. Ek wil jou help om te ervaar dat die Heilige Gees binne-in jou is en dat Hy saam met jou wil gaan as jy aan tafel sit om te eet, maar ook wanneer jy saam met vriende kuier, vir ’n werksonderhoud gaan of inkopies doen. Jy is nooit alleen nie, want die Heilige Gees is 24/7 binne-in jou as jy Jesus in jou lewe gekies het. Baie mense wil nie altyd eers ’n hele boek lees om bemoedig te word nie; hulle soek in hierdie gejaagde lewe soms net ’n kort “iets” wat hulle kan bemoedig en hoop gee vir die dag.
........
Baie mense wil nie altyd eers ’n hele boek lees om bemoedig te word nie; hulle soek in hierdie gejaagde lewe soms net ’n kort “iets” wat hulle kan bemoedig en hoop gee vir die dag.
........
Om dagstukkies te skryf, elk met sy eie boodskap, verg selfdissipline. Waar kry jy vars idees en temas?
Die meeste van die onderwerpe spruit uit my eie ervaringe as kind en uit seerkry en hoogtepunte in my lewe. Ek het ook deur die jare bewus geraak van kollegas en vriende se vrae oor die Bybel, dinge waaroor die gewone mens soms wonder. In die Kom saam-reeks het ek die hooftema van ’n reis gebruik met afdelings soos: “As ek inpak”, “As ek in my kar klim”, “As ek op pad is”, “As ek vakansie hou”, “As ek verlang”, ensovoorts.
Wanneer skryf jy graag, en hoekom?
Ek skryf op my beste vroeg in die oggend, want dan is ek lekker vars en uitgerus. Ek doen nog my hele lewe lank soggens vyfuur my Bybelstudie. Dan voel dit vir my ek is naby aan God en ervaar ek werklik hoe Hy my help as ek skryf.
Het jy enige skryfrituele?
Ek weet nie of ’n mens dit ’n ritueel kan noem nie, maar ná my vroegoggend Bybelstudie gaan stort ek altyd eers en drink dan tee, sodat ek nie moet voel daar is iets wat nou pla nie. Ek begin altyd eers met die raamwerk: tema, onderafdelings en dan die subtitels. Dan soek ek ’n paar Bybelverse wat by elke onderwerp pas. Eers dán begin ek skryf. Aan die einde van elke gedeelte kies ek dan die Bybelverse wat daardie boodskap die beste toelig.
Beskryf jou ideale dagstukkieleser.
Dis persone wat oorweldig voel deur die daaglikse gejaag om al hulle balle in die lug te hou: die kinders, hulle skool, werksverpligtinge, kerk, iets wat breek, die gesukkel in die verkeer ... Ook vir die doodmoeë persoon wat by voetsleeppunt verby is en moet voortbeur, en ja, ook die ouer persone wat graag terugkyk op hulle lewens en daaroor nadink dat Jesus altyd met jou is, al is die situasie ook hoe sleg.
........
Omdat die dagstukkieboek ’n kort opsomming van ’n onderwerp is wat toegelig word met ’n Bybelvers, is hierdie dan ’n ideale medium om mense (oud en jonk) by die Bybel uit te bring.
........
Hoort dagstukkieboeke op die boekwinkelrakke?
Ek het gevind dat dit juis die jongmense en middeljariges is wie se besige lewe hulle noop om darem ’n ietsie uit die Bybel te lees. Baie voel die Bybel self is te moeilik om te lees, of hulle het nie genoeg tyd daarvoor nie. Dis asof mense wat ouer raak meer gedring voel om die Bybel self te bestudeer en dit eerder wil lees as ’n dagstukkieboek. (Dit klink of ek veralgemeen. Glad nie. Dis maar bloot my eie mening as gevolg van die mense se behoeftes met wie ek in my lewe te doen gekry het.) Omdat die dagstukkieboek ’n kort opsomming van ’n onderwerp is wat toegelig word met ’n Bybelvers, is hierdie dan ’n ideale medium om mense (oud en jonk) by die Bybel uit te bring.
Dink jy nie lesers kan dalk lui raak om self die Bybel te bestudeer of te bid wanneer hulle met dagstukkies en gebede bederf word nie?
Ja, dis beslis moontlik en dit gebeur wel. Maar my redenasie hieroor is: Ten minste kry hierdie persoon nog iets geesteliks in sy siel en kom hy darem by die Woord uit. Ek hou daarvan om soms ekstra Bybelverwysings in my dagstukkies te gee. My hoop en gebed is dat mense dit ook sal naslaan om ’n wyer prentjie te kry van wat God hulle op daardie oomblik wil leer.
Is daar ruimte vir gedrukte dagstukkieboeke wanneer slimfoontoepassings vir jou dagstukkies op jou foon kan lewer?
Hierdie is ’n baie goeie vraag en ek weet eerlik nie wat die regte antwoord hierop is nie. Dieselfde geld ook vir gewone boeke, nè? Tog is daar mense wat graag eerder ’n fisiese boek in die hand wil voel wanneer hulle lees as net ’n stukkie tegnologie. Baie hou daarvan om met gekleurde penne verse te onderstreep en wil dit sonder ’n gesukkel weer gaan lees. Ook soek mense gedurig na ’n geskenk om vir iemand te gee; daardie iets wat opbouend is, wat nie te duur is nie en ewigheidswaarde het. Op jou vraag sal my antwoord dan wees: Ja, daar is nog plek vir gedrukte dagstukkieboeke.
Hoe kan lesers hulle stiltetyd optimaal benut?
Persoonlik lees ek ’n paar verskillende vertalings van ’n vers, want dan verstaan ek daardie vers soveel beter. Ek kyk ook wat sekere woorde se betekenisse in Grieks of Hebreeus is, want as jy die vertaling daarvan lees, gaan daar dikwels ’n ander verstaan by jou op van wat eintlik gesê is. Dis ook altyd belangrik om die gedeeltes voor en ná die spesifieke Bybelvers te lees, sodat jy die konteks verstaan waarin dit geskryf is. Lees ook die ander Bybelverwysings wat in die dagstukkie gegee word, want sodoende verbreed jy jou insig en kennis rakende daardie onderwerp.
Het jy enige raad vir voornemende dagstukkieskrywers?
Gesels met jou leser en moenie probeer preek nie. Hou by die Woord en waak daarteen om jou eie betekenis van ’n vers te gee. Maak seker jy maak van erkende Bybelkommentare gebruik. Ek gebruik baie graag die NIV Study Bible. Dis ’n uitstekende hulpmiddel en die verklarings daarin is uiters skrifgetrou.
Kry jy enige terugvoer van lesers af?
Ja, soms. Dis altyd vir my baie lekker as lesers vertel van ’n skrywe wat hulle bemoedig het. Dit het al gebeur dat iemand ’n stukkie wat hy en sy vrou gelees het, selfs op Facebook plaas. My hart is dankbaar daaroor, want dan is daar dalk nog iemand anders êrens wat daardeur bemoedig raak.
Ek het heelwat terugvoering gekry oor ’n gedeelte in Kom saam, wysheid vir jou lewensreis. Dit was oor die dag wat my oudste twee saam met my op die strand was om skulpe op te tel (“Ek tel skulpe op”). Terug by die huis het hulle die stukkende skulpies gebruik om figuurtjies te maak. Die boodskap was vir my glashelder: Ons is almal eintlik mos maar vol gebreke, maar God sien ons as volmaak, skoongewas deur die bloed van Jesus Christus en dit gee vir my hoop vir die toekoms.
Watter unieke eise stel die skryf van dagstukkieboeke aan ’n skrywer?
Eerstens moet jy liefde vir Jesus Christus hê en geloof in Hom wat jou lei om op die einde eintlik Sy boodskap uit te dra. Dit verg regtig geweldig baie selfdissipline, want die lewe in jou huis kom nie tot stilstand net omdat jy skryf nie. Ook het jy jou gewone werk en dan is daar nog jou gesinslede waaraan jy moet aandag gee. Mens het ook vriende wat graag met jou wil kuier en jy het hulle ook nodig om as mens vervuld te wees. Laastens moet jy bereid wees om navorsing te doen en meer te wete te kom as net dit wat jy weet en glo. Dan moet jy bid oor wat jy skryf.
Hoe hanteer jy skrywersblok?
Ek los alles en gaan doen iets heeltemal anders: gaan drink tee saam met ’n vriendin of ry saam met my man êrens heen. Dit help natuurlik ook om langer tyd by Jesus se voete te sit. Hy het my nog altyd gehelp. Soms skryf ek maar, en wanneer ek ’n paar dae later terugkyk, kry ek ’n heel nuwe perspektief en verander soms daardie gedeelte heeltemal.
Voel dit ooit of jy dieselfde boodskappe hersirkuleer?
Ja, dit gebeur nogal maklik. Juis in my geval omdat my hooffokus is: Ek wil jou bemoedig; ek wil jou hoop gee; ek wil jou wys hoe wonderlik God is! So, al is die situasie wat ek skets verskillend, is die boodskap dikwels dieselfde.
Baie dankie vir jou insiggewende antwoorde, Sonja.
Lees ook:
Leef jou nuwe lied deur Elsa Winckler en Sonja Goldberg: ’n onderhoud met die skrywers