
Leef jou nuwe lied
Elsa Winckler, Sonja Goldberg
Lux Verbi
ISBN: 9780796322845
Leef jou nuwe lied deur Elsa Winckler en Sonja Goldberg het pas by Lux Verbi verskyn. Maryke Roberts het met die skrywers gesels.
Die omslag lui: “Die lewe laat jou dikwels uitgebrand en afgemat. Leef jou nuwe lied is ’n uitnodiging van die bekende skrywer Elsa Winckler en haar pastoor-sussie Sonja Goldberg om saam deur die jaar te stap met jou hand stewig in jou Vader s’n. Ontdek ’n nuwe lied in jou hart deur hierdie 200 dagstukkies en weet Hy is daar vir jou. Hy sal jou in staat stel om vreesloos in liefde te leef.”
Elke dagstukkie het ’n kort gebed onderaan en tussenin is aanhalings of gesegdes van bekende mense wat ter inspirasie dien. Daar is geen dae of datums bo-aan nie en jy kan dus die boek lees op die plek wat dit oopval, sou jy verkies.
.......
Daar is ’n hele paar voorbeelde waar hulle illustreer dat mens soms net moet asemhaal en bedaar, besef jy is nog hier. Dis soms genoeg om in daardie genade te staan. En die ander belangrike boodskap is dat jy soms ook net vir ander dít kan wees: hier en gewillig om te luister.
........
Daar is ’n hele paar voorbeelde waar hulle illustreer dat mens soms net moet asemhaal en bedaar, besef jy is nog hier. Dis soms genoeg om in daardie genade te staan. En die ander belangrike boodskap is dat jy soms ook net vir ander dít kan wees: hier en gewillig om te luister.
Daar is ’n paar treffende staaltjies wat hulle in die boek deel, soos die een waar ’n pa en sy dogtertjie op die grasperk lê en na die wolke kyk. Dit het die skrywer opgeval, omdat haar eie dag chaoties was en sy tot stilte geruk is met die aanskoue van dié prentjie.
Daar is ook die wonder van die natuur, in riviere, die see, damme wat ons suurstof verskaf, wat met staaltjies toegelig word, wat jou opnuut laat stil word en die mooi om jou indrink.
Is die dae van geestelike dagboekies nie uitgedien nie? Het mense nie ander maniere soos sosiale media gevind vir inspirasie nie?
Elsa: Daar is deesdae baie meer opsies as ’n paar jaar gelede, ja, en daar is verskeie toepassings op jou slimfoon wat ook help, maar ek dink tog baie mense verkies nog ’n boek waarin jy ook aantekeninge kan maak en wat jy kan hou om later weer deur te blaai. Geestelike dagboeke help jou om op God se beloftes en doelwitte vir jou te fokus. Dit help ons ook om dieper kennis van die Bybel op te doen sodat jy dit wat jy geleer het, in jou eie lewe kan toepas wanneer jy dit nodig het.
Hoe is die dagstukke verdeel en hoe het julle op temas besluit?
Sonja: Ons het aanvanklik begin om ons temas te kies vir elke maand van die jaar, byvoorbeeld Januarie, die begin van die jaar met al die uitdagings voor jou en ook die vrae en vrese van Covid nog vars in almal se gedagtes; Februarie, die maand van die liefde; April, wat ons Paasfeesmaand is; Augustus, vrouemaand; ens. Later het die uitgewers gedink ons moet die maande weglaat en net hou by die temas met onderafdelings. Dit het toe perfek uitgewerk. Aan die einde van elke tema het ons ietsie geskryf wat ’n herinnering oor ons kinders was. Verdere temas handel onder andere oor dinge soos die Heilige Gees, familie, gebed en Kersfees.
Uit hoeveel opsies het julle gekies?
Sonja: Ons vertrekpunt was die Oordenkings wat ek alreeds geskryf het. Ons het gesels oor hooftemas en elke tema in onderafdelings ingedeel, byvoorbeeld die huwelik, egskeiding, blydskap, dankbaarheid, hartseer, ens. Daar was so baie dinge waaroor ons kon skryf, maar ons het uiteindelik onderafdelings gekies wat by ’n spesifieke tema inpas.
Watter rol het sulke dagboeke deur die jare in julle eie lewens gespeel?
Elsa: Ek en my man lees vandat ons getroud is saam deur ’n dagboek oor ’n jaar. Dis soms ’n heerlike vertrekpunt vir ’n bespreking (en soms ’n debat).
Sonja: Ek wissel dit af. Soggens hou ek op my eie stiltetyd en dan lees ek net uit die Bybel. Ek hou daarvan om die gedeelte se agtergrond te verstaan en om meer daaroor te wete te kom. Saans gebruik ek en my man saam ’n dagboek met die opsomming en teksverwysings. (Deesdae is daar ‘n baie oulike toepassing YouVersion, wat ons op die oomblik gebruik.) Dit is vir ons so lekker om saam te gesels oor die stukkie en die teksverwysings.
Wat is jou vroegste herinnering van so ’n dagboek?
Elsa: Ek gebruik ’n dagboek vandat ek kan onthou. Daar is maar altyd een langs my bed. Ons maak ook deesdae gebruik van die Bybeltoepassing op ons fone, maar ek verkies nog ’n boek.
Sonja: Ek het eers laat in my lewe dagboeke begin gebruik, want ek hou daarvan om die Bybel self te lees. Die wonder van die dagboekstukkies het egter al oor en oor gewys dat dit van onskatbare waarde kan wees. Soms kry ’n mens jouself dat jy net nie meer krag of energie het nie en dan voel dit asof die stukkie wat jy lees nou spesiaal net vir jou geskryf is vir daardie oomblik in jou lewe.
Julle gebruik verskeie bronne vir verse, verskillende vertalings en vertolkings. Hoe hou julle tred met al die verskillende vertalings en verwerkings – lees julle so wyd?
Elsa: Ons het die boek in ’n periode van ses weke geskryf en in dié tyd het ons letterlik elke dag net sit en skryf. Ek hou van navorsing, en hoe beter ’n mens soms die agtergrond van ’n gebeurtenis verstaan, hoe meer verstaan jy wat die Bybel jou wil leer. Die verskillende vertalings bied ook elk ’n ander hoek om na ’n vers of gebeurtenis te kyk. Ons beide voel dis belangrik om die konteks van ’n Bybelvers te verstaan.
Hoe wil julle graag sien dat die dagboek gebruik word?
Elsa: Ons deel baie van ons eie ondervindings, en hopelik vind lesers aanklank by van ons vertellings. Ons praat oor alles, van die grootmaak van kinders en die krisis wanneer ‘n man sy werk verloor, tot egskeiding, die vreugde van kleinkinders, en nog meer.
Sonja: Ek bid regtig dat wanneer jy dit lees, jy ook ’n begeerte sal hê om na die verskillende teksverse te gaan kyk en dat jy self ook ander Bybelvertalings sal lees, sodat jy kan sien hoe die vers lewe kry en uit ander hoeke toegelig word.
Wat het die saamwerk tussen julle as susters vir julle as mense gedoen?
Elsa: Dit was ’n baie besonderse ervaring. Ek het dadelik geweet ek wil graag hierdie boek saam met Sonja skryf. Dit was nog altyd haar hartsbegeerte om so iets uit te gee, en om dit saam te kon doen, was baie spesiaal.
Sonja: Ek was oorstelp toe Elsa my vra om hierdie boek saam met haar te doen, want dit is al meer as vyf jaar ’n droom van my. Om saam met haar te werk was ’n bonus, want sy het al die fyner punte geken van hoe om die manuskrip gereed te kry vir die uitgewer. Verder was dit sommer net wonderlik om so iets saam te kon doen. Dit was byvoorbeeld baie lekker om te ontdek ons hou al twee van dinge vinnig doen, sonder om draaierig te wees. Ons is al twee geweldig taakgerig en kan baie gefokus werk. Iets wat ons beslis gehelp het om goed saam te werk.
Was dit eerste maal wat jy saam met iemand anders/jou suster gewerk het, Elsa?
Elsa: Ek het al kortverhale geskryf wat opgeneem is in ’n bundel saam met ander skrywers se werke, maar dis die eerste keer dat ek saam met iemand oor die indeling van ‘n boek en die inhoud daarvan besluit – ’n heerlike ondervinding.
Wat het Sonja na die tafel gebring wat hierdie boek van ander onderskei?
Elsa: Sonja is ’n onderwyseres, maar sy het ook ’n teologiekursus voltooi en is ’n pastoor. Sy het ’n baie dieper kennis van die teologie as ek en sy is ’n baie toegewyde Christen by wie ek baie leer.
Jy het verskeie boeke op jou kerfstok. Wat leer jy van jouself met elke boek wat jy skryf?
Elsa: Elke genre het eiesoortige uitdagings, maar ek hou daarvan om gereeld iets nuuts te probeer skryf. En ek leer telkens hoe verskriklik lekker dit vir my is om te kan skryf.
Watter terugvoer kry jy oor jou boeke en wat beteken dit vir jou?
Elsa: Afrikaanse lesers is wonderlik lojaal en ondersteunend. Die terugvoer wat ek kry, is heerlik positief – ek is net dankbaar.
Sonja, as pastoor, ervaar jy dat mense in hierdie tye al meer inspirasie nodig het en dit wel in geestelike leesstof vind?
Sonja: O ja, beslis. Dit bly vir my so hartseer dat mense nie verstaan en weet hoe lief Jesus Christus hulle het nie en dat Hy so graag net deel wil wees van hul daaglikse lewe nie. Wanneer jy ’n verhouding met God het, gee Hy jou die Heilige Gees wat jou help in elke krisis wat jy moet hanteer. Daarom is die honger na geestelike leesstof, aanmoediging en bemoediging groter as wat ons dink. Ons sussies bid regtig dat ons boek weer vir elkeen wat dit lees, HOOP sal gee, en ja, ’n nuwe lied!.
Sonja, wat het jy geniet aan hierdie projek?
Sonja: Elke aspek hiervan! Van die beplanning, tot die skryf, die naam van die boek, tot die saamstem oor die voor-, en agterblad, tot by die ontvang van die eerste harde kopie! O jitte ... dit was vir my ongelooflik lekker. My man sê hy het my nog nooit so sien bokspring en gil tegelyk nie! Maar die heel lekkerste vir my is die wete dat ons ’n geleentheid kon kry om iewers iemand te bemoedig en hoop te gee vir hul dag.
Wat is die een stukkie in hierdie boek wat jou die naaste aan die hart lê?
Elsa: Die skryf van die stukkies het my baie ver laat terugdink. Een van die talle dinge waaroor ons nou nog lag en wat nog altyd vir my so spesiaal is, is die keer toe die oudste boetie (toe 6) hartstogtelik aan die huil gegaan het. Ons storm kamer toe om uit te vind wat is fout. Hy’s bang, snik hy. “Jy moet net bid,” beduie kleinboet (toe 4). “Ek het!” roep ouboet gefrustreerd uit. “Jy moet wag, ‘die ou’ kan jou nie dadelik help nie,” verduidelik kleinboet.
Sonja: Dis een van die aanhalings: “When written in Chinese, the word crisis is composed of two characters, one represents danger, and the other represents opportunity” deur John F Kennedy, wat my bybly. Dis nou tydens hierdie pandemie waarder as ooit.

