Suidoosterfees 2019: ’n onderhoud met Irma Albers

  • 0

Irma Albers (Foto: verskaf)

Dit is weer tyd om fees te vier in die Kaap!

Die Suidoosterfees is tans aan die gang en vind tot 1 Mei plaas.

> Laai hier die volledige program in PDF-formaat af.

Menán van Heerden gesels met Irma Albers, die waarnemende uitvoerende hoof, oor 2019 se fees.

Irma, baie dankie dat jy met ons gesels! Wat is die fokus van die fees vanjaar?

Die Suidoosterfees, nou in sy sestiende jaar, bly streef om tydens die fees iets vir almal aan te bied, vandaar ons nuwe slagspreuk ’n fees vir almal.

Ons fokus verder op inisiatiewe wat veral nuwe talent ontwikkel en inspireer, soos ons talentsoektog die Jong Sterre-projek, ’n skoleprojek plus om koorsang veral in die landelike gebiede van die Wes-Kaap te ondersteun.   

Daar is ’n paar Afrikaanse feeste in die land. Wat maak die Suidoosterfees uniek?

Uniek is ’n relatiewe begrip, veral in ’n kreatiewe omgewing, maar wat ons dalk bietjie anders maak is dat ons fees in ’n teaterkompleks in die hartjie van Kaapstad, ’n groot multikulturele toeristestad, aangebied word.

Alhoewel ons ’n Afrikaanse fees is, is baie van ons feesgangers nie noodwendig Afrikaanssprekend nie. Ons is ook nie noodwendig ’n “destination festival” waar mense hul tasse pak om vir ’n naweek of paar dae ons fees te kom bywoon nie. Meeste van ons feesgangers kom in en uit vir ’n dag of twee en woon in die omgewing.

Alhoewel ons en ander feeste ook baie ander inisiatiewe ondersteun buite die feesomgewing, konsentreer ons veral daarop om nuwe en jong talent te ontwikkel en te inspireer.

.......................

“Die Suidoosterfees, nou in sy sestiende jaar, bly streef om tydens die fees iets vir almal aan te bied, vandaar ons nuwe slagspreuk ’n fees vir almal.”

.......................

Hoe betrek Suidoosterfees gemeenskappe in en om Kaapstad?

Ons feesspan besoek letterlik die hele Wes-Kaap en raak betrokke op voetsoolvlak by gemeenskappe – veral op soek na nuwe talent en kore om te inspireer en te ondersteun. Ons gaan op reis met ons talentsoektog-, koor-, en Jong Sterre-projekte in areas soos die groter Kaapse metropool, die Swartland, Suid-Kaap, Boland, Klein Karoo, Overberg, Oos-Kaap en die Weskus.

Hier werk ons nou saam met onder andere organisasies soos die ATKV, Rapport, Sanlam, NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) en die Jakes Gerwel Stigting, en beoog om verder hande te vat met ander feeste om ’n groter verskil te kan maak.  

Watter geleenthede bied SOF vir nuwe talent onder jong en opkomende kunstenaars?

Alhoewel ons deur ons talentsoektog jong kunstenaars identifiseer, ondersteun ons hulle ook deur geleenthede te skep en te identifiseer waar hulle nie net by ons fees op ’n professionele verhoog kan optree nie, maar waar hulle talent verder ontwikkel kan word deur meesterklasse wat dit makliker maak om eendag die bedryf as volwaardige kunstenaars te kan betree.

Met ons Jong Sterre-projek – wat meer fokus op teater en drama – ondersteun ons jong dramaturge, regisseurs en kunstenaars om nuwe werk by die fees aan te bied. Hulle doen aansoek, pitch en die werk word vir die fees gekeur. Hulle ontvang mentorskappe en werkswinkels om hulle vaardighede op te skerp voordat die produksie op die planke by die fees kom.

Hier vat ons alreeds ’n paar jaar hande met NATi en professionele ghoeroes in die industrie. Ons gaan wel vanaf hierdie jaar die projek uitbrei om ook in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting nuwe tekste te identifiseer en te ontwikkel deur skryfskole by die Paulet-skrywershuis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap aan te bied.

Suid-Afrika verkeer in ’n woelige tyd, veral met die verkiesing wat oor minder as ’n maand plaasvind. Is daar produksies en/of Jakes Gerwel-gesprekke wat op aktuele kwessies (mbt taal, identiteite, die Suid-Afrikaanse samelewing) fokus?

Ja, daar is beslis aktuele temas veral wat betref die Jakes-Gerwel gesprekke soos: “Afrikaans – ’n taal vir almal”, “Die volle storie van Afrikaans”, “Wie is ons en maak dit saak?” plus vele produksies wat handel oor mense en hulle stories, ervarings en uitdagings in Suid-Afrika.

Wat is ’n paar hoogtepunte van vanjaar se fees wat jy graag sal wil uitlig?

Daar is dramas, musiek, Bollywood-dans, komedies en visuele kuns, maar as ek iets moet uitlig noem ek hierdie paar: klassieke produksies soos die operette Die vrolike weduwee , MI(SA) met Amanda Strydom en Kaapstad Opera – ’n drieledige uitvoering bestaande uit die Missa Luba, Misa Criolla en ’n nuwe Suid-Afrikaanse mis geskryf deur Antjie Krog.

Ons het heerlike jazz en ligte musiek met Die klanke van Lagunya; Nataniël met ’n nuwe vertoning Anthem, die Soweto String Quartet, Anton Goosen, Sonja Heroldt, Lynelle Kenned & Early B en ’n hele paar Jong Sterre-produksies en intieme vertonings in die Fluweelkamer waar so 60 mense in ’n kabaret-atmosfeer ’n vertoning kan geniet.  

Ons is ’n fees vir almal – so daar is iets vir enige smaak. Hoop om julle daar te sien!  

Lees ook

Eietydse MI(SA) ook te sien by Suidoosterfees

Die vrolike weduwee beloof om feesgangers by die Suidoosterfees te bekoor

Coffee Snobs gereed om die teater aan te pak

Jerry, an unconventional hero and Dude, wa’s my bakkie? at the Suidoosterfees

Persverklaring: Jong Sterre-projek bied uitsonderlike geleentheid vir jong dramaturge

Suidoosterfees 2019: Jakes Gerwel-gespreksreeks

Persverklaring: Die Suidoosterfees is terug – ’n fees vir almal

Persverklaring: Suidoosterfees 2019 – ’n paar hoogtepunte om na uit te sien

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top