Coffee Snobs gereed om die teater aan te pak

  • 0

Hulle geniet ’n goeie koppie koffie, maar snobs, dié is hulle nie!

Marius en Vernette Wessels vorm die duo Coffee Snobs, bekend vir hulle albums Aroma en Lig, maar vanjaar pak hulle die teater aan met hulle eerste volwaardige teaterproduksie.

Die produksie, Donkernag Pantoen: Die reis van vers na liriek, in samewerking met die skrywer Riana Scheepers, word by die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer.

Die duo vertel meer.

Marius en Vernette, julle vorm die musiekduo Coffee Snobs – vertel so ’n bietjie meer daarvan.

Ons het ons eerste album, Aroma, in 2015 uitgebring. Die album het baie goed gedoen met die treffers “Eie land” en “Sê my”. Dit was ’n eksperimentele album en ons het rondgespeel met verskillende genres en klanke om so ons eie identiteit te vind. Ons tweede album, Lig, het in 2017 uitgekom en is genomineer vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning. Hierdie album se verwerking is oor die algemeen meer akoesties en het nogal ’n “folk”-aanslag wat baie goed vir ons werk.

Waar kom die naam vandaan?

Wel, ons is eintlik glad nie snobs nie, maar ons geniet ’n goeie koppie koffie. Ons het een aand by vriende gebraai wat vir ons koffie aangebied het en ek vra toe so ewe watse koffie hulle vir ons gaan maak … Dis toe daar wat iemand opmerk dat ons regte snobs is as dit by koffie kom. En dis waar ons ons naam gekry het!

Julle is besig met ’n produksie Donkernag Pantoen: Die reis van vers na liriek, saam met die skrywer Riana Scheepers, wat binnekort by die Suidoosterfees te sien is. Vertel asseblief meer oor die produksie.

Hierdie is ons eerste volwaardige teaterproduksie en ons is baie opgewonde hieroor, want dit is eintlik waar ons passie lê – by teater. Daar is net iets in die atmosfeer van teater wat jou wegvoer na ’n ander planeet. Dis heeltemal anders as om na musiek op ’n oop verhoog te luister. Die teater het ’n magiese atmosfeer en die musiek en liriek van hierdie produksie is so rou, eerlik en ongelooflik mooi!

Julle noem dat die produksie op ʼn opwindende manier aan tradisionele digvorme nuwe dimensies gee deur dit na musiek te verwerk. Waarom het julle juis besluit om digkuns en musiek te kombineer in die produksie?

Musiek wat liriek bevat, is oor die algemeen eintlik digkuns, dit het net ’n melodie by. Daar is soveel ongelooflike mooi digkuns wat verlore gaan omdat digkuns nie so toeganklik is soos musiek nie. Daar is soveel geleenthede om pragtige digkuns in pragtige musiek te ontskep en dit op hierdie manier toeganklik vir ’n baie groter gehoor te maak.

Van waar die inspirasie vir die produksie? Waar kom die idee vandaan?

Hier moet ons vir Riana intrek, want dit was eintlik haar idee. Alhoewel ek al vir baie jare ’n liedjieskrywer is, weet ek eintlik bitter min van digkuns af en Riana het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak toe sy my bewus gemaak het van die verskillende vorme van digkuns wat so uniek tot die Afrikaans taal is. Ek is opnuut trots op my taal en oortuig daarvan dat dit die mooiste taal is om in te skryf!

Wat hou die res van die jaar vir julle in?

Donkernag Pantoen gaan ook Innibos toe, asook die Vrystaat Kunstefees, en ons hoop om die produksie by nog ’n hele paar ander feeste en teaters uit te voer. Ons sal ook graag van die nuwe werke wil opneem en miskien as ’n album uitgee, maar op hierdie stadium is dit nog net ’n droom.

.............................................

Die Suidoosterfees vind plaas van 25 April tot 1 Mei 2019 by die Kunstekaapteater in Kaapstad. Donkernag Pantoen: Die reis van vers na liriek speel Sondag 28 April om 16:30. Vir meer inligting, besoek die Suidoosterfees se webwerf.

  • Foto's verskaf

Lees ook

Suidoosterfees 2019: ’n onderhoud met Irma Albers

Eietydse MI(SA) ook te sien by Suidoosterfees

Die vrolike weduwee beloof om feesgangers by die Suidoosterfees te bekoor

Jerry, an unconventional hero and Dude, wa’s my bakkie? at the Suidoosterfees

Persverklaring: Jong Sterre-projek bied uitsonderlike geleentheid vir jong dramaturge

Suidoosterfees 2019: Jakes Gerwel-gespreksreeks

Persverklaring: Die Suidoosterfees is terug – ’n fees vir almal

Persverklaring: Suidoosterfees 2019 – ’n paar hoogtepunte om na uit te sien

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top