Persverklaring: Die Suidoosterfees is terug – ’n fees vir almal

  • 0

Die program van die 16de Suidoosterfees, wat hierdie jaar van 25 April tot 1 Mei 2019 gehou word, bevat uiteenlopende aanbiedinge en dit is ’n gebeurtenis wat jy nie sommer wil misloop nie.

Daar gaan mense van elke denkbare, kultuur, godsdiens, ouderdomme en taal (maar met die klem op Afrikaans) weer saam praat, kuier en die kunste geniet. Die tema is nie sonder rede “’n Fees vir almal / Festival For All” nie.

Die fees van sewe dae groei elke jaar en meer as 15 000 Kapenaars en gaste vanoor die land kom na die uitvoerings, musiek, gesprekke, koorprogramme en die nuwe produksies van opkomende kunstenaars. Die Suidoosterfees dra sekerlik by tot die feit dat Kaapstad vanjaar op die World Travel Awards se toekenningsgeleentheid as Afrika se voorste fees- en geleentheidsbestemming aangewys is.

Gehore word bederf met gesoute en geliefde kunstenaars en verskeie nuwelinge.

Een van die hoogtepunte gaan die produksie MI(SA) wees. Die drieledige uitvoering wat bestaan uit die Missa Luba deur Guido Haazen, Misa Criolla deur Ariel Ramíres en Die nuwe verbond gekomponeer deur Antoni Schonken en geskryf deur Antjie Krog. Verskeie soliste, onder meer Amanda Strydom en die Kaapstadse operakoor, sal gehoor word.

Die Soweto String Quartet bied ’n spesiale vertoning saam met Anton Goosen, Lynelle Kenned en Early B. Dit beloof om ’n gebeurtenis te wees wat niemand wil misloop nie.

Christo Davids se produksie Harry & Jackie: Tussen die bokse gaan oor twee mense wat moet trek en skielik gekonfronteer word met herinneringe  wat uit ’n kartondoos val

Met die eerste kyk na die program val die stuk Klippies van die Grond op. Carlo Daniels sal te sien wees in die eenpersoonstuk wat die soeklig plaas op die gevolge van dwelmmisbruik in die gemeenskap.

Daar is ook volop komedie met André die skreeusnaakse hipnotiseur, Vol Klagtes en Gedagtes met Laetitia Solomons (bekend vir haar program op VIA Laetitia se taxi), nog ’n aflewering van Giempiestraat (Hoeliha Wiesie Pa) en komedie en musiek in Jokes en Jezz. Laasgenoemde val saam met ’n bekendstelling van ’n boek met insprirerende aanhalings van mense wat die afgelope jaar op Heindrich Wyngaard se kykNET & Kie-program verskyn het.

Nataniël is terug met nuwe produksie Anthem. Dit is geïnspirieer deur ikoniese liedere uit onder meer rolprente, teater, oorlog, jazz en kultuur

Verskeie produksies van die jonges trek reeds met die titels aandag: Honestly, ek verstaan jou nie, Bossiekop, Frida Kahlo op ’n veiling en Dude, Wa’s my Bakkie?

Die bekende operette Die Vroulike Weduwee deur Lehár asook die komiese opera La Serva Padrona (Die diensmaagd as minnares) deur Pergolesi is op die program.

Die volledige program is aanlyn beskibaar by www.suidoosterfees.co.za en kaartjies is te koop by Computicket. Die feeskantoor kan ook gekontak word by 021 406 2456 of stuur ’n e-pos na suidooster@media24.com.

  • Teks: Mariana Malan
  • Foto's: verskaf

Lees ook

Suidoosterfees 2019: Jakes Gerwel-gespreksreeks

Persverklaring: Jong Sterre-projek bied uitsonderlike geleentheid vir jong dramaturge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top