“Skep jou eie geleenthede” – Frazer Barry oor skeppende werk en die Suidoosterfees-inryteater

  • 0

Ek sien jy't gehelp met die Suidoosterfees se produksie Die liedjiemakers. Wat kan kykers verwag as hulle die produksie op 3 November by die inry gaan sien?

Ja Izak, Die liedjiemakers is ’n wonderlike konsep waar die idee is om meer gevestigde kunstenaars saam met die Jakes Gerwel Stigting se vyf liedjieskrywers te laat saamspan in ’n professionele produksie. Die groot onus rus op oorspronklike musiek wat die jong kunstenaars onder my mentorskap geskryf het. Die musiek is verlede jaar onder my musikale regie, en met die hulp van Earl Witbooi en Deniel Barry van Tribal Echo, ontwikkel as die Drome het vlerke-produksie wat by ArtsCape opgevoer is as deel van Suidoosterfees se program. Kykers, of die gehoor, kan hulle gereed maak vir ’n wonderlike musikale ervaring. Die musiek is beeldskoon, eerlik en onpretensieus en is ’n getuigskrif van ons Suid-Afrikaanse musikale landskap en kultuurskat. 

Dis ’n stewige spannetjie mense wat betrokke was. Hoe het julle op die samestelling van die produksie besluit?

Ja, dit is nogals ’n stewige groep kunstenaars saam op die verhoog. Die Suidoosterfees en die Suidooster-sepie het ook ’n wonderlike verhouding en vennootskap ontwikkel, daarom was ons gelukkig om vir Natasha van der Merwe en Eden Claasens ook saam met ons op die verhoog te hê! Beide van hulle is sangers en gaan saam met die liedjiemakers collab! Jodi Jantjies was ’n no brainer, aangesien ons glo in die Crescendo se ontwikkelingsprogram omdat ons self besig is met die ontwikkeling van kunstenaars. So ons was baie bly dat Jodi darem saam met ons op die verhoog kan wees as ’n liedjiemaker. Jerome Rex se veelsydigheid as liedjieskrywer, sanger en rymkletser gaan groot waarde tot die produksie toevoeg. Die liedjieskrywers wat deur die Jakes Gerwel-mentorskapprogram kom, het great musiek geskryf en hulle elkeen het soveel uiteenlopende style, wat wissel van roots-Afrika-musiek tot moderne hip-hop-musiek. Die groep word ondersteun en begelei deur die musikante Ramon Alexander, een van ons land se beste komponiste, veral van die Wes-Kaapse klankbaan, en Tribal Echo se lede, naamlik Earl Witbooi (baskitaar), Deniel Barry (tromme) en Llewellyn Adonis (keyboards en trompet).

Jodi Jantjies is my hart se punt, en dis lekker om te sien die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryfmentorskapprojek bou voort op jongmense se loopbane. Jy is seker trots op die mooi klompie jongmense wat jy al oor die jare touwys gemaak het?

Izak, soos jy weet, is ontwikkeling iets wat ek geniet om te doen! Ja, ek is baie bly dat instansies soos die Jakes Gerwel Stigting, Suidoosterfees en ATKV beleggings maak in die jong kunstenaars se loopbane. Ek geniet dit om deel te kan wees van die groei van ander kunstenaars se loopbane. 

Covid was maar ’n pestilensie vir almal, tog het mense soos jy oorleef. Het jy ’n boodskap aan die jonger mense? Wat moet hulle die volgende ses maande doen?

Tye is verskriklik uitdagend – en was eintlik maar nog altyd uitdagend vir kunstenaars. Die wêreld het oornag verander en dit beteken dat die manier van dinge doen ook verander het. Alle kunstenaars moet vinnig leer om aan te pas, of jy nou ervare, nuut of opkomend is. Al wat ek vir kunstenaars kan sê, is om nie te wag vir geleenthede nie, maar skeppend te bly en sodoende hul eie geleenthede te skep.

Lees ook:

“Ek glo nie dat ons land se toekoms kleurblind is nie” – Jerome Rex oor musiek en die Suidoosterfees-inryteater

“Uithouvermoë en veelsydigheid” – Natasha van der Merwe oor kunstenaarwees en die Suidoosterfees-inryteater

“Ek het een joke op die internet vertel” – Wynand Kotze oor die Suidoosterfees-inry

“Lag is die beste medisyne” – Shimmy Isaacs oor die Suidoosterfees-inry

Persverklaring: Suidooster-sterre skitter in November by Suidoosterfees-inryteater in Kaapstad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top