“Ek glo nie dat ons land se toekoms kleurblind is nie” – Jerome Rex oor musiek en die Suidoosterfees-inryteater

  • 0

 

Jerome Rex is op 3 November in Die liedjiemakers te sien by die Suidoosterfees-inryteater in Kaapstad. Kliek hier vir meer besonderhede.

***

Jerome, jou musiekstyl sou 'n mens kon beskryf as fusion. Jy hou egter nie te veel van labels nie, so hoe sou jy self jou musiek beskryf?

Fusion werk eintlik baie lekker! Ek beskryf my musiek as hip hop soul – ’n  mengsel van rap en sang met sterk neo-soul-invloede. Ek speel ook dikwels in die twee uiterstes van daardie spektrum, bedoelende dat ek soms net sing en soms net rap.

Uiteindelik maak ek musiek wat eerlik en eg is, en hopelik aanklank vind by ander wat dieselfde ervaringe deurmaak waarvan ek praat.

Jy't al diep spore getrap in die hip-hop-wêreld. Hip-hop is egter 'n breë term. Wat maak musiek spesiaal in 'n land van diversiteit?

Hip-hop as musiekgenre en kultuur het 'n groot invloed op my lewe gehad. Ek het daardeur geleer dat musikale kultuur as brug kan dien wat mense van verskillende agtergronde en herkomste bymekaar kan bring.

Ongeag wie jy is, kan ons hierdie taal van hip-hop praat om konneksie te bou. Hier waar ons mekaar dus in hierdie subkultuur vind, kan ons verhoudings bou wat ons toelaat om ’n dieper waardering en respek vir mekaar se herkoms te kry.

Ek glo nie dat ons land se toekoms kleurblind is nie. Dis eerder ’n erkenning van ons diverse geskiedenis as Suid-Afrikaners binne hierdie smeltkroes, en ’n waardering vir die unieke eienskappe wat elke kultuur na die tafel toe bring. 

Nou is jy betrokke by die Suidoosterfees se produksie Die liedjiemakers. Wat kan kykers verwag as hulle die produksie op 3 November by die inry gaan sien?

Die liedjiemakers is ’n baie opwindende produksie – kyk net wie tree almal daar op! Elke naam op die plakkaat is ’n talent wat ’n konsert op hul eie kan dra. Nou wat nog as jy hulle almal saambring op een verhoog! Moet dit nie misloop nie!  

Jy's skryf ook gedigte hier op LitNet: "En ek kan sukses met elke nuwe poging proe / Want my mind is opgemaak en ek gaan vorentoe." Dit klink soos 'n motto. Skyf jy anders as jy "gedig" as wanneer "liriek" dink?

Ek beskou myself glad nie as ’n digter nie. Wanneer ek rap, kan ek skuil agter patrone, ritmes en trefreëls, of dan punchlines, om die musiek te komplementeer en my luisteraar se aandag te hou.

Ek het baie respek vir digters wat treffende komposisies kan skep sonder om op hierdie tricks staat te maak.

So die kort antwoord is nee, ek het net een rat as ek skryf! 

Lees ook:

Persverklaring: Suidooster-sterre skitter in November by Suidoosterfees-inryteater in Kaapstad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top