Persverklaring: Suidooster-sterre skitter in November by Suidoosterfees-inryteater in Kaapstad

  • 0

Die Suidoosterfees en kykNET se gewilde Suidooster-sepiesterre span kragte saam om van 2 tot 8 November 2021 ’n onvergeetlike inryteaterprogram aan die publiek te bring. Soos verlede jaar word dié feestelike ervaring by kykNET Atlantic Studios in Kaapstad aangebied. Gehore kan vanuit die gemak en veiligheid van hul motors na vertonings op die silwerskerm kyk terwyl hulle die klankbaan op hul motorradio’s volg.

Loukmaan Adams gaan feesgangers se voete laat jeuk in Die liedjiemakers by die Suidoosterfees se inryteater.

Feesgangers sal elke aand by die inryteater deur hul gunsteling-Suidooster-sterre verwelkom word. Op 2 November om 18:30 vier die kykNET-sepie sy sesde verjaardag met Suidooster-makietie. Buiten lekker losit-vermaak gaan daar ’n baie spesiale episode op die grootskerm gewys word. Sepie-aanhangers kan hulle solank regmaak vir die verrassing van die jaar. Boonop kry elke voertuig ’n geskenkpakkie ter waarde van R600, en die opbrengs uit kaartjieverkope word aan die Rooikruis-kinderhospitaal se Children’s Hospital Trust geskenk.

Die Suidooster-ster Jawaahier Petersen sorg vir groot vrolikheid in Suidooster-makietie waar die verrassing van die jaar op sepie-aanhangers wag.

Kaartjiepryse wissel tussen R150 en R300 per motor, en daar is ook ander jolige produksies op die spyskaart.

Maurice Paige gaan inryteatergangers elke aand saam met medesterre van Suidooster inwag.

In Die liedjiemakers op 3 November om 20:00 sluit bekende musiekmakers hulle op die verhoog aan by jong nuwe stemme wie se talent tydens die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryfmentorskapprojek geslyp is. Frazer en Deniel Barry, Earl Witbooi, Ramon Alexander, Llewellyn Adonis, Natasha van der Merwe, Loukmaan Adams, Eden Classens, Jerome Rex, Jodi Jantjies, Breyten Treurnicht, Brumelda Bell, Nicol Klopper, Gabriel Plaatjies en Naaim Briesies gaan optree.

Suidooster-aanhangers kan vir Richard September by die Suidoosterfees se inryteater in lewende lywe meemaak.

ABBA se grootste treffers word op 4, 5 en 6 November om 20:00 uitgevoer wanneer Gary Naidoo, Riyaan Cornelius, Janine Cornelius, Jon-E, Celest Dreyer en JJ Petersen gehore in Dancing Queen op ’n musikale reis na die diskovloere van die 70s en 80s neem.

Schalk Bezuidenhout gaan mense se lagspiere kielie in Lag my kla’ .

Mense wat lus is vir lekker lag moet nie Lag my kla’ op 8 November om 20:00 misloop nie. Dié aanbieding sluit vanjaar die fees se ontwikkelingsprojek vir jong grapjasse wat deur ervare hande gementor word, op ’n skreeusnaakse noot af. Die Lag my kla’-kompetisiewenners wys hul staal saam met staatmakers soos Shimmy Isaacs, Francois van As, Lunga Tshuka, Schalk Bezuidenhout, Wynand Kotze en Dean Smith.

Shimmy Isaacs is te sien in Lag my kla’ by die Suidoosterfees se inryteater.

Prof. Brian Figaji, die Suidoosterfees se direksievoorsitter, verduidelik dat die inryteater-konsep in 2020 ontstaan het nadat die Covid-19-pandemie teateropvoerings in die wiele gery het. “Ná die suksesvolle aanbieding van verlede jaar se inryteater by kykNET Atlantic Studios was feesgangers se terugvoering so positief dat ons besluit het om vanjaar weer dié inisiatief te loods. Om vermaak op die planke te bring stel ons in staat om geleenthede vir kunstenaars te bied.”

Kaapstad se eerste burger, Dan Plato, moedig die publiek aan om die inryteater te ondersteun. “Stad Kaapstad se eie kunstefees, die Suidoosterfees, bring al die laaste 18 jaar ’n diverse kuns-en-vermaakprogram aan besoekers. Ek moedig almal wat nog nie hierdie unieke konsep ervaar het nie, om vanjaar beslis so te maak.” Die inryteater bied veilige vermaak vir die publiek, en daar word volledig aan pandemie-veiligheidsprotokol voldoen.

Jaco Loubser, vervaardiger van Suidooster, is opgewonde deur die moontlikhede wat die inryteater bied. “Die fees en Suidooster het ’n noue verbintenis en met die inryteater kan ons verskillende elemente kreatief verweef: televisie, teater en film. Namens die Suidooster-akteurs nooi ek een en almal uit om skouers te kom skuur met hul gunsteling-karakters.”

Kaartjies vir die vertonings van 2 tot 8 November by kykNET Atlantic Studios kan by Computicket bespreek word. Die Suidoosterfees se inryteater-inisiatief word moontlik gemaak deur die samewerking van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; kykNET; NATi en die Jakes Gerwel Stigting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top