“Uithouvermoë en veelsydigheid” – Natasha van der Merwe oor kunstenaarwees en die Suidoosterfees-inryteater

  • 0

Wat het jou rol in Suidooster vir jou loopbaan beteken?

Suidooster het ’n enorme draaipunt ingehou vir my, asook vir my loopbaan. Dit is ’n geleentheid waarvoor ek altyd dankbaar sal wees. Ek het baie drome en doelwitte vir my loopbaan, waarvan een nog altyd was om ’n rol in ’n sepie te vertolk. Min het ek geweet of verwag dat dit ooit sal gebeur, maar dit het werklik ongelooflik baie vir my beteken tot dusver. As ’n driedubbele kunstenaar (sing, dans, toneelspel) en met dié dat ek my hele lewe lank al op die verhoog is, geniet ek hierdie deel van my loopbaan terdeë. Dit is wonderlik om Suzie te speel en die geleentheid te hê om vir ’n lang tydperk ’n karakter te kan vertolk. Dit het definitief gemaak dat ek nuwe hoogtes in my loopbaan kan bereik en ek sien baie uit na die paadjie wat nog voorlê.

Jy is al lank bekend vir jou musiektalent, maar hoe het jy by Die liedjiemakers betrokke geraak?

Die vervaardigers van Suidooster (Homebrew Films) weet dat ek ’n sanger en uitvoerende kunstenaar is. Hulle het my genader en gevra om deel te wees van die kompetisie. Dis ’n groot voorreg om die land te kan blootstel aan die ongelooflike skryftalent van ons liedjieskrywers.

Was opneem vir die inryteater anders as skiet vir TV?

Mense vra my gereeld of ek regstreekse optredes of televisie en film verkies. As ek eerlik moet wees, verkies ek nie die een bo die ander nie. Ek is mal oor beide, en al twee bring vir my baie vreugde – net op verskillende maniere. Daar is iets ongeloofliks daaraan om regstreeks op te tree en om mense te vermaak met sang en dans. Maar televisie bring weer ’n heel ander aspek, intimiteit en verstandhouding, na vore, waarop ek floreer. Om die inryteater te doen was verskriklik lekker en dit was natuurlik ’n nuwe aanslag om dit uit jou kar uit te kyk, vanweë Covid-regulasies. Ons hoop regtig die publiek geniet dit net so baie om te kyk soos wat ons dit geniet om op die verhoog te wees.

Covid was maar ’n pestilensie vir almal, tog het mense soos jy oorleef. Het jy ’n boodskap aan die jonger mense? Wat moet hulle die volgende ses maande doen?

Die beste raad aan ander wat ek tydens hierdie moeilike tye het, is uithouvermoë en veelsydigheid. ’n Mens kan nie bang wees om nuwe dinge te probeer nie. Tydens my loopbaan moes ek deurentyd verskeie potte aan die kook hou – stemwerk, dans, korporatiewe funksies, radio, afrigting – noem maar op. Moet nooit opgee nie; as jy honger genoeg is vir dit, sal dit gebeur. Hou net aan om hard te werk en op jou eie paadjie te fokus. Daar steek baie waarheid in die gesegde “Comparison is the thief of all joy.”

Lees ook:

“Ek glo nie dat ons land se toekoms kleurblind is nie” – Jerome Rex oor musiek en die Suidoosterfees-inryteater

“Lag is die beste medisyne” – Shimmy Isaacs oor die Suidoosterfees-inry

Persverklaring: Suidooster-sterre skitter in November by Suidoosterfees-inryteater in Kaapstad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top