
Skemerverse
Estelle Kruger
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234676
Naomi Meyer vra vir Estelle Kruger oor haar digbundel, Skemerverse, wat onlangs by Naledi verskyn het.
Hallo, Estelle. Jou digbundel, Skemerverse, het onlangs by Naledi verskyn. Baie geluk daarmee. Dis ’n baie persoonlike bundel; ek lees jou raak in die verse. Dink jy dis die aard van gedigte-skryf? Of van skryf?
Estelle
Hallo, Naomi. Ek waardeer dit dat jy moeite doen om al die vrae te vra. Party is nogal moeilik om te antwoord, maar ek sal my bes doen.
Ja, dit is persoonlik en dis ook waar die titel van die bundel vandaan kom. Dit is verse en nie bedoel om gedigte te wees nie. En dit handel oor die skemer van my lewe – dit is dus ’n versameling van verse oor die jare.
........
Dit is verse en nie bedoel om gedigte te wees nie. En dit handel oor die skemer van my lewe – dit is dus ’n versameling van verse oor die jare.
........
Soos met my boek, Kammawaarwêreld – ’n metaroman, is hierdie bundel ’n versameling van gedagtes wat deur die jare op my pad gekom het. Ek skryf dit wanneer ek onrustig is oor iets en die muse my tot stilstand bring en dan kom die woorde wat verse word. Uiteindelik moes ek soek vir ’n collage om alles te orden.
Naomi
Jy skryf eerlike verse oor jou gesin – jou ouers en jou broer. Lewe enigeen van hulle nog? Sou jy dit vir hulle kon lees of laat lees as hulle nog geleef het? Wil jy iets van elkeen vertel?
Estelle
My ouers is oorlede, maar my broer leef nog. Ek hoop van harte dat laasgenoemde dit wel lees, want hy sou homself kon inleef. En ja, ek sou dit vir die oorledenes wou lees, maar ek het ’n sterk gedagte dat waar hulle is, hulle kyk na ons met liefde in hulle oë.
My ma en pa is geskei en dit het baie pyn veroorsaak vir my, omdat ek met hom en sy persoonlikheid geïdentifiseer het. Ek het nie regtig met my ma geïdentifiseer nie, en haar tweede man was vir my ’n pyn, fisies en geestelik.
Naomi
Jy skryf ook oor jou latere gesin: jou kinders en kleinkinders. Het jy vir hulle jou gedigte gewys voordat dit gepubliseer is? Altyd kompleks om eerlik te wees oor mense wat nog leef.
Estelle
Ek het wel vir hulle dit meestal gewys en dit was interessant om hulle reaksies te sien. Meestal was hulle baie verbaas dat iemand hulle so raaksien en hoe ek hulle beleef. Hulle het meestal die gebeure onthou en goed gevoel oor my verse.
Naomi
Die liefde. Verlore liefde en afskeid, of ander liefde, geheime liefde. Hiervan lees mens ook. Kan jy hieroor openhartig skryf, sonder om enigeen se reaksie te vrees? Is die skryf reeds genoeg?
Estelle
Nie een van hulle het dit ooit gelees nie, omdat die een waarskynlik dood is en die ander een saam met sy gesin geëmigreer het na Nieu-Seeland. Die skryf daarvan was vir my ’n geestelike pad, omdat dit my gehelp het om daaroor te mymer en te groei. Nee, ek het niemand se reaksie gevrees nie, omdat nie een van hulle dit ooit gelees het nie.
Naomi
Jou bundel is ’n geestelike reis. Dalk kan jy iets van jou geestelike en spirituele pad deel.
Estelle
My reis was moeisaam, omdat ek die gewone paadjies nie meer kon loop nie, want dit het my bedreig en dit het gevoel of ek bedrieg is. Die meeste mense in my lewe het dit nie verstaan nie, en dikwels bedreig gevoel daaroor. Gelukkig het iemand soos Abel Pienaar op my pad gekom en my gehelp om woorde te vind hiervoor, om vrede te maak met die oue en vreugde te hê met die nuwe. Ek skryf wel in my boek, Kammawaarwêreld – ’n metaroman, daaroor. Ons kon ook ’n Zoom-gesprek op LitNet hê wat vir my groot vrede en vreugde gegee het.
Naomi
Hoekom gedigte skryf? Hoe is dit vir jou anders as ander speelse en humoristiese werk waarvan ek ook bewus is jy graag skryf?
Estelle
Onthou asseblief dat ek dit doelbewus verse noem, en nie gedigte nie. Ek dink die ernstige verse is gewoonlik ’n verlossing wanneer my muse my gehelp het om woorde te vind nadat ek bewus geword het van die onrus in my gees. Die speelse en humoristiese werk is seker eerder deel van my humor wat so lank versluier was en op hierdie manier na vore kom.
My ma het ’n droë sin vir humor gehad en ek het waarskynlik dit by haar geërf. Ek sien deesdae dinge raak wat nie by mekaar pas nie en dit maak mense lag as ek iets daaroor skryf. ’n Voorbeeld daarvan was dat ek ’n vers geskryf het oor die grendeltyd met Covid wat my laat dink het daaraan dat die wêreld toe regtig plat is en normaal daarvan afgeval het.
Ek dink my humor het ontwikkel toe ek in Nederland by ’n egpaar gewoon het en die man het vir my ’n boek van Godfried Bomans, Denkend aan Vlaandere, gegee wat ek in die aande gelees het voor ek gaan slaap en dit was wonderlik om met ’n glimlag om my lippe aan die slaap te raak.
Verder was Heather, van wie ek later vertel, ’n Ierse vrou en sy het ook die humor van die Iere gehad wat op my gegroei het die tye wat ek saam met haar deurgebring het.
Naomi
Skryf jy al lewenslank aan hierdie gedigte? Of het jy op ’n dag besluit jy sal ’n digbundel skryf en dit tematies ingedeel? Hoe het die skryfproses gewerk?
Estelle
Nee, my digbundel-skryf het ’n spontane agtergrond. En ja, vandat ek ’n tiener was, het die verse los-los in my gedagtes opgekom. Ek was as hoërskoolkind baie beïndruk met gedigte en wou graag op ’n stadium ’n program vir die radio saamstel met die gedigte en klassieke musiek waaraan my pa my blootgestel het. Ek dink ek het reeds vertel hoe die skryfproses by my gewerk het.
Naomi
Die digbundel is as ’t ware ’n soort dagboek. Maar een wat gepubliseer is, sodat ander mense dit kan lees. Dalk is dit wat elke stuk skryfwerk is. Wat dink jy? Mens gee jouself tog vir die leser, ongeag wat jy skryf.
Estelle
Ja, as ek terugkyk, was dit wel ’n soort dagboek. Omdat ek so geestelik ongelukkig was met die godsdiens waaraan ek blootgestel is, het ek sedert ek in Pietermaritzburg gewoon het, elke retreat wat ek kon bywoon, bygewoon. Daar was ’n egpaar in Hilton (Jim en Heather Johnston) wat sulke retreats aangebied het – Jim het veral geestelike kursusse aangebied, met ’n Life Revision-kursus wat my bewus gemaak het van die skryf oor my lewe. Ek het dit selfs twee maal bygewoon en ook eenmaal gehelp om dit aan te bied. Heather was die een wat my skryfwerk geslyp het en ek noem haar my vroedvrou wat aan my kreatiwiteit geboorte gegee het. En sedertdien skryf ek.
........
En sedertdien skryf ek.
........
Ek het ook later gedigte-skryfkursusse aangebied vir my studente in Stellenbosch, sowel as onderwysers in my Klaskenades-kursusse. Daar het ek agtergekom hoe maklik dit is om kort gedigte te skryf, soos haikoe, tanka, pantoen, diamantes, ensovoorts. Ek het self ook voorbeelde daarvan geskryf voordat ek dit aangebied het. Hier wil ek melding maak van my gewese student wat my dierbare vriend en skryfgenoot geword het, André Müller. Ons het dikwels saam kursusse aangebied en as ek vir hom ’n nuwe gedig gestuur het, kon ek weet daar sal ’n terug-gedig kom. Heerlik! Hiervan skryf ek ook in my boek, Kammawaarwêreld – ’n metaroman, en die naam van sy karakter was Eugéne. Dit was vir my ’n groot verlies om Sedgefield toe te trek en geleidelik vervreemd te raak van hom.
Naomi
Vertel my van waar jy woon en die natuurelemente waaroor jy alles skryf. Watter elemente is die moeilikste om oor te skryf of nie te skryf nie? Is daar gedigte wat jy nog wil byvoeg, noudat jy hierdie bundel in jou hande hou?
Estelle
Ek woon tans in Sedgefield in ’n woonstel met ’n balkon op die eerste verdieping. My uitsig is die berg/duin met ruie plantegroei. Wat my getref het as ek buite sit en tee drink, was die stilte en sang van voëls, soos die loerie en die ruigtesanger, behalwe dat daar ’n keffende brak in die huis oorkant my was.
My verskerpte waarneming van die natuur kom van die tyd wat ek in Strand gewoon het en my “Bolandse bede” ontstaan het. Ek het op die tiende verdieping van ’n woonstelblok gewoon en my woonstelnommer was 1001. Daar het ek laggend besef my verse is soos Scheherazade se 1001 stories om aan die lewe te bly.
Ook het ek in Sedgefield op ’n stadium die dorp “skoongemaak” by die middelste gedeelte tussen die hoofpad. Dit was in die tyd van Covid en ek het bewus geraak van al die gemors wat daar lê, en so het my “Dagboek van ’n gemaskerde molshoop masurka-danser” ontstaan. Dit het my gelei na die vlei op pad na die strandmeer en hier het ek die wonderlikste natuurtonele aanskou – die son op spinnerakdrade, die voëls by die meer. Hier het baie van my wense ontstaan. Wat in my gedagtes opkom, is allerlei menswense, soos:
Mag jy aanhou soek, want jy sal vind
Mag jy aanhou vind, want jy sal dan verwonderd wees
Mag jy jou aanhou verwonder
En jy sal jubel oor
Jou vrede, vreugde en vryheid van kettings
Wat jou vasgebind het
Hiervan het ek uitgebreid geskryf in my twee boeke. Die verse wat ontstaan het soos wat my waarneming verskerp het, is te veel om hier aan te haal.
Ek het begin om veldblommetjies te pluk vir die tannies wat aan rolstoele gekluister is en nie saam met my in die veld kon loop nie – ek het gedink ek sal dan die veld na hulle toe bring. Wonderlik was hulle reaksie van blydskap. Dit het ook vir my blydskap gegee. Dit het my laat onthou van Peter Snyders se gedig, “ek is oek important”, en my eie een het ontstaan:
Baba Blacksheep
Have you any trash?
Yes Sir, yes Sir,
Three bags, abash!
One for the pavements,
And one for the streets
One for the cooldrink,
The chips and the sweets ...
Naomi
Wat lees jy en wat inspireer jou om elke dag te skryf en te leef?
Estelle
Tot my spyt moet ek erken dat ek deesdae nie meer baie lees nie.
Eers wil ek vertel van die reeds genoemde Godfried Bomans wat ’n wonderlike storie geskryf het, “De rijke bramenplukker”. Ek het ’n vriendin van my genader (Juliana Kruger) wat dit vir my vertaal het. Mettertyd het ek dit voorgeskryf vir menige studenteklas en hulle het dit saam met my geniet. Die bramenplukker se siening van wat ryk is, was gevul met die natuur, en jy kan verstaan watter invloed dit op my gehad het.
Dít wat ek onlangs gelees het, was egter meestal van akademiese aard toe ek vir sewe jaar redakteur by LitNet Akademies in die Opvoedkunde-afdeling was. Daarna het ek wel boeke geproeflees by die uitgewer Naledi, maar dit het my nie regtig geïnspireer om te skryf nie, behalwe Sjerpa van Ansja Ferreira. Die mees onlangse een, Hinterland van Piet van Rooyen, was wel die mooiste storie wat ek ooit gelees het, maar tot dusver het daar geen gedigte in my gedagtes opgekom daaroor nie, want proeflees is ook ’n soort ernstige werk.
Sjoe, dit was nou ’n lang e-gesprek, maar ek het dit wel baie geniet. Dankie, Naomi – jy het gehelp dat ek so ’n bietjie my derms kon uittrek en selfinsig kry.
Om by te voeg:
- ... so ook op die aarde – Betsie van Niekerk (Naledi, 2024):
Ek het met haar ’n onderhoud gevoer (LitNet, 3 April 2024) en het dus die boek in diepte gelees. Dit het my getref as een van die mooiste boeke wat ek gelees het.
- Oorwegings voor gesigseinder – Kobus Krüger (Naledi, 2023):
Ek het die boek geproeflees en diepgaande gesprekke met die skrywer gehad. Sy siening oor die kosmos het my sienings verruim en verdiep.
Lees ook:
... so ook op die aarde: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk

