Johan Anker is hier in gesprek met Estelle Kruger oor haar metaroman kammawaarwêreld.
Estelle, jy het nou al heelwat kommentaar ontvang oor jou metaroman, kammawaarwêreld. Ek is, soos die ander lesers wat reageer het, baie beïndruk met die teks, die gedagtegang en die kreatiwiteit wat daarmee gepaard gaan. Dit is ook ’n teks wat die leser self tot besinning dwing oor sy/haar eie bestaan!
Hallo Johan. Jou vrae dwing my nogal tot diepgaande selfrefleksie! Dankie hiervoor – dit is opnuut ’n belewenis om deur middel van jou indringende vrae te besin oor my boek en daarmee my lewe in die nou ...
Ek sou, om mee te begin, graag wou weet hoe jy op die reaksie reageer en of daar vir jou spesifieke verrassings was in sommige van die besprekings?
Ja, daar was baie verrassings. Ek is baie bly om te lees hoe die lesers kammawaarwêreld ervaar. So baie verwoord dit (ook in persoonlike kommunikasie) as dat dit nie ’n slaaptydstorie is nie, maar een wat stukkie vir stukke gelees moet word om te verteer en te besin. Dit bring vir my ’n groot “hoera!”.
Dit verheug my dat lesers die diepte van die boek raaklees. Dit was nooit bedoel om vermaaklike leesstof te wees nie. Herhaaldelik is daar lesers wat gemeld het dat die teks kompleks saamgestel is, soms selfs oorweldigend (dalk vervreemdend) – en dit is wat ek wou bereik: om vir die leser te vertel van ’n ingewikkelde lewe wat die hoofkarakter oorweldig het; ook dat visuele en poëtiese skeppingswerke hulp en terapie gebied het om die hoofkarakter se verwarring, vrae, twyfel, gevoelens en komplekse keuses die hoof te bied en te kan oorleef.
Nioma Venter se raaklees van die temas in die boek het my verras – ek het dit self nie eers geweet nie! Op sigself het dit my opnuut laat wonder hoe ek dit reggekry het om die “integriteit van [my] menswees en [my] werk [ineen te vleg] in hierdie boek waarin [ek] met ’n unieke collage van kunsvorme die trajek van [my] lewe in oënskou neem”.
Henriëtte Loubser se raaksien dat my verhaal “aangebied [is] in liries-poëtiese taalgebruik en met ’n soort magiese realisme ... en ander kere weer in reflektiewe, realistiese verteltaal; duidelik ’n storie agter/in ’n storie”, was vir my ’n heerlike geskenk.
Dewald Koen lig die psigologiese stryd treffend uit, en dit is waar: Ek moes van sielkundige na sielkundige na psigiater swerf om my “donker lewe” te verwerk en op my eie manier betekenis te vind te midde van al my keuses en opofferings wat sy tol geëis het op my reis. Sy woorde: “In elke leser skuil daar ’n deel van Pippa Potgieter wat smag om van iets of iemand te ontvlug” bied opnuut vir my berusting van my verwikkelde pelgrimsreis oor sinkplaatpaaie “wat met duwweltjies besaai was”.
Wat ek spesifiek van Johannes Slabbert se lesersindruk waardeer, is die aanhaling wat hy maak van Sokrates se woorde: “An unexamined life is not worth living.” Hiermee verwoord hy sy eie interpretasie en hoe die diepte van kammawaarwêreld hom aangeraak het: “Eers wanneer ek met en oor die vorige element reflekteer, word die diep omvangrykheid van alles verhelder.” Sy woorde dat die metaroman se uitnemende skerpsinnigheid “die trauma voortdurend in triomf omskep”, raak my diep aan, want dit is presies wat ek ervaar het met die skryf van my storie.
Ek hou van François Verster se beskrywing van die “visueel aantreklike boek, netjies verpak en bevat onder meer kleurillustrasies wat die algemene indruk met die opneem van die boek positief beïnvloed. Kortweg: dis ’n mooi boek in alle opsigte ...”
Hy herinner my hiermee aan my dankbaarheid teenoor Johan Coetzee en sy produksiespan (Karen Cronjé en Gert Claassen) by Naledi wat my boek fisies so uitstekend versorg het. Ek het besondere waardering vir sy begrip van die struktuur van kammawaarwêreld: “Soos die leser ... deur die boek beweeg, is dit nogtans duidelik dat die skrywer in beheer van die talle storielyne is en op ’n manier daarin slaag om alles uiteindelik in ’n koherente geheel byeen te bring. Veral die epiloog is onthullend en noodsaaklik as ’n soort sluitsteen wat die kring voltrek.” Dit is vir my besonders dat iemand so ’n duidelike begrip het van hoe ek gedoen het wat ek gedoen het.
Verder het ek baie waardering vir Mary Mattheyse se begrip daarvoor dat dit die patriargale stelsel en gewoontegodsdiens waaraan sy onderwerp is, wat my as getroude vrou gekwes en geknel het. Ek hou van haar woorde: “In the end her spirit soars above those things and after many struggles she finds a broader spirituality to supplant the narrow, judgemental outlook of organised Christianity that she had experienced.”
Ek het Leoné Tiemensma se ontleding van die titel en subtitel geniet. Sy gee ook ’n verduideliking daarvan dat die werklikheid teenoor ’n “lugspieëling” gestel word (44) en dat die verhaal deels in die vorm van ’n metaforiese storie vertel word – ’n “kunssprokie waarin die skrywer haarself verbeel” en die “waarheid en droom raak deurmekaar”. Dit is vir my ’n aangename ervaring om te sien hoe lesers die struktuur van die storie verstaan.
Het jy enige teikengehoor in gedagte gehad toe jy die teks geskryf het, of was dit in ’n groot mate ’n gesprek met jouself wat algaande vorm aangeneem het?
Dankie, dit is nogal ’n interessante vraag wat my wil laat wonder aan wie ek die teks opgedra het. Ek kan net onthou dat ek spesifiek gedink het aan al die vrouens wat (soos ek) met moedersmelk paternalistiese onderdanigheid ingekry het en getrou het met mans wat op vadersknie chauvinisme aangeleer het.
........
Dit was inderdaad deurgaans ’n gesprek met myself, my nageslag en oudstudente aan wie ek ’n nalatenskap wou opdra. Ek het nie geld of goud om in my testament aan hulle te gee nie, daarom gee ek op hierdie manier – my lewe – aan hulle.
........
Dit was inderdaad deurgaans ’n gesprek met myself, my nageslag en oudstudente aan wie ek ’n nalatenskap wou opdra. Ek het nie geld of goud om in my testament aan hulle te gee nie, daarom gee ek op hierdie manier – my lewe – aan hulle.
Die teks bestaan uit ’n verrassende (vir die leser!) verskeidenheid aanbiedingswyses. Dit is onder andere ’n kaleidoskoop van dagboekinskrywings, illustrasies, foto’s, sprokie, persoonlike ervarings en besinnings. Was die struktuur van die begin af so beplan of het dit in die skryfproses ontwikkel?
Sjoe, nee. Dit was beslis nie so beplan van die begin af nie. Daar was baie skryfstukke wat ek oor die jare gemaak het tydens retreats en verskillende soorte kursusse (kreatiewe skryf, meditasie, kunsterapie, memoires); ook telkens wanneer daar ’n onrustigheid in my hart en gedagtes oor iets is, en ek net moet onthou dat my muse (haar naam is Erato – die godin van liriese poësie) my weer sal besoek en orde skep in my chaotiese gevoelens en gedagtes, want sowaar: My woorde verskyn in my gedagtes en dan begin die skeppingsproses. Ek het altyd my studente aangespoor om kreatief te skryf met die wete dat daar ook chaos in die begin was, en toe het die Groot Skepper orde geskep.
Omdat daar so ’n verskeidenheid skryfsels deur die jare ontstaan het, was dit moeilik om te weet hoe ek alles sou integreer. Toe lees ek op ’n stadium (eintlik baie onlangs) ’n speurverhaal waarvan die struktuur duidelik vir my na vore gekom het en ek verstaan het hoe ek die spanningsmomente na laag en hoog kan laat skuif. Dit was ’n “aha”-moment vir my. Hierdie vermoedens is bevestig toe ek Willie Burger se boek Die wêreld van die storie ter hand geneem het om ’n ander vraag te beantwoord. Onnodig om te verklap dat ek toe in hierdie boek ook op my boek se titel gekom het!
........
Op sigself was dit ’n “kuns” om saam met die pendulum of op die weegskaal te beweeg tussen respek vir die regte mense wat my karakters geword het, en die waarheid van my eie ervaring van gebeure.
........
Nog iets wat ek onlangs ontdek het toe ek gesoek het vir hoe ek alles sou orden – want daar was stukke wat ek my “gory stories” noem – was ’n artikel wat verduidelik hoe ’n mens jou memoires of outobiografie kan fiksionaliseer om hierdie probleem te oorkom.
In my soeke op die internet na die kenmerke van ’n memoir en hoe dit verskil van ’n roman, het ek afgekom op Joan Hambidge se artikel oor die metaroman waar daar ’n storie-binne-’n-storie is.
Walla! Daar het ek toe al die styl- en struktuurelemente om my chaos in orde te omskep.
Die teks bevat baie eerlike en reguit beskrywings van ’n verskeidenheid emosionele ervarings. Vir die leser is dit duidelik dat dit in baie gevalle intieme persoonlike beskrywing is van werklike gebeure. Beslis nie net “kamma” nie! Was daar dele wat vir jou in besonder moeilik was om te verwoord of vorm aan te gee?
Ja, sekerlik. Op sigself was dit ’n “kuns” om saam met die pendulum of op die weegskaal te beweeg tussen respek vir die regte mense wat my karakters geword het, en die waarheid van my eie ervaring van gebeure. Laasgenoemde is nie noodwendig hoe ander in dieselfde omstandighede dit sou ervaar nie. Ek het duidelik geleer dat daar verskillende waarwêrelde is en hoe ek myne in vryheid sou kon orden.
En dan moet ’n mens seker ook vra: Watter dele was die maklikste om te skryf?
Dit was baie lekker om oor my kinders en kleinkinders te skryf. Omdat ’n boek nie interaktiewe skakels bevat nie, was dit telkens vir my ’n teleurstelling dat ek nie stukkies inligting oor hulle kon “wys” met video’s nie en dit moet probeer verwoord en dan is dit asof ek die pret daaruit gehaal het. Die antwoord op hierdie vraag is dus positief en negatief.
Verder het ek dit geniet as ’n skepping wat daar en dan plaasgevind het en ek dit net moes neerskryf. Natuurlik volg die herskryf en nog ’n keer skryf hierdie skeppingsproses. Weer goed en minder goed.
Daar kom heelwat gedigte in die teks voor. Was dit ’n spesifieke voorkeur om emosies op hierdie manier te verwoord of het dit spontaan in die skryfproses ontstaan? Sommige daarvan, lei ek af, het reeds bestaan.
Om my emosies op hierdie manier te verwoord was amper my verstekmetode van kreatiewe skryf. Ja, jy is reg – heelwat van hierdie kreatiewe skryfsels het reeds bestaan toe ek die uiteindelike orde moes skep. Toe was dit net ’n vraag van waar kom wat om betekenis te skep.
Met die lees van die teks is daar vir my ’n direkte en ook ’n implisiete, innerlike stryd oor die religieuse of dan godsdienstige ervaring van ’n mens se bestaan en ervarings van die lewe. Waarom wou jy spesifiek daardie soort “vrae” rig as deel van jou besinning? En sluit dit ook aan by byvoorbeeld jou verwysings na TT Cloete se boek Die ander een is ek, wat vir my as leser ’n sleutelverwysing is?
Ja, uiteraard was my soeke lankal in my lewe na spiritualiteit. Ek dink dit is die rede waarom ek met ’n tokkelok getrou het – in my (nog) jeugdige onskuld het ek gedink dit is waar ek dit sou kry. Al wat ek egter toe gekry het, was gewoontegodsdiens, sonde en wette, Bybelkonkordansies, sinode, Kerkraad, preekvoorbereidings, Bybelverklarings, hemel en hel, ens.
Nadat ek van bogenoemde gevlug het, was daar in ’n ander twee soorte “kerk” waarvan ek deel geword het (charismatiese kerke) wel nuwe soorte aanbidding en meditasie in stilte, maar teen daardie tyd was ek al hiperkrities en het ek nog ander soorte motiverings en verwagtings gevind wat vir my nie spiritueel was nie. Ons moes net met aanbidding en in lofprysing soek na God se teenwoordigheid, wat ek nie gevind het nie. Steeds het ek nie antwoorde gekry oor hoe om nóú betekenis te vind in my lewe nie – daar was wel ééndag in die hemel ’n plek waar pyn en ellende weg is, terwyl ek dit hier en nou ervaar het en nie hulp daarvoor gekry het nie.
Ek kon my steeds nie vereenselwig daarmee en glo dat ek in sonde gebore is en óf na die hemel óf na die hel op pad is nie. Dit was eers toe ek bewus geword het van retreats met meditasiesessies, selfs kennis van Boeddhistiese lewenswyses, dat ek die antwoord gekry het, naamlik dat alle mense gebroke is. Daarop kon ek “ja” sê – dit is wat ek my lewe lank ervaar het. Ek wou nie ’n Boeddhis word nie – daarvoor het ’n mens te veel selfdissipline nodig! Wat ek wel in hierdie opsig waardeer het, was om saam met Kobus Krüger te werk aan sy manuskrip Oorwegings voor gesigseinder. Uiteindelik was dit (wyle) Abel Pienaar wat vir my woorde gegee het vir my soeke en ek die vrede gevind het dat ek vry is om “ek is” te wees.
Ja, TT Cloete het vir my baie beteken – as voor- en nagraadse student het ek aan sy voete gesit en geleer van poësie. En toe ek ’n jaar gelede bewus geword het van sy laaste boek, Die ander een is ek, wat jy hier bo genoem het, het ek nog meer woorde gekry wat my gehelp het om te weet wat ek doen en ervaar.
........
Vir my wat as kind en as getroude vrou “stom” moes wees, was die skryf van die boek ’n proses van heling en groei – ’n skoenlapper wat vry kan vlieg uit ’n papie en vir die wêreld die kleure van my kaleidoskoop kan wys.
.......
Die teks beskryf baie duidelik ’n metamorfose: metafories en ook direk. Sou ’n mens kon aflei dat dit ook terselfdertyd ’n terapeutiese proses was en het jy dit deurentyd so ervaar?
Inderdaad was dit ’n terapeutiese proses om uiteindelik te kan sê wie ek is, wat ek glo en voel, wat my vrese en angs is, waarna ek verlang, waarop ek hoop, my drome. Vir my wat as kind en as getroude vrou “stom” moes wees, was die skryf van die boek ’n proses van heling en groei – ’n skoenlapper wat vry kan vlieg uit ’n papie en vir die wêreld die kleure van my kaleidoskoop kan wys.
Nogmaals dankie vir so ’n besonderse publikasie. Kan ons uitsien na verdere publikasies, al is dit dan van ’n heel ander aard?
Dankie, Johan. Dit was heerlik om weer so te sit en dink en skryf en jou konstruktiewe vrae te beantwoord – dit het amper gevoel soos ’n koffiegesprek van aangesig tot aangesig!
Ja, ek het in my gedagtes ’n idee om ’n e-boek saam te stel van al my opvoedkundige beginsels en “innoverende” onderrigaktiwiteite rondom die onderrig van Afrikaans. Hoe, weet ek nog nie presies nie. Noudat ek nie meer ’n rekenaarfoendie of ’n universiteit se hulpbronne in my lewe het nie, is dit net nog ’n vae droom. Tog het ek ’n vermoede dat my uitgewer (Naledi) ’n plan saam met my kan beraam.
Én: Die vorige droom het waar geword. Ek het trouens nie eers geweet dit was ’n droom nie! Wie weet wat die toekoms inhou ...
Lees ook: