Kammawaarwêreld deur Estelle Kruger: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Kammawaarwêreld
Skrywer: Estelle Kruger
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172870

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Haal diep asem, want die volle impak en diepgang van emosies in Kammawaarwêreld, die debuutroman deur Estelle Kruger, is oorweldigend. Die waarheid en werklikheid van ’n individu se lewe in hierdie verhaal is net so ontbloot as wat dit verskans is! Van die proloog tot die slotwoord moet die leser deurlopend verpoos om in te neem wat met naakte eerlikheid onthul word, ontrafel tussen feit en fiksie en die boodskap binne die verskeidenheid van kunsvorme ontleed.

Die leser kan nie anders as om met respekvolle verwondering die proses gade te slaan wat agter die samestelling en skryf van hierdie eiesoortige boek lê nie. Die hoofkarakter is Pippa: ’n Vrou met ’n sigaar op ’n balkon, ’n kaalvoetvrou op die strand, ’n misterieuse karakter in ’n sprokiesverhaal, ’n skoenlapper in ’n kokon, ’n vlees-en-bloed-vrou op soek na liefde en vrede.

Die werklikheid is dat daar in Kammawaarwêreld ’n meesterlike integrasie plaasvind van die skrywer se persoonlike reis deur die lewe en haar professionele gawes en suksesse. Die verhaal onthul ’n pedagoog wat nie alleen in haar professionele loopbaan kreatiewe kunsvorme in die vakgebied van die Afrikaanse taal tot op tersiêre vlak doseer nie, maar haar kennis en gawes in hierdie boek ook vreesloos inspan om haar eie sinsoeke met ander te deel.

Die integriteit van haar menswees en haar werk word ineengevleg in hierdie boek waarin sy met ’n unieke collage van kunsvorme die trajek van haar lewe in oënskou neem. Algaande, deur die lees van die boek, is daar twee temas wat sterk na vore kom: Een, haar emosionele (sielkundige) stryd om staande te bly, uiting te gee aan haar sielswroeginge en die “beproewings, littekens en swere” (p.12) van haar lewenspad te verwerk. Twee, haar ontnugterde grondpadreis na God, oftewel die soeke na die goddelike ankers in haar lewe. Hemelwesens het immers met sekerheid voor haar God gestaan en beweer dat sy, godverlate, uiteindelik ’n einde aan haar lewe sal maak (p.12). Helaas!

Oor die sielkundige en geestelike reis van die skrywer kan daar uit verskillende hoeke gereflekteer word. Daar is die harde werklikhede van Pippa se kinderjare, haar huwelik, haar ervaring van die kerklike gemeenskap waarin sy (noodgedwonge) saam met haar man geleef het, haar verhouding met haar kinders, betekenisvolle vriendskappe, die ontwaking van haar gawes en uitleef daarvan in gemeenskapsdiens en in haar loopbaan, die hunkering na vergifnis en versoening, die soeke na ’n God wat groot genoeg is, in wie sy kan glo en wat haar werklik kan help (p.310).

Skeppend het sy meermale woorde op papier gevind wat sy nie verbaal kon spreek nie. Vriendskappe is verdiep en gesprekke is gevoer deur digkuns en sandspel. Haar eie droomwêreld (kammawaarwêreld) moes geskep word om uiteindelik deur wensdenkery (hoofstuk 4) tot rus te kom ná soveel selftwyfel, ervaring van verwerping en misbruik, diepe eensaamheid en hunkering na opregte liefde en kameraadskap.

Dit is veral die verbeeldingsreis van haar versoening met haar vervreemde man wat die leser wil laat hoop, wil laat glo, dat daar ná al die jare se storms en seer regtig-egtig ’n dag was dat Pippa uiteindelik vir hom kon sê: “Mag vryheid en vrede jou hart begelei en vreugde daarin groei.” Die titel van die spesifieke hoofstuk “Wensdenkery” wil-wil die leser ontmoedig om te glo, maar dan kom die besef dat dit dalk juis die punt van die boek is: Vryheid en vrede is wel moontlik, want dit is die keuse van die individu. Selfs al ontvang of gee die ander dit nie, bly dit die keuse van iemand wat eerlik en opreg die diepste binnekant van die skadukant (p.373) van haar lewe herbesoek het, en kies vir vryspraak (van ander en haarself).

In haar soeke na God arriveer die skrywer, getrou aan haarself, op presies dieselfde wyse as wat sy haar lewe lank doen. Sy skep. Sy teken ná vele omswerwinge haar eie collage van God. Sy vind vrede daarin.

Kammawaarwêreld daag die leser uit. Die lewe is vir geeneen van ons eenvoudig nie. Die vraag is egter hoeveel van ons die waagmoed het om so ’n eerlike opgaaf van ons lewens te maak. In hierdie opsig is Kammawaarwêreld ’n monumentele produk wat lesers ongetwyfeld sal inspireer om op soortgelyke kreatiewe maniere sin van hul lewens te maak.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top