Tao van wakker word deur Abel Pienaar: ’n Persoonlike indruk en huldeblyk

  • 4

Tao van wakker word
Abel Pienaar
Naledi
ISBN: ISBN 978 1 928530 37 4

  1.  Inleiding

Hierdie stuk is nie ’n resensie nie, maar ’n essay met my gewaarwordinge van wakker word rondom die boek en my eie ervaring van ’n spirituele reis saam met Abel Pienaar terwyl ons per e-pos die gesprek vir LitNet[1] beplan het. Verder wil ek meld dat ek voortdurend eerder van “Abel” as van “Pienaar” sal praat (anders as die wyse waarop gewoonlik na skrywers verwys word). Ek bied in hierdie huldeblyk ’n (langasem) oorsig oor die inhoud van hierdie boek en verwys telkens na enkele verbandhoudende tekste.

Dit voel vir my of Tao van wakker word Abel se testament is aan sy volgelinge – ’n samevatting van alles wat hy in sy lewe self ondersoek en ontdek het, deur ervaring geleer en geleef het, gepreek en geskryf het – daarom gebruik ek ook graag sy eie woorde in my bespreking. Ook gebruik ek soms van my eie ervaring en “menswense” om – na aanleiding van Abel se aanmoediging in ons Zoom-gesprek[2] – te antwoord wanneer my innerlike self met enige van sy gemelde wyshede resoneer (meeklink en vibreer soos ’n snaarinstrument wat gestem word).

Die uitgewer se bekendstelling van die boek lui soos volg:

Daar is gelukkig ’n weg (tao) uit die doolhof van hierdie skyn-lewe, en dit is: word wakker. Dan hoef jy nie eens te wonder hoe om die droomstorie te probeer oplos of hoe om die karakters te benader nie; nee, jy word eenvoudig wakker en jou hele droomwêreld tuimel ineen. Presies wat Abel Pienaar in hierdie boek met jou wil deel. ’n Gids na wakker word, innerlike vryheid en lewensgeluk.

In hierdie essay bied ek ’n oorsig van Tao van wakker word en verwys terselfdertyd na ander geskrifte wat daarmee verband hou, soos wat ek dit deur Abel se oë, ons e-pos-gesprek en sy boeke leer ken het.

  1. Agtergrond

In my soektog na geskrifte oor en deur Abel Pienaar op LitNet, het dit geblyk dat die eerste een sy mening oor die Jesus Seminaar is (2011), waarin hy op Sakkie Spangenberg se artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) reageer.[3] Hierin gee Abel sy waardering vir die aanvoorwerk van ’n paar Bybelwetenskaplikes – onder andere Spangenberg – wat sedert ongeveer 2002 begin het om Suid-Afrikaners bekend te stel aan oop gesprekke oor ’n nuwe hervorming binne die Christendom en by te dra tot die ontwikkeling van godsdiensgeletterdheid met hulle Jesus Seminaar. Spangenberg se artikel het vir Abel hoop gegee en hom opgewonde gemaak om te sien hoe die openbare religieuse gesprek momentum gekry het. Hierin merk ek dat hierdie seminaar een van die voorlopers was vir die stigting van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit in 2009, waarvan Abel die leier was.[4]

Vir my is die Jesus Seminaar betekenisvol – al was ek nie daar nie en het ek nie voorheen daarvan geweet nie. My agtergrond was eintlik baie Calvinisties en fundamentalisties. Saam met die mense van hierdie nuwe hervorming wil ek ook afskeid neem van die Augustiniaanse paradigma van die teologie wat as die “sondeval-verlossing-eindoordeel”-paradigma getipeer word (Spangenberg 2011). Verder kan ek ook sien wat Abel bedoel het in ons LitNet-onderhoud, naamlik dat ons nie die kroon van die skepping is nie, maar wel begaan is oor die ekologiese krisis. Ek sou nie hiervan geweet het as ek nie hierdie boek van Abel gelees het nie. Verder gee dit vir my ook nuwe motivering waarom ek nie meer kan glo dat Jesus van Nasaret as “waarlik God en waarlik mens” beskou kan word nie.

Jean Oosthuizen maak my in sy artikel[5] oor wie God geskep het, verder bewus daarvan dat ek – soos Abel – nie glo aan ’n hiernamaals nie, ook “nie aan ’n hemel of hel nie”.

Nog iets wat ek in my oplees van tekste waarin Abel genoem word, ontdek het en waarmee ek wil saamstem, is dat Sandra Troskie in haar artikel (2012)[6] meld dat Abel by herhaling die volgende beklemtoon: “Indien die individu se ervaring van die werklikheid nie meer ooreenstem met die modelle van sy geërfde tradisie nie, gaan hy/sy begin soek na ander wyses van spreke/modelle daaroor.” Dit beskryf my afskeid van dualiteit en fundamentalisme soos wat ek in Tao van wakker word en ander boeke van Abel leer ken het. Met die lees van Troskie se artikel was dit vir my interessant om agter te kom dat ek in dieselfde geselskap is as Antjie Krog en Breyten Breytenbach (wat albei deel van die ontwikkeling van my eie literêre geletterdheid is).

  1. Die skrywer

Dit is nie vir my nodig om baie oor Abel Pienaar die leier van Renaissance te skryf nie, want daar is elders reeds baie oor sy lewe en werk deur Jean Oosthuizen geskryf.[7]

Waaroor ek wel verslag doen, is wat ek van hom leer ken het terwyl ons besig was om te beplan vir bogenoemde onderhoud en Zoom-gesprek op LitNet.

Omdat ek nie ’n teoloog of filosoof is nie, was dit vir my nodig om net eers dele van my eie lewenspad en behoefte aan ’n nuwe spiritualiteit met Abel te deel, sodat hy kon agterkom waar ek is en wat ons het om met die LitNet-lesers te deel, sodat ons “soos ou vriende” kon gesels. Wat vir my uitgestaan het, was sy geduld en wysheid met betrekking tot dit wat ek vir hom per e-pos geskryf het. Met begrip het hy geskryf: “Dankie vir jou deel, Estelle ... jou verhaal is ongelukkig nie 'n unieke een nie, ek wens dit was ... Dit klink so bekend, jy som egter die hart van die probleem op met: ’Hy studeer en sy studies is heiliger as myne.’ En nie net heiliger nie, ook met goddelike gesag. God se wil en God se reëls. En wie wil teen God se gesag gaan? ... Dit gaan alles oor mag.” Daarmee het ek dadelik gewéét ek is vry om myself te wees, my ware self.

Telkens in ons Zoom-gesprek en die LitNet-onderhoud het ek onder die indruk gekom daarvan dat Abel nie wil roem hê oor sy boeke nie, maar dat hy ’n begeerte gehad het dat sy boeke gelees word. Ek dink dit was vir hom bemoedigend om te weet sy boeke word wel gelees, veral ook toe ek vir hom geskryf het na aanleiding van Die dans met God:

Dit is nou ’n boek
waarna ek lankal soek
vir saamdink oor al die vrae
wat ek het, hier in my hoek
van die heelal.

Wat vir my duidelik geblyk het uit die lees van Tao van wakker word en Abel se ander boeke, is dat hy nie net teologies en filosofies praat oor die wyshede nie, en dat hy nie net baie indringend daaroor gelees het nie, maar dit intens beleef het terwyl hy die wysgere ontmoet en by hulle geleer het. In my LitNet-onderhoud met Abel noem hy voorbeelde van spirituele reuse op wie se skouers hy nederig staan, onder andere Afrikaanssprekendes soos Kobus Krüger, Cornel du Toit, Piet Müller en Sakkie Spangenberg, wat plaaslik ’n ongelooflik groot invloed op die vorming van my godsdiensgeletterdheid uitgeoefen het.

Vanuit die Ooste is daar Abel se Zen-leermeester, Thich Nhat Hanh, en die huidige Dalai Lama, by wie hy wonderlike tye spandeer het en wat hom gehelp het om vry te wees uit die tronk in sy kop, wat meeklink met die gedig waarmee hy hoofstuk 6 inlei met die volgende woorde (38):

hierdie liggaam is nie my tronk nie
ek is lewe onbegrens
geboorte en dood net deurgange
oomblikke tussen hier en daar.

Soveel ander vanuit ander vele tradisies het sy reisgenote geword – in ons LitNet-onderhoud noem hy Lao Tzu (Taoïsme), Rumi en Hafiz (Sufi’s), Alan Watts en Shunryū Suzuki (Boeddhisme), Camus, Kant en Heidegger (filosowe), Karen Armstrong en biskop John Shelby Spong (Christen-tradisie), Sam Harris (neurowetenskaplike en ateïs), Jon Kabat-Zinn (“mindfulness”), Rupert Spira (“awareness”) en Mooji (nondualiteit) – die lys hou nie op nie.

  1. Tao Te Ching (direkte betekenis: Die Weg)

Toe Abel my in ons e-gesprek vertel het van sy vertaling van die Tao Te Ching, het ek gevra hoekom hy dit wou vertaal terwyl dit reeds in so baie ander tale verskyn het. Sy antwoord was gewoon dat taal dalk meer is as net 'n medium tot inligting uitruil. “Dit is deel van hoe ons onsself beleef en sien, en hoe ons uitdrukking gee aan ons verstaan van die wêreld. (Daarom dat nuwe denke, in my geval rakende spiritualiteit, so moeilik is om te kan verteer deur ons mede-Afrikaanssprekende burgers.) Ek dink daarom dat die taal wat ons praat, veel dieper lê in ons identiteit as wat ons ooit sal erken ... En juis daarom wil ek in Afrikaans dink, herbesin, vernuwend dink en wonder. Ek wil stry, baklei, saamstem, saamgesels en droom in Afrikaans. Want Afrikaans is die taal van my hart en my kop en my soeke.”

Ek het gehou van die Tao Te Ching (wat hy vir my in die vorm van ’n pdf-dokument per e-pos aangestuur het) – se estetiese aanbieding met ’n pragtige font wat ek nog nooit gesien het nie, en die hoofletter van elke vers wat so voel of dit verdwyn. Verder ook sy poëtiese inslag. In sy voorwoord het hy woordryk geantwoord wat my vorige vraag oor Afrikaans was, naamlik sy rede waarom hy spesifiek hierdie boek wou vertaal. Wat vir my insiggewend was, was dat Abel in ons LitNet-onderhoud gemeld het dat die Bybel nie ’n boek is wat uit die hemel geval het nie, “maar wat deur mense van hulle tyd en (beperkte) verstaan geskryf is. Dis ook nie eens een van die oudste geskrifte nie, daar is veel ouer geskrifte”, soos onder andere Tao Te Ching, wat reeds 500 jaar voor die finalisering van die Bybel as kanon bestaan het.

Uiteindelik het ek die boekie ervaar soos baie jare gelede (toe ek in matriek was en Abel gebore is – 1969) se lees van Die profeet van Kahlil Gibran – dit was asof dit te veel was om in te neem. My eie kreatiwiteit het weer vlerke gekry en ek het dadelik daaraan gedink dat ’n mens dit in kaarte sou kon aanbied – amper soos Tarot-, Engele- of Soul-kaarte – waar ’n mens elke nou en dan ene trek en oor die inhoud mediteer of kontempleer, selfs soos party mense maak wanneer hulle die Bybel iewers lukraak oopmaak en hulle vinger op ’n versie sit ... ook soos wat ek Lindt Chilli-sjokolade eet, sodat ek dit régtig en bewustelik kan proe, geniet en waardeer: stukkie vir stukkie.

In hierdie tyd het hy ook my literêre en filosofiese horisonne uitgebrei deur te vertel van Benjamin Hoff se boekie The Tao of Pooh[8] – wat ek besit het sedert my eie kinders klein was, maar waarvan ek glad nie die betekenis kon verstaan nie. Terwyl ek dit nou met nuwe oë gelees het, het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan – naamlik om gewoon te “wees”, bewus te wees. En dit het my soos ’n kind laat voel, waarskynlik wat Jesus bedoel het in Matt. 18 vers 3 toe hy gesê het ons moet soos kindertjies word – onskuldig, spontaan en vry. Skielik het ek begin begryp waaroor “mindfulness” gaan – hierdie begrip wat so baie gebruik word deesdae in allerlei meditatiewe en kontemplatiewe kringe. Later meer hieroor.

  1. Tao van wakker word – Spirituele gids tot innerlike ontwaking

Die boek begin met hierdie woorde in hoofstuk 1 (Inleiding):

Jare se gewoontes, die verlede se stories en herhalende emosionele patrone bring mee dat die meeste van ons vasgevang sit binne ons eie droomwêreld. Hier beleef en herleef ons dieselfde storie oor en oor, alhoewel die karakters en dekor soms verander. ’n Ewigdurende sirkel-storie. Binne hierdie droomstorie, of dikwels eerder nagmerrie, is ons vasgevang. Dit is lyding, dit is hel. (7).

Wat Abel met hierdie boek doen, is om vir die leser ’n padkaart vir wakker word te bied, ’n “Padteken na die Nou” (hoofstuk 2, bl 13) en later die “Reis na binne” (hoofstuk 5, bl 33). Hierop wil ek antwoord in ’n menswens:

Mag hierdie boek jou begelei
om jou innerlike kompas te kry
as jy voel jou lewe is verby
dat jy koers verloor het
in jou reis as pelgrim
dat die bestemming
’n misterie bly
wat – so lyk dit vir jou –
opgehou het om te wink.

Nog ’n kenmerk van hierdie boek van Abel is dat hy – soos in sy ander boeke – die leser bekendstel aan ander wysgere wat hom gelei het op sy eie pad van wysheid. Voorbeelde hiervan is die grotes, soos Boeddha, Lao Tzu, Jesus en dan die veel jonger Mohammed, Rumi, Hafiz, Dogen, die Thomas Evangelie, Thomas Merton (Trappiste-monnik), Anthony de Mello (Jesuïete-priester), Carl Gustav Jung. In ons e-pos-gesprek noem Abel dat hy vermoed almal sou mekaar herken as leermeesters en soekers en dat hulle dus vriende sou wees eerder as vyande.

In hoofstuk 3 (“Wakker word vir jou ego/self”) wys Abel hoe die meeste van bogenoemde “heiliges” verwys na die egokompleks en valsheid wat (onbewustelik, onwetend) kan lei tot begeerte, spanning, angs, verbittering, aggressie, en alles wat lyding veroorsaak. Abel se antwoord is wat hy aanhaal uit sy vertaling van die Tao Te Ching (vers 1):

Die Ewige is onnoembaar.
Name en etikette is die begin
van tallose uiterlike vorme.
Vry van begeerte, besef jy die misterie.
Vasgevang in begeerte,
sien jy net uiterlike vorme.
Die waarheid ander kant die waarheid,
die raaisel binne die raaisel,
is die poort na alle insig.

As antwoord op hoofstuk 4 (“Die Nou se Kompleksiteit en Eenvoud”) sluit Abel dit af met die Tao Te Ching (vers 14):

Jy kan dit nie begryp nie, want daar is geen begin nie,
jy kan dit nie ken nie, maar jy kan dit wees.
Tevrede en in harmonie met jouself
kan jy kennis verwerf van jou oerbegin,
dit is om werklik wys te wees.

In hoofstuk 6 (“Die Weg na Selfondersoek”) begelei Abel die leser om deur middel van die Sokratiese metode van vraag- en hipotesestelling op die pad terug na jou Ware Self te “leer luister – regtig diep en oop te luister” (39).

Hoofstukke 7 en 8 (“Meer as woorde” en “Ook verby Dualiteit”) behels Abel se verduidelikings daarvan dat die ontdekkingstog terug na die Ware Self ’n plek is waar dualiteit verdwyn en waar ego-identiteit oplos. Hy gebruik water, vuur, wind en aarde as simbole wat waardevol is vir die ontginning van ’n mens se onsienbare binnewêreld, maar hy waarsku (44):

Ons is gefassineer
met die simbool
maar dit is die stilte
daar agter
waar ons ontmoet.

Abel meen dat ’n mens “eers wanneer jy jou binnewêreld kan kalmeer, stil maak en vrede beleef, sal jy dit ook in jou buitewêreld kan doen. Liefde en harmonie is altyd eers ’n innerlike werklikheid wat dan die uiterlike werklikheid vorm – nooit andersom nie” (49).

In die verkenningstog na dualiteit (51) verwys Abel na Albert Einstein se bekende woorde:

Imagination is more important than knowledge.
Knowledge is limited.
Imagination encircles the world.
Logic will get you from A to Z
imagination will get you everywhere.

Om met jou innerlike oë te kyk, sien ’n mens raak dat mooi en lelik eintlik dieselfde is, en dat hard bestaan as gevolg van sag, ook dat donker en lig ’n tweeling is (52) – die spreekwoordelike twee kante van ’n muntstukke dus.

In hoofstuk 9 (“Leegheid”) gebruik Abel verse uit die Bybel wat resoneer met woorde uit Tao Te Ching en wys hoe ’n mens bewustelik leeg kan word van jou eie egostorie:

– Liefde soos dit beskryf word in I Korinthiërs 13 vers 5, toon duidelik aan dat daar ’n innerlike leegheid aan begeerte, dualiteit, selfsug en verwagtings is:

Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie,
hou nie boek
van die kwaad nie.

– Ook Spreuke 15 vers 1 verwys na hierdie innerlike leegheid:

’n Sagte antwoord laat woede bedaar
’n krenkende woord laat woede ontvlam.

Hierdie leegheid kan tog – in die poging om stil te word – volgens Abel ook aanvanklik eers die modder en geraas in ’n mens se innerlike werklikheid na vore laat kom. Dit wat jy daar vind en aanvaar, kan egter getransformeer word.

In hierdie verband stem Abel in ons e-gesprek saam met Tara Brach (sielkundige, skrywer en voorstander van Boeddhistiese meditasie) se akroniem RAIN, wat kan help met innerlike vryheid, vrede en verligting wanneer ’n mens bewus word van die geraas in jou innerlike werklikheid, jou gebroke agtergrond en emosionele skade:

Recognize what is happening;
Allow the experience to be there, just as it is
Investigate with interest and care;
Nurture with self-compassion.

In hierdie gesprek meld hy dat hy ook hou van Brach en veral haar praktiese aanslag met RAIN, ook dat hy die “Mindfulness”-ouens al ontmoet het, onder wie Jon Kabat-Zinn (“You can't stop the waves, but you can learn to surf") en Sharon Salzberg.

Abel bied in hoofstuk 10 (“Nader aan die Stilpunt”) aan die begin vir die leser ’n bekendstelling van die skrywer en digter TS Eliot (1888–1965) waar hy teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog skryf oor die Ware Self. Spesifiek Eliot se woorde “only a flicker” verwoord gevoelens oor die weerloosheid en tydelikheid van menslikheid. Abel verwys ook na Eliot se woorde in sy bekende gedig wat hy die stilpunt of beweginglose noem, wat tegelykertyd die opskrif van hierdie hoofstuk en inspirasie vir Die dans met God is:

At the still point of the turning world,
neither flesh nor fleshless
neither from nor towards
at the stillpoint,
there the dance is ...

Verder teken Abel aan dat Eliot hier bewustelik Oosterse spiritualiteite se beelde en metafore gebruik (meer spesifiek die Bhagavad-Gita uit die Mahabharata):

neither movement from nor towards,
neither ascent nor decline.
Except for the point,
the still point,
there would be no dance
and there is only the dance ...

Vir Abel is hierdie dans, of reis, die Ware Self-bewussyn – onaangeraak deur die ego se spronge na gister en môre, van vrees en haat, van geweeg en te lig bevind word. Vir hom is hierdie plek van stilte die plek waar jy ontdek wie jy reeds is en dat jy net moet wakker word (69).

Vir my bied hoofstuk 11 (“Die Ooste en Weste kan help”) die kern van Abel se vernuwende denke, wat ook gelei het tot die inspirasie vir hierdie (sy laaste) boek as rigtingwyser om wakker te word.

Hierin noem Abel eerstens die Westerse vingerwysings en hy verwys daarna dat die vroeë Gnostiese Christene nie die verhale van Jesus as historiese feite gelees het nie, maar eerder as mitologie[9] – dus woorde en verhale met simboliese waarde. Hulle het in die eerste en tweede eeu geglo dat elke mens die goddelike kan beleef sonder die noodwendige begeleiding van priesters, biskoppe en die kerk. Om die goddelike by laasgenoemde (en dus buite jouself) te soek, veroorsaak dat ’n mens maklik by ander se leringe en waarhede in ’n doolhof van menslike denke en selfs bygelowe verdwaal.

Tweedens noem Abel in hierdie hoofstuk hoe Oosterse vingerwysings, spesifiek Lau Tzu – skrywer van die Tao Te Ching – se leringe oor ’n lewe vanuit jou kern, die Ware Self wat ’n lewe van harmonie, balans en innerlike ook vir Westerlinge vrede beteken.

Verder verwys Abel hier ook na die Chinese uitdrukking Wu Wei wat direk vertaal kan word as “inspanninglose aksie”, dus dat ’n mens vloeibaar en buigsaam moet wees en ont-span eerder as inpan. Ligweg kan dit genoem word “the flow”. Uit my eie ervaring van insig in verband met kreatiwiteit het ek agtergekom dat daar in positiewe sielkunde die vloeitoestand is – ook in die volksmond bekend as “in the zone” – dit is die geestestoestand waarin 'n persoon wat 'n aktiwiteit verrig, ten volle gedompel kan wees in 'n gevoel van energieke fokus, volle betrokkenheid en genot in die proses van die aktiwiteit. In wese word vloei gekenmerk deur die volledige opname in wat 'n mens doen, en 'n gevolglike transformasie in jou gevoel van tyd. ’n Mens konsentreer dus net op 'n taak, een aspek van vloei. Hierdie konsep is in 1975 deur die sielkundige Mihály Csíkszentmihályi genoem.[10]

Dit is vir my duidelik dat hierdie hoofstuk reeds vooruit wys na die konsep “mindfulness” wat volgens Abel (102) die beste gedefinieer word deur Jon Kabat-Zinn: “Mindfulness is the capacity of being aware of what is going on in the present moment, and it means paying attention in a particular way; on purpose, in the present moment, and non-judgementally.”

’n Bekende voorbeeld van “mindfulness” waarna Abel dikwels verwys het, ook in sy video’s, is om wanneer jy ’n lemoen eet, die lemoen te eet.

Abel sluit hierdie hoofstuk af deur kortliks te verwys na die Jin en Jang, ’n beginsel wat handel oor die aanvaarding van die werklikheid, naamlik dat alles in die lewe ’n komplementerende teenoorgestelde het – die simbool wat daaraan herinner dat die lewe bestaan uit ’n konstante siklus van geboorte en sterwe. Die twee kante van dieselfde muntstuk wat in hoofstuk 8 (“Ook verby Dualiteit”) bespreek is (52).

Hoofstuk 12 (“Wildevy en Braambos”): Dikwels in sy boeke en video’s beklemtoon Abel die volgende Zen-spreuk deur DT Suzuki (hier op bl 81) om te bevestig dat die vinger wat na die maan wys, nie die maan is nie, dit wys net na die maan:

Zen teaches nothing;
it merely enables us to wake up
and become aware.
It does not teach, it points.

Vir Abel geld hierdie spreuk ook vir die onderrig van byvoorbeeld Jesus en Boeddha – waarskynlik dan ook Mohammed en ander profete (my invoeging) – maar ongelukkig het hulle woorde en lewens die hooffokus van godsdienste geword. Daarom is dit hartseer hoe die dogma en leer waarmee verskillende godsdienste hulleself besig hou, eintlik volgens Abel op ’n verkeerde lees van antieke mitologiese tekste gebou is (83). Hy gebruik Joseph Campbell (2004)[11] se definisie om te verduidelik dat die wesentlike betekenis van mitologie is om die gedagtes en harte van mense oop te maak vir die wonder van alles in die heelal.

Om die vinger wat wys, of die stem wat die wind vir jou waai (soos die braambos vir Moses en die wildevy vir Siddharta/Boeddha) – “the still, small voice” (I Konings 19:12) – is om die stem naby, in ons en om ons te hoor, soos wat Paulus in die brief aan die Kolossense 1:16 na Christus (as God) verwys met: “Uit hom en deur hom en tot hom is alle dinge.” Dit is vir Abel om “ja” te sê vir wat is – goed of sleg, die hier en die nou (76).

Verder vat dit moed om hierdie stem van ’n mens se innerlike te hoor, omdat jy die tussen-in plek van jou gebroke verlede (jou egostorie) moet trotseer en dit kan voel soos dwaasheid om jou veilige ruimtes (“comfort zone” of dan gemaksone – my invoeging) te verlaat en die woestyn (soos Moses en Siddharta) aan te durf waar jy jou Ware Self se stem kan hoor. Volgens Abel kan dit enige tyd gebeur: “as jy ’n baba se lag hoor, of iewers in die natuur [is] ... en die voëltjies hoor, of iemand sien wat vir jou glimlag, of na die geweld oor die agtuur nuus luister, of ’n donderstorm” (84–5). Hier sal jy wakker word, liefde en vrede ontdek, en dit sal jou bevry van die ego se begrenste en geïsoleerde vrese van ouds.

Hoofstuk 13 (“Spiritualiteit van Teenwoordigheid”) bring vir Abel en die leser by die “hoe?”. ’n Voorwaarde vir wakker word is om die Self anderkant die persona-identiteit (vgl Jung) te ontmoet, om bewustelik te leef, om met aandag en fokus elke hier en nou te betree – die misterie van dit-wat-is. Albert Camus word aangehaal waar hy sê: “Eternity is here and I was hoping for it. What I wish for now is no longer to be happy, but only to be aware.” Volgens Abel is daar nie ’n “eendag” nie, net die bewuste self in die ewige Nou. Hy sluit die hoofstuk af met die volgende woorde: “In die teenwoordigheid van jou eie lewe, met sy klein groot, nuut en oud en vinnige en stadige pas, vind jy die wonderwerk – die polsslag van lewe. Wie is dus nie reeds heilig nie? Wat is nie gevul met die goddelike nie ... slegs dié wat wakker is daarvoor en kyk, sal sien wat nog altyd daar was” (87).

Abel begin hoofstuk 14 (“Wysheid en Dwaasheid”) met ’n kort gedig:

die dwaas
sien ’n venster
die wyse
’n spieël.

In ooreenstemming met wat Carl Jung gesê het oor die “persona” en wat Freud die “ego” genoem het, is daar die Ware Self. “Om te besef jy sien jouself in alles raak, is om jou ware beeld in die spieël van die lewe te sien. Ontbloot van voorgee, masker en leuens” (91). Dit val saam met wat Jung gesê het, dat elke ding wat jou irriteer van ander, daartoe kan lei dat jy ’n beter begrip van jouself kan kry. Die spieël in die raaisel ...

Ook haal Abel die Thomas Evangelie (vers 24) aan wat hierby pas:

Daar is lig
in die binneste
van ’n verligte mens
en dit verlig
die hele wêreld.

Die hoofstuk word afgesluit met Abel se oortuiging dat die enigste kans op vrede en vreugde in hierdie stukkende wêreld om weer heel te word, is as mense hulle ware self ontdek en hul lig laat skyn – net dít sal die donkerte kan verdryf (94).

In hoofstuk 15 (“Deel van Alles”) verwys Abel daarna dat wysheid is om te besef dat jy nie los van die skepping staan nie, maar inherent deel daarvan is – alles is onlosmaaklik verbonde. Niemand is ’n eiland nie, maar deel van die stroom, soos ’n rivier.

Om nie te aanvaar wat in die oomblik in en rondom jou ontvou nie, is om heeltyd te dink aan wat ’n mens nie is nie, en aan dít wat jy nie nou het nie – dit is volgens Abel ’n resep vir lyding. Die hier en nou bring jou direk in die stroom van die lewe, jou eie heiligheid – waar ’n mens alles aanvaar sonder veroordeling. Dít is “mindfulness” (99).

Hoofstuk 16 (“Genesing”) en hoofstuk 17 (“Aanvaarding”) volg die vorige hoofstuk op en begelei die leser om te verstaan dat woede en haat die ego se beste wapens is en eintlik gevolge van vrees is – dit is soos dodelike innerlike virusse. Om hierdie siektetoestand te beveg, is “mindfulness” vir Abel die beste manier. In hierdie hoofstukke maak hy dit duidelik met ’n gedig:

Aanvaarding
is om vrede te maak
met wat is.
Of dit pyn of plesier is.
Om die realiteit in die oë te kyk
sonder om weg te vlug.
Om nie pyn te probeer vermy
of plesier na te jaag nie ...
Want slegs dan kan jy dit
wat jy voor jou vind transformeer.

Letterlik is die dans van die lewe vir Abel tussen gesond en siek, plesier en pyn, sukses en mislukking, verlies, vrede en oorlog – die realiteit van die lewe. Hy haal in hierdie verband die woorde van die Prediker (hoofstuk 3 verse 1–8) aan: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd ... ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans ...”

Die Tao Te Ching (vers 29) sluit vir Abel hierby aan, en hy sluit dit hiermee af (sy eie vertaling):

Die Ware Wyse sien dinge soos wat dit is,
sonder om dit te probeer verander of beheer.
Sy laat dinge soos dit is,
terwyl sy in die middel van die sirkel rus.

Hierdie gedagtes sluit aan by William Blake (1802, in Abel se Dans met God, bl 40) se woorde:

To see a world in a grain of sand
and a heaven in a wild flower
hold infinity in the palm of your hand
and eternity in an hour.

Aanvaarding is dus vir Abel die eerste stap na ’n lewe vanuit die Ware Self, ’n eerlike, dapper en wakker lewe – sonder om weg te kyk (108).

Hoofstuk 18 (“Skerp is die Son”) handel oor die rou werklikheid van die lewe, die plek waar ons egokonstruk ontstaan – enige trauma waaraan ’n mens blootgestel is en word: onvolmaakte ouers, onderwysers, eggenote – alles oorsake van pyn wat erge skade aanrig of aangerig het. Dit dryf ’n mens om te probeer om jouself te handhaaf, te probeer beter voel, te kan doen wat nodig is om te doen – kortom: om te oorleef.

Hoofstuk 19 (“Die koninkryk van God is binne jou”) word ingelei met Abel se mening dat “die Koninkryk” ’n wonderlike metafoor is om die mens se innerlike werklikheid te verduidelik. Omdat mense geneig is om vasgevang te wees en om in terme van dualiteit te dink, lei dit daartoe dat “godsdienstige mense eerder iets buite die natuurlike soek, as binne die alledaagse lewe” (117).

Omdat dit nie die enigste verstaan is nie, kan dit help as ons die kloof tussen mens en God oorbrug deur die Oosterse vingerwysings te volg, veral soos wat dit in die Taoïsme voorkom – hierin word God beskryf “as ’n tipe lewensenergie, ’n weg wat jou ontwyk sodra jy dit ’n naam probeer gee”. Om hierdie konsep te verduidelik – dat Die Weg ’n innerlike weg is – verwys Abel na dit wat in die Thomas-evangelie verwoord word:

Die koninkryk van God
is oor die hele aarde uitgesprei
en tog sien mense dit nie.

Hieruit lei Abel af dat die goddelike te vinde is in die hier en nou, in elke dag se lewe, omdat God nie deur dualistiese denke vasgevang kan word nie. Hy verwys na Christen-teoloë soos Paul Tillich en ander filosowe (Schopenhauer en Hegel) wat meen dat God dalk “eerder in die mens se elke dag se doen en late gevind word as in iets bonatuurliks of werklikheidsvreemd” (118).

God binne ons, die Ware Self, is ons oorspronklike identiteit. Wat tot my spreek, is dat dit indruis teen die gewone Gereformeerde siening dat ons “in sonde ontvang en gebore is”, soos dit in die doopsformulier en die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 15 lui. Dit help my om vry te word van hierdie kettings van sonde en skuld wat soos ’n ewige, voorafbestemde bedreiging en verdoemenis oor alle mense hang.

Wat my verder hierin getref het, is Abel se verwysing na Kahlil Gibran (1923): “Jou daaglikse lewe is jou tempel en jou geloof. Wanneer jy dit betree, doen dit met jou hele wese” (Dans met God, bl 40). My eie toepassing daarvan is dat ek my kerk, my tempel, my heiligheid heeltemal ervaar wanneer ek in die kombuis van my eenslaapkamerwoonstel in die aftree-oord met kruie- en speserye-gegeurde groentesop en gemmerlimonade maak (soos wat ek by my twee naturalistiese dogter geleer het); wanneer ek sien hoe die kwikkies op my balkon my broodkrummels oppik; wanneer die prisma wat deur my glaskubusse op my balkonmuur skyn, in my sitkamer in skyn en teen my muur beweeg; wanneer ek hoor (en sien) hoe die vleiloerie hier in Sedgefield hartstogtelik ululeer en dit my uitnooi om alles binne my wat vibreer, te kommunikeer. Ook wanneer ek na die strandmeer toe loop en telkens ’n bossie veldblommetjies pluk vir een van die tannies wat invalides is of die heeldag eensaam sit en TV kyk.

In hoofstuk 20 (“Begeleide Meditasie”) moedig Abel die leser aan om saam met hom te mediteer – ’n rustige plek te vind waar ’n mens ongehinderd stil kan word en net wéés terwyl jy op jou asemhaling konsentreer. Tydens hierdie sessie maak jy as deelnemer ’n bestekopname – sonder om te abstraheer – van wie jy is, wie die vrae vra, wie die een is wat jou liggaam waarneem en wie bewus is van jou egostorie.

Abel gebruik ’n treffende metafoor wat elke persoon wat in die buitelug stap sal onthou as ’n mens boontoe kyk: “Soos blou lug met wolke wat vorm en verdwyn, maar hierdie bewustheid kom nie en gaan nie ... dit is die Ware ... [Self], bewustheid, dit-wat-is soos die blou lug. Iets wat nie verander nie, iets wat nie kom en gaan nie” (122).

Emosies, sensasies, persepsies, probleme, suksesse kom soos wolke wat verander en gaan dan weer. Soos Ramana Maharshi sê: “Thoughts come and go. Find out what [it] is that remains.”

Die leser word hiermee uitgedaag om self verder te lees hoe Abel jou sal begelei om by ruimte en vrede te kom, by jou ware identiteit wat nie soos die res aangeleer is nie (124).

Hoofstuk 21 (“Dieper delf teks”) is die laaste hoofstuk, waarin Abel ’n oorsig gee van die oorsprong van die Tao Te Ching en sy vertaling daarvan (gepubliseer deur Malan Media), waarin die begin van sy eie verligting was. Dit word dan die leser se reisgenoot wat Abel graag deel om te oordink, en dit te vind as ’n lig op die pad (129).

Hierdie hoofstuk word dan opgevolg deur Abel se vertaalde verse van Tao Te Ching: Boek van die Weg. (132–74).

Abel sluit Tao van wakker word af met die volgende woorde (176):

ek glo dat vrede
voortvloei
vanuit ’n aanvaarding
van wat jy is
en dit bepaal
die misterie
van wie jy is.

  1. Slotopmerkings

Ek onthou dat ek lank gelede – in die negentigerjare van die vorige eeu – John van der Berg se boekie Ook die klein dingetjies (1959) gelees het, en dit was vir my “oe! mooi!”, maar ek was so besig om my kinders as enkelouer groot te maak dat dit my nie dieper getref het nie – dit was asof my brein dit diep weggebêre het in ’n kompartement waartoe ek nie later weer toegang gehad het nie. Ek vermoed ek was nog nie reg daarvoor nie en sou dit graag weer onder oë wou kry.

Maar nou was ek reg om Abel se boeke te lees, en dit was die regte tyd – dit het my ongelooflik geseën en bevry, my laat wakker word vir my eie heiligheid.

Toe ek onderwysstudente (onder andere van die Grondslagfase) onderrig het, het ek hulle aangemoedig om sensitief te wees vir die gesprek tussen verbale en visuele tekste. Daarom het ek met aandag gekyk na die omslag en aanvanklik gewonder waarom daar so baie swart is. Uiteindelik meen ek dat die omslagontwerper (saam met Abel) dalk daarmee wou aandui hoe die donkerte (van ’n eie lewe) oorweldigend kan wees as ’n mens nie wakker is nie. Ook dat die twee foto’s van Abel en die helderwit letters kan dui op die proses van wakker word. Miskien is daar ander (simboliese) interpretasies ...

Ek hoop daar is baie lesers wat Tao van Wakker Word in die hande sal kry om te lees wanneer hulle reg is daarvoor, want “elke ding het sy tyd.” Saam met Spangenberg (2011) wil ek hoop dat lesers uit hierdie boek – soos met die Jesus Seminaar en my reis saam met Abel – nuwe besinnings en insig mag kry oor die proses van wakker word.

Eindnotas en bronne

[1] https://www.litnet.co.za/spiritualiteit-n-gesprek-tussen-abel-pienaar-en-estelle-kruger

[2] https://www.youtube.com/watch?v=nXlvkcPzp6c

[3] https://www.litnet.co.za/die-jesus-seminaar-vier-sy-eerste-kwarteeu-nabetragtings-van-n-buitestander

[4] https://www.spiritualiteit.co.za

[5] https://www.litnet.co.za/wie-het-god-geskep

[6] https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-god-bestudeer-godsdiens-vs-wetenskap

[7] https://www.litnet.co.za/in-memoriam-abel-pienaar

[8] Hoff, B. 1982. The Tao of Pooh. Illustrasies deur EH Shepard. Londen: Methuen Children’s Books Ltd.

[9] In die LitNet-onderhoud met Abel verduidelik hy ook wat die betekenis van mites in mense lewens is en hoe dit die godsdiens(te) waarmee ons grootgeword het, beïnvloed het. Ook tref hy duidelike onderskeid tussen godsdiens, spiritualiteit en geloof.

[10] https://en.wikipedia.org/wiki/Flow_(psychology)

[11] Campbell, J. 2004. Pathways to bliss: Mythology and personal transformation. Eerste uitgawe. Novato, CA: New World Library.

  • 4

Kommentaar

  • Johannes+Slabbert

    Ek het nog nie Abel se boeke gelees nie, maar hierdie heldere besinning van jou Estelle, maak dit vir my onmoontlik om dit te weer. Dankie.

  • Ek lees weer die artikel "Wie het God geskep?", waarna verwys word. En dit val my weer op dat dr Pienaar se filosofiese inslag maar net so vol gate is soos diegene wat beweer dat God wel bestaan. Alles wat in die mens se wetenskap bestaan, word waargeneem, geformuleer en verstaan in terme van menslike sintuie en intelligensiebeperkinge. Om egter alles wat nie bewys kan word dmv die mense se eie geformuleerde raamwerk nie, af te maak as dat dit nie bestaan nie, is kortsigtig. As alles uit iets ontstaan en ontstaan het, waar kom die energie of 'staat' vandaan waaruit alles wat die mens nou waarneem, ontstaan het? Dr Pienaar erken dat hy nie weet nie. Daarin is hy korrek. Niemand weet nie en niemand sal waarskynlik ooit weet nie. Maar om te beweer dat 'n goddelike wese nie bestaan nie, want dit kan nie bewys word of verklaar word wie hom/haar sou geskep het nie, is kortsigtig. Alles in dr Pienaar se verwysingsraamwerk is beperk tot die mens se selfgeskepte wetenskap deur waarneming en afleiding, en vice versa. Mens kan nie moontlike buiteraamwerkkonsepte probeer verklaar aan die hand van beperkende raamwerke nie. Spiritualiteite is, soos teïstiese geloof, ten slotte net 'n vorm van escapism.

  • Amanda Le Roux

    Dankie Estelle. Ek gaan beslis die boek kry en lees. Het 'n baie soortgelyke pad as jy geloop. Tussen hakies - het jy nog John vd Berg se "Klein dingetjies"? Ek het dit vir jou as jy dit nog soek. Laat weet gerus.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top