In memoriam: Abel Pienaar

  • 6

Abel Pienaar het hierdie foto aan Jean Oosthuizen gestuur om te wys hy het die boek gekoop.

...
So was Abel. Hy het niemand veroordeel of gedink daar is iets soos ’n dom vraag nie. 
...

Met die afsterwe van die denker, skrywer en filosoof Abel Pienaar het COVID-19 ons beroof van ’n vrygees sonder weerga. In die vele publikasies uit sy pen het hy homself bewys as ’n baanbreker van nuwe skeppende religieuse denke in Afrikaans.

Abel Pienaar is opgelei as NGK-predikant en was vir tien jaar lank ’n NGK-dominee terwyl hy hom ook ingegrawe het in Oosterse denkrigtings soos Zen-Boeddhisme. Sy ontmoeting by Plum Village in Frankryk met die Zen-leermeester Thich Nhat Hanh het hom gehelp om ’n dieper insig in die Oosterse wysheidstradisie te kry. Dit het hom in staat gestel om met nuwe oë te kyk na die Christelike tradisie waarmee hy grootgeword het.

Hoewel hy buite die Zen-Boeddhisme gestaan het, net soos wat hy ook buite die Christendom gestaan het, kon hy hom nie regtig heeltemal losmaak van die tradisie waarin hy gebore is en grootgeword het nie. “Ek kyk na beide met die hart van ’n filosoof. My behoefte is om sin vir my lewe hier en nou te vind,” het hy gesê.

Pienaar was ’n omstrede skrywer wat nie oral ewe gewild was nie. Een van die hoofredes waarom die NGK se koerant Kerkbode sy borgskap in 2013 onttrek het aan ’n gespreksreeks tydens die Woordfees in Stellenbosch, was dat Pienaar een van die deelnemers sou wees.

Die gewese NGK-predikant en skrywer Ben du Toit beskryf Abel op Facebook as ’n denker wat op ’n baie definitiewe manier ’n voorganger was van diegene wie se ontwikkelende reis vir talle dissidente van die kerk ’n alternatiewe tuiste gebied het.

By geleenthede soos die Woordfees was Abel altyd een van die groot trekpleisters tydens gesprekke oor geloof of spiritualiteit. Wanneer hy opgetree het, was die sale gewoonlik vol gepak.

In sy boek Die dans met God (Naledi) laat hy baie tradisionele gelowiges se wenkbroue lig wanneer hy twee oënskynlik onversoenbare wysheidsfigure, naamlik Jesus en Boeddha, as “broers” langs mekaar staanmaak.

Vir Abel Pienaar was dit glad nie so vreemd nie. Die meeste mense dink, leef en beweeg slegs binne hulle eie geloofstradisie met oogklappe aan, skryf hy in Die dans met God.

Hy het ’n groot bydrae gelewer om ’n beter begrip by Afrikaanse mense te kweek vir die Boeddhisme wat vandag nog in baie Afrikaanse huishoudings as iets uit die bose beskou word. Die ooreenkomste tussen Jesus en Boeddha het volgens Pienaar baie stof tot nadenke gebied vir diegene wat meewarig neerkyk op Oosterse tradisies.

Hy het daarin geslaag om die skanse van die eens onaantasbare dogmas wat as die absolute waarheid voorgehou is, te bevraagteken en af te breek sonder om te verwag dat mens moet saamstem met alles wat hy sê.

Op ’n persoonlike vlak sal ek Abel veral onthou vir sy lojaliteit. Ek kan nie presies onthou hoe en wanneer ons paaie die eerste keer gekruis het nie. Ek was nog by Kerkbode en hy ’n NGK-predikant. Hy het in 2006 as predikant bedank.

Ironies dat dit juis hy was wat my loopbaan amptelik as werknemer van die NGK help beëindig het toe my en die kerk se weë geskei het as gevolg van hom.

Daar was van die begin af ’n besondere band tussen my en Abel. In my geloofsreis was hy een van die mense wat my die pad na bevryding help stap het. Maar hy het my altyd laat voel ék help hóm om die pad te stap. As reisgenoot op hierdie pad sou hy nooit vir sy medereisigers voorskryf hoe om die pad te stap nie. Dit was iets wat hulle self moes ontdek.

Oor sy boek God se oë is blou moes ek ’n praatjie met hom voer by die Woordfees. Tydens die gesprek was daar iemand in die Boektent wat allerhande vreemde vrae gevra het. Die gehoor het ongeduldig begin raak, maar nie Abel nie. Hy was altyd bereid om na ander te luister, maak nie saak wie nie.

Na die gesprek het ek die man wat die vreemde vrae in die tent gevra het, so ’n bietjie beter leer ken. Ek het agtergekom hy is ’n eksentrieke maar baie interessante man, ’n valkenier wat arende afrig en mak maak. Abel het by ons kom sit op die plastiekstoele voor die Boektent. Ek het hulle aan mekaar voorgestel en Abel het met hom begin gesels. So was Abel. Hy het niemand veroordeel of gedink daar is iets soos ’n dom vraag nie. Vir wie weet hoe lank het ek in stille bewondering sit en kyk hoe gee Abel hierdie eksentrieke valkenier ’n kans om sy storie te vertel en hoe hy aandagtig en met opregte belangstelling daarna luister.

Toe kom 2013. Die Woordfees wat my hele lewe sou verander. Sonder sy eie toedoen was Abel Pienaar die man wat tot gevolg gehad het dat Kerkbode hulle borgskap aan die Woordfees onttrek. Pieter Fourie, wat destyds hoof van Bybel-Media was, het my na sy kantoor ontbied. Hy het my meegedeel dat hy en die direksie hoog ontsteld is omdat ek Abel as een van die gaste genooi het en daarom hulle borgskap aan die Woordfees onttrek. Die res van daardie sage is geskiedenis.

Ek onthou hoe Fourie in sy kantoor vir my vertel het hoe hy een van Abel se skrywes oor Kersfees tydens een van sy preke as tema gebruik het sonder om hom krediet daarvoor te gee. Die inhoud van Abel se skrywe het hom beïndruk, maar hy kon dit nie waag om aan die gemeente te sê Abel Pienaar was die outeur daarvan nie. Die skynheiligheid daarvan het my stom gelaat.

Lojaal soos wat Abel was, het hy na my ontslag by Kerkbode meer as een brief of artikel in die media geskryf waarin hy my verdedig het en probeer het om die NGK die waarheid te laat insien van wat werklik daar gebeur het. Tevergeefs.

Sy laaste boek, TAO van wakker word (Naledi), is twee dae voor sy dood by my huis afgelewer terwyl hy op ’n ventilator in die hospitaal besig was om vir sy lewe teen COVID-19 te veg. Hy sou nooit die voorreg hê om die boek self vas te hou nie. Daarin skryf hy “... want sien, lewe is net in die hier en nou teenwoordig, en daarom ook is sin en betekenis net hier te vind ... Wees wat jy reeds is, die Ware self.”

Abel het geweet hoe om sin en betekenis in die hier en nou te vind. En veral om ander mense dit te help vind.

Loop mooi, my vriend. Rus sag, ons Boere-Boeddha. Jy het mooi gemaak waar jy gaan. Ek gaan jou so baie, baie mis. My trane vloei vry en onophoudelik soos die Kaapse winterreën.

Lees ook:

Spiritualiteit: ’n gesprek tussen Abel Pienaar en Estelle Kruger

LitNet Akademies: Abel Pienaar gee sy mening oor die Jesus Seminaar

My wakkerwordpad saam met Abel Pienaar

Die oorkantste oewer deur Abel Pienaar en Flip Schutte: ’n resensie

Die oorkantste oewer deur Abel Pienaar en Flip Schutte: ’n lesersindruk

  • 6

Kommentaar

  • In my hart heers groot dankbaarheid vir die tyd wat Abel aan ons as tydgenote geleen is. In algehele vryheid, sonder dogma of druk het Abel ons telkens die keuse voorgehou om self te antwoord op die vraag na eie outentiekheid van "ek is" - 'n spirituele uitdaging om steeds hoër/dieper die stilte in te vlieg. Tipies soos wat die kontemporêre digter, Christopher Logue, in 'n tweegesprek nuwelinge uitnooi na belewenisse verskillend van wat hulle oorspronklik te wagte was:

    "Come to the edge,
    We might fall.
    Come to the edge.
    It's too high!
    COME TO THE EDGE
    And they came,
    and he pushed,
    and they flew." *

    * Christopher Logue: Ode to the Dodo: Poems from 1963 to 1978.

  • Barend van der Merwe

    Dankie Jean. Gewis 'n reuse verlies. Sy boeke sal altyd 'n ereplek op my boerak hê.

  • Daniël Venter

    "Ek is die weg, en die waarheid, en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie".
    Nie ek wat so sê nie: Iemand groter as ek. Jy's vry om Sy woorde te verwerp, maar dit het helaas tragiese gevolge.
    Helaas, inderdaad.

  • Mooi geskryf.
    Abel se lewe was 'n inspirasie vir baie.
    Sy kolom in die Rapport het destyds 'n blywende indruk op my gemaak.
    Sy nagedagtenis en sy oeuvre sal hom verewig in die harte van vele.
    RIP

  • Mooi geskryf.
    Abel se lewe was 'n inspirasie vir baie.
    Sy kolom in die Rapport het destyds 'n blywende indruk op my gemaak.
    Sy nagedagtenis en sy ouvre sal hom verewig in die harte van vele.
    RIP

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top