Opgedra aan:
Alle vroue wat paternalistiese onderdanigheid met moedersmelk ingekry het en met mans getrou het wat chauvinisme op vadersknie geleer het.
My dierbare nageslag en my eerbare voorgeslag.
My oudstudente by wie ek ontdek het ek is ’n ster.
Die kaptein van ’n skip wat my inspireer.
’n Digterlike vriend.
’n Engel wie se vlerk beseer is.
My vriende en familie.
*
Tydens die skryf van my metaroman[1]
het ek gevoel soos ’n bricoleur[2]
’n vrou wat besig is om ’n huis te bou
sonder ’n plan
Ek het gebou soos ek my bakstene kry
dan het ek dit toegesmeer met klei
Eers later het die groter prentjie ontvou
soos ek die storie uitdink en onthou
Agtergrond – hoekom ’n boek skryf?
Dit is vir my ’n heerlike ervaring om saam met my kleinkinders legkaarte te bou en op te let hoe hierdie klein mensies se ratte in hulle brein saamspan om kleur en vorm te laat pas met behulp van stukke. Wonderlike samewerking en dink en doen. Dit is kosbaar om die vreugde te sien in die oë en dansende lyfbewegings van die een kind wat die laaste stukkie inpas. Nou het ek ook agtergekom dat daar dikwels meer as een van hulle ’n stukkie hou met die hoop dat dit die laaste stukkie is sodat hy of sy kan jubel.
diewe steel my hart
toe ek hulle vang sien ek:
dit is julle!
Vir my is hierdie mini-artikel ’n legkaart wat ek bou om te reflekteer oor my reis om ’n boek te skryf en uitdrukking te gee aan wie ek is, my belewenisse, talente en gebreke. Elke ervaring was ’n legkaart wat bygedra het tot ’n eindproduk wat ek nie in my wildste drome kon bedink nie.
Ek bied hiermee ’n voëlvlug oor my lewe terwyl ek op my balkon sit, donker-Lindt-sjokolade suig en terugdink aan my lewe – die bitter en die soet.
*
Omdat my bloedpa blind was, het ek kinderlik onskuldig “agtergekom” dat ek onsigbaar en altyd in my pa se pad is, wat hy met woede hanteer het. Van my derde lewensjaar af het die kinderlike vermoede in my ontkiem dat ek nie belangrik is nie en dat my behoeftes nie belangrik is nie – daar was altyd iets of iemand wat meer aandag moes kry.
In my skoolgaande jare is ’n nuwe saadjie in my puber- en tienergemoed gesaai, naamlik dat ek nie ’n keuse het of mag terugpraat nie wanneer ek deur my stiefpa – ’n chauvinistiese man – met woede gedissiplineer is met sy belt en later met sy vuis in my gesig. Hierdie ervarings het my onwetend in my jong gemoed laat “besef” dat ek eintlik stom is en dat daar nie respek vir my liggaam is nie.
Toe beland ek in dieselfde lokval in my huwelik met ’n man wat ook (onbewustelik) hierdie patriargale samelewing en gevolglike chauvinisme geërf het. Weer het ek nie beheer of ’n keuse oor my eie liggaam gehad nie en wanneer daar konflik was, het ek altyd in die hoek beland – iets wat ek lydsaam en onderdanig moes verduur, want die heilige boek sê dat ’n vrou se liggaam aan haar man behoort. My vermoede is bevestig dat ek nie ’n stem het nie en nie my sê mag sê nie – ek is net sigbaar as ’n skaduwee.
Wat my lewe verander het, was die pos by ’n Venda-onderwyskollege. Daar het ek vir die eerste keer ’n leier leer ken wat nie kleivoete gehad het nie. Meteens is ek bemagtig om iemand te wees deur my talente. Ons het hegte vriende geword en mekaar gerespekteer. Hy met sy visioenêre denke en ek wat met my kreatiwiteit (wat ek nog nie geken het nie) sy visie prakties ontwikkel en uitvoer – ’n hele voorskoolse kleuterskoolprojek in Venda het deur ons denke en hande ontstaan en uitgebrei.
Maar saam met die geluk het die ongeluk gekom. Die samelewing wat net “reg” en “verkeerd” aanvaar, het nie hierdie ongewone vriendskap verstaan nie, en ek is erg veroordeel, selfs onder stille sensuur geplaas by die kerk. Wéér het ek nie ’n stem om myself te verdedig nie, want ek kan nie alles vertel nie. Wéér was ek in die hoek.
Nadat ek weer in my gedagtes my eggenoot se stem gehoor het wat vroeër gesê het: “Kom nou reg of gaan weg”, het ek dit gedoen soos wat niemand gedink het moontlik en sedelik was nie. Dit was net hier waar ek die drie kinders gevat en weggeloop het – dit nadat ek ’n pos gekry het by ’n onderwyskollege in Pietermaritzburg om Afrikaans te onderrig aan Zoeloesprekende onderwysstudente.
Ek het my bokshandskoene aangetrek en met God gestoei, omdat ek nie kon sien waar Hy was in my lewe en hoekom Hy my nie van hierdie trauma weerhou het nie. Dit het my met wanhoop gevul om te voel dat ek nie weet hoe ek hiervan kan herstel nie. Daar was spesifiek vier beloftes in sy heilige boek waaraan ek nie kon vashou nie; ek het dit as vals ervaar: Die geknakte riet is toe wel afgebreek; die lamppit wat dof brand is wel uitgedoof; ek is deur diep water wat my oorweldig het in my huwelik waar daar iemand was met ’n dubbele lewe – een wat hy preek en een wat hy leef; ’n vuur het my geskroei en vlamme het my gebrand deur ’n fundamentalistiese gemeenskap. Onnodig om te sê dat my Groot Twyfel en Soeke begin het.
In my hart het sedertdien dwarsdeur my lewe ’n dringende behoefte gegroei om te sê wat alles hier rondom gebeur het, om dit te vertel noudat ek my eie mens kon wees. Om ’n stem te kry. Om my talente te herontdek en uit te leef.
Reisiger, swerwer, verlater
Jy wat brûe brand
en agterlaat
Dit maak nie saak
of jy jou beloftes
’n duisendmaal
gebreek het
of nog weer sal faal nie
Jou karavaan se naam
is nie Wanhoop nie
© Rumi (my vertaling)
In die volgende hoofstukke van my lewe in Pietermaritzburg en Stellenbosch het ek toenemend begin reflekteer en probeer sin vind in my agtergrond. By beide hierdie plekke het my lewe ’n ander verloop geneem. Ek is in verskeie kursusse (sekulêr en spiritueel) begelei om die ervarings van ’n lewe met woorde vanuit my hart en met my verstand uit te spreek deur dit neer te skryf – in stories en gedigte. Terapie vir my hart en siel.
Toe ek die agste dekade van my lewe binnegaan, het ek teruggekyk na my lewe en al die legkaartstukke gesien. Terwyl ek na my suksesvolle loopbaan kyk, het ek besef dat dit tyd is om – volgens die beroemde sielkundige en lewensfilosoof, Carl Jung – individuasie (die fase van geestelike ontwikkeling) in te gaan. Dit was nodig om al my kinderlike vermoedens en hoogsvervullende ervarings as beroepsvrou te integreer en in ’n geheel te probeer saamvat. Ek wou dit deel met my vriende, oudstudente, familie en ander belangstellendes.
Ek het stadig maar seker besef dat ’n lewensverhaal ontwikkel het wat gewag het om geskryf te word – hoe kon ek nie weet nie. Gelukkig het ek onlangs ’n speurverhaal gelees – ek het die struktuur en spanningslyne daarin ontleed en goud ontdek: Ek moet net ’n struktuur vind! Ek kan my storie verpak in ’n speurverhaal. Intuïtief het ek geweet daar is ’n legkaart waarvan die stukke nog almal deurmekaar op die vloer gelê het.
Met die skryf en herskryf van my lewensverhaal het ek ontdek dat Kammawaarwêreld die perfekte kruik is waarin ek die legkaartstukke van my herinneringe aan my belewenisse oor die jare heen kan bêre en met skryf en weer skryf kan neerpen nadat ek al die stukkies geplaas het op die plekke waar hulle hoort. Omdat daar sensitiewe ervarings en mense in my lewe daarin betrokke was, was dit vir my ’n verligting toe ek lees van die moontlikheid om memoires of outobiografieë fiksioneel te maak en die karakters skuilname te gee. Dit het my uitgedaag om dit in die vorm van ’n soort gefiksionaliseerde[3] outobiografie aan te bied, met ’n storie in ’n lewensverhaal – dus ’n metaroman – met ’n alwetende derdepersoonsverteller wat Pippa se ontgogeling en hartseer op ’n afstand bekyk en verbeeld.
Die proses van selfondersoek, introspeksie, ontleed en skryf het my daartoe gelei om te kyk na al my skryfervarings deur die jare en hoe al die stukkies van my lewe regtig lyk en inpas in ’n driedimensionele geheel – iemand gemaak van sterstof, ’n veelkleurige kaleidoskoop.
*
My ervaring van skryf
- Opstelle op skool
Op skool was skryf nie vir my opwindend nie – die opdragte wat ons gekry het, was vir my nie inspirerend en interessant nie. In daardie stadium was onderwysers nog nie daarop ingestel om leerders te begelei in die proses van skryf nie.
Wat ek wel onthou van iets wat my verbeelding gestimuleer het, was die Engels-onderwyseres wat ons uitgenooi het om ’n populêre liedjie waarvan ons hou se woorde te neem en daarmee ons eie storie te skryf. Ek het dit geniet om “Sound of Silence” (van Simon en Garfunkel) op hierdie manier te herskryf as my eie storie.
Iets anders wat ek “geskryf” het, was om gedigte in Afrikaans en Engels te kopieer in my eie dagboek – ek kan nie onthou waar ek dit in die hande gekry het nie. Later in my lewe, toe trauma my daaglikse brood geword het, het ek begin om my gevoelens te verwoord en die bevryding daarvan te smaak deur self gedigte te skryf waarin ek my gevoelens en ervarings kon uitdruk in woorde.
Om boeke te lees, was dalk die eerste werklik belangrike stuk in die legkaart van my reis om te skryf – ek het verre lande en vreemde mense leer ken en onbewustelik agtergekom wat die elemente van ’n storie is, byvoorbeeld karakters, ruimte, tyd en temas.
- Akademiese skryfsels
In my voorgraadse studiejare kon ek nie meer baie stories lees nie – al wat ek op daardie stadium gelees het, was voorgeskrewe naslaanbronne en verhale vir Afrikaans-Nederlands.
My skryfwerk was beperk tot opdragte, ook in my nagraadse studiejare. Wat my wel toegerus het, was die boeke wat ek moes lees en waaroor ek opdragte moes uitwerk vir my honneursgraad in Afrikaans-Nederlands. Nou het my horisonne nog verder verbreed, en ek het begin besef hoe “goeie” boeke se inhoud lyk. Uiteindelik moes ek vir nagraadse studie in die akademie ’n verhandeling en proefskrif skryf – tot op daardie tydstip net akademiese skryfstukke.
- Kursusse wat gelei het tot my persoonlike skryfsels
Allerlei tekste het ontstaan by retreats en soortgelyke kursusse wat ek bygewoon het nadat ek afgetree het – dit het meditasies, drome, gedigte, stories, my lewensverhaal en ander skryfsels tot gevolg gehad. Hier het my denke oor my lewenservarings en lewenssiening ontwikkel en dit het my legkaartstorie verdiep.
In memoire-, poësie-, sandspel-, kunsterapie- en skryfkursusse het ek geleer om my nuwe ontdekking van spiritualiteit te verstaan, meditatief daaroor te skryf en om gedigte, stories en visuele maaksels te skep om uitdrukking te gee aan my binnewêreld, my uitkyk op die lewe en my lewenservarings.
- Aanbieding van prosesse om kreatiewe skryf te fasiliteer
Toe ek by die Universiteit Stellenbosch Afrikaansonderrig vir voornemende onderwysstudente aangebied het, het ’n nuwe hoofstuk van my ontdekkingsreis begin.
In my onderrig van onderwysstudente het ek hulle gestimuleer om gedigte en stories te skryf. Telkens moes ek seker maak dat ek geskikte voorbeelde (wat ek self geskryf het) aan hulle kan voorhou, of saam met hulle iets skryf. Dit alles sodat hulle deur ervaringsleer kan ontdek dat enige iemand kreatief kan skryf, solank hulle geïnspireer, gestimuleer en begelei word in die proses, en bewus word van die eienskappe van kreatiwiteit in die agtergrond. Ek het allerlei sintuiglike stimuli gebruik en ervarings geskep sodat hulle – deur dit te doen – dit ook kan doen wanneer hulle leerders begelei.
Die narratiewe (outobiografiese) inleiding tot my proefskrif het gelei tot drie herinnerings wat op LitNet gepubliseer is: My ervaring met die onderrig van Afrikaans by hoërskole,[4] verskeie onderwyskolleges[5] en die Universiteit Stellenbosch.[6]
*
Die skat wat ek ontdek het op my reis: My metaroman
Nadat ek onlangs ’n herinnering aan TT Cloete gelaai het op Facebook, het ek iemand ontmoet wat daartoe gelei het dat ons geselsvriende in die kuberruimte geword het – eers deur inboks-boodskappies op Facebook en later op WhatsApp. Ons het ons albei se groot lof en waardering vir Cloete gedeel en daaroor gepraat. Ek het op die vriend se aanbeveling my gunstelingprofessor se laaste boek Die ander een is ek[7] gekoop. Dit het my kosbaarste besitting geword en weer eens het my estetiese rolmodel vir my woorde gegee vir my ervarings en introspeksies.
Uiteindelik het ek ’n uitgewer gevind wat saam met sy publikasiespan help dat my lewensverhaal ’n storie word waarin ek al my skryfsels integreer. Dit is nou in die publikasieproses.
Nadat my manuskrip deur al die fases van skryf – dokumentontwikkeling, herskryf, redigering, proeflees, proefuitleg, proeflees, uitleg – gegaan het, het die eindproduk ’n werklikheid geword.
*
Kammawaarwêreld
Proloog: ’n Storie vir Jobstroosters – hierin is die kern van hierdie gefiksionaliseerde lewensverhaal in die konteks van Job se storie, waar ’n tweede engel vir haar vra om vir hom alles neer te skryf wat hy nie kon of wou hoor nie, en dan vir haar ’n wit duif met ’n groen olyftakkie in die lug laat vlieg.
Agtergrond: Van Pippa se lewe wat tot die storie gelei het waarin sy uiteindelik die moed het om te vertel wat sy het om te vertel, noudat sy deur vele reddelose ervaringe haar stem gevind het.
Die vrou op die balkon: Kennismaking met Pippa, die alwetende verteller – haar wel en wee, haar lewe nader aan die einde van haar ondermaanse bestaan, waar die wel meer word en die wee agtergelaat raak.
’n Vrou in die middel van ’n labirint: ’n Sprokie in ’n koma van 40 dae en 40 nagte in ’n koninkryk ver van hier (met ’n koning, ’n koningin, ’n profeet, ’n priester, ’n towenaar, ’n digter, ’n kunstenaar en ’n vrou).
Skoenlapperstories: ’n Prentjie van die vrou se kinders en die manewales saam met haar kleinkinders – hier te lande en daar ver in die doerte. Dit vertel van hulle groei soos deur haar oë gesien en gewaardeer word, haar verhouding met hulle en die vreugde saam met hierdie liewelinge wat sy in haar hart koester met dankbaarheid.
Wensdenkery: ’n Man op pad na die middel van die labirint om die vrou te vind en by haar vriende en nageslag die antwoord te kry op sy vraag: “Wie is hierdie vrou wie se diepte ek nooit werklik leer ken, verstaan, raakgesien en gerespekteer het nie?”
Metamorfose: Van Pippa as ’n skoenlapper, waar sy worstel met haar verlede in ’n patriargale stelsel waar sy nie ’n stem gehad het nie, in die skaduwee van ’n man en sy roeping geleef het, nie eintlik keuses gehad het nie. Ook ander ingewikkelde en diep skeure waarin sy beland het omdat sy steeds gesoek het na aanvaarding, liefde en respek. Hoe sy mettertyd gegroei het van Wanhoop tot Hoop.
Epiloog: Integrasie en refleksie – die terugkyk na ’n lewe onder die maan, waar die son nagsê vir die dag, die groei en bloei van ’n vrou op die kruin van haar lewe.
Dankbetuigings en bronverwysings
My erkenning aan al die mense wat deel uitmaak in die kaleidoskoop van my lewenswerklikheid en bygedra het tot my ontwikkeling, ook diegene wat ingestem het om ’n rol in my storie te speel (mits ek skuilname vir hulle gebruik).
As afgetrede akademikus en navorser het dit deel van my vingerafdruk geword om in voetnotas te vermeld watter bronne ek geraadpleeg het.
Eindnotas as verwysingsbronne:
[1] Die metaroman (’n-roman-binne-’n-roman) is gewoonlik ’n teks waarin die ek-verteller aankondig dat sy ’n roman gaan skryf waarin sy die skepper van ’n fiksionele wêreld is (Hambidge 2013). https://www.litterm.co.za/index.php/m/290-metaroman
Die metaroman kan ook ’n “kamma-wêreld” genoem word – ’n verbeelde wêreld waarin die verteller deur fiksie haarself máák, waar die ek-verteller stories vertel oor dinge wat nie alles in die werklikheid bestaan nie, en dan word hierdie entiteite uiteindelik bepalend vir hulle werklikheid. Brokkies inligting word uitgesoek en in die storie opgeneem om ’n verstaanbare wêreld te skep en dit in tyd en volgens ’n bepaalde oorsaak-en-gevolg te rangskik (Burger 2018. Die wêreld van die storie, Pretoria: Van Schaik-Uitgewers).
[2] Ek is die bouer wat met klei, klippe, collages, sand en stene my storie vertel – my waarnemings, herinneringe, gedigte, ensovoorts. https://af.wikipedia.org/wiki/Bricolage#p-lang
[3] https://www.skillshare.com/en/blog/autobiographical-fiction-what-it-is-examples-and-how-to-write-it-yourself/
[4] https://www.litnet.co.za/herinneringe-aan-my-onderwysloopbaan-en-my-pad-met-die-onderrig-van-afrikaans/
[5] https://www.litnet.co.za/herinneringe-aan-my-onderwysloopbaan-n-afdraaipad-na-interkulturele-onderwys/
[6] https://www.litnet.co.za/herinneringe-aan-my-onderwysloopbaan-op-reis-na-akademiese-uitmuntendheid-en- innovasie/
[7] https://versindaba.co.za/2013/05/14/heilna-du-plooy-die-mens-leef-nooit-alleen-nie/
Kommentaar
Skitterend.
‘n Besonderse vrou het die hekke van haar tuin oopgegooi ons hand geneem en al met die paadjie saam gestap en al die hoë bome in haar tuin van opleiding vir ons gewys. Hier in haar woonstel in ‘n aftreeoord op die platteland, het sy die sleutel van die binnetuin gekry oopgesluit en begin skryf. “Kom in my tuin, Metaroman is die naam van my tuin. In hierdie labirint van my lewe gaan jy saam met die skoenlappers vlieg oor klippe loop en die mooiste blomme sien.”
O! Estelle, ek wag vir jou boek.
Met die lees van Estelle se artikel “Om ’n boek te skryf – my ontdekkingsreis” het ’n foto in my gedagtes aangemeld van ’n woordreisiger op haar stoep, pas terug na ’n lang reis deur akademiese gange, lesinglokale en ander holtes waar haar onderwyspassie en kreatiwiteit steeds sluimer. En op haar stoepmuur ’n oopgevlekte tas vol opgaargoed en ’n rugsak bultend met woorde. Woorde om al dié opgaargoed op bladsye te help uitskud en orden in netjiese sinne en paragrawe. Bladsye vol getuienis van hierdie reisiger se reis wat haar vir dié taak geskaaf en geskool het. Ook haar huis se deur en vensters is wyd oopgesper. want almal wat verbykom, moet kennis neem van wat daar binne aangaan. Binne is dit deur son belig en wind belug. En ’n storie wat beluister wil word. ’n Storie deur ’n aanvanklik huiwerige skrywer, wat sy uiteindelik met trefsekerheid vertel.
Ek kan nie wag om My Kammawêreld te lees nie ... met Lindt-sjokolade ’n armlengte ver, natuurlik.
Nadat ek hierdie mini-artikel gelees het, is ek oortuig dat ek moet vuur maak onder myself en die boek moet bestel. Om 'n vinnige kykie te kon kry, maak my baie opgewonde. Dis 'n voorreg om dit te kon lees en ek sal graag jou hele boek wil lees. Dit het my laat terugdink aan my Kurrikulumstudieklasse by jou en jy wat ons altyd vrye teuels gegee het binne 'n bepaalde onderwerp. Ek't nooit die moed gehad om op te spring en saam met die musiek te dans nie, maar my hart het. As ek so lees oor waar jou paadjie al gaan draai het, voel ek geëerd.
Hierdie artikel was vir my 'n uitblinker-openbaring van jou lang pad wat jy moes stap om tot hier te kom. Ons het kontak van laerskooldae af en ek lees gereeld jou skryfsels waaruit ek baie van jou leer, so deur die jare. Jou aanvanklike onsekerhede glo ek is te danke aan jou traumatiese lewenswyse waardeur jy moes gaan. Mettertyd het ek in die artikel agtergekom dat jy die moed van die oortuiging het om òp te staan en jou regmatige plek in jou lewe te herstel. Hoe genadig was dit nie dat jy aanvanklik met jou sandterapie tot ander insigte kon kom en sodoende andere, ná jou ook van hulp te kon wees nie. Hierdie skoenlapper het met bravade úít haar kokon gekom en 'n mees suksesvolle skrywer geword. Ek wens jou net voorspoed en sukses toe op hierdie verdere avontuur wat nou voorlê en ek glo ek sal nog in die toekoms nog meer van jou wyse en insiggewende skrifte kan lees.
Baie geluk met hierdie artikel! Dit is opsigself ’n biografie in die kleine! Ek lees dit en lewer met groot respek kommentaar. Wanneer ‘n mens Estelle se artikel lees, raak jy bewus van iemand wie se ganse lewe naatloos vervloei tot op die punt van die geboorte van ’n roman – asof onafwendbaar. Geen wonder dat hierdie roman dan ook subtiel deur die skrywer as ’n metaroman bekendgestel word nie.
Die mini-artikel by die aanpak van literêre skepping met ’n oorsig van haar eie ontwikkeling en vroegste skryfervaring op skool. As jong skolier was skryf nie ‘n vanselfsprekende voorliefde nie. Die regte stimulering en nuwe wêrelde wat sy met die lees van boeke ontdek het, het haar belangstelling geprikkel. Nie alleen het die kreatiwiteit van skryf haar stelselmatig begin meesleur nie, maar het sy ook die emosionele drakrag van iets soos byvoorbeeld gedigte begin ontdek toe die lewe volgens haar sy eie draaie met haar begin loop.
Verder gee Estelle erkenning aan die invloed op haar vorming as skywer deur na bekende en minder bekende name te verwys; persone by wie sy onderrig ontvang het, asook diegene wat oor die jare informeel bygedra het deur haar aan te moedig en saam met haar nuwe skep- en skryfhorisonne te verken.
In die lees van haar mini-artikel kom ’n mens onder die indruk van die kaleidoskoop van genres waarna Kruger in die oorsig op haar lewe en loopbaan verwys. Nie alleen het syself daarmee eksperimenteer nie, maar veral het sy deurgaans, tot hierdie dag toe, ander daarin begelei. Dit moes inderdaad ’n voorreg en verrykende ervaring wees om as student deur haar hande te kon gaan!
Die produk wat Estelle bekendstel blyk die perfekte sameloop van iemand se totale wete te wees. Jy wonder hoe haar verhaal met jou eie sal ooreenstem, verskil, inspreek, uitdaag, en help sin maak. Nadat sy haar hele lewe aan onderrig gewy het, gun ’n mens hierdie skrywer om uiteindelik haar eie verhaal te skryf!
Ek is nou behoorlik nuuskierig om kennis te maak met 'n Metaroman en veral jou storie wat daarin geweef is. Baie dankie vir die voorreg om hierin te kon deel! Jou skryfreis is baie ryk en interessant, ek kan nie wag om jou metaroman te lees nie 😊
Ek het begin lees aan jou werk en ek het gevoel hoe ek gaandeweg op 'n genoeglike manier al hoe "voller" word. Presies waarvan weet ek nie. Al hoe ek dit kan stel is dat alles net 100% pas in die struktuur en die genre en in die storie - of kom ons sê nou maar die "skryfkuns". Maar daar is iets so geniaal in jou skryfwerk wat ek in 'n banaal akademiese konteks 'n outo-etnografie kan noem. Maar jy oorskrei elke greintjie daarvan na 'n vlak van onbevange kwesbaarheid, outentisiteit en eerlikheid wat jou sooo ongelooflik kragtig oplig na 'n ruimte waar min ander heiliges hulle kan bevind.
Ek word gaandeweg so VOL van die lees van jou werk dat ek eers moet ophou, nie omdat dit onverteerbaar is nie, maar omdat dit myself na 'n hoër ruimte meevoer waar ek in veiligheid my eie outo-etnografie kan beleef. Eers wanneer ek dáár die kos van jou lewe verteer het, kan ek terugkom om nog 'n skep uit die bodemlose put van jou kunswerk op te slurp en so die eb en vloei van 'n langsame sonsondergang by die see geniet. Jou talent is transendentaal - ons het jou nodig om ook ons eie transendensie te beleef. Jy is inderdaad 'n Begunstigde!
Dankie vir die artikel. Dis interessant om te lees hoe jou boek tot stand gekom het en hoe jou denkproses verloop het - iets wat ons bykans nooit van ander boeke sien nie.
"Om 'n boek te skryf" was waarlik 'n lewensreis. Ek kan nie wag om dit te lees nie. Jy het die reis so ongelooflik goed geïntegreer in jou skrywe dat ek werklik sekere opmerkings belewe het. Welgedaan, liewe Estelle, mag hierdie hoogtepunt vir jou baie sielsrustigheid bring. Die volgende boek sal beslis makliker gaan om neer te pen!
Dis vir my interessant hoe die boek en jou lewe ontwikkel het. Hoe gebeure soms nutteloos lyk, onbelangrik. Goed wat 'n mens doen om te oorleef. En dan kyk mens op die einde terug en sien hoe die lewe jou beïnvloed en gevorm het. Hoe blykbaar onbelangrike, soms onwelkome gebeure bydra tot n pragtige eindproduk ... ‘n legkaart.
Dit is pragtig, daar is 'n verlange ingebou wat by my bly rondhang. Ek sien baie daarna uit om die boek eers te lees en daarna as 'n kleinood op my boekrak neer te sit. Sjoe, dit is ‘n interessante artikel oor die boek. Ek kan op soveel vlakke met jou identifiseer. 'n Patriarg pa, wat op 89 steeds nie verstaan hoe sy woorde sy gesin affekteer nie. Wat ons as kinders met 'n fanbelt geslaan het as ons stout was - en sommer al vyf dogtertjies gelyk - as een stout was. Ek is die oudste - het nie teruggepraat nie, ek het geleer deur my sus na my se foute. Sy was baie keer reg, maar ek was nie bereid om 'n klap in die gesig te kry as ek weet ek is reg nie. As hy wou glo blou is swart, was dit sy saak. Ek het geweet wat ek weet. Maar ja, ek weet nie of dit reg of verkeerd van my was nie, dit het my by ander ook stil gemaak. Ek kan nie help om te wonder of die slaan in jou gesig met jou huidige pyn in die gesig verband kan hou nie. Houe in 'n gesiggie wat steeds ontwikkel. Tog dink ek dat jy wel vir jouself kon opstaan as kind, maar dat jy later moes kies, soos ek. Is die hou in die gesig jou mening werd? Jy weet lankal jy is 'n ster, jy moes dit net in woorde begin stel. Welgedaan. Weet jy wat baie lekker sal wees? Dink ek? As jy gedeeltes van die boek voorlees ...
Logies, vloeiend en maklik leesbaar is teenwoordig, en dis sekerlik ook so in jou boek, want dis hoe ek hou skryfstyl onthou. Jy het ’n warm skrywerstem, wat die formele akademiese temas toeganklik maak.
Ek sien uit na die puzzelstukkies wat jou legkaart vorm en so die geheel te kan sien/lees. Jy was vir my nog altyd ‘n baie kreatiewe mens wat met woorde en gedagtes jou emosies so goed kon verwoord. Jou verhale oor jou studente, die sandspel, jou vriende, jou kinders en kleinkinders, ook die hartseer en verdriet in jou lewe, jou teleurstellings, jou soeke na diepte, dit alles puzzelstukkies wat jou legkaart gevorm en voltooi het. Ek sien uit na die boek!
Ek dink die klein bietjie inligting oor jou grootwordjare sal baie lesers lok. Sommige sal met van die ervaringe kan identifiseer. Baie sterkte. Ek dink dit gaan 'n pragtige boek wees wat tot baie mense gaan spreek.
Ek is so beïndruk en kan nie wag om hierdie boek in my hande te hou nie! Baie geluk weer daarmee. Dit gaan beslis iets unieks wees om na uit te sien. Hierdie artikel werp reeds lig op wat te wagte kan wees. Dis perfek, prikkelend en reeds baie insiggewend. Sterkte met die geboortepyne van jou boekbaba, die eindproduk sal so bevredigend wees.
Baie geluk met die publikasie van jou boek! Ek is baie beïndruk met jou vermoë om soveel detail van die mense en aktiwiteite wat jou skrywersloopbaan gevorm het, te onthou. Ek onthou nie die helfte van die werkswinkels en ander kreatiwiteitsessies wat ek bygewoon het nie - wel die sandspel saam met jou! Ek dink die artikel is 'n baie goeie idee, juis omdat jy noukeurig al die invloede (en prestasies) kan lys. Dit maak dit vir 'n potensiële koper en leser maklik om dan te weet wat om van die boek te verwag - "managing expectations" is 'n belangrike deel van bemarking. En dit boesem vertroue in dat jy baie goed weet waarvan jy skryf.
Ek het die hele mini-artikel vanoggend lê en deurlees en sommer op my eie reise gegaan. Ek het tranerig geraak oor die invloed wat jy op my lewe gehad het en die juffrou wat ek vandag is as gevolg van jou. Regtig! Dankie daarvoor. Die artikel het die perfekte taalgebruik vir LitNet. Ek dink nie die normale "man op straat" sal veel uitmaak van wat daar alles geskryf is nie - dankie tog vir die voetnotas. 😊 Die teikengehoor sal die artikel geniet. Aanvanklik het die omslag van die boek my nie regtig oortuig dat ek dit wil lees nie, maar na afloop van die artikel, voel ek anders. Welgedaan!
Ek kan letterlik terugstaan en die sweet van my voorkop afvee ten opsigte van jou pad wat jy moes gestap het. Dit is merkwaardig. Sien uit daarna om jou metaroman te lees.
Ek is nuuskierig en sal graag wil lees, nie omdat ek enige waardering en kennis het van literêre meesterstukke nie, maar omdat ek ‘n klein deeltjie van jou lewe saam met jou gestap het en groot bewondering gehad het vir wie jy was, waarvoor jy staan en hoe jy die lewenstryd gestry het. Ek sien hier in jou beskrywing van die pad daarna, dat dit ‘n lang en uitgerekte pad en proses was. Ook kry ek die indruk dat dit vir jou reeds lank ‘n belangstelling, of sal ek liewer sê ‘n passie was om die proses op een of ander manier te bemeester wat nuut en kreatief is. Ek kan nie wag om jou boek te lees nie. Nog steeds ‘n bewonderaar!
Watter heerlike leeservaring was/is hierdie nie! Ek het alles ingedrink, want dit vertel ‘n storie van ‘n mens op reis tot selfontdekking as skrywer. Hierdie gaan grense verskuif. Baie dankie dat ek dit kon lees. Baie dankie vir die voorreg.
Dit is sulke fantastiese nuus! Dis absoluut wonderlik as ‘n mens se drome bewaarheid word. Jy verdien dit en ek glo jy gaan elke oomblik geniet. Die reis van jou boekskrywery klink ongelooflik interessant, ek het mos darem al die sandspelkursus by jou gedoen en baie baat daarby gevind. ‘n Definitiewe manier om die kreatiwiteit aan die gang te sit en as stimulus te dien. Jy het groot invloed op studente gehad en jou goed van jou taak gekwyt. En al daardie agtergrond, ek is ook mal daaroor om skryfkursusse by te woon, al is dit dan ook alleenlik vir die stimulasie deur al die ander mense wat vir dieselfde doel die kursus bywoon. ‘n Retreat het my nog altyd ontglip, miskien moet ek meer uitvind daaroor en so-iets ook bywoon. Jy maak die veld nou oop vir alles wat ek lees. Jou lewensverhaal klink interessant en ek brand om dit te lees. Ek wil weet wat is die verhaal binne die verhaal. Wie is die man op pad na die labirint? Jou metamorfose en verandering tot ‘n meer geïntegreerde mens roep om gelees te word.
Ek is bly dat ons paaie gekruis het, Estelle - dis nou al sowat 20 jaar sedert ons pikturale humor begin praat het en gou ook vriende geword het. Ek glo nie ek kan self weet hoeveel ons kreatiewe interaksie tot ons onderskeie groei bygedra het nie, maar ek glo jou boek sal verder tot myne bydra. Mag Kammawaarwêreld dan nog meer mense aanraak en tot hulle, en jou, ontwkkeling bydra.
My eerste indruk is dat skryf 'n pleister was. Dat dit toegeplak het en toegelaat het om gesond te raak. Namate ek met die skryfstuk in my agterkop geloop het, het ek egter eerder die beeld gekry van die skrywershand wat self verantwoordelik was vir die genesing. Dieselfde hand waaruit die woorde gevloei het (hetsy op papier of rekenaar) het homself diep in die grond ingegrawe. Diep - tot die vingernaels pikswart van die grond was. Maar nie begrawe nie. Die hand het die woorde soos saadjies in die gate gestrooi, die grond weer saggies teruggestoot en die individu toegelaat om terug te staan. Te rus. Waar te neem en in te neem. Tot die nuwe lewe weer bo die grond sigbaar was. As die roman die mini-artikel vergestalt sou ek sê dat dit by die leser moontlik die hoop laat dat heling ‘n proses is. Dinamies. Aanhoudend. Tot jy op ‘n dag die nuwe lewe sien.
Congratulations on your book, Estelle. Being published is inspired by such dreams and longing in those of us who write. Having witnessed a small part of your journey to this wonderful achievement, I am proud to say, "I knew her then ..." Your article is a thorough introduction to your journey and I hope your readers find the treasure you have created for them.
Ek het lekker gelees en kon met jou vereenselwig en wag nou (ongeduldig) vir die boek self! Jou reis is vir my verstaanbaar, logies en selfs effe bekend. Dalk omdat daar ooreenkomste met my eie reis is, maar vir seker omdat jy dit so gemaklik aanbied. Baie geluk en sterkte; ek glo dat die produk ook ‘n besondere ervaring sal wees.
Elke keer as ek iets soos dié van jou lees, ervaar ek jou as ‘n sielsmens, onderwyser en akademikus. Jy dwing my dikwels tot introspeksie wat my dan laat wonder hoe my storie sou lyk. Gaan ek so baie detail van my lewe kan onthou en watse blywende invloed het ek op mense gehad? Ek sien nietemin baie daarna uit om die boek te lees.
Estelle se akademiese loopbaan en gepaardgaande ondervinding en kennis bied ‘n interessante invalshoek op die ervaring van skryf in die algemeen, sowel as haar persoonlike ervaring van skryf.
Op hierdie ontdekkingsreis moes sy besluit word watter benadering gevolg sou word. My Kammawaarwêreld gee die indruk van, soos genoem word ‘n “fiksionele memoire”. Die skrywer se verhaal word deur die oë van Pippa vertel. ‘n Lewensreis ontvou en die stukkies van die legkaart word terugskouend gemeet en gepas. Soos om ‘n huis sonder plan te bou, word daar gemeet en gepas ten einde ‘n voltooide eindproduk daar te stel.
Uit die artikel blyk dit egter dat die kammawêreld nie grotendeels fiksioneel is nie, maar sterk outobiografies. Haar lewensverhaal word ’n storie. As leser kan dit verrykend wees om saam met haar die legkaartstukkies inmekaar te laat pas.
Hierdie mini-artikel het iets van ons twee se gedeelde verlede in my wakker gemaak: Dit was altyd vir my ‘n frustrasie met myself omdat niks wat ek gesê het, ‘n verandering in die wyse waarop Estelle oor haarself dink, kon meebring nie. En skielik besef ek hier hoekom sy altyd geskitter het, dis in haar naam: STER! Sy wou net nooit glo dat sy skitter nie. Maar ek besef dat sy deur ‘n lang proses geworstel en gegroei en ontwikkel het om self te besef dat sy haar naam IS! Sy het lank gewerk aan die woorde van haar lewenslied en nou het sy ook die wysie geleer.
Die lewe is ‘n kaleidoskoop van interessante mense en gebeure. ‘n Legkaart inderdaad. Maar ‘n driedimensionele legkaart. Elke mens het fasette gevorm deur sy grootwordtyd, gene, omstandighede, dinge buite sy beheer. Die woorde 'kind' en 'kindness' het nie goeie Afrikaanse vertalings nie. As daar meer 'kindness' teenoor hierdie Ster gegee is deur haar kinderjare, jongmenstyd en as volwassene, kon sy lankal die glans gesien het wat sy afgee.
Soms is dit onkunde en onbegrip wat maak dat mense 'unkind' is en optree. Ek is jammer dat hierdie Ster soveel 'unkindness' in haar lewe beleef het! Die positiewe is egter dat hierdie Ster soos ‘n feniks opgestaan het en haar nie laat onderkry het nie. Die blink het ook ‘n positiewe invloed op ander gehad.
Hierdie boek wil ek lees, om te sien hoe hierdie Ster haar woorde gevind het en besef het dat sy skitter!
As ek terugdink aan haar, onthou ek die sterk vrou op kampus in Potchefstroom en later op Stellenbosch, die vrou wat blerrie interessante dinge gedoen het op kampus en vry geleef het. Estelle weet hoe om 'n legkaartstuk te vat en sin van die prent te maak, sy is positief en het vreugde wanneer sy dit kan laat inpas waar dit die prent volledig maak. Sy is baie dapper en eerlik, soms rou eerlik oor van die legkaartstukke, die tye in haar lewe. Ek respekteer haar daarvoor. 'Jou karavaan se naam is nie Wanhoop nie.' Dít praat met my. Ek sien uit daarna om hierdie legkaart te kan lees.
Ek het waardering en bewondering dat Estelle hierdie boek geskryf het. Ek weet net dat sy oor baie jare die behoefte en drang het om die loop van haar lewenspad met ander te deel. So dankbaar saam met haar dat sy dit op hierdie besonderse manier kon doen. Ek staan steeds verstom oor haar vermoëns ...
Jy skryf so saggies en gentle, tog laat dit mens aanhou lees. Vir my was dit inspirerend, want dit het my laat voel dat ek my skryf afgeskeep het. Om te skryf help mens om bietjie uit die prentjie wat jy van jouself opgebou het weg te beweeg en van ‘n ander oogpunt te beskou. Ek sal nou weer begin … dankie daarvoor. Jou styl is ook poëties en die gebruik van woorde, soos skoenlapper, laat dit lekker klink, om dit te sien. Jy geniet ook die digters en skrywers soos John O’Donohue. Ek was gelukkig om jare gelede na hom te luister in Kaapstad.
Die mini-artikel gee 'n komplekse, eerlike en eg-menslike verduideliking van die proses van legkaart bou of skep – Estelle se metafoor vir die skryfproses. Hierdie “legkaart” gebruik verskillende stemme, ervarings, en veral lense, om betekenis te skep en ’n sinvolle eenheid te vorm. Die ontwikkeling van haar skryftalent word reflektief omskryf – sy begin by ‘n vertelling van haar lees- en skryfervaring op skool. As deel van die legkaart-bouproses vertel sy verder hoe haar ervaringe en opdragte as student haar voorberei het om later self deur verskillende ervarings as ‘n volwassene haar skryftalent te ontwikkel om haar storie te vertel. Hiermee kon sy as deel van die voltooiing van die legkaart uiting aan haar gevoelens gee en ‘n boek skryf. ‘n Intellektuele en sielkundige reis van ontdekking wat die leser aangryp, en waarde het vir leerders, studente en skrywers wat graag hulle reise wil dokumenteer.
Baie dankie vir die groot eer om jou artikel te mag lees! Wat 'n lewensreis, wow, wow, wow! Soos wat ek dit gelees het, kon ek dit nie help as om nuuskierig te raak. Ek sal graag jou boek wil lees en dalk self 'n paar dinge leer en toepas in my daaglikse klasomgewing en onderrigmetode. Jy was voorwaar nog altyd vir my 'n inspirasie en passievol oor jou werk en so kreatief in jou benadering van skryf en leer. Ek wens jou alle sterkte toe op jou nuwe boekreis, ek sal graag 'n eksemplaar wil besit.
Ek hou baie van Pippa, sy gee geloofwaardigheid aan Estelle se storie. Ook hou ek BAIE van die gedig oor die huis sonder 'n plan.
'n Moet-lees vir elke vrou wat die moed het om die legkaart van haar lewe te bou en so haar eie stem te vind. Ek hou BAIE van die gedig oor die huis sonder 'n plan. Ek verwonder my aan die sistematiese manier waarop jy dinge uiteensit. Dis duidelik dat jy 'n deurwinterde akademikus is, jy is ook werklik goed onderleg en mens kan duidelik die spoor volg van jou kreatiewe proses tot jy by die publikasie uitgekom het. Ek dink die artikel gee 'n baie duidelike prentjie van jou pad tot hier. Ek hoop die proses vorentoe verloop vir jou goed en opbouend. Mag jy groot vreugde ervaar wanneer jy die dag jou boek in jou hande hou.
My eerste indruk is dat skryf 'n pleister was. Dat dit toegeplak het en toegelaat het om gesond te raak. Namate ek met die skryfstuk in my agterkop geloop het, het ek egter eerder die beeld gekry van die skrywershand wat self verantwoordelik was vir die genesing. Dieselfde hand waaruit die woorde gevloei het (hetsy op papier of rekenaar) het homself diep in die grond ingegrawe. Diep - tot die vingernaels pikswart van die grond was. Maar nie begrawe nie. Die hand het die woorde soos saadjies in die gate gestrooi, die grond weer saggies teruggestoot en die individu toegelaat om terug te staan. Te rus. Waar te neem en in te neem. Tot die nuwe lewe weer bo die grond sigbaar was. As die roman die mini-artikel vergestalt, sou ek sê dat dit by die leser moontlik die hoop laat dat heling 'n proses is. Dinamies. Aanhoudend. Tot jy op 'n dag die nuwe lewe sien.
Ek begin om jou geluk te wens met die publikasie wat op pad is, 'n lieflike prestasie om uiteindelik jou skryfsels koherent en uitgewergewens te lewer. Die titel het my verbeelding aangegryp - Kammawaarwêreld. Heerlike nuwe woord om die filosofiese spel van waarheid en dichtung daar te stel. Dit is 'n keurig en duidelik geskryfde dokument.
Ek lees van jou belewenis en gevoelswêreld. Die wroeging en die vreugde, die bittersoet van die donker Switserse sjokolade. Dit wys die stryd van ma wees, vrou wees en 'n loopbaan te moet oopveg. Die magic en kreatiewe alternatiewe maniere waarop jy in jou skryfsels omgegaan het met jou kammawaarwreld
Ek sien die skitter van Estelleke wat skryf verander het van 'n goor stryd om myself uit te druk na die lollipop lekker lek aan woorde, Afrikaanse woorde ...
Lyk of hierdie boek baie gewild gaan wees! Mooi dag vir jou en wens vir jou 'n suksesvolle verkope van jou boek. Ek eer jou deursettingsvermoë en motivering.
Jy loop steeds 'n baie opwindende en energieke pad. Dit is net vir my wonderlik dat jy al hierdie rykdom nou vasgelê het in konkrete woorde en dat dit nou nie verlore sal gaan nie.
Ek kan onthou toe ek nog in Suid-Afrika gebly het en ons vriende was, dat jy al met die boek besig was en my stories vertel het van Pippa en die koning en koningin ens. Ek dink dis 'n mooi leeslusmaker – jy mag jou boek maar in die spotlight sit!
Al wat ek kan sê van die artikel: Sjoe! Wow! Diep en insiggewend. Jy kombineer jou kreatiewe en akademiese skryf uitstekend. Jy gaan beslis meer lesers kry met die artikel om die boek te lees. Jy dien ook as inspirasie vir my. Ek het begin waag om my verhaal neer te pen. Dit is in 'n embriofase. Met die lees van jou artikel het ek waardevolle wenke vir my verhaal opgetel. Ons dominee het 'n skryfgroep begin. Ek is deel van die groep, maar dit gaan maar moeilik met die groep. Ek wens jy was hier – om 'n paar werkswinkels aan te bied.
Baie geluk met jou boek wat op pad is! Ek kan my net voorstel hoe jy al die drade bymekaar kon bring en dit as 'n storie kon aanbied; of liewer die bousteentjies bymekaar kon bring! 'n Reusewerk van kophou, deurweef met die “waarheid bygelieg” in jou kreatiewe sfeer.
Ek het u artikel baie geniet en my nuuskierighied oor die metaroman is erg geprikkel. Êrens in my agterkop is daar steeds die droom van 'n kinderboek met my naam op die titelblad. Ek sien baie uit om weer die borrels van "Kruger-inspirasie" te voel pop soos u destyds gedoen het. Om saam met u die pad te loop van selfontdekking en insig. Vir my was u nog altyd die enigste dosent in my studiejare by wie ek nooit 'n klas WOU "bunk" nie.
Hier is veral twee dinge wat my getref het: Natuurlik weer jou taalvermoë. Jou moed om jouself so te bloot te stel aan mense wat jy (hopelik) kan vertrou. Verder my waardering dat jy die onding van paternalistiese gedrag so by die naam noem. Jy sê ook dat sommige mense baie kwaad geword het – ek neem aan dit is die mansgeslag wat nooit aan so iets onderwerp is nie en ook nie kan insien dat dit wonde veroorsaak wat nooit regtig genees nie.
Jou stuk het my beslis baie aangegryp. Jy is beslis 'n baie dapper vrou om ten spyte van jou ervaring as kind en jong vrou tog jou eie weg te baan en vandag 'n CV het waarop jy baie trots kan wees. Dis veral jou paragraaf oor metamorfose wat my so aangegryp het. So het ek ook my hele lewe gegee vir 'n man met sy ideale en om goeie skoondogter te wees.
Ek was vasgegryp en heel ingesluk deur hierdie voorsmakie. Van hierdie skrywer wil ek meer weet. Hierdie vrou wat gebreek is soveel keer en elke keer weer opgestaan het. Hierdie skrywer gee my moed, haar storie wil ek onthou en oordink wanneer die donker wolke saam pak. Ek dink jy’t net die regte balans tussen binnewêreld en buite handeling gevind. Ek het dit nou werklik geniet om te lees en ek is baie nuuskierig oor elke hoofstuk. Daai bliksempies wat die laaste blokkie wegsteek!! Ek sweer hulle word almal gebore met daai slinksheid! Dank die vader vir die mans waar jy jouself kan wees en wat jou aanmoedig om te blom. As dit nie vir hulle was nie, sou ons glo dat die XY-chromosoon binding die formule van 'n monster is. Dankie dat ek saam met jou die paadjie kon stap, ek’t dit baie geniet. So lekker om jou weer in al jou volheid te ervaar. Jy’t nog altyd met oorgawe gegee. Later sal ek miskien kuier saam met my vriende en ons sal gesels oor werk of skryf of kuns en dan sal ek hulle vertel van hierdie interaksie met jou en dit sal weer 'n saadjie plant by een van hulle wat later sal ontkiem en groei en so sal die kennis en wysheid voort vloei. Wonderlik, né?
As iemand vir wie dit baie belangrik is om bewus te wees van wat binne in my lyf en kop aangaan is dit vir my ongelooflik lekker om te sien hoe jy nie terug gestaan het vir leer op soveel verskillende vlakke en metodes nie. Dis so maklik om iets wat ongemaklik is te vermy, maar dit is daar waar die groei lê. Partykeer fluister dit saggies en moet jy stilte hê om te kan luister en partykeer ontplof dit in jou kop en partykeer vat dit ’n baie lang tyd voor jy dit prentjie raaksien. Ek kan so duidelik jou ervaring oor die jare met die mengelmoes van lesse sien in jou mini artikel. Dit is voorwaar ongelooflik! Jou jare en ondervinding in akademia kom nie net deur in die feite nie maar ook in die ritme van die lees ... Ek sou so graag meer van sprokie en verhaal wil lees. Baie sterkte met die volgende stappe van hierdie ongelooflike reis waarmee jy tans besig is.
Jou mini-artikel kom nuut en helder oor, alhoewel mens besef nie naastenby die helfte is vertel nie en dat mens die boek sal moet koop en jou daarin sal ontmoet. Die boekomslag is treffend – dit sal lesers van die eerste aanblik af boei. Mooiste, beste wense vir jou en die suksespad van jou boek. Die voorsmaak van jou boek soos jy dit op narratiewe wyse vir jou leser aanbied, laat die indruk dat die leser graag meer sal wil weet van die detail, dat mens graag die hele boek en die hele reis saam met jou sal wil meemaak en geniet. Omdat jy buitengewone en diverse ervaring het van skryf, beloof die boek ’n leeservaring wat ook ander in hulle skryfwerk sal kan aanmoedig. Dis ’n boek wat vir die breë leserspubliek baie kan beteken - in hulle verstaan van hoe jou lewe en skryfwerk ineenvloei en hoe hulle eie hunkering tot uitdrukking in taal kan realiseer en ontwikkel.
By die lees van die mini-artikel is dit duidelik dat dit ’n baie sensitiewe persoon is wat haar hand gewaag het aan die skryf van ’n boek. Uit die legkaart-refleksie kan ’n mens aflei dit was ’n baie bevrydende oefening en baie ervarings (traumaties sowel as vreugdevol) het gelei tot uitsonderlike emosionele rypheid. Dit was ’n reis na selfinsig en selfwaardering.
Die skryf van die boek moes baie dapperheid geverg het, want ’n groot mate van eerlikheid en openhartigheid teenoor die self sou nodig wees. Dit was ook daarom ’n uitstekende plan om die boek as ’n metaroman gestalte te laat kry.
Ek sien uit daarna om die lewensreis na selfontdekking en selfwaardering mee te maak as ek die boek Kammawaarwêreld self lees. Ek is seker die boek sal baie beteken vir mense wat ook trauma ervaar het in ’n chauvinistiese leefwêreld vol verstokte sienings en wat as kind en jongmens nie waardering en respek beleef het nie.
This is a wonderful gift. I love your uniquely, creative technique. I am thrilled by the teaser, bit by precious bit.
Dit is sulke fantastiese nuus! Dis absoluut wonderlik as ‘n mens se drome bewaarheid word. Jy verdien dit en ek glo jy gaan elke oomblik geniet. (Michele)
Dankie vir jou skitterende artikel. Wat 'n unieke, verrassende, vars, oorspronklike, subtiele manier om 'n mens se ontwikkelingsgang as outeur te beskryf. Inderdaad 'n medemenslike reis van erkentlik ontvang en vrygewig gee. Ek het nog nooit iets vergelykbaar hiermee gelees nie. Watter juweel rus nie agter die pragtige woorde nie: 'n absoluut outentieke mens, wat bokant alles uitgekom het en ten volle blom. Met die lees het my waardering vir die outeur as mens net toegeneem. Jy verteenwoordig die edelste in menswees, en dit is 'n voorreg om jou as medepelgrim, geesgenoot, te ken. Besef asseblief jou waarde. Ek sien uit na die verskyning van jou boek.
Hoe lekker was dit nou nie om 'n bietjie meer van jou te leer ken. Baie interessant.
So lekker om dit hier te lees nadat ons die lees-en-weer-lees-proses so saam-saam deurgegaan het. Ek voel geëerd, en bestel die boek direk deur jou. Dan moet ons plan maak om mekaar in lewende lywe te ontmoet ook.