Mooi Annie – die spieël in my raaisel

  • 10

“Beauty is truth’s smile when she beholds her own face in a perfect mirror.”

(Rabindranath Tagore)

Mooi Annie[1] – die spieël in my raaisel[2]

-o0o-

Liewe Ma

’n Mens kan al meer van jou ouers in jouself herken soos jy ouer word.[3] Ek is besig om al hoe meer myself te word soos ek myself in jou herken, my Ma.

Snaaks dat my kinders vir my ’n hele paar verskillende aanspreekvorme het:

  • Soms is ek my Mammie (wat ek geword het toe Ian by ’n skoolverlaterskamp vir my ’n troetelnaam moes uitdink, ook Estelle met ’n teer stemtoon);
  • ander kere is dit Mams, Moeks, en selfs Moeksiedermpie (Marijke se liefdesname);
  • vir Anika is ek Moeder, Ma en my Ma en deesdae liewe Mamma;
  • die twee meisies het geleer om soos Ian sommer soms ook vir my Estelle te sê;
  • Ian se vrou Marthie noem my Mamsie.

Marthie en Ian

Vir my was Ma egter altyd net Ma. Ek het nooit vir Ma “u” gesê nie, en nou dat Ma nie meer saam met ons hier in die ondermaanse is nie, het ek maar begin om te “jy” en “jou”. Ek hoop dis vir Ma OK.

Die laaste tyd het ek nogal baie herinneringe aan Ma, miskien omdat dit onlangs jou verjaarsdag sou wees. Op Madiba se verjaarsdag onthou ek hoe jy ná 1994 vriendelik gespot en gesê het dat jy en hy van dieselfde werpsel in die Oos-Kaap afkomstig is (1918 gebore) – dalk saam in die hospitaal was, dalk selfs saam geslaap het!

Annie Sadie

Verlede naweek het dit hier in Stellenbosch so stil en aanhoudend gereën en ek het daaraan gedink dat Ma altyd – toe ek ’n klein dogtertjie in Johannesburg was – wanneer dit so sag reën sonder ophou, verlangend by die venster uitgekyk het en gesê het dis “geelperskereën”. Eers later, toe ek groter raak en meer besef kry van oorsaak en gevolg, het ek begin verstaan dat dít die tyd in die somer was wanneer ’n mens op die winkelrakke begin uitkyk vir die geel rondebolperskes waaraan ‘n mens so lánk eet omdat jy bang is die soet, geurige smaak gaan opraak. Ek kan my indink dat die plaasmeisie in jou verlang het na ryp vrugteboorde en oorvloed in ’n vorige lewe.

Nou, ná tien jaar in die Kaap, weet ek nog nie altyd waarna om te verlang as dit so sag en aanhoudend reën nie – dalk die blitse en donderslae van Johannesburg waar ons grootgeword het, ’n kaggelvuur met sjerrie en sop. Die volgende dae se wolke-uitspansel wat deur iemand met ’n verfkwas en wit verf sierlik opgetooi is in ragfyn cirruswolke, was toe my verrassing. Ek verlang na pannekoek wat jy vir ons gebak het op sulke reëndae, ’n tradisie wat ek weer vir my kinders voortgesit het. Maar nou het ek niemand vir wie ek kan pannekoek bak nie en ’n mens doen dit nie net vir jouself as jy alleen is nie.

Ma Annie Sadie met Estelle, Erna en Fanie

Wat ek van jou leer ken en moes leer waardeer het, Moeder, was jou sin vir humor. Eers kon ek dit nie verdra nie want jy en my sus het altyd grappies gedeel waarvan ek uitgesluit gevoel het – humor met seksuele ondertone wat my geïrriteer het, selfs met ’n gevoel van afsku gelaat het. Sou dit te make gehad het met die ooms wat by ons geloseer het, of was dit skaamte oor my eie vroulikheid en ’n ontluikende skuldgevoel oor ons kinders se wilde eskapades?

Op ’n keer het ek saam met jou gekuier by jou ouer sus Tannie Martie, wat vir ons eiers met die trein gestuur het toe ons kinders was, seker om te help toe jy dit maar swaar gehad het met ’n geskeide man wat nie onderhoud betaal nie, en vier kinders met loopneuse en honger magies. Eintlik wou ek hier skryf oor jou en Tannie Martie se kwinkslae wat ons almal aan die lag gehad het met trane in ons oë.

In die laaste jare toe jy in die ouetehuis gewoon het, het ek op ’n dag vir iemand (in jou teenwoordigheid) vertel hoe besig jy is – hierdie tannie se biblioteekboek wat jy gaan omruil, daardie oom se vleis wat jy sny aan etenstafel, nog ’n tannie vir wie jy vrugte gaan koop. En jy het skalks gevra: “En wat van die oom wie se rug ek was?”

Hierdie gebeurtenisse het my laat verstaan waar Ian se droë en skerp humor vandaan kom. Ek het wel jou lag-gene oorgedra na hom. Ironies genoeg word “die gebruik van humor-materiaal in die onderrig van Afrikaans” toe die onderwerp van my doktorsgraad se tesis – iets wat ek beslis nie vroeër sou kon voorspel het nie.

’n Deel van my verwerping van jou humor was dat ek die slagoffer daarvan gevoel het toe ek nog baie klein was, dalk so vyf jaar oud. Ek het op my arms aan die slaap geraak by die tafel en jou woorde was: “Is my ou nursie nou moeg?” Ek het nie jou vertedering gesnap nie. Vir my was dit ’n vernedering dat jy nie dankbaar was dat ek jou so help om jou twee kleiner kinders groot te maak nie.

Ek moes dikwels alleen die twee kleintjies oppas – seker wanneer Ma vir ons Ouboet gaan kuier het in die hospitaal. Een keer het ons per ongeluk uitgesluit geraak (dit was seker my fout) en dit het erg begin reën. Die drie ou menshoendertjies het gestaan en bibber op die stoep terwyl hulle al natter geword het. Gelukkig het ’n buurvrou ons kom haal en by haar verwarmer (of dalk ’n kaggel?) laat droog word.

Jy het my dikwels jou staatmaker genoem, dalk om jou waardering uit te druk. Jou ster! Woorde wat ek geleer het om te haat omdat dit my te veel belaai het met verwagting in plaas van agting. Woorde wat my nie gehelp het toe ek emosioneel ineengestort het in my eensaamheid van uitbranding nie...

’n Ystervrou knak
skarniere roes, kort olie,
voete steeds van klei
Verskietende ster
’n veiligheidsrisiko
vir kykers: wens, hoop

(estelleke)

Dit was die tyd dat ek geleer het dat my eie behoeftes nie baie aandag kan kry nie, want daar was drie ander kinders wie se behoeftes meer ernstig was: Eerstens was daar ons ouer boetie wat vir twee jaar in die hospitaal was as gevolg van ‘n verbrokkeling van sy heupe, en gereeld deur Ma besoek moes word, meestal per trein en bus want ons het nooit self ’n kar besit nie. Tweedens was daar my sussie wat vir ewig (so het dit vir my gevoel, dalk ook vir haar) in gips aan haar linkervoet was en altyd soos ’n eekhorinkie agter my aan gehobbel het – ’n regte stertjie. En dan was daar ons kleinboet wat as koliek-baba sommer so vir niks en vir alles met ’n geblêr aan die huil kon gaan.

Regverdig en as grootmens gesien – wat nou met ander oë kan kyk en myself in ander skoene kan indink – wonder ek of Ouboet dalk op sy beurt weer op my afgunstig was omdat ek tuis en vry kan wees terwyl hy in traksie moet lê. Dalk het my jonger sussie weer gewens sy kon meer mobiel wees soos ek en rondhardloop en klouter saam met die seuns. En wie kan ’n sensitiewe baba sy trane verwyt, wie se ma haar dae om gehuil het toe hy nog in die baarmoeder was, terwyl die pa sy vaderskap ontken het?

Nog iets wat ek dikwels aan dink, is alhoewel jy van my verwag het om jou te help om die twee jonger kinders op te pas, het jy (onbewustelik) al drie my kinders versorg toe hulle klein was. Dit het my in staat gestel om ’n loopbaan te hê, selfs ook in Louis Trichardt by ons huis met die groen dak, groen vensterrame en ’n erkervenster.

Ek is jammer, Mamma, dat ek jou kwalik geneem het vir my kleintyd en ek is bly dat jy my drie kinders kon leer ken. Hulle, vir wie ek alleen moes grootmaak in hulle tienerjare sonder onderhoud van hulle pa, toe ek genoop was om in die hoërskoolkoshuis te woon om genoeg geld te hê om te oorleef – ook hier het ek in jou voetspore geloop...

Marijke, Ian en Anika

-o0o-

Toe trou jy met jou neef, ons stiefpa – ’n goeie en godvresende man wat vir jou lief was en jou en die kinders finansieel versorg het, want ons bloedpa het nie sy deel gedoen om ons te onderhou nie.

Ongelukkig het hy dit moeilik gevind om hierdie (vir hom) vreemde kinders te dissiplineer. Al waarvan hy geweet het, is lyfstraf met sy belt. Een keer het hy my – toe ek al ’n tienermeisie was en waarskynlik nie meer met die belt kon gedissiplineer word nie – met sy vuiste geslaan. My Ouboet het vir my opgestaan en gedreig dat hy sý vuiste sal gebruik om my te beskerm. Om twee redes was hierdie situasie vir my betekenisvol – dat ek verneder is; ook dat dit in my lewe die enigste persoon is wat vir my opgestaan het.

Ouboet en Estelle

Snelsonnet:  1952

Het jy gewens toe jy langs Ouboet sit
dat hy sy arms lank nog om jou hou,
kaptein word en met elke avontuur
jou lei om te ontdek en leef met vuur
so veilig in omhelsing van ’n man?
Het jy kon droom van wat jý alles kan?

Dit was vir my, amper-tiener, moeilik om te verstaan hoe jy – wat so sag van geaardheid was – hierdie man se woede en geweld kon hanteer, want jy het nooit vir ons ingetree nie. Selfs nie wanneer ek as meisie dieselfde pakslae met sy belt as die seuns gekry het nie. Dalk wou jy uit respek en onderdanigheid terugtree. Noudat ek self ’n ouer is, weet ek dat ’n mens as ma dikwels in die middel moet staan en nie kant kan kies wanneer dit onmoontlik is om te bemiddel nie. Ek besef ook dat dit vir ons stiefpa ’n uitdaging moes wees om vier kinders wat nie uit sy lendene gekom het nie, te help grootmaak...

Ons stiefpa was baie fundamentalisties in die uitvoering van sy pligte as ouderling en het – wanneer hy moes gaan huisbesoek doen – altyd op sy knieë gebid voor julle bed toe gegaan het. Ek vermoed sy gebede was vir die ontmoeting van die mense in sy wyk. Tog het ek gewonder of hy ooit vir ons ook gebid het, behalwe sy rigiede gebede tydens Boekevat saans ná ete.

Hy het net Psalms op sy viool gespeel en hy het dit nie toegelaat dat ek op Sondae iets anders op die klavier speel as Psalms nie. Hy was bitter ontsteld toe ek en my liewe jeugvriendin Una – wat oorkant ons gewoon het – lustig saam geoefen het om by hulle plaaslike NG Kerk op ’n Sondag ’n duet van Beethoven se Minuet in G op die klavier te speel vir ’n sosiale geleentheid aldaar.

Estelle en Una

Tog het ek soms gehoor dat hy, waarskynlik onbewus daarvan, wysies van my klavierstukke wat ek geoefen en gespeel het, geloop en neurie het. Dit was seker ’n riem onder jou hart om te sien hoe – toe ek gaan studeer het in Potchefstroom en ’n grootmens geword het – ons verhouding werklik radikaal-positief verander het. Dit het vir my gevoel of hy my as mens aanvaar en ek kon hom vergewe vir ons twee se verlede.

Nog ’n herinnering van ons stiefpa met dankbaarheid in my hart, was die feit dat sy werk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë ons toegelaat het om gratis met die trein te ry op langafstande. In samewerking met die ATKV was daar geleenthede vir kinders om in hulle standerd 5-jaar na Hartenbos te gaan. Ek en Ouboet het onderskeidelik hierdie kans gehad om die see vir die eerste keer te sien en ’n kamp aldaar te belewe. Dit moes jou hart bly gemaak het, want andersins was dit te duur.

Ons stiefpa het homself geleer hekel terwyl hy dikwels gesit het waar jou en sy ander niggies saans gesit en gesels het terwyl die kleinneefs en -niggies in die strate speel. Hy het dit as ongemanierd beskou om te lees in gesprekke (want dit het hy graag gedoen) en toe leer hy homself om te hekel. Later het hy my ook leer hekel en ek kon al sy boeke met hekelpatrone en -naalde erf. Hierdie hele kosbare situasie het my hart skoongemaak en dit was ’n voorreg vir my dat hy my as my pa (Pa Sarel) die kerk ingebring het toe ek getrou het – ’n kosbare herinnering.

Ek wou myself stukkend huil toe ek hoor dat hy oorlede is. Ons het aan die einde van sy lewe baie aangename gesprekke gehad, soos vriende...

Sarel en Annie Venter en die vier Sadie-kinders

Nou die dag luister ek na die musiek op ’n kasset wat ek vir jou gemaak het toe jy in die ouetehuis gebly het – opnames deur beroemde pianiste van klavierstukke wat ek vroeër vir jou gespeel en nou nie meer kon nie, want jy bly in ’n kamertjie en ek het opgehou klavier speel omdat ek nie meer ’n gehoor gehad het vandat ek jou huis verlaat het nie. Ook ander musiek en liedere waarvan ons albei gehou het, meestal klassieke musiek. Spesifiek was daar die laaste liedjie wat ek sommer gelaai het om die band vol te maak – een van Foster en Allen s’n, naamlik “Gentle Annie”. Toe is daar nie genoeg plek vir die hele lied nie en ek het dit so geleidelik laat sagter word en wegraak. Behalwe dat jy hierdie hele kasset baie geniet het, was jou reaksie dat jy eendag graag so stil sou wou wegraak. Hierdie wens van jou het waar geword teen die einde. Stil is jy in jou slaap weg. Ek hoop my wens oor my dood word ook waar.

Ek begin dink dat jou luister na my uitvoerings op klavier in jou sitkamer vir my ’n aptyt gegee het om ’n gehoor te hê, wat ek in my toekomstige lewe nie gevind het nie. Dit is wat my studente uiteindelik vir my was terwyl ek figuurlik simfonieë, sonates en rapsodieë geskep het met my vernuwende onderrig- en leergeleenthede met hulle. Vandag ken almal my vir my kreatiwiteit. Ook dit kom van jou af en ek het ook by Ouboet geleer om te doen en te maak. Ek kan as volwassene goed onthou hoe jy altyd planne moes beraam om van die min wat jy gehad het, iets te maak sodat ons almal kon oorleef.

Ek wonder dikwels hoe jy gevoel het toe ek in my standerd 7-jaar kontak met my eie pa gemaak het, want jy het geen emosie daaroor gewys nie. Ek wou by hom raad kry oor watter van my musiekstukke – “Maanlig” Sonate van Beethoven of Minuet in G van Paderewski – ek kan speel in ’n konsert vir die Organisasie vir Blindes (soos dit destyds bekend gestaan het) in ons omgewing. Sy aanbeveling was laasgenoemde omdat dit lewendig is, terwyl Beethoven se stuk te rustig sou wees vir ’n konsert. In dieselfde getikte brief wat hy vir my as respons gestuur het, het hy ’n treinkaartjie gestuur om by hom en sy nuwe vrou en hulle gesin te gaan kuier in Despatch. Wat ek wel weet van hoe jy gevoel het, was toe my pa aandring daarop dat ek by hulle gaan woon omdat hy ongemaklik daarmee voel dat ek hom “Pa” noem, terwyl die mense in sy omgewing nie wis dat hy ’n ander gesin gehad het nie... Jy was nie geneë daarmee nie omdat dit jy was wat my grootgemaak en versorg het, en ek moes dit vir hom vertel toe ek daar gekuier het. Vir my was dit ’n moeilike besluit wat my hartseer gemaak het. Ons kontak is vir ’n ruk lank verbreek, soos ook my tienerhart gebreek gevoel het, want hier was dit my beurt om in die middel te staan. Dit was iets wat ek nie kon doen nie – om te kies tussen die twee mense wat my in die wêreld gestuur het. Later kon ek wel weer die kontak hernu toe ek getrou het.

Frans Sadie

ek: ’n geraamte
in jou kas van bitterheid;
jy: ’n vreemdeling

ek deel jou gene,
jy bruis briljant deur my bloed

wens ek kon jou ken

(estelleke)

Ek het pas ’n werksessie vir onderwysers in Worcester aangebied, my pa se dorp waar hy grootgeword het in die Skool vir Blindes (vorige benaming). Die dorp waarvoor ek al hoe liewer word, die dorp in die Wynland met sy berge en ongewoon-mooi sonsondergange oor die pieke – iets wat my pa seker nooit self kon sien nie. Toe ek bedank word vir my aanbieding het die organiseerder ’n opmerking gemaak dat ek altyd so op ’n “gentle” manier praat en nuwe idees bring. Het ek ook dit alles by jou geërf, Gentle Annie?

Jy het so baie opgeoffer sodat ek kon leer om klavier te speel en in kore kon sing. Al het dit nie vir my ’n loopbaan of kreatiewe uiting geword nie, het dit my tog toegerus om hierdie musikale gene by my Anika-kind te laat ontwikkel. Ek het onlangs met jou oorlewende jonger sus Tannie Petro gesels en by haar gehoor dat jy die een is wat haar met jou karige salaris laat klavierles neem het nog voordat jy getrou het.

Anika

Ook het jy vir Anika geleer hoe om te harmonieer, want dit kon jy goed doen. Behalwe hierdie talent het jy jouself ook geleer om op gehoor klavier te speel en jy het ons as gesin soms op die klavier begelei as ons saans met Boekevat Psalms gesing het. As ek aan Anika se musiektalent dink, weet ek dat ek tot dusver altyd vermoed het dit kom van haar oupa af, maar soos wat ek nou vir jou skryf, besef ek ’n hele lot het ook van jou kant af gekom.

Dalk het jy met trots (en met verlange na die eerste man van jou hart) toegesien hoe ek deel was van die stadskoor wat Händel se “Halleluja”-koor in die stadsaal uitgevoer het. Ook toe TRUK by ons skool kom soek vir standerd 6-kinders om te sing in hul opvoering van “La Bohème” en ek saam met enkele ander leerders gekies is om deel daarvan te wees, nadat daar uitgebreide oudisies was. Aand na aand en naweek vir naweek het ons stad toe gegaan om te oefen. Hoe het jy dit bekostig dat ek daar kon kom? Ek kan net onthou van een middag wat die skoolhoof ons met sy bussie by ons huise afgelaai het. Andersins moes jy seker maar weer jou beursie rek. En ons het nooit ’n motor gehad nie. Dankie, Moeder.

Dit laat my ook verstaan hoe jy op my pa met al sy musikaliteit, sy wonderlike sangstem en musiekkennis kon verlief raak. En jy het gehelp dat ek ’n liefde vir klassieke musiek ontwikkel, iets wat my blinde pa seker vir jou as plaasmeisie geleer geniet het soos wat julle mekaar beter leer ken het.

Marijke en Rolf by Mooi Annie en Estelle

Kort voordat ons jou vir die laaste keer gesien het, wou my Marijke eendag by jou weet – net voor haar troudag – wat die gelukkigste oomblik in jou lewe was. Jou antwoord het sonder aarseling gekom: “Toe ek en jou oupa verlief was en piekniek gehou het in die veld, en hy met sy kop op my skoot gelê het terwyl ek met my vingers deur sy digte bos hare kon speel.” Ek kan nie help nie om jou te beny en te wens dat ek met my kop op iemand wat my aanbid of bewonder se skoot kan lê, wat met my digte bos grys hare speel, of andersom.

Frans en Annie Sadie

Vergewe my, Mams, ek het nie geweet wat ek doen toe ek geoordeel het en vir jou gesê het jy het hom nie regtig liefgehad nie en dat jy bloot jammer vir hom was omdat hy blind was. Vergewe my hierdie stompsinnigheid en beterweterigheid.

Jy was ’n boerenooi uit die Oos-Kaap en ek kon nooit agterkom dat jy – soos baie van jou tydgenote – steeds aangehou het om die Anglo-Boereoorlog te veg en die Engelse te haat nie. Daarom sal jy my seker verskoon as ek ’n Engelse aanhaling gebruik om met jou te praat oor hoe jy deur jou voorbeeld my diensbaarheid ontwikkel het. George Bernard Shaw het geskryf:

“The only service a friend [lees: mother] can really render is to keep your courage by holding up to you a mirror in which you can see a noble image of yourself.”

Mooi Annie

-o0o-

Jy het altyd vir ander mense in die gemeenskap gesorg ten spyte van jou karige bestaan. Ek onthou hoe ons altyd kos moes neem namens jou vir die Buys-gesin. En week vir week het ons koeksisters gebak om geld in te samel vir die gemeente waaraan ons behoort het. Hierdie mededeelsaamheid en barmhartigheid het jy (onwetend, en deur my) aan my Marijke-kind oorgedra. Sy woon nou in Switserland en help oral waar sy kan. Dit het my ook voorberei daarop om op die uitkyk te wees vir ander se behoeftes, om deel te neem aan vrywilligerswerk in die verskillende samelewings waarvan ek deel was – eers was dit die kerk se jeugvereniging, toe die studentelewe, daarna die sustersverenigings by die verskillende gemeentes waar ek predikantsvrou en “gewone” lidmaat was. Later ook berading by Lifeline in Pietermaritzburg en groepsfasilitering by uitreikgeleenthede vir die jeug, soos L’Abri, Bridge Building Encounters van Africa Enterprise en die Christelike Maatskaplike Raad se opleiding van jeugleiers. Hierdie sosiale gewete wat ek so te sê saam met moedersmelk ingekry het, het gemaak dat ek oral enige vrywilligersorganisasie se droom geword het – (soos jy) intens-betrokke en altyd vol idees, met besondere energie en toewyding.

Ek dink jy het hierdeur gehelp om my dapper te maak. Saam hiermee, en so sonder jou medewete het ook die leuse van ons laerskool “Geduld en moed” beslis boustene gelê vir my volwasse lewe. Nou, terwyl ek self oud word, Moeder, het ek moed nodig om aan te gaan, om dapper te wees. Die spreekwoord sê ’n mens kan nie dapper wees as jy nie weet jy is bang nie. En ek is bang, omdat ek nie meer weet waarmee om myself besig te hou terwyl die dae so lank en leeg is nie. Ek het my brood uitgewerp op die water en kan net hoop dat ek die vertroue sal kry om te glo dat dit ná baie dae se verby wees, weer na my toe sal terugkom.

In my akademiese loopbaan was ek baie bewus daarvan dat ek my pa se briljante gene uitgeleef het. In my eie verbrokkelende huwelik het ek ook vroeg agtergekom dat sy befoeterde temperament hier kop uitgesteek het. Maar wat ek van jou geërf het, kon ek nie toe weet nie.

Toe ek onlangs van die meeste van my besittings moes ontslae raak, het ek afgekom op briewe wat ek vir jou geskryf het vandat ek by die universiteit gewerk het. En ek sien dat ek jou as “Moeder” aangespreek het, maar ek het nie gedink jy verstaan iets van my werk nie. Ek het vir die soveelste maal gewonder of jy ooit trots was op my, die hoofmeisie, my goeie punte in die laerskool en my suksesvolle loopbaan? Toe ek dit eenkeer vir jou gevra het, was jou antwoord: “Natuurlik is ek trots op jou, ek wou net keer dat jou kop groot word.” En nou het ek ’n groot kop, Ma, en ek wens jy kon my hiermee help – nou dat ek afgetree het en nie meer die bewondering van my studente het nie.

Toe ek afgetree het en self in ’n kamertjie gewoon het wat net sowel ‘n karavaan kon wees, leer ek om jou eenvoud te waardeer. Toe het ek genadebrood geëet soos jy in jou laaste dae, en ek wens dat Kahlil Gibran se woorde vir my kan betekenis hê:

“A man’s true wealth is the good he does in the world. Beauty is eternity gazing at itself in a mirror. But you are eternity and you are the mirror.”

Een van my kosbaarste herinneringe is van die dag toe ons jou kamer opgeruim het nadat jy hemel toe is – ons vier kinders en ons dierbare skoonsussies. En ons het so heerlik geskaterlag omdat ons in elke laai Cherrols en ’n pakkie vuurhoutjies gevind het – ons kon wel raai wat die rede hiervoor was. Een skoonsus wou later benoud weet: “Wat sou Ma nou dink as sy ons so sien lag?” Dadelik het een van ons geantwoord: “Sy sal saam lag.”

En deesdae lag ek dikwels sommer baie lekker, uit-my-maag-uit-lekker, en ander kere kan ek ook nogal giggel soos ’n tiener. Dit voel vir my ek word uiteindelik groot.

Gedagtes wat in my kop maal, is die herinnering aan die laaste lied wat ek aan jou opgedra het toe ons jou graf toe dra – ’n verwerking deur Hans du Plessis in sy bundel oor Griekwapsalms en ander gedigte (LAPA 2001). Ek het geweet jy sou dit geniet, want Psalm 84 was jou gunstelinglied in die Psalmboek en ek het hiermee hulde gebring aan jou humor.

Jirre, hoe lieflik is U se heilige hys,
ek wil vi U nou net da gat prys.
Ek wil self nou seintoe gaan
en voor U se deer loop staan.
Ek raak in my hart in bang,
Jirre, vir hierie groot velang.

(Innie skylte vannie Jirre, bl 23)

Mooi Annie met haar vier kinders

Jy het ons fisies verlaat, Moeder, maar jy is altyd hier in my drome, herinneringe en gene. Ons as kinders herdenk elke jaar jou verjaarsdag – dit was die laaste dag dat ons almal bymekaar was. En ek is so bly dat jy op jou oudag vir dierbare Oom Pietman ontmoet het wat vir jou baie liefde gegee het totdat jy stil weggegaan het.

In die spieël van jou skoonheid sien ek myself. Ek glimlag skeef en onseker, trots daarop dat jy my ma is, Mooi Annie.

’n wit angelier
na woedende weer en wind
fier, regop: vaarwel

Epiloog

’n Pryslied (op die wysie van ’n pantoen) vir my ma (23 Junie 1918–2001)

’n Boerenooi uit die Oos-Kaap: Mooi Annie
Met haar kreatiwiteit kry sy dit reg om te leef met min
Haar sin vir humor dra haar deur die pyn van menswees
Drie mans wat sy liefhet en met wie sy haar lewe deel

Met haar kreatiwiteit kry sy dit reg om te leef met min
Blinde Frans, haar eerste liefde, leer haar om klassieke musiek lief te hê
Drie mans wat sy liefhet en met wie sy haar lewe deel
’n Groot en warm hart wat altyd kan omgee vir haar medemens

Blinde Frans, haar eerste liefde, leer haar om klassieke musiek lief te hê
Pa Sarel versorg en help haar om haar vier kinders groot te maak
’n Groot en warm hart wat altyd kan omgee vir haar medemens
Sagsinnige Pietman deel met haar diep gesels en boeke in haar laaste dae

Pa Sarel versorg en help haar om haar vier kinders groot te maak
Haar sin vir humor dra haar deur die pyn van menswees
Sagsinnige Pietman deel met haar diep gesels en boeke in haar laaste dae
’n Boerenooi uit die Oos-Kaap: Mooi Annie

© Estelle Kruger, 2022

Eindnotas:

[1] Die bynaam wat Ma gekry het in die laaste vyftien jaar van jou lewe toe jy in die ouetehuis in Johannesburg gewoon het.

[2] Verwysing na 1 Korinthiërs 13:11–12. Om nie meer soos ’n kind te praat, dink en redeneer nie. Om dinge te sien soos dit werklik is en nie meer net in ’n spieël te kyk nie.

[3] Etienne van Heerden, bladsy 293 in Kikoejoe. Kaapstad: Tafelberg.

  • 10

Kommentaar

  • So mooi geskryf, al die wel en wee in jou lewe, ontroerend. Van sekere dinge het ek geweet en beleef in die jare waar ons paaie gekruis het. Jou Ma Annie was 'n lieflike vrou, altyd 'n glimlag op haar gesig en sy kon heerlik lag! Dankie dat jy jou lewe so liefdevol gedeel het, Estelle.

  • Janine Oosthuizen

    Elke keer wanneer ek iets uit Estelle se pen lees, besef ek hoe 'n besonders en begaafde skrywer sy is. Haar skrywes gee mens 'n kykie in haar lewenspad wat 'n mens nooit sou kon dink as jy haar so sien nie. Indrukwekkend.🤗

  • Hanna Fouché

    So mooi, liewe Estelle, ek sien jou ma en tannie Marthie in my geestesoog en ervaar 'n groot deel van ons studentejare, pragtig geskryf.

  • Theunis Oosthuizen

    Baie goed gedoen, ek hou van die raaisel wat duidelik geword het deur mooi Annie se karakter wat in die volmaakte spieël waarneembaar geword het. Die innerlikke mooi van 'n mens waarna so baie smag en nooit by uitkom nie. Sterkte op jou pad, Moeksiedermpie!

  • Ag, hoe lekker om jou gedagtes en herinneringe te deel, Mams. Dankie vir jou versoek dat ek dit lees. Dit was heerlik. Ek het vergeet dat Ouma vertel het van die piekniek - ek kon net onthou van die verliefdestyd.

  • Una Seyffertn

    Liewe kleintyd-beste-maatjie,
    Hierdie was vir my ’n lieflike openbaring van jou menswees vandat ons as klein kindertjies altyd onafskeidbaar was. Ek kon nooit wág om by jou te gaan speel nie.
    Weet nie of jy kan onthou dat my ma nooit wou toelaat dat kinders lank by my speel, of ek lank daar speel nie.
    Maar weet net: ek het élke oomblik gekoester en baie geniet.
    Ek kon nie wag as jou mooi Annie-mamma beskuit gebak het nie, en ek het geëet dat my maag pyn.
    My ma het geglo ons moet net groente en vrugte vir versnaperinge eet ... dié dat ek myself so vergryp het!
    Ek onthou ook daardie boomhuis op julle sypaadjie – waarin ons vir ure heerlik kon sit en speel.
    Die seuntjie-karretjies waarmee ons agter in julle erf gespeel het en waarvoor ons modderpaaie gebou het was my béste speelgoed ooit. Ek het gelééf daarvoor om daar te speel (in ons huis was net dogtertjie-speelgoed).
    Héérlik vir my gewees om hierdie baie jare gelede se herinneringe nou weer saam met jou te kon beleef, want ek onthou élke ene.
    Dankie dat ek kon deel wees daarvan.
    Liefdegroete
    Una

  • Karin Mostert

    Estelleke

    So mooi, so kosbaar om die sirkel van verstaan te begin voltooi. Dit wat net tyd en mens, sy eie stap, mens se eie foute, mens se eie triomf kan bring.

    Soos jy weet, het ek die geskenk om my ma hier by my te hê. Jou skrywe en jou eerlike wys van jou hart, jou vrae en onvermoë laat my weereens besef dat die tyd so kort is, in 'n oogwink verby.

    Dit is vir my so lekker om te hoor dat jou ma so lekker stout kon wees, want ek geniet my en my Ma se 'stout' tye al hoe meer en sy kan haarself so verkneukel daarin. En ek wonder of my kinders ook sigarette en lighters in my laaie gaan vind eendag, en lekker giggel oor hulle ma wat tog ook net mens was.

    Ek het die prentjie wat jy vir ons ingekleur het saam met jou geniet. Dankie daarvoor.

    Met liefde
    Karin

  • Johannes Slabbert

    Dit voel vir my net al hoe moeiliker om reg te laat geskied met kommentaar op jou bydraes hier op LitNet. Jou vorige bydrae oor jou ongelooflike onderwysloopbaan met jou ongekende onselfsugtige opofferings, kreatiwiteit en diepgaande akademiese uitnemendheid van Afrikaans en die onderwys daarvan wat jy in 'n inspirerende, lewenslustige ervaring vir leerders en onderwysstudente op alle vlakke kon omskep. Jy het wel 'n toekenning daarvoor gekry, maar dit kon hoegenaamd nie omvang en diepte van jou prestasies weerspieël nie. Daardie skryfstuk was vir my deel 1. Hierdie "artikel" is vir my 'n deel 2. Dis, soos die vorige een waarna ek verwys het, so 'n sober, opregte, verhelderende, maar mees diepsinnige en openbarende autoetnografie wat met elke leesoomblik van kant tot wal gevul is met bewonderenswaardige waagmoed vir kwesbaarheidsblootstelling. Maar dis jou onuitspreekbare insig in die fundamentele bydrae van elkeen van jou lewensmomente tot jou fenomenale transformasie wat besig is om tot volle wasdom te kom op hierdie hoogtepunt van wysheid wat jy deur die laagste dieptes en hoogste kruine op jou lewensreis bekom het. Jy moet 'n spesiale geleentheid skep om jou ongeëwenaarde gevulde en vervullende lewe to dusver - wat onvermydelik deur geëwenaarde hoogtes en diepstes gekemerk word - met groot dankbaarheid deur 'n uitgebreide feesviering te huldig terwyl jy ons steeds met jou wysheid en uitnemendheid verras. Onthou net asseblief om my na die feesviering uit te nooi, want dit mag ek nie mis nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top