’n Pa se gene en keuses

  • 11

Omdat my pa blind was, het ek geleer om onsigbaar te wees. Ek kan nie so goed van my pa onthou nie, maar ek vermoed dis van lankal af dat mense my nie kan sien nie. Wanneer ek dit die meeste geniet, is wanneer ek sonder korset in my swart katpak op die naat van my rug in water dryf en my oë toemaak. Geluidloos, moeiteloos, onsigbaar. As daar golwe of ’n deining van ander swemmers se beweging is, is dit nog lekkerder. Soos in die hemel, so ook op die aarde.

*

Die verhaal begin metafories by ’n huis sonder vensters of deure – wel oop gate waarby alle sekerhede uitvlieg soos verskrikte voëls as die hond daarin kom snuffel. ’n Huis waarin ’n kers sukkel om lig te gee. ’n Ma en ’n pa wat reeds tevore van mekaar verwyderd was, en toe word ’n dogtertjie in 1951 verwek – ’n opmaakbaba, miskien vrug van passie. In sonde ontvang en gebore? Pyn en vrees ontkiem saam met die selle en gene.

’n Pa wat nie sy lewensideaal kon uitleef nie omdat hy blind is en eintlik ’n elektroniese ingenieur op ’n skip wou word. ’n Pa wat nou teen sy sin musieklesse moet gee om die pot aan die kook te hou. ’n Ma wat grootgeword het met Boekevat by die lig van ’n lamp en wat onwrikbaar vas glo aan God en sy gebod. ’n Ma wat bid vir haar vier kinders omdat sy self weet hoeveel versoekings daar op ’n mens se pad kan kom.

’n Klein, stil dogtertjie, wat eendag op die buitestoep haarself toesluit in die toilet op die dag dat die gesin sou verhuis na ’n ander voorstad. Almal probeer om haar te help om van binne oop te maak, totdat die pa woedend sy warm kos uitspoeg en besluit om die deur oop te skop...

Verlange groei in ’n klein dogtertjie se hart as sy soms in die aand hoor hoe haar pa en ma na klassieke musiek luister. Sy wil ook graag daar wees en loer soms skelm om die deur, maar sy is te bang om te vra en daarom bly sy dan maar tjoepstil in die bed en maak of sy slaap – ’n toeskouer, ’n buitestaander, ’n masker.

Dan kom die avontuur van skool toe gaan en indruk maak omdat sy baie goed vorder in die eerste jaar en later uitblink met haar punte en leierskaprolle. Maar opeens kan dieselfde slim, flukse kind in die tweede skooljaar glad nie meer lees nie. Hoe kan dit wees dat ’n onderwyseres nie verstaan wat aangaan nie? Weet die kind ooit dat haar pa nou vir altyd weg gaan wees? Miskien het die bakleiery in die huis nou wel opgehou, maar wanneer sien sy hom weer?

Lanterngedig: 1958

a!
glimlag,
leer en speel,
sterre roep jou –
vlieg!

Hoe voel sy as sy hoor dat indien haar pa die helfte van die kinders saam met hom sou moes neem met die egskeiding, hy dan sou verkies om die ouer broer en jonger sussie te hê en nie vir haar en die kleiner boetie nie? Wat is die ergste – om sonder die pa te wees, of die wete van sy verwerping? Hoekom sou iemand vir haar enigsins hierdie storie vertel? En wat beteken die woorde: “Jy is nes jou pa” – is dit sy briljante gene of sy afvallige hart, sy befoeterde temperament?

Toe jy Sondag na Sondag die kind met al die antwoorde in die katkisasieklas was, het jy ook geleer hoe worstel ’n mens met ’n ontrou hart? Of het jy toe net geleer om jou eie pa te veroordeel vir sy keuses en gedrag?

Het jy geweet, liewe jong adolessent, hoeveel jy jouself blootstel en kwesbaar maak, toe jy op veertienjarige ouderdom besluit het om kontak te maak met jou pa?

Cinquin (1965)

Tiener
ontluikend, skaam
ontdek, soek, wag
onseker, betrokke, hoopvol, openhartig
Adolessent

(estelleke)

Het jy besef hoe lank en in hoeveel mense jy nog sal bly soek na ’n plaasvervanger vir dié verlore pa? En hoe elke nuwe afgod telkens weer maar net voete van klei sou hê?

En toe hy jou wou dwing om te kies tussen hom en jou ma en jy dit onmoontlik vind om ’n keuse te maak tussen vlees en bloed – wis jy hoe die besluit wat jy in jou hart geneem het om nie nou (of ooit) aan enige kant te staan nie, jou in die toekoms sou beïnvloed?

Het jy geweet toe julle as gesin by die see skulpe versamel en julle as kinders in die tuin slakke met sout doodmaak, dat dit nie net hierdie spesie is wat wegkruip om hulleself te beskerm nie?

*

Vyftien jaar later bewerkstellig ek as getroude vrou met twee kleuters (Ian 5 jaar oud en Marijke 3 jaar oud) en swanger met die jongste (Anika) wat op haar oupa se verjaarsdag gebore sou word en sy musiekgene sou erf, dat daar voorlopige versoening kom tussen my pa, ma, stiefma, sussie, oudste boetie en ’n paar van die halfsusters en -broer. My jonger boetie wou niks hiervan weet nie, hy sou eers heelwat jare daarna láát by ons pa se begrafnis opdaag en wys dat ook sy hart uiteindelik versag het. Drie dekades later word hierdie versoening ’n eggo nadat ek ’n besoek bring aan Worcester waar die Skool vir Swaksiendes is, wanneer ’n ewe moeilike reis met die opstandige adolessensie van die meisiekind met hierdie gene sluiting vind.

Vir my jongste dodderkie (op jou 30e verjaarsdag)

Wat ek vir jou wou sê
het agter die Worcester-berge in my mond kom lê

Ek het dit agter die maan
in ’n helder vuurkolom gaan haal

Daar waar my blinde pa se kleinkindliedjies klink
wou ek ’n glasie sjerrie vir jou skink
oor musieklike gene
en lang mooi bene
blou oë en blonde hare
’n dierbare hart
wat jy soms met my deel

Ek wil jou toedraai in watte
sodat jy kan sweef
soos wolke oor berge

Dit was vir my moeilik om kontak te maak met my pa, omdat hy nie self kan lees wat ek skryf nie – daar was altyd die middelpersoon, my stiefma, wat my briewe vir hom sou lees. As hy vir my briewe (foutloos) getik het, het ek tog die gevoel gehad dat daar direkte kontak was.

Later, baie later – toe ek self op my eie was en wrange vrugte pluk van my eie keuses en besluite – het ek die plan bedink om vir hom ’n braille-brief te stuur. In Pietermaritzburg was ’n Skool vir Blindes en ek het baie opgewonde soontoe gegaan met my brief en dit laat “vertaal”.

Groot was my hartseer toe ek ’n jaar later my seun universiteit toe neem in Potchefstroom – daar waar my pa en sy nuwe gesin toe gewoon het – en ek hulle weer sien en hoor dat hy nooit die brief gelees het nie, want sy vingertoppe was nou so vereelt dat hy net nog in die Bybel gelees het. Gemengde gevoelens – hy is dus nie meer verbitterd nie en maak kontak Boontoe; maar my pogings tot intieme, persoonlike kontak met hom is helaas steeds tevergeefs.

Toe ons ná hierdie besoek van mekaar afskeid neem, het hy my teer omhels met die woorde: “Kyk mooi na jouself, want ek kan dit nie doen nie.”

Nog later, in die jaar voordat hy oorlede is, kon ek hom bel met sy verjaarsdag. Ek het net soos ’n klein dogtertjie wat op sy skoot sit en babbel, vir hom alles vertel wat in my lewe gebeur. En hy het net gesit en geduldig geluister met dierbare aandag. Dít is die kosbaarste herinneringe ooit.

Ek dink aan ’n film wat ek onlangs gesien het, waarvan die refrein die volgende woorde was:

Everything will be alright in the end. So, if it is not alright, it means it is not the end.

Lees ook:

Mooi Annie – die spieël in my raaisel

  • 11

Kommentaar

  • Estelle, dis weereens lieflike dog hartseer onthoutye, nè ... Mag jou hart verder aan net vreugde en blydskap ervaar, my laerskoolmaatjie. Jy verdien dit - só baie.

  • Ek lees soveel dinge ráák in hierdie skryfstuk/deelstuk en mag ek sê, ek "sien"... myself deur die woorde en emosies wandel in 'n plek wat vir my pynlik bekend klink.

  • Christa van Staden

    Liewe Estelle, as daar een ding is wat jy nie is nie, dan is dit onsigbaar. Nie vir die studente wat in jou klasse gesit het nie, nie vir ons wat ons navorsing aan jou toevertrou om beoordeel te word nie, nie vir jou kinders nie. Daarom geniet ek die beskrywing van jou wat in die water lê en die beweging om jou geniet en waardeer so baie. Want dit is hoe ek jou leer ken het. In die oomblik. Bewus van alles om jou. Intens gereed om te help, raad te gee. Sigbaar sonder dat ek jou al ooit in persoon ontmoet het …

    Die impak van ouers op hulle kinders se lewens kan soms vernietigend wees. En dan wonder ek altyd. Daar is handleidings vir elke masjien op aarde, maak nie saak hoe maklik of moeilik dit is om hulle te hanteer nie. Maar, vir die grootmaak van ‘n kind is daar geen handleiding nie. Die wiel word oor en oor ontdek. En die foute word weer en weer gemaak, met slegte gevolge op kinders se ontwikkeling.

    Dankie vir die pragtige vertelling, dit is hoe ek jou werk leer ken het. En ek is werklik dankbaar dat jy hierdie onthou met ons deel. Daar is 'n swarigheid in my hart oor 'n pa wat 'n dogtertjie nie kies nie. As hy maar weet waaroop hy uitgemis het. Ouers behoort nie tussen hulle kinders te kies nie. Maar dit gebeur in bykans elke huis op aarde.

    Dalk help jou vertelling ander om te verstaan waarom hulle nie mag kies nie?

  • Liewe Estelle, en toe verdwyn al my kommentaar die ruimte in; weg is dit, sonder om dit te kon stuur.
    Dankie dat jy bereid was om jou lewensverhaal te deel, en vir die manier hoe jy dit verwoord het. Vrede vir jou, vriendin.

  • Estelle, dis so 'n eerlike, opregte verhaal van 'n gevoelsmens wie se belewenisse 'n ekstra dimensie bied aan verhoudings en omgang met haar. Hoe seer dit ook al was, het dit jou gevorm om so spesiaal te wees vir ander. Laat my dink aan die spreuk: uit die swartste modder groei die witste lelie. En hierdie lelie kan nooit onsigbaar wees nie.

  • Denis Drennan

    To allow us to read the inner words that we take form in this testimony, is like being privileged to hike together in the great outdoors. To watch together and share a sacred perspective. How well you sculpted each word to help us think of our own journey through life. Thank you for sharing your inner words which will last today, tomorrow and forever. Let's journey on.

  • Janine Oosthuizen

    Estelle, nog ‘n hoofstuk vou oop van jou lewensverhaal en ek leer jou elke keer bietjie beter ken. Jy het ‘n besonderse gawe met woorde wat ‘n storie so treffend kan vertel. Kan nie wag vir die volgende hoofstuk nie.

  • Liewe Moeks, nog ’n pragtige gewewing wat vol knapperige mooiheid is en uiteindelik met die mooiste kant omgewerk is. Jy het jou diepheid van jou pa geërf, en wat ’n blessing dat jy uiting aan joune kan gee! Jou dodder van doer

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top