
Kammawaarwêreld, ’n metaroman deur Estelle Kruger. Beskikbaar: Naledi
Titel: Kammawaarwêreld
Skrywer: Estelle Kruger
Uitgewer: Naledi (2023)
ISBN: 978-1-77617-287-0
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Kammawaarwêreld (2023), die debuutroman deur Estelle Kruger, word op die voorplat aangekondig as ’n “metaroman”. Dit skep reeds die verwagting van ’n verhaal binne ’n verhaal. In die roman tref die leser ’n oorrompelende ineenvloeiing aan; ’n vervlegting van feit (“waar”) en fiksie (“kamma”), sodat die leser nooit werklik kan onderskei tussen die twee nie. Soms word die verhaal aangebied in liries-poëtiese taalgebruik en met ’n soort magiese realisme wat aan Carina Stander se Bergengel-reeks (2017, 2019 en 2022) herinner en ander kere weer in reflektiewe, realistiese verteltaal; duidelik ’n storie agter/in ’n storie.
........
Kenmerkend aan die roman en ook tipies van hierdie talentvolle kunstenaar-skrywer, is daar die aanbieding in die teks van ander kunsvorme. Daar is musiek, digkuns, die visuele kunste, vakmanskap en dan natuurlik die toordery-met-woorde teenwoordig.
........
Pippa kyk terug en probeer van haar lewe sin maak. Sy mymer oor die koers wat haar lewe ingeneem het; oor haar seerkry en swaarkry en die doel daarvan. Sy dink egter ook aan die mooi in haar lewe wat gestalte vind in geliefdes: haar kinders, kleinkinders en ook haar ma en die “affêres”. Dikwels is daar ’n ongekende heimwee oor verlore kanse, verspeelde geleenthede, maar ook ’n diep dankbaarheid en erkenning aan haarself dat sy suksesvol op talle gebiede was. Kenmerkend aan die roman en ook tipies van hierdie talentvolle kunstenaar-skrywer, is daar die aanbieding in die teks van ander kunsvorme. Daar is musiek, digkuns, die visuele kunste, vakmanskap en dan natuurlik die toordery-met-woorde teenwoordig.
Dikwels neem Pippa haar toevlug tot sprokies om die werklikheid sagter te maak en om in verbeeldingsvlugte na oplossings vir haar seer en gebrokenheid te soek. Die sprokieselemente is duidelik teenwoordig reeds in die titel van die roman en ook in die inhoudsopgawe met afdelings soos “’n Sprokie in ’n koma” en “Wensdenkery”. Die proloog word ingelei met die woorde:
Baie van hierdie storie is waar
en ’n hele lot is versin
so weef ek dit deurmekaar
in my metaroman. (11)
Hierdie sprokieselement is ’n vermaning aan die leser dat nie alles geglo kan word nie. Daar is voorts verwysings na ’n “feetjie” (67), “towenaar” en “koning” (75), asook na ’n “kasteel” (77), “Eendag, nie so baie lank gelede nie” en “Gouelokkies” (109) wat die sprokieselemente in die roman bevestig. Hierdie sporadiese aanbieding in sprokieformaat bevestig ’n soeke by die hoofkarakter, tot diep in haar onderste bewussyn, na betekenis en na die sin van haar swaarkry, maar ook van haar lewe oor die algemeen. Tog erken die verteller dat “baie van hierdie storie waar” is. [Verdere navorsing kan gedoen word oor psigoanalitiese teorieë en die sprokie-subgenre (genre = volksverhale/folktales) as ’n instrument tot selfondersoek.]
Soos ’n vlinder ontwaak hierdie gekneusde vrou en ontsnap uit haar benouende kokon van voorskriftelikheid, patriargale onderdrukking en die “verslawing” van godsdiens. Elemente van hierdie metamorfose van Pippa word vervat in die gedig Metamorphosis (57), naamlik “mystery”, “transformation”, “possibilities” en “recreation”. Pippa “transendeer” (385) en groei van ’n allesgedogende ma-eggenoot-onderdaan tot ’n vry vrou wat haar nuwe, “eie weg kies” (Viktor Frankl-aanhaling). Die skoenlapper-simbool van vernuwing, hergeboorte en herrysing is terugkerend in die roman. Twee hoofstukke word ook spesifiek vernoem: “Skoenlapperstories” (177) en “Metamorfose van ’n skoenlapper” (383).
’n Verdere herhalende tema in die roman is die “skip”/“boot” en sy “kaptein” (96) en Pippa noem dat sy “duidelik kon raaksien dat die skip [haar] gebroke huwelik is”. Deurgaans in die verhaal is daar die suggestie van ’n begeerte en soeke na aanvaarding, maar ook na liefdesgeluk. Na aanleiding hiervan kan aanvaar word dat sy voortdurend op soek is na die regte kaptein/geliefde wat veilig en gelukkig saam met haar in hierdie boot sou kon vaar. Dalk bevestig dit ook die soeke na ’n soort vaderfiguur wat haar afsydige, afwesige, blinde “bloedpa” en die rigiede, hardhandige “stiefpa” kan vervang. Pippa sien egter in dat die skip ook simbolies is van haar “pelgrimstog” waarin sy op “reis is na selfkennis, na [haar] aktiewe deelname aan die gesprek in ’n groter werklikheid” (103).
........
Die roman leen hom werklik tot vele leesgeleenthede. Die leser tref ’n soort spanning aan tussen verbeelding en realiteit, ’n verwikkelde inslag in die roman.
........
Soos wat Daniel Louw in die voorwoord tereg opmerk (9), is hierdie “outobiografiese narratief so sensitief” dat dit moeilik is om kortliks en oorsigtelik oor die teks te reflekteer en te skryf. Daar is soveel meer as net ’n storie waarin daar oor ’n lewe besin word en die roman bied soveel invalshoeke wat ondersoek kan word. Die roman leen hom werklik tot vele leesgeleenthede. Kruger se debuutroman is soms onthutsend eerlik en bied aan die leser ’n blik op dit wat van ons méns maak. Die leser tref ’n soort spanning aan tussen verbeelding en realiteit, ’n verwikkelde inslag in die roman. Telkens herontdek die leser hierdie versmelting van fantasie en realisme, asook ’n veelstemmigheid in ’n verskeidenheid van kunsvorme.
Kammawaarwêreld bied ’n leeservaring wat toon dat die “misterie van haar ervarings, drome en bepeinsings te groot is om te laat stol in ’n enkele woord” (Daniel Louw, 10).
Dit is voorwaar ’n meesleurende reis waartydens die verteller aanhou stories vertel, want dit is haar manier om te probeer sin maak van menswees.
Kommentaar
Ek sien uit hierna, Estelle!