
Omslag in voorgrond: Naledi; die see in die agtergrond: Canva
- Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Skemerverse
Estelle Kruger
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234676
........
Skemerverse is ’n bundel verse wat ek nie kon neersit voordat ek die laaste gedig gelees het nie.
........
Skemerverse is ’n bundel verse wat ek nie kon neersit voordat ek die laaste gedig gelees het nie. Alhoewel die organisasie van die temas sin gemaak het, het ek die laaste tema se verse eerste gelees. Nie alleen omdat introspeksie ’n interessante tema is nie, maar ook omdat dit een van die onuitgesproke temas van haar metaroman, Kammawêreld (2024), is. In beide die roman en die bundel bied Estelle ’n eerlike blik op haar innerlike stryd, word die leser by haar persoonlike stryd ingetrek sonder dat sy bejammer wil word. ’n Man van die kerk het haar geloof laat wankel, maar famille en vriende se getroue hande (“Pniël”, 116) het daartoe bygedra dat sy die aangesig van God gesien het, ’n doel gevind het (“Opgedra aan Abel”, 117), haar hemelse Vader leer ken het (“Dankie, hemelse Vader”, 117) en veiligheid in die hande van haar Skepper gevind het (“(Op die wysie van kanonieke psalm 16)”, 118–120). Sodoende vind sy ’n doel vir haar lewe na aftrede.
Die verse oor familieverhoudings skep die indruk dat ’n afwesige vader (“Pa”, 16) en moeder (“Ma”, 17) hulle dogtertjie se lewe negatief beïnvloed het, maar dat ’n Ouboet (18) haar redding was. Haar selfportrette (19) bied ’n arendsoogblik op haar lewensreis, ’n meesterlike spel met verskeie digvorme om die leser se aandag gevange te hou. Ek het haar verse oor kinders en kleinkinders besonder baie geniet, dalk juis omdat ek self vanuit die perspektief van ’n ma en ouma verwonderd staan oor die feit dat kinders en kleinkinders aan my geleen is om my lewe te verryk. Terwyl ek, net soos sy, in hulle lewensreise mag deel.
Die voorwoord skep die idee dat die leser verse "sonder fieterjasies" en sonder "digterlike foefies" kan verwag omdat die digter opregte grepe uit haar lewensreis "onopgesmuk" en "in haar eie stem" bied. Die bundel bied egter ’n versameling verse wat juis haar intense kennis van digkuns illustreer, haar meesterlike vermoë om haar eie woorde in verskeie digvorms ten toon te stel. Enkele sprekende voorbeelde van haar meesterlike omgang met digsoorte sluit die didaktiese cinquain (ook elfie genoem weens getal woorde in die gedig) (“Tiener”, 21), die snelsonnet (“’n Snelsonnet”, 74), die “Akrostigon in A# mineur”, 96), die haikoes met hulle 5-7-5-lettergrepe per reël (“vroegmôre: lojaal”, 76 en “Bliksemstrale skiet”, 79), die vormgedig (“Saam met jou in ’n spelonk”, 43–4) en die pantoen (“Ma”, 17) in. Estelle se kreatiewe gebruik van leestekens, veral dubbelpunte (“Pa”, 16), en tipografie betrek die leser by die verse, dra haar boodskappe oor, en wek byvoorbeeld gevoelens van gejaagdheid (korter wordende reëls van die vierde vers van “Jabbok (Ek worstel met God)”, 107) of “heimweë” (langer reëls om “Ma” op bl 17 in meer besonderhede te beskryf). In die proses besin die digter nie alleen oor haar eie gevoelens nie, maar betrek sy haar lesers op emosionele vlak by haar verskuns.
Een van my gunstelingverse is "Dood, doder, doodste", veral weens die pleonasme of selfs oordrywing in die titel. As mens dood is, is jy dood – dit kan nie in trappe van vergelyking gestel word nie. Uit die vers blyk dit egter dat die keuse van die titel gepas is, want sy het wel op verskillende vlakke dood gevoel, al is sy lewend. Hierdie vers skep die indruk van ’n lewende dooie, wat deur later verse bevestig word aangesien sy die graf verlaat het om die lewe aan te gryp.
Die lewende-dooie-tema is ’n verrassende tema wat in die bundel tot uiting kom. Soms dink jy dat jy ’n ander persoon ken, maar dan laat ’n bundel soos Skemerverse jou tot ander insigte kom. Vir my is Estelle, wat ek op professionele vlak as redaktrise van LitNet Akademies (Opvoedkunde) leer ken het, een van die lewendigste, passievolste redaktrises saam met wie ek al gewerk het. Ons het bevriend geraak, en ek is bewus van haar daaglikse stryd teen trigeminale neuralgie, maar tog het ek nie aangevoel dat sy soos ’n lewende dooie voel nie. En juis dit laat my wonder: Is ek ooit die titel “vriendin” werd?
........
Ek kan hierdie bundel aanbeveel, nie net vir leesgenot nie, maar ook as ’n werk om leerders en studente aan verskeie digsoorte bekend te stel.
........
Ek kan hierdie bundel aanbeveel, nie net vir leesgenot nie, maar ook as ’n werk om leerders en studente aan verskeie digsoorte bekend te stel. Daar is ’n gebrek aan Afrikaanse bundels wat onderwysers as voorbeeld van verskeie kort digsoorte kan gebruik. Ek stel voor dat Estelle ’n bylaag vir ’n volgende druk oorweeg waarin die verskillende digsoorte uitgelig word. Opvoedkundiges kan daarby baat vind, terwyl onkundige lesers bekendgestel kan word aan digsoorte wat nie in klaskamers onderrig word nie. Ek sien uit na die volgende bundel uit Estelle se pen!
Nota
Weens my navorsing oor kletsbotte, en ons gedeelde belangstelling in etiese navorsing, wou Estelle by my weet of sy ChatGPT as die outeur van die agterbladteks moes erken. Dit is ’n interessante vraag, aangesien kletsbotte en outeurskap ’n vuurwarm kwessie is wat vanuit verskeie perspektiewe benader word.
Vanuit ’n regsperspektief word daar geredeneer dat ’n kletsbot, soos ChatGPT, nie as ’n outeur erken kan word nie omdat dit nie ’n wetlike entiteit is nie en dus nie vir sy tekste aanspreeklik gehou kan word nie. Aangesien die gebruiker die kletsbot gepor het om ’n respons te lewer, kan die gebruiker wel tot verantwoording geroep word. Twee Amerikaanse prokureurs was byvoorbeeld onlangs in die sop omdat hulle in hofstukke na "sake" verwys het wat deur KI versin is (Merken 2025). ’n E-pos het daarop gevolg waarin alle prokureurs van die firma Morgan & Morgan gewaarsku is dat hulle ontslag in die gesig staar indien hofsake verwysings na versinde sake bevat.
Vanuit ’n opvoedkundige perspektief is dit oneties om werk vir punte in te dien indien ’n student dit nie self gedoen het nie. Voorheen kon ’n masjien nie ’n taak namens ’n student voltooi nie, tog kon studente van plagiaat aangekla word indien hulle tekste van die internet gekopieer en as hulle eie werk voorgehou het (Eaton ea 2017; Hansen 2003; Lathrop en Foss 2000; Selwyn 2008). Tans kan kletsbotte veel meer doen – hulle het bloot ’n eenvoudige por nodig om navorsing namens studente te doen en sekondes later ’n verslag daaroor te skep (Van Staden 2023a, 2024a, 2024b, 2025). Alhoewel oneerlike studente hierdie response direk vanaf die toepassing of webblad kopieer, plak en as hulle eie werk voorhou, word hierdie nuwe vorm van plagiaat nog nie erken nie, omdat die student nie ’n ander mens se werk of idees as sy of haar eie voorgehou het nie. Die definisie behoort aangepas te word omdat die student nie die navorsing gedoen het of die verslag geskryf het nie (Van Staden 2023b) en dus nie die punte daarvoor verdien nie. Hierdie nuwe praktyk het ’n negatiewe impak op akademiese integriteit, en kan selfs tot ontslag lei indien geleerdes uitgevang word weens die foute wat KI gemaak het. Dit is juis die foute wat KI maak wat in klaskamers gebruik kan word om ryk leergeleenthede te skep. Aangesien KI foutiewe inligting oortuigend vir die waarheid voorhou, moet leerders hulle werk ken om die foute raak te sien. Die moontlikheid van plagiaat kan, volgens King en ChatGPT (2023), oorbrug word indien ChatGPT as mede-outeur erken word.
Daar is egter verskeie perspektiewe op KI as outeur, waarvan ek Bajohr (2023a, 2023b) se twee modelle insiggewend vind, naamlik kousale outeurskap en verspreide outeurskap (Bajohr 2023b). Ek het hierdie twee modelle reeds in ’n artikel bespreek (Van Staden 2024b), daarom wys ek net daarop dat die modelle dit duidelik maak dat dit bykans onmoontlik is om die oorspronklike outeur op te spoor, veral weens die woord-vir-woord skryftegniek van kletsbotte. Tans is daar nie doeltreffende metodes om KI-plagiaat op te spoor nie, gevolglik moet op die eerlikheid van skrywers staatgemaak word (Van Staden 2023b). Kletsbotte kan nie as solo-outeurs beskou word nie omdat hulle nie op eie houtjie sit en skryf nie; hulle benodig insette van gebruikers om response te skep. Aangesien die gebruikers die kletsbotte por om die navorsing en skryfwerk te doen, kan hulle wel as assistente beskou word. Na aanleiding van King en ChatGPT (2023) se voorbeeld, en die inhoud van die agterbladteks, sou ek aanraai dat die gebruiker en die kletsbot as outeurs erken word: Kruger en ChatGPT of ChatGPT en Kruger (waar “Kruger” met die naam van die persoon wat die kletsbot gepor het, vervang word).
Ek sluit af met ’n gedagte oor die agterbladteks aangesien dit die indruk wek dat dit die werk van ’n kletsbot is:
- Die eerste beeld is nie doeltreffend nie, aangesien diep(e) waters ’n vlam eerder sal blus as laat opvlam (hallusinasie).
- Die teks voel geforseerd weens oormatige gebruik van die woord spiritualiteit, asook enkelsinparagrawe wat gewoonlik vermy moet word.
- Die direkte vertalings (transformasie en selftransendering) is kenmerkend van kletsbotte wat nie in ’n spesifieke taal opgelei is nie, aangesien hulle nie noodwendig keuriger Afrikaanse woorde ken nie.
Tegnologie is waardeloos totdat dit waarde in die hande van kundige gebruikers verkry, soos om agterbladstekste te skryf. Estelle vind nie op ’n onetiese wyse daarby baat nie, daarom vind ek dit nie problematies dat ChatGPT nie erken word nie. Indien die kletsbot egter die digter was, is dit ’n perd van ’n ander kleur, omdat daar reeds bevind is dat ChatGPT verskeie digsoorte in Afrikaans kan skep (Van Staden 2024). Alhoewel KI-gedigte nog skaafwerk nodig het, voorspel Bajohr (2023a, 2023b) dat dit metteryd moeiliker gaan wees om KI-digkuns van digkuns te onderskei. Daarom voorspel hy dat digters in die toekoms genoodsaak kan word om ’n “eg mensgemaak”-etiket te gebruik om hulle digkuns van KI-digkuns te onderskei.
Bibliografie
Babb, A.P., Yeworiew, L en Sabbaghan, S. (reds.) 2017. Selected proceedings of the IDEAS Conference 2017: Leading educational change conference. Werklund School of Education, University of Calgary.
Bajohr, H. 2023. Artificial and post-artificial texts: On machine learning and the reading expectations towards literary and non-literary writing. Basel: Universiteit van Basel. (Basel Media Culture and Cultural Techniques Working Papers 7). https://doi.org/10.25969/mediarep/19716.
—. 2024. Writing at a distance: Notes on authorship and artificial intelligence. German Studies Review. 47(2):315–337.
Eaton, S.E., Guglielmino, M. en Otto, B. 2017. Plagiarism: Moving from punitive to proactive approaches. In Babb, Yeworiew en Sabbaghan (reds.) 2017.
Hansen, B. 2003. Combatting plagiarism: Is the internet causing more students to plagiarize? The Congressional Researcher, 13:773–96.
King, MR en ChatGPT. 2023. A conversation on artificial intelligence, chatbots, and plagiarism in higher education. Cellular and Molecular Bioengineering. 16:1–2.
Lathrop, A. en Foss, K. 2000. Students cheating and plagiarism in the internet era: a wake-up call. Englewood: Libraries Unlimited.
Selwyn, N. 2008. Not necessarily a bad thing ... a study on online plagiarism amongst undergraduate students. Journal of Higher Education, 33:465–79.
Van Staden, CJ. 2023a. ChatGPT: Vriend en vyand in die Geografie-vakdidaktiekklaskamer? Implikasies vir die praktyk. LitNet Akademies, 20(2):498–546.
—. 2023b. ’n Proaktiewe strategie om plagiaat met behulp van die gratis ChatGPT-3.5 te bekamp – ’n verkennende ondersoek. LitNet Akademies, 20(3):327–66.
—. 2024a. Bruikbaarheid van ChatGPT-4V(ision) om lugfoto’s te ontleed, dryfvere wat die opneem daarvan kan bevorder en implikasies vir Geografie-klaskamers. LitNet Akademies, 21(3):294–339.
—. 2024b. ChatGPT-3.5 kan kort Afrikaanse gedigte skep en verdedig: Implikasies vir die praktyk. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 43. http://www.satnt.co.za/index.php/satnt/article/view/973 (5 Mei 2024 geraadpleeg).
—. 2025. Strategieë om lewensvaardighede te ontwikkel terwyl Geografie-leerders ChatGPT-4o gebruik om kontoerkaarte te vertolk. LitNet Akademies, 22(1):315-355.
Lees ook:
WhatsApp en die onderwys? Die sosiale media tot die redding!
SteedsDink met LitNet Akademies: Christa van Staden oor haar akademiese navorsing
Kollig op akademikus Christa van Staden: Onderrig, tegnologie en netwerke



Kommentaar
Lieflike stuk, lekker gelees daaraan. Ek ken Estelle ook, maar uit haar tyd as dosent by Opvoedkunde op Stellenbosch, en sal die bundel met graagte aanskaf en lees.
Baie dankie, dit is lekker om sulke kommentaar te kry as jy die hand aan die pen waag.