WhatsApp en die onderwys? Die sosiale media tot die redding!

  • 3

Die sosiale media kan mense se aandag aftrek van belangrike take. Maar die keersy van die munt is dat die sosiale media ook van groot waarde kan wees – en selfs as onderrigmiddel ingespan kan word.

Estelle Kruger gesels met Christa van Staden oor haar artikel:

WhatsApp? Die ontwikkeling van ’n positief-interafhanklike e-praktyknetwerk tydens die samestelling van e-portefeuljes in afstandhoëronderwys

Christa, dit blyk uit jou bibliografie vir hierdie artikel dat jy ’n gesoute navorser is, en spesifiek op die terrein van tegnologiese leernetwerke. Waar kry jy die energie vir sommer drie artikels in ’n jaar (2016)?

Estelle, ek geniet dit om navorsing te doen oor hoe leer deur middel van interaktiewe tegnologie bevorder kan word. Twee van die drie artikels het gevolg op oproepe vir navorsingsartikels. Die temas het my gelok omdat ek navorsing kon doen oor die effektiwiteit van my leergeoriënteerde raamwerk vir die inskakeling van e-portefeuljes in afstandhoëronderwys. Beide voorstelle is aanvaar, dus moes ek hard werk om die navorsing binne sperdatums te voltooi. Dit help nogal, omdat ek lank huiwer voordat ek my artikels vlerke gee. Daar is geen waarborge dat artikels aanvaar gaan word nie, dus pomp die adrenalien elke keer woes deur my are wanneer ek ’n e-pos van die redakteur of redaktrise ontvang. 

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer? Hoe het jy bewus geword van die moontlikhede wat WhatsApp as onderrigmiddel kan bied?

Lidmaatskap van die WhatsApp-groep het my gehelp om my vinger op die pols te hou terwyl die studente met hulle leertake besig was. Ek het geweet dat die leertake uitdagend is, maar ek het geglo dat volwasseneleerders uitgedaag moet word om te groei. My teenwoordigheid in die groep het die droombeeld geskep dat ek dag en nag beskikbaar was, maar hulle was eintlik vir mekaar beskikbaar. Ek het inge-“chip” (soos een student daarna verwys het) indien hulle op ’n dwaalspoor was. Meestal was dit slegs nodig om te vra: “Wie kan help?” of “Stem jy saam?” om verdere deelname aan gesprekke aan te moedig. Die studente het sulke noue bande gesmee dat meer as die helfte van die groep twee jaar later steeds hierdie groep gebruik om hul lief en leed te deel.

In hierdie artikel verwys jy dikwels na Arend, die genetwerkte-leer-platform wat jy geskep het. Vertel ons asseblief meer daarvan? Hoe verskil dit van myUnisa se Mahara-platform?

Arend is ’n sosialenetwerkdiens wat ek in 2012 ontwerp het om ’n plek te bied waar die deurlopende professionele ontwikkeling van onderwysers ondersteun kan word. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Natuurwetenskap en Tegnologie het vanjaar fondse verskaf dat Arend vir navorsingsdoeleindes in toepassingformaat ontwikkel kan word. Die toepassings is as Arend Onderwysers in App Store en Google Play gepubliseer en alle onderwysers, onderwysstudente en dosente van onderwysstudente is welkom om aan te sluit. Hierdie sosialenetwerkdiens verskil in belangrike opsigte van die tegnologie wat Unisa beskikbaar stel.

Beide die leerbestuurstelsel (myUnisa) en die e-portefeuljestelsel (Mahara) word vir formele assessering gebruik, daarom is die studente versigtig om by gesprekke in die forums van die twee platforms betrokke te raak. Arend het ’n informele leeromgewing gebied waar die studente verbindings met mekaar kon bou om saam te leer om tegnologie (beter) te gebruik.

Jy meld dat ’n probleem met afstandonderwys is dat daar aangeneem word dat alle studente ervare selfreguleerders is. Waarom dink jy dat dié aanname uitgedaag moet word?

Indien alle afstandstudente ervare selfreguleerders is, moet afstandhoëronderwys die hand in eie boesem steek om die besonder hoë uitval- en druipsyfers te verklaar. Die probleem is dan nie by die studente nie, maar by die wyse waarop die studente onderrig word.

Wat kan daaraan gedoen word?

Dit is noodsaaklik om die ontwikkeling van selfreguleringsvaardighede tydens afstandhoëronderwys te fasiliteer. Dit is ook noodsaaklik om geskikte tegnologie tydens afstandhoëronderwys in te skakel om die ontwikkeling van saamwerk-leervaardighede te bevorder.

Hoe het jy by die oplossing van die leergeoriënteerde raamwerk vir die   samestelling van e-portefeuljes gekom?

Ek haat dit om honderde soortgelyke werkopdragte te assesseer, veral as die studente die opdrag verkeerd verstaan het. Werkopdragte wat slegs kennis toets, skep geleenthede vir plagiaat. Ek betwyfel ook die waarde van ’n enkele summatiewe assessering na afloop van ’n kursus vir volwasseneleerders. Die inskakeling van e-portefeuljes het dit moontlik gemaak om die fokus op leer te plaas. Leergeoriënteerde benaderings tot assessering is op drie beginsels gebaseer, naamlik dat:

  • leertake in plaas van assesseringstake ontwerp word
  • terugvoer vinnig moet geskied om huidige en toekomstige leer te bevorder
  • leerders as eweknie- en selfassesseerdes betrek word.

Die inskakeling van e-portefeuljes het dit moontlik gemaak om te vereis dat die studente hulle leertake verbeter voordat dit vir finale assessering in die e-portefeuljes uitgestal word. Sodoende kon ek die studente begelei om e-portefeuljes te skep wat hulle na afloop van die kursus kon wegneem om nie alleen hulle kennis, vaardighede en tegnieke nie, maar ook hulle groei en ontwikkeling aan potensiële werkgewers te demonstreer.

Dit is duidelik dat jou ervaring by Unisa en afstandsonderrig jou voorberei het en jou denke beïnvloed het by die gebruik van WhatsApp as onderrigmiddel. Vertel ons ’n bietjie hiervan, asseblief.

Ek kry studente wat vir afstandonderwys inskryf jammer. Hulle studeer saans, maar hulle dosente is bedags, wanneer hulle self werk, kantoorpligtig. Dit veroorsaak onnodige spanning, omdat studente saans sukkel en eers die volgende dag met hulle dosente in aanraking kan kom. Dosente word soggens met e-posbusse vol soortgelyke navrae oorlaai. Hierdie probleem kan suksesvol oorkom word indien geskikte tegnologie gebruik word om die leerproses samewerkend te struktureer. Die studente wat hierdie WhatsApp-groep gebruik het, het die meeste van die probleme gesamentlik opgelos. My teenwoordigheid het bloot ’n gevoel van veiligheid geskep.

Wat was vir jou die duidelikste bewys dat die saamwerk-/koöperatiewe-leer in WhatsApp die studente gemotiveer het?

Die studente het sulke nou verbindings in die WhatsApp-groep gebou dat meer as die helfte van hulle steeds deel van die WhatsApp-groep is, soos ek reeds genoem het. Hulle het vir mekaar omgegee, mekaar ondersteun, mekaar tydens persoonlike probleme bygestaan, maar mekaar veral gemotiveer om nie uit te val nie. Anders as wat in die literatuur beweer word, het die studente die take van ’n saamwerk-basisgroep spontaan opgeneem. Die ervare selfreguleerders het die onervare selfreguleerders tot in die middernagtelike ure van die finale datum vir indiening gehelp en so gesorg dat al die agterosse betyds in die kraal kom. Ek het die groep na afloop van die navorsing op 21 Mei 2018 gegroet omdat ek nie meer sinvolle bydraes tot gesprekke kon maak nie. 

Dit blyk dat WhatsApp ’n negatiewe invloed kan hê op die ontwikkeling van die skryfvaardighede van leerders/studente. Het jy dit so gevind? Indien wel, wat kan daaraan gedoen word?

Daar is wel al bevind dat WhatsApp ’n negatiewe invloed op die ontwikkeling van skryfvaardighede uitgeoefen het. Vir my is WhatsApp egter nie ’n middel om skryfvaardighede te bevorder nie, maar eerder ’n middel om saam-leer te fasiliteer. Die studente het SMS-taal gebruik, en die taaljuffrou in my het binnensmonds gemurmureer, maar ek het verby die gebruik van taal gekyk omdat ek van mening is dat spelling ondergeskik is aan die vermoë om sinvol aan ’n gesprek deel te neem.

Die Afrikaans-juffrou in my het wel al tegnieke ingespan om mense aan te moedig om beter te spel. My eie kinders het op ’n stadium ’n skryftaal vol vreemde afkortings gebruik omdat hulle deel van die Mxit-generasie was. Dit het my dwars in die krop gesteek en ek het saamgesels deur al die klinkers uit woorde te haal. My dogter het my berispe en gesê dat dit nie so werk nie en dat my boodskappe onverstaanbaar is. Ek het gesê dat hulle s’n ook onverstaanbaar is. So het dit gebeur dat ons gesin se WhatsApp- en SMS-boodskappe uit volledige woorde en sinne bestaan – omdat Ma volgens hulle die dam onder die eend uitgepluk het! Ek vermoed egter dat kunsmatige intelligensie daartoe bygedra het dat ons reg spel. Ons slimfone leer woorde aan en maak voorstelle sodra ons ’n woord begin tik.

As die foon die woord nog nie ken nie, word dit tussen dubbele aanhalingstekens geplaas. Klik jy op die woord, word dit deel van die foon se woordeskat. Om dié rede sou WhatsApp nie as ’n geskikte tegnologie ingespan kan word om spelling te assesseer nie, maar eerder om kinders se gewilligheid om ’n foon te leer spel, te assesseer. Ek kan egter nogal dink dat dit gebruik kan word om sinskonstruksies te assesseer. 

Die infasering van multikulturele klaskamers sedert 1994 het gelei tot verskillende opvoedkundige (onderrig-en-leer-) probleme. Dink jy dat genetwerkte leer (soos met WhatsApp) ’n oplossing kan bied om hierdie uitdaging die hoof te bied?

Genetwerkte leer verskuif die fokus vanaf die student na die student se vermoë om verbindings met die regte medestudente te bou om toegang tot die regte inligting, kennis, raad, leiding, ondersteuning, ervaring en konkrete bronne te verkry om te leer om sy of haar werk (beter) te doen. Hierdie vaardigheid is noodsaaklik in werksomgewings. Indien genetwerkte leer deur tegnologie ondersteun word, word verskeie ander soorte leer tydens die proses moontlik gemaak, byvoorbeeld toevallige leer, selfgerigte leer, passiewe leer en so meer. Ek het ’n artikel daaroor geskryf.

In ’n ideale wêreld: hoe sou jy die toepassing van genetwerkte leer en e-praktyknetwerke binne die professioneleleergemeenskapmodel in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel sien? Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom?

Die term professioneleleergemeenskap verwys beide na ’n model vir professionele ontwikkeling en na ’n groep (onderwysers) wat bymekaar kom om saam te leer om hulle werk (beter) te doen. Ek glo dat onderwysers die beste by mekaar leer om hulle werk te doen, daarom verstaan ek die staat se vereiste dat onderwysers professioneleleergemeenskappe moet vestig. Die staat bied egter geen riglyne vir die identifisering van ’n professioneleleergemeenskap nie en puriste vereis dat ’n groep aan sekere vereistes moet voldoen voordat dit as ’n professioneleleergemeenskap beskou kan word. Anders as puriste, glo ek nie dat elke lid van ’n groep in gelyke mate aan aktiwiteite deelneem of daarby baat nie. Daarom verkies ek die begrippe praktyknetwerk en e-praktyknetwerk.

e-Praktyknetwerke verwys na die verbindings wat met behulp van ’n tegnologie (soos Facebook, WhatsApp en Arend) geskep word om toegang tot die regte inligting, kennis, raad, leiding, ondersteuning, ervaring en konkrete bronne (byvoorbeeld lesplanne) te verkry om te leer om (beter) te werk. Ek glo dat aanlynleeromgewings leer effektiewer ondersteun omdat die presiese inhoud van gesprekke outomaties geberg word om sinchroniese en asinchroniese deelname aan gesprekke moontlik te maak. Hierdie netwerk van verbindings kan ondersoek word om geïsoleerde onderwysers te identifiseer en die impak van hulle isolasie op hulle werksverrigting te ondersoek. Die data wat so ingesamel word, kan daartoe bydra dat geskikter professioneleontwikkelingsaktiwiteite ontwikkel word.

Hoe sou jy die begrip netnografiese ondersoeke kortliks aan ’n jong (belangstellende) navorser beskryf wat dit sou wou gebruik as metode om sosiale interafhanklikheid in genetwerkte leer te ondersoek?

Netnografiese ondersoeke is etnografiese ondersoeke wat in aanlyn omgewings gedoen word. Netnografie verskil van etnografie omdat kleredrag en liggaamstaal nie bestudeer kan word nie en die fokus op die geskrewe woord en emotikons geplaas word om menslike gedrag te verstaan en te voorspel. Navorsers kan aan die gesprekke deelneem of die gesprekke as buitestanders bestudeer. Indien die gesprekke tydens ’n leerproses plaasvind, verkies ek deelnemende navorsing omdat ek glo dat die leerproses gefasiliteer moet word.

Waarmee het jy in hierdie ondersoek gesukkel – watter struikelblokke was daar? Enige kritiek? Hoe het jy dit hanteer?

Die grootste struikelblok is ’n gebrek aan “gespierde” Afrikaanse terme vir terme soos cooperative base groups, cooperative learning en so meer. Hierdie terme het reeds die literatuur as koöperatiewe basisgroep en koöperatiewe leer binnegedring. Dit skep verwarring as beter Afrikaanse terme gebruik word, omdat die terme na spesifieke teoretiese benaderings verwys. Indien ek ander terme sou gebruik, sou dit ook die keuse van geskikte kernwoorde beïnvloed en veroorsaak dat my artikels nie opgespoor word wanneer internetsoektogte geloods word nie.

Watter ontdekkings het jy in die proses van die navorsing gemaak?

Ek dink die belangrikste ontdekking was dat die studente die take van ’n saamwerkbasisgroep spontaan opgeneem het. Dit was ook verrassend dat die akademies sterk studente hulle kennis en ervaring so maklik met medestudente gedeel het. Die akademiese wêreld is veronderstel om ’n mededingende wêreld te wees waarin dit belangrik is om die beste te presteer. Volgens Lekanne Deprez vrot kennis wat nie met ander gedeel word nie in ’n mens se kop. Ek twyfel of studente daaroor bekommerd is, dus wil ek nog navorsing doen oor dit wat studente motiveer om hulle kennis en inligting met vreemdes te deel om vreemdes te help om beter te presteer.

Dit is spesiaal dat jy die navorsing aan Student S opdra wat oorlede is in die tyd van die navorsing. Wat sou jy wou hê dat jou oudstudente eendag op jou graf moet skryf?

Dit is ’n baie interessante vraag. Ek het terwyl ek skoolgehou het, altyd gehoop dat ek nie te sterwe sou kom voordat ek die dag uittree nie. Sulke begrafnisse word deur toesprake van kinders en kollegas oorheers en die familie word verdring. Op dié dag wil ek net deur my gesin, familie en beste vriende omring word. Daarom kan ek nogal sê dat ek nie daarvan sou hou as ’n student op my grafsteen skryf nie.

Op my Facebook-muur kan hulle maar na hartelus skryf terwyl ek nog lewe. Ek het toevallig op 8 Mei vanjaar gevra dat oudleerders op nasionale onderwysersdag iets op my muur skryf.

Anders as wat ek verwag het, het diegene aan wie ek baie tyd tydens die afrigting van buitemuurse aktiwiteite bestee het, nie op die versoek reageer nie. ’n Oudleerder, Cobus-Johann Visser, en een van my eie oudonderwysers het egter as volg gereageer:

Die taaljuffrou in my geniet die manier waarop hy Afrikaans besig. Hy gee my soveel meer krediet as wat ek myself sou gee. Volgens ’n Engelssprekende leerder het my liefde vir Afrikaans so ’n groot impak op haar gehad dat sy haar kinders in Afrikaans grootmaak. Sulke boodskappies laat mens skoon vergeet hoe jy moes raas en blaas sodat leerders presteer. Ek moet egter ook byvoeg dat die onderwys gedurende die 1980’s en 1990’s toe die twee leerders in my klasse was, ’n baie aangenamer plek was. Ons kon toe nog op onderrig fokus en nie op dissiplinering van kinders nie omdat die hoof toe nog boudjies kon afstof wat klasse ontwrig. 

As ’n mens kyk na jou produktiewe navorsingsgeskiedenis, watter nuwe navorsingsprojek(te) is op jou horison?

Ek is besig met navorsing oor hoe ek saamleerbasisgroepe as tegniek ingespan het om die ontwikkeling van ’n e-praktyknetwerk tydens afstandhoëronderwys te bevorder. ’n Voorstel vir ’n hoofstuk in ’n internasionale SAGE-handboek oor die gegradueerdheid (“graduateness”) van studente moet Oktober vir publikasie gereed wees en ek en ’n vriendin wil nog ’n artikel skryf oor die manier waarop sy Afrikaans op universiteitsvlak met behulp van tegnologie aangebied het.

  • 3

Kommentaar

  • Volgens die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls word die Engelse woord WhatsApp in Afrikaans whatsapp. Dit is ook 'n werkwoord as ek sê ek whatsapp jou. En in die meervoud kan jy sê: Ek het nou al vyf whatsapps oor die onderwerp gestuur.

  • Estelle Kruger

    Dankie Johan, vir jou bydrae. Ons sal dit bietjie nagaan.
    Het jy 'n bladsynommer hiervan in AWS?
    Groete
    Estelle

  • Christa van Staden

    Hallo Johan en Estelle, ek het ViVa se taaladviseur gekontak omdat ek en die taalversorger (LitNet) van mening is dat die woord WhatsApp, soos gebruik in die artikel, wel met 'n hoofletter gespel moet word. En terugvoer gekry dat dit ons dit wel reg gebruik het.
    Daar is volgens die taaladviseur wel twee nuwe inskrywings, naamlik:
    (a) whatsapp; gewhatsapp (werkwoord) om te gebruik in 'n sin soos: "Ek whatsapp die nommer gou vir jou."
    (b) whatsapp; whatsapps (soortnaam) om in 'n sin soos: "Ek het vir jou 'n whatsapp gestuur.” (Boodskap)
    Wanneer daar egter na die tegnologie verwys word, is dit 'n eienaam en nie 'n soortnaam (soos byvoorbeeld tafel of kat) nie en dan moet dit met 'n hoofletter gespel word.
    Ek het die titel vir haar gestuur en ook genoem dat WhatsApp in die titel dubbelsinnig gebruik word (eienaam en werkwoord), maar dat ek van mening is dat dit daar ook met 'n hoofletter gespel moet word omdat dit aan die begin van 'n sin is. Haar terugvoer is dat die titel met die hoofletters behou moet word omdat dit daar ook as eienaam kan optree.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top