Roulette deur Sidney Gilroy: ’n lesersindruk

  • 0

Boekomslag: Roulette deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau, 2025)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Roulette
Skrywer: Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau (Augustus 2025)
ISBN: 9780798185127

Die eerste boek wat ek van Sidney Gilroy gelees het, was ook my eerste krimi. Dit was Middernag. Reeds toe is ek getref deur sy skryfstyl – die poignante beskrywings en sy wortels wat nog steeds vashaak in die Vrystaat, al bly hy al vir jare nie meer daar nie.

Oorrompel deur Gilroy se mengsel van “heimwee-horror”, het ek ook Vlam en Bloedsomer gelees. Roulette is sy nuutste en sy beste (as jy my vra en jy het nie, maar ek gaan jou in elk geval vertel).

Die agterblad lees:

In 1998 was hulle onskuldige tieners. In 2025 is hulle verdagtes.
Sersant Sollie Mthembu se nuwe ondersoek lei hom terug na ’n onopgeloste dossier van die negentigs. Om die moordenaar te stuit, en tegelyk iemand na aan hom se lewe te red, moet Sollie agter die kap van die byl kom: Is dit wraak? Of word mense stilgemaak?

Die tieners is die Ludick-drielingbroers – Lötter, Duan en Oscar – en hul vriende, Cornelius Swart, Hendrik Bregelmans en Johan Meintjies. In die middelpunt van hierdie groep seuns is die Ludick-suster, Lara – 13 jaar oud en die sneller van die hele verhaal.

Roulette gaan oor verspeelde en misspeelde kanse. Hier is hoe Brandt, die Ludick-drieling se pa, dit ervaar:

Maar toe verander alles. Op 18 September 1998 hou Brandt se wêreld op met draai. Die seuns spat in verskillende rigtings. Die spieël waarin Erfdeel en die Ludicks weerkaats, val en breek in duisend stukke.

Die titel verwys na twee soorte roulette. Eerstens Russiese roulette, wat die drieling een dag saam met hul vriende speel. Die ding van Russiese roulette, waar ’n wapen gelaai word met een koeël en elkeen ’n beurt kry om die sneller te trek, is dat almal eintlik verloorders is – veral as die spel ’n slagoffer eis. Dit is ’n belangrike tema in die boek.

Dan is daar ook die dobbelspel waar jy ’n nommer kies, die wiel draai en hoop dit kom tot stilstand by jou nommer. Niemand van ons weet wat in ons lewe gaan gebeur nie. Jy kies ’n nommer; jy maak keuses; jy neem risiko’s. Dit het alles gevolge.

In hierdie boek word die karakters en leser dan ook juis hiermee gekonfronteer.

Gilroy is bekend daarvoor dat hy die genre van plaasroman dekonstrueer. Hy keer die patriotiese mite van goeie Afrikanerwaardes en die boer met sy roer op sy kop.

.......
Roulette is plattelandse noir op sy beste, waar Gilroy sosiale kommentaar lewer deur in die Afrikaner se erfstukkas te loer na daar waar die familiegeheime en die donker kant van die mens verberg word. Hy kyk na veral die manlike psige, en dis juis dít wat die boek so interessant maak.
.......

Roulette is plattelandse noir op sy beste, waar Gilroy sosiale kommentaar lewer deur in die Afrikaner se erfstukkas te loer na daar waar die familiegeheime en die donker kant van die mens verberg word. Hy kyk na veral die manlike psige, en dis juis dít wat die boek so interessant maak. Wat onder die soeklig kom, is manlike seksualiteit – spesifiek die gevolge daarvan – en toksiese manlikheid.

Is die Afrikanerhuis waar seuns grootgemaak word soos kroonprinse een van die teelaardes hiervan? Moenie huil nie; moenie sag wees nie; moenie emosies wys nie. Sien wel mans as kompetisie, vroue as jagtrofees, gay mans as sondig en geweld as oplossing van alles. Gilroy wys wat gebeur as hierdie denkwyse seëvier en nie in die bek geruk word nie.

Roulette gaan oor die stiltes wat tussen mans bestaan wat niemand hardop oor wil praat nie, en waarna daardie stiltes lei – geweld, moord, ’n gebreekte samelewing. In dié boek kry mans egter wel ’n stem deurdat dit net die manlike karakters is wat vokaliseer.

........
Op die ou einde van die dag is Roulette egter steeds ’n volbloed misdaadroman met speurder Sollie weer as die hoofkarakter.
........

Op die ou einde van die dag is Roulette egter steeds ’n volbloed misdaadroman met speurder Sollie weer as die hoofkarakter. Ná al sy vorige probleme, is Sollie dié keer op sy voete. Hy en sy vrou is weer bymekaar, die kinders doen goed en hy is onlangs bevorder. Maar selfs hy is nie gevrywaar van sy eie familiegeheime nie ...

Familiegeraamtes en wreed vermoorde mense begin orals opduik. Die oorspronklike en gru maniere waarop die slagoffers vermoor word het my laat gril, maar ook jaloers gemaak as spanningskrywer. Dêmmit, die man se kop is donkerder as myne! Hy pas dan ook ’n baie interessante maar treffende tegniek in die boek toe (ek kan dit nie hier verklap nie) wat omtrent die stresvlakke opjaag.

As jy die boek wil lees as skerp waarneming van die Afrikanerpsige en as postmodernistiese speurverhaal, doen so. As jy net wil sit met ’n glasie nats en ’n paar hande vol biltong en saam wil raai wie die moordenaar is, voel vry.

Sidney Gilroy se Roulette bied bevrediging op alle vlakke.

PS Ek het die moordenaar verkeerd geraai – f jou, Sidney, my ou pêl!

Lees ook:

LitNet wag op jou lesersindruk!

Bloedsomer deur Sidney Gilroy: ’n lesersindruk

Bloedsomer deur Sidney Gilroy: ’n resensie

Vlam deur Sidney Gilroy: ’n resensie

Drie moorde in die baai deur Madelein Rust: ’n lesersindruk

Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen: ’n lesersindruk

Weersiens verby Emmaus deur Kobie Lötter: ’n lesersindruk

François Loots se Twyfelbos is ’n Pierneef-skildery: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top