
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Twyfelbos
François Loots
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-8520-2
Ek het al gewonder of daar nie êrens in die wêreld ’n kunsuitstalling moet wees vir boeke nie? Woorde het die vermoë om in die regte hande beeldskone tonele te skep. Skilderye as ’t ware. François Loots se Twyfelbos is ’n Pierneef-skildery. Hy neem jou op ’n visuele reis na 1829 in die Overberg. ’n Pragtige deel van ons land wat gesorg het vir graan, groete, vrugte en vleis vir die gemeenskap en vir die inwoners van die Kaap. Jy kan steeds die heerlikste vye, skaapvleis en graan hier kry.
Maar die mense wat hier woon, is in 1829 besig om elkeen sy eie plek in die son te vind en vestig. Met die algemene beskikbaarheid van tegnologiese kommunikasiemiddele wat ons het, mag ’n mens dalk dink dat daar deesdae meer vrae as antwoorde is. Meer probleme as oplossings en meer gekompliseerde verhoudings as ooit. ’n Vrou wat op haar eie ’n suksesvolle boerdery bedryf, was nie ’n algemene verskynsel in die 18de eeu nie. Die samelewing se verwagtinge van die vrou van die Kaapse regter, John, aka Johannes Truter, was beslis nie dié van ’n boer nie. Sy moes eerder “smile and wave” as om in ’n langbroek wydsbeen op ’n perd gesien te word. Ons het al van hierdie sienings besweer, maar dinge bly om een of ander rede dieselfde. Hierdie verhaal vervat omtrent elke denkbare tema van menswees. Die stryd rondom seksualiteit, werkloosheid, liefde, pyn en verlies word kunssinnig vervleg in elkeen van die karakters wat opstaan tussen die blaaie om jou leefwêreld vir 263 bladsye lank binne te dring. Elk met sy of haar eie menswees wat jou vul met ’n gevoel dat jy elkeen persoonlik ken. Dis een innerlike en openbare konfliksituasie na die ander. Dan gebeur die ondenkbare: Die man van ’n mishandelde vrou word vermoor.
Jan Tesselaar, die omgewing se veldkornet, moet ’n skulderkenning kry sodat die nuwe Engelse wetgewing uitgevoer kan word, sonder om tyd te mors. Maar daar is so baie om te ondersoek. En is die verdagte die skuldige? Tussen Tesselaar se nuwe bruid, boerdery en hierdie moord, ontbloot hy nie net die waarheid van dié saak nie, maar ook sy eie waarheid. Dis ’n pragtige, diep en eerlike storie wat vandag net so geloofwaardig is as wat dit in 1829 was. Twyfelbos lig die maskers wat ek en jy daagliks opsit om tog net nie die appelkar om te gooi nie, want wat sal die mense sê van wie en wat ons regtig in wese en siel is?


