Vlam deur Sidney Gilroy: ’n resensie

  • 0

Vlam
Sidney Gilroy
Human & Rousseau

ISBN: 9 780798 182199

“Nog ’n blitsblaaier deur Sidney Gilroy. Middernag, die skrywer se tweede roman, is in 2021 met die kykNet-Rapport-filmprys bekroon,” verneem die leser op die agterflap van Gilroy se jongste spanningsverhaal, Vlam.

Speursersant Sollie Mthembu, die protagonis in Gilroy se romans, het diep in lesers se harte ingekruip. Die verhaalstruktuur van Vlam herinner aan Joseph Campbell se monomite the hero’s journey, oftewel die held se reis. Hierdie bekende en gewilde narratief is goed gedokumenteer in mites, folklore, avontuurverhale en misdaadromans. Die protagonis of “held” vertrek op ’n sending, vergesel van mentors, antagoniste en uitdagings. Ná ’n finale katarsis of beproewing, wat hierdie protagonis dan te bowe kom, keer hy terug na sy beginpunt as ’n veranderde of “beter” persoon. Campbell het die “monomyth” of monomite, wat op Jungiaanse insigte steun, gepopulariseer.

Sollie is geen superheld of onrealistiese, verglanste Hollywood-ikoon nie. Hy is ’n doodgewone ou – hy hakkel, het ’n litteken op sy gesig, sy vrou beskuldig hom van ontrouheid, en ten spyte van sy frustrerende werksomgewing as speurder behou hy deurlopend die morele hoë grond. Dit is juis die gebroke realiteit waarin Sollie leef waarin sy edel karakter en deursettingsvermoë geaksentueer word. Vlam getuig van sensitiewe karakterbeelding, soos die verwysing na Sollie se geskende gesig, bl 251:

“Middag, oom,” groet sy en staar openlik na hom. “Wat het met jou gesig gebeur? […] Was dit ’n skelm wat oom probeer vang het? Was dit ’n panga? Het hulle jou geskiet?”

Sollie kan nie anders as om vir haar te glimlag nie. “Nee, nie een van daardie dinge nie. ’n Kwaai hond het my gebyt toe ek klein was.”

Sollie kan sien dat die letsel haar fassineer. “Wil jy voel?”

“Kan ek?” vra sy met groot oë.

[…]

Haar wysvinger raak liggies aan sy wang, en dis bevrydend om dieselfde onskuldige nuuskierigheid in haar oë te sien wat hy so gereeld by Entle ervaar.

Die verhaal spil rondom die wêreldberoemde kunstenaar Aretha Hattingh se kunsgalery wat tot op die grond afgebrand het in Parys, Vrystaat. En daarmee saam haar tuiste én gesogte oeuvre. Die uitgebrande oorskot van ’n vrou is op die toneel gevind. Was dit ’n ongeluk, ’n veldbrand, soos sommige dorpenaars vermoed – of was dit vuilspel? Selfdood? Aretha se eksman (of man, want dit is onduidelik of hulle egskeiding ooit bekragtig is) boek homself in ’n luukse lodge in, van waar hy die kunstenaar op ’n afstand met nyd en antagonisme dophou. Mynhardt Hattingh is ’n mafialid en miljardêr en sy prokureur beweer dat hy regtens aanspraak kan maak op die helfte van die fortuin wat opgelewer is uit die verkope van Aretha se skilderye. Gilroy doen sy bes om Hattingh as ‘n tipe psigopaat aan die leser voor te hou. Ongelukkig probeer die skrywer té hard; en om al wat negatiewe eienskap of immorele gedrag op ’n antagonis te projekteer, oortuig nie – Hattingh word eerder as eendimensioneel, brutaal en psigoties geskets. Die patologie van ’n “ware” psigopaat ontbreek ongelukkig in hierdie karakter.   

Op bl 238 verneem die leser presies hoe gevaarlik Hattingh is: “Die lys van Mynhardt se vriende in Suid-Afrika lees soos ’n Valke-docket oor die Russiese en Chinese mafia se doen en late hier.”

Om die intrige verder te kompliseer, gons dit op die dorp oor die mansvriende in Aretha Hattingh se binnekring – inderdaad ’n hutspot van teenstrydige verhoudings, maar wie sou ’n motief gehad het om haar leed aan te doen? Aretha was mooi, van binne en buite, en ’n kunsagent, prokureur, slagter, bouer en koerier is op die lys van verdagtes – almal mans wat haar reputasie met ’n ouwêreldse ridderlikheid beskerm. Reken daarby die motiewe van ’n bedorwe aanneemkind, ’n versukkelde moeder en gestremde suster op Viljoenskroon wat by die kunstenaar bly spook en die kinkels ontaard in ’n kraaines vol raaisels.

............
Gilroy skryf soepel prosa en sy ruimtelike beelding is goed. Die persoonlike dokument van Aretha, óók ’n fortuin werd en in die besit van die sprankelvrou, word tussen die hoofstukke deur verstrooi as stukkies brief- of dagboekinskrywings – ’n slim truuk van die skrywer om die spanningskurwe verder te verhoog.
.............

Gilroy skryf soepel prosa en sy ruimtelike beelding is goed. Die persoonlike dokument van Aretha, óók ’n fortuin werd en in die besit van die sprankelvrou, word tussen die hoofstukke deur verstrooi as stukkies brief- of dagboekinskrywings – ’n slim truuk van die skrywer om die spanningskurwe verder te verhoog. Op die internet verhandel anonieme NFT-transaksies van onbekende Hattingh-meesterstukke teen miljoene, maar is dit werklik verdag? 

Die vermeende moord wat Sollie moet oplos, beweeg in tandem met sy verbrokkelende huwelik met sy vrou, Nyandi, wat intussen sak en pak met sy kinders terug is Lesotho toe. Hy leer wat die geheim van ’n gesonde huwelikslewe behoort te wees, maar gaan Nyandi sý kant van die storie – oor ’n berugte affair – ooit glo? Die huwelikskonflik as subteks tot die verhaallyn bly ongelukkig in stase: Die skrywer verskaf letterlik te min besonderhede oor die konflik tussen die speurder en sy vrou en die verwysings na hulle uitvalle is bloot déjà vu’s van die voriges.   

Gilroy verras plek-plek met skerpsinnige waarneming en bewoording, byvoorbeeld op bl 225: “Vir die meeste van haar kinderjare het Aretha gevoel asof sy met haar senuwees aan die buitekant van haar lyf rondloop. Oorbewus van elke kyk, elke opmerking, elke afkeurende blik.”

Die leitmotief en meervlakkige leidraad van ’n vlam as kunstenaarsdrif én die persoonlike inspirasie wat Aretha vir ander mense gebied het, word netjies deurgekomponeer. Die leser verneem op bl 271:

“Maar wat van Xanadu? Die plek is aan die brand gesteek en Aretha is weg!”

“Dis korrek. Aretha is weg. En die vlamme wat sý begin het?”

[…]

“Aretha se vlam brand in elkeen van ons in hierdie gemeenskap. Dis ’n vlam wat slegs deur iemand so besonders soos sy aangesteek kon word. Maar dis óns werk om dit aan die gang te hou.”

Gilroy slaag daarin om sy verhaalgebeure as anachronistiese aanbod sinvol en in ewewig te bestuur.

In hoofstuk 49 gaan besoek Aretha Hattingh se aanneemdogter, Aurora, ’n Tarot-leser, ’n gebeurtenis wat ’n dieper mistieke of esoteriese lading aan die raaiselgebeure verleen. Die leser wonder waarom Aurora wegvlug van hierdie psigiese vrou, want wié se leuens is dit wat opdoem uit die toekomsvoorspeller se kaartlesing?

Gilroy se speurroman is geanker in die hede – verwysings na COVID-19 asook die jongste sosialemediatendense van 2022 vind hulle weg deur die boek, wat op sy beurt nie lees soos ’n gefabriseerde afskynsel van die werklikheid nie. ’n Mens kan die skrywer  kleiner foute vergewe – sielkundiges skryf byvoorbeeld nie medikasie voor nie, psigiaters wel (bl 256).

Alles in ag genome is Vlam is ’n geslaagde en bevredigende roman. Alhoewel daar lesers mag wees wat die intrige ná twee derdes die boek in sal kan oplos, beloof dit as leesvermaak nóg ’n gewilde keuse in Gilroy se repertoire van ontspanningsliteratuur. 

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top