Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen: ’n lesersindruk

  • 0

Boekomslag: Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen (Tafelberg, 2025)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die moord op Deveney Nel
Skrywer: Julian Jansen
Uitgewer: 
Tafelberg
ISBN: 
9780624091974

Het jy geweet? “Die wet op Kindergeregtigheid (CJA) van 2008 in Suid-Afrika definieer kriminele kapasiteit as ’n kind se vermoë om die verskil tussen reg en verkeerd te verstaan, en om in ooreenstemming met daardie begrip op te tree. Artikel 7 van die CJA kategoriseer kinders in drie ouderdomsgroepe met verwysing na hulle kriminele kapasiteit:

  • Kinders jonger as 10 het geen kriminele kapasiteit nie en kan nie vervolg word nie. In plaas daarvan word hulle na kindersorg- en beskermingsdienste verwys.
  • 10 jaar en ouer maar jonger as 14 word aangeneem dat hy of sy nie kriminele kapasiteit het nie, maar die staat kan dit weerlê indien die aanklaer kan bewys dat die kind sy of haar optrede en die onregmatigheid daarvan ten tyde van die oortreding verstaan het.
  • Daar word aangeneem dat kinders van 14 en ouer oor ’n kriminele hoedanigheid soortgelyk aan volwassenes beskik. Hulle kan aanspreeklik gehou word vir hul dade tensy hulle ’n gebrek aan kapasiteit ten tyde van die oortreding kan demonstreer.

“As daar bevind word dat ’n kind nie kriminele kapasiteit het nie, soos bepaal onder die CJA, eindig dit nie daar nie. Artikel 9 van die CJA vereis die betrokkenheid van ’n proefbeampte (maatskaplike werker), om dmv ’n assessering die kind se behoeftes te bepaal en om vir die kind ’n rehabilitasieplan te ontwikkel. Op hierdie wyse word aanspreeklikheid en rehabilitasie beklemtoon, eerder as strafmaatreëls, met die doel om die kind weer te integreer in die samelewing met ’n verminderde risiko van heroortreding.

“In die oplegging van ’n vonnis moet die landdros poog om ’n straf op te lê wat die kind se individuele omstandighede, die aard van die misdryf en die belang van die samelewing in ag neem, en seker maak dat die nodige ondersteuning bestaan om die herintegrasie van die kind in die gemeenskap moontlik te maak. Die vonnisopsies, soos deur die wet voorsiening gemaak, is die volgende:

  • ’n Gemeenskapsgebaseerde vonnis, waar die kind kan terugkeer huis toe en ’n proefbeampte gereelde verslae aan die hof moet voorlê oor die kind se vordering.
  • ’n Vonnis wat mediasie tussen die slagoffer en die oortreder behels.
  • ’n Boete of alternatief tot ’n boete wat ’n simboliese betaling soos gemeenskapsdiens kan insluit.
  • Korrektiewe toesig.
  • ’n Verpligte residensiële vonnis by ’n jeug- of kindersorgsentrum.

“Tronkstraf is wel ’n opsie, mits die kind 14 jaar of ouer is ten tyde van die vonnis. Kinders ouer as 14 kan net tronk toe gestuur word as ’n finale uitweg, en dan slegs as die kind ’n skedule 3-misdryf (soos moord of verkragting) gepleeg het, ’n skedule 2-misdryf waar daar dwingende redes bestaan waarom tronkstraf ’n gepaste straf sal wees, of ’n skedule 1-misdryf as die kind ’n rekord het wat hulle skuldig maak aan soortgelyke oortredings én daar ’n dwingende rede bestaan waarom tronkstraf ’n gepaste straf sal wees. Geen kind kan langer as 25 jaar tronk toe gestuur word nie. Kinders wat jonger as 16 is ten tyde van die misdaad, het ’n outomatiese reg op appèl. Kinders ouer as 16, maar jonger as 18, het ’n outomatiese reg tot appèl slegs in gevalle waar hulle tronkstraf opgelê is wat nie opgeskort is nie. In alle gevalle waar ’n kind gevonnis is tot tronkstraf, of tot ’n kinder- of jeugsorgsentrum, moet die saak deur ’n regter van die hooggeregshof hersien word.” Ek het alles hierbo aangehaal uit Julian Jansen se boek, Die moord op Deveney Nel.

Caledon is ’n pragtige dorpie in die Overberg waar almal weet wat in mekaar se lewens aangaan. En soos dit maar die geval is, glo elke persoon dat hy of sy die regte storie ken en dit dan graag deel met almal wat wil luister, of ’n plasing in een of ander vorm van sosiale media wil lees.

Op 7 Augustus 2024, na ’n skolesportbyeenkoms, daag die 16-jarige Deveney Nel nie op om met haar geleentheid huis toe te gaan nie. Haar sussie Jamie en die vrou waarmee sy moes saamry se seun (17 jaar oud) weet nie waar sy is nie en sy antwoord nie die oproep wat hierdie seun na haar foon toe maak nie. So word ’n soektog van stapel gestuur. Deveney se ma wag om te hoor haar skraal tienerdogter is gevind. Maar hierdie ma se hoop is in skerwe, want Deveney se lewelose liggaam word in een van die skool se pakkamers gevind. Wreed vermoor. Hierdie tragedie word uit alle oorde bevraagteken en die dorp se mense vra vrae, wat sommige sommer self antwoord. Daar word links en regs veroordelings gemaak, stories versin en die storie kry ’n lewe van sy eie. Ongeag of dit waar of vals is en of daar stukkende siele is wat verder gebreek en verrinneweer gaan word deur hierdie uitlatings. 

Intussen word die beweerde moordenaar deur ’n knap speurder vasgetrek. Dit is die seun, met wie sy saam met haar sussie en dié se ma veronderstel was om huis toe te gaan. Dieselfde seun wat vier jaar tevore, net 13 jaar oud, skuldig bevind is vir die verkragting van ’n 11-jarige meisie by ’n kampterrein naby Albertinia. Haar ma het haar byna lewelose geskende liggaam in ’n rivier gekry.

......
Hoe het hierdie gruweldaad plaasgevind met die amper onverbeterlike kinderwetgewing wat ons in Suid-Afrika het?
......

Hoe het hierdie gruweldaad plaasgevind met die amper onverbeterlike kinderwetgewing wat ons in Suid-Afrika het? Wat het veroorsaak dat die prosesse nie nagevolg is nie? En waarom het niemand geweet van hierdie vorige oortreding nie? Daar word vingers gewys en vrae word beantwoord met niksseggende leë rympies, verskonings en verwysings na die wet op minderjariges wat enige kommentaar verhoed. Daar is ’n vonnis opgelê sonder dat dit opgevolg of uitgevoer is. Die kinderwet is van die beste in die wêreld, maar ongelukkig niks werd as dit nie uitgevoer word nie. Ons Suid-Afrikaanse regstelsel en openbare maatskaplike dienste het drie kinders, in hierdie een geval, in die steek gelaat. Deveney het met haar lewe hiervoor betaal. Dit is eenvoudig onverskoonbaar. Die realiteit is dat hierdie net een van vele tragedies is met dieselfde draaiboek. Daar is ’n groter meerderheid waarvan ons net nooit hoor nie. Wie moet verantwoordelik gehou word? Ons regters, die oorwerkte maatskaplike werkers, die skool en onderwysers of die ouers van ons samelewing se “probleemkinders”? Dit kan enige een van hierdie partye wees, maar die vraag wat onbeantwoord bly, is wat word hieraan gedoen? 

Julian Jansen bespreek hierdie kwessie met feite en deskundiges se insette sonder handskoene. Want een lewelose, verkragte, emosioneel-geskende, onbehandelde, gebreekte kind is meer as te veel. Hoe verwerk die ma van ’n 11-jarige meisie dit dat daar nie geregtigheid geskied het vir haar kind wat vir dood agtergelaat is nie? Hoe word ’n gevaarlike, gebreekte kind toegelaat om sonder die nodige hulp en leiding die lewe van twee families onherroeplik te vernietig? Daar is nie ’n enkele persoon, instansie of stelsel wat die verantwoordelikheid hiervoor aanvaar nie. Intussen word net nog ’n kind mishandel, verkrag en vermoor. Want ’n stukkende regering, regstelsel en sosiaal-maatskaplike departement kan nie gebreekte mense en kinders help of regmaak nie. En die feit is, daar is geen samewerking tussen die regters, maatskaplike werkers of ouers nie. As niemand aanspreeklik gehou word nie, wat is die papier waarop ons wêreldklas wetgewing geskryf is werd?

Die moord op Deveney Nel gooi ons samelewing se donker waarheid oop. Maar dit belig ook die onbaatsugtige en uiters bevoegde voete op die grond. Die mense wat nie ophou om om te gee nie, ten spyte van gebrekkige bronne en ondersteuning. Dit is hierdie hoekstene waarop ons hoop gebou is. ’n Samelewing kan seker nie altyd regverdig en sonder trauma funksioneer nie, maar ons moet beslis daarna streef. En daar is mense wat dit doen met alles wat hulle is en het. Met of sonder die ondersteuning van dié wat die hoë gestoeltes, onbevoeg en oorbetaal, volsit. Ons is dit aan ons kinders en onsself verskuldig.

......
Lees hierdie boek. Nog beter, koop meer as een en gee dit vir jou bure, dominee, pastoor of geloofsleier, jou kind se onderwyser en almal wat jy teëkom wat by kinders betrokke is. As ons as gemeenskap probleme vroeg genoeg raaksien en daarop reageer, kan hierdie tipe misdrywe gekeer word voordat dit gebeur.
......

Lees hierdie boek. Nog beter, koop meer as een en gee dit vir jou bure, dominee, pastoor of geloofsleier, jou kind se onderwyser en almal wat jy teëkom wat by kinders betrokke is. As ons as gemeenskap probleme vroeg genoeg raaksien en daarop reageer, kan hierdie tipe misdrywe gekeer word voordat dit gebeur. Kom ons gee self die eerste tree na ’n gesonde samelewing. Die moord op Deveney Nel gaan jou ontstel, en ek hoop dit ontstel die regte persone wat effektiewe optrede en ’n werkbare oplossing teen die geweld in ons midde kan bied. Iemand of ’n organisasie wat al die instellings, komitees en aktiviste saambring om al die moontlikhede en oplossings te ondersoek en kan deurvoer. Ons moet eerder 80% van ons energie, hulpbronne en fondse op voorkoming spandeer. Ons maatskaplike dienste moet deeglik beman, vergroot en bemagtig word om proaktief op te tree, en om waar nodig effektiewe rehabilitasie te bewerkstellig. Een maatskaplike werker is te min vir ’n area so groot soos die Overberg. Hoe lyk die res van ons land? Soos sake nou staan, is dit krisisbestuur wat nie behoorlik bestuur kan word nie. ’n Kwessie wat nog nie eers aangeraak is nie, is die gebrek aan die nodige traumaberading en professionele hulp vir slagoffers en hul families. Deveney Nel se ma en familie het die volste reg om die donner in te wees. So ook ek en jy.

Dankie vir hierdie boek, Julian. Mag jou navorsing en deeglike werk nie ongesiens verby gaan nie.

Lees ook:

Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen: ’n resensie

Laat die vervolgingsgesag ons almal in die steek?

Moord verkoop: Freek Robinson stel ondersoek in

Tronke bedreig ons dogters: ’n resensie van Anthony Molyneaux se Last blue ride

Strafoplegging vir dummies

Joshlin: Indrukke uit die hof

Suid-Afrikaanse skole so onveilig soos Suid-Afrikaanse strate

Op dees aarde: Die tragedie van Suid-Afrika se kinders

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top