Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen: ’n resensie

  • 0

Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen (Tafelberg, 2025)

Titel: Die moord op Deveney Nel
Skrywer: Julian Jansen
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624091974

Op watter ouderdom is ’n kind toerekeningsvatbaar?

Dit is een van die belangrike vrae wat in Julian Jansen se nuwe boek, Die moord op Deveney Nel, gevra word.

Hoe gebeur dit dat ’n 17-jarige seun wat van die beweerde verkragting van en moord op ’n onskuldige meisie verdink word, dan nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie? Op watter ouderdom moet jy dan besef dat dit wat jy gedoen het, moontlik boos is?

Die omslag is treffend en trek jou dadelik in. Jy sien die gesig van Deveney, ’n oulike tienermeisie met ’n ietwat parmantige gesigsuitdrukking. In die agtergrond is ’n seun (die skuilnaam Frank word vir hom gebruik) wie se gesig bewustelik wasig is. Daar is ook ’n foto van die rustige, heuwelagtige omgewing om die plattelandse dorp Caledon. Die prentjie is misleidend, want dit is die laaste plek waar jy sou dink so ’n drama hom sou afspeel.

Die subopskrif trek jou aandag: “Twee misdade. Drie kinders. Geen geregtigheid.” So word alles netjies in ’n neutedop opgesom.

Die agterblad vertel dat die 16-jarige Deveney Nel se liggaam op 7 Augustus 2024 in ’n skoolpakkamer ontdek is. Agter hierdie gruwelike moord is ’n verhaal wat veel dieper strek as slegs ’n enkele daad van geweld.

Die ervare ondersoekende joernalis en topverkoperskrywer Julian Jansen volg die spoor van die beskuldigde, ’n 17-jarige seun met ’n geskiedenis van beweerde gewelddadige gedrag wat reeds jare tevore na bewering deur die krake van Suid-Afrika se regstelsel geglip het.

In die voorwoord verduidelik Jansen dat die Suid-Afrikaanse Strafproseswet dekades gelede reeds bepaal het dat minderjariges wat van misdade aangekla word, of aan enige misdaad skuldig bevind is, nie geïdentifiseer mag word nie. In die verlede het hierdie verbod gegeld tot die kind 18 jaar oud geword het, maar in 2019 het die Konstitusionele Hof bepaal dat die weerhouding van minderjarige misdadigers se identiteit lewenslank van krag bly.

.......
Moenie vir my sê dat die inwoners van ’n klein dorpie soos Caledon nie presies weet wie die beskuldigde is nie. Sulke nuus trek mos soos ’n veldbrand.
.......

Moenie vir my sê dat die inwoners van ’n klein dorpie soos Caledon nie presies weet wie die beskuldigde is nie. Sulke nuus trek mos soos ’n veldbrand.

In die inleiding vra Jansen hoe dit moontlik is dat ’n jong graad 10-dogter van ’n gegoede plattelandse skool op die wreedaardigste wyse denkbaar in ’n pakkamer op die skoolterrein met ’n mes gesteek is en dan ure lank vermis gebly het.

Hoofstuk 1, getiteld “’n Alleenkind, broeiend en onrustig”, vertel jou reeds iets van “Frank” se onrusbarende geaardheid.

Sy ouers het in sy graad 5-jaar besluit om hom uit sy skool in Grabouw te neem en het hom en sy boetie by die Laerskool Overberg ingeskryf nadat hy gekla het dat hy gereeld by sy vorige skool geboelie is. Die onderwysers het egter gekla dat hy manipulerend, hiperaktief en uitdagend opgetree het, met min ontsag vir dissipline.

Hy was glo aan die begin van 2024 in ’n bekgeveg met ’n medeleerling en die skoolhoof betrokke, waartydens hy vloekwoorde gebruik het.

Die ironie was dat hy ’n passie vir noodhulp gehad het, ’n paramedikus wou word, en by ambulansdienste betrokke geraak het.

Hoe, wonder ’n mens, rym dit as ’n kind aan die een kant lewens wil red en aan die ander kant na bewering ’n lewe kan neem?

Sy huislike lewe was na bewering chaoties en hy het na bewering toenemend drank en dagga gebruik.

Later is beweer dat hy meisies, weens naakfoto’s wat hulle aan hom gestuur het, afgepers het om met hom seks te hê.

Al meer gevaarligte het begin flikker.

Toe Deveney wegraak, was die skool en gemeenskap in rep en roer. Paniek het geheers. Dit was boonop kort na die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith in Saldanha aan die Weskus.

Deveney se liggaam is daarna in die stoorkamer gevind met baie bloed en tekens dat die lyk deur die vertrek gesleep is. Die stoorkamer is in ’n stil gebied van die skool, wat op duidelike beplanning gedui het. Daar was steekwonde aan die slagare in haar nek.

Die leidrade was min en almal het gewonder oor die motief. Heelwat fopnuus is die kuberruimte ingestuur. Kinders se selfone is nagegaan, en soos Jansen skryf: “Skoolkyse was skielik polisiesake.”

Met die ondersoek het dit duidelik geword dat Deveney vermoor is deur iemand wat sy geken het. Ook dat sy voorheen ’n verhouding met Frank gehad het en dat hy dikwels in die verlede haar ouerhuis besoek het.

Toe kom dit boonop aan die lig dat Frank daarvan verdink is dat hy na bewering as 13-jarige ’n 11-jarige meisie by ’n kampeerterrein verkrag en vir dood agtergelaat het.

Hoe op aarde kon dit nooit in die howe gedraai het nie? Daar is blykbaar bevind dat hy “ontoerekeningsvatbaar” was. “Vervolg hom as ’n volwassene,” laat woedende drukgroepe hoor.

Hierdie hoofstuk in die boek lui gepas “’n Slagveld van mislukking”.

Jansen skryf ook oor die openhartige gesprek wat hy met die eerste slagoffer se ma gehad het. Vir besonderhede oor hoe dinge verder ontvou het, moet lesers die boek self lees.

.......
Hierdie boek is nodig. Met die lees daarvan het ek egter besef dat dit eerder ’n nuttige handleiding vir ouers en die gemeenskap is oor die gevaartekens wat geweldsmisdaad voorafgaan as ’n boek oor die persoonlike besonderhede van Deveney.
.......

Tien dae na die moord is Frank gearresteer en van moord aangekla.

Jansen se skryfstyl is dié van ’n ervare joernalis, reguit en op die man af. Sy beskrywing van adjudantoffisier Baksteen Louw is heel pittig en herinner aan dié van ’n misdaadroman.

“Hy praat reguit, dwarsdeur ’n saak en nie daaróm nie. Ja, hy kan ’n vuilbek wees, maar hy is ’n speurder duisend. As hy op jou spoor is, sal hy jou kry – tot daar waar jy onder jou bed wegkruip met ’n piskol op jou broek soos jy jou natgemaak het omdat jy weet Baksteen is op jou spoor,” skryf hy.

Meer macho kan dit nie.

Soos die geval met ’n goeie joernalis is, raadpleeg hy ook talle kenners. Hy skryf ook met die vaderlike kommer van iemand wat self 18 jaar lank ’n onderwyser was.

Dikwels word skrywers wat oor geweldsmisdaad skryf, deur leke daarvan beskuldig dat hulle “net sensasie soek”. Dit was nie vir Jansen nodig om enigiets te dramatiseer nie, want die gebeure was grusaam genoeg.

Frank is na sy inhegtenisneming na ’n kinder-en-jeugsorgsentrum op die Kaapse Vlakte gestuur waar hy met sy skoolloopbaan voortgaan. Intussen het ’n psigiatriese verslag bevind dat hy wel toerekeningsvatbaar is. Hy is in April vanjaar na die gevreeste Pollsmoor-gevangenis oorgeplaas.

Hierdie boek is nodig. Met die lees daarvan het ek egter besef dat dit eerder ’n nuttige handleiding vir ouers en die gemeenskap is oor die gevaartekens wat geweldsmisdaad voorafgaan as ’n boek oor die persoonlike besonderhede van Deveney.

Ek het volle begrip vir die mededinging in die niefiksiemisdaadboekmark en dat die uitgewer moontlik ander uitgewers wou voorspring met hierdie tragiese en opspraakwekkende storie. Dit maak die taak van die skrywer moeilik as die hofsaak weens die beskuldigde se jeugdige ouderdom in camera gehou is en hy, die skrywer, dit uiteraard nie kon bywoon nie. Dis nog moeiliker as Deveney se ouers nie met die media wil praat nie, wat heeltemal te verstane is. Daar is geen groter en dieper trauma vir ouers as om ’n kind te verloor nie. Veral op hierdie wrede wyse.

.......
Die gebeure het nog nie eers ’n jaar gelede plaasgevind nie en het my, ondanks die skrywer se knap vaardighede, met talle vrae gelaat.
.......

Dalk sou hulle ná die vonnis en na ’n verloop van tyd wel bereid wees om ’n oop gesprek met die skrywer te voer. Tyd heel nie alle wonde nie, maar ’n bietjie afstand (indien enigsins moontlik) en afsluiting van die grusame gebeure sou dit dalk minder pynlik vir die ouers gemaak het.

Daarom dink ek met respek dat hierdie boek ietwat voortydig is. Die gebeure het nog nie eers ’n jaar gelede plaasgevind nie en het my, ondanks die skrywer se knap vaardighede, met talle vrae gelaat. Jansen het nogtans sy bes gedoen met die inligting wat hy tot sy beskikking gehad het. Op die ou einde het hy ’n veel wyer en breër konteks oor die onderwerp gegee, meer opvoedkundig as opspraakwekkend.

Hy deel ook feite wat in ons land nie genoeg benadruk kan word nie. Ongelukkig plaas dit weer eens die samelewing en die owerhede in die beskuldigdebank. Meer as een persoon het na bewering bloed aan sy hande.

Lees ook:

Laat die vervolgingsgesag ons almal in die steek?

Moord verkoop: Freek Robinson stel ondersoek in

Tronke bedreig ons dogters: ’n resensie van Anthony Molyneaux se Last blue ride

Strafoplegging vir dummies

Joshlin: Indrukke uit die hof

Suid-Afrikaanse skole so onveilig soos Suid-Afrikaanse strate

Op dees aarde: Die tragedie van Suid-Afrika se kinders

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top