
Titel: Bloedsomer
Skrywer: Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau (2024)
ISBN: 9780798184212
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
André P Brink se 1979-roman, ’n Droë wit seisoen, eindig met hierdie gewaagde stelling:
Miskien is die meeste waarop mens mag hoop, die meeste wat ek my mag aanmatig, presies net dit: om op te teken. Net om verslag te lewer. Sodat dit onmoontlik sal wees dat enigiemand ooit hierná durf sê: “Ek het nie geweet nie.”
Die hele paragraaf op bladsy 261 is in my boek in geel gekleur; die laaste vyf woorde daarby in rooi onderstreep. Sidney Gilroy se vierde misdaadroman, Bloedsomer, herinner my hieraan.
Alhoewel Brink se roman destyds apartheidsgeweld tot in my slaapkamer geneem het, nooi die Vrystaatse skrywer van Klikbek, Middernag en Vlam se nuutste penvrug hawelose mense na my etenstafel uit. Sy driedimensionele karakterisering en outentieke milieubeskrywing is so eg, so eerlik, ek steek sommer my hand uit en stel myself voor. Dit dwing my ook om my gedagtegang te ondersoek – oordeel ek nie te maklik nie? En belangriker: Hoe gaan die jongmanne van Kruislaagte, Ottersgat en Indawoletho streef om die regte keuses te maak as hulle soms, weens ons samelewing se onbetrokkenheid, geen keuse het nie?
Wat ek van hierdie tipe leesstof hou – dink ook aan John Miles se polisieroman, Kroniek uit die doofpot, en Cas Wepener se Die Slaghuis – is nie dat mens die boeke met ’n potlood in die hand lees nie, ook nie dat mens jouself verwonder aan die skrywers se ryk taalregister nie, maar dat die skrywers nie met ’n moord in die huis val nie. In al hierdie boeke ontmoet die leser eers die karakters, naak, weerloos (soos Petunia wat te voet huis soek), voor ons aan die geweld blootgestel word.
Dan is dit inderdaad ook met Bloedsomer soos Beer Adriaanse oor Middernag vir die kykNET-Rapport-boekprys vir film waargeneem het: “Dit torring aan die gehoor se bewussyn op sielkundige wyses, eerder as blote aksie en gruwel.” Ek dink die 44-jarige skrywer van Virginia kry dit reg, omdat hy meer fokus op die snellers wat tot misdaad lei, as die geweld self.
Bloedsomer is ’n krimi, so daar is uiteraard moord, maar Gilroy neem ons deur agterpaaie verby bendelewe, mensehandel en orgaansmokkel, van die plaas Moordenaarskuil na ’n Russiese skeepskaptein. Lesers wonder: Hoekom is Arno Heemstra in ’n inrigting? En hoe pas die weggooikind, Albaster, Die Clowns-bende, ’n Russiese skeepskaptein en die matriarg van die vooraanstaande Heemstra-familie se testament alles inmekaar?
En ek weet jy het ’n voëltjie hoor fluit, maar ja, speursersant Sollie Mthembu is nie aan die spits van die ondersoek nie, maar wel Petunia Moraleng, die voormalige stasiebevelvoerder op Parys wat ons vlugtig in Vlam ontmoet het. Dit op sigself is vir hierdie leser ’n trekpleister, want as ek reg onthou, was sy in Vlam aan die lui kant. En in Bloedsomer is sy van haar rang as kaptein gestroop.
Ons sit egter nie net met ’n verandering van hoofkarakter in boek vier nie, maar die skrywer breek ook weg van sy kenmerklike plattelandse dorpies. Die verskuiwing plaas ons in Mooibaai, ’n denkbeeldige kusdorpie in die Suid-Kaap.
In nog ’n geel gekleurde gedeelte in ’n Droë wit seisoen vra Brink:
“Jy is anderkant. En hoe kan ek dit verduidelik in die woorde van duskant?”
Gilroy, wat reeds met ’n filmprys benoem is, is ’n maestro in filmiese woordskepping. Hy skilder duskant se lewe so kleurvol, ek sien die boek voor my afspeel. En dit is juis omdat duskant so real is dat ek nie net hul pyn en sukkel aanvoel nie, maar ook hul voetspore na hoop volg. Ek skiet selfs ’n gebedjie na bo: Laat Sloet Baadjies asseblief tog na die plaas, Moordenaarskuil, loop.
Waarvan Gilroy nie wegbreek nie, is sy wenresep om sterk sosiale temas aan te pak. Dit gaan oor meer as armoede en domestic noir. In Bloedsomer vlek hy nie net die tema van afwesige vaders oop nie, hy sny ook in die gedagte van vaders wat liefs afwesig moes wees. Ons kry ook ’n indiepte kyk in die soeke na manwees en ’n verlore siel wat enigiets sal doen om te behoort. Selfs sal moor vir verwondering. Die sin op bladsy 58 laat hierdie leser koud word: “Hy gaan ’n statement moet maak sodat niemand hom daarna sal kan ignoreer nie.” In Die Clowns se hiërargie, lees ons, verdien jy jou rang met bloed, lojaliteit en verskrikking, en daarsonder is jy net ’n wannabe gangster.
Hierdie temas word natuurlik direk gekoppel aan gewelddadige mans. Ook in gesinsverband. Die klem val direk in die Arno-Roan-anagram, die bose teenoor die goeie, soos Jonathan Amid so pragtig in sy resensie (Beeld, 18 Maart 2024) uitwys. Om dit doeltreffend uit te beeld, kies die skrywer doelbewus sterk vrouekarakters. Ek dink nie net hier aan Petunia (nota: ek het nie gedink ek gaan van haar hou nie) en Monja nie, maar dalk veral aan die 18-jarige Albaster. Laasgenoemde het regtig in hierdie leser se hart geklim.
Francois Bekker som die boek mooi op wanneer hy in Rapport (3 Maart 2024) opmerk: “Bloedsomer is in die eerste plek ’n diep menslike verhaal oor mense wat seergekry het en in ’n daaglikse stryd gewikkel is om kop bo water te hou.”
In nog ’n Brink-geel-gekleurde-frase staan die wel bekende woorde:
“Wat ek dink, is dat mens een keer in jou lewe, net één keer, genoeg in iets moet glo om alles daarvoor op die spel te plaas” (bl. 227).
Gilroy het dit in sy stryd teen e-boek-diewe uitgeleef. Maar hy demonstreer dit ook in sy boeke: Hy is ’n kampvegter vir die mense wat nie self kan praat nie.
Om terug te keer na Brink se openingsaanhaling: Ek dink nie Sidney Gilroy het net verslag gelewer nie, ek dink hy het oortuig. Francois Bekker, Jonathan Amid, Anschen Conradie, Trisa Hugo en Jeanette Andrews is van die stemme wat Bloedsomer se lofpsalms sing; ek sluit by hulle aan. En om die onvermydelike vraag te beantwoord: Konstabel Petunia Moraleng het sonder twyfel soos speursersant Sollie Mthembu in lesersharte geklim.



Kommentaar
“Waarvan Gilroy nie wegbreek nie, is sy wenresep om sterk sosiale temas aan te pak. Dit gaan oor meer as armoede en domestic noir.”
My kletsbot sê: ‘ "Huislike noir" is 'n subgenre van misdaadfiksie wat gewoonlik fokus op die psigologiese spanning en donker geheime binne huishoudelike omgewings, soos gesinne of intieme verhoudings, dikwels met temas van verraad, manipulasie, en geweld.’
Sal ‘armoede’ dan nie as tema binne ‘n (sub)genre beskou word, eerder as ‘n gelykstelling van beide aan ‘sosiale temas’ nie? Of bedoel jy sy resep om sosiale temas aan te pak bevat meer as net armoede en domestic noir?
Eendag is eendag, as ek my sonde nie ontsien nie, dan lees ek ‘n Gilroy.