Resensie: Klikbek deur Sidney Gilroy

  • 0

Klikbek
Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178112

“Jou seelplek sal gesond wôd. Jy sal sien. My seelplek is weg.”

So sê die kinderlike Seun aan ons hoofkarakter speurder Sollie Mthembu in ’n teer oomblik. Dis hier waar Klikbek deur Sidney Gilroy my laat retireer. Want te midde die boeiende spannings- en speurverhaal waarin hierdie fiksie geskryf is, skyn ’n eg medemenslikheid van Suid-Afrikaans-wees uit karakters van verskillende agtergronde en kulture. Net vir ’n oomblik maak pyn en empatie vir Seun en Sollie gelyk.

Kyk, Klikblek se drama handel om die vetes van drie wit Afrikaner-families op ’n Vrystaatse dorpie, Rhynveld, en die omliggende familieplase. Die Wagenaars, Jacobse en Du Toits is aan die voorgrond in Mthembu se heel eerste saak as speurder toe die ryk en belustige patriarg, Tillman Wagenaar, skielik verdwyn van sy megaplaas, Onverwacht. Tillman ontmoet ons wel op ’n plek waar hy self nie weet waar hy is nie en later wonder mens of hy dit tog nie verdien het nie. Want selfs hy is nie onskuldig hier nie. En alhoewel die familiedrama – of altans, plaasdrama – in hierdie spanningsfiksie hom uitgee aan die eiesoortige plattelandse Afrikanerkultuur en sy romantiek soos dit al tot vervelens geskryf is, is dit tog Sollie Mthembu wie se gedagtegang te midde van sy milieu sorg vir ’n vars en opregte perspektief vir ’n hoofkarakter van Gilroy se eerste boek. Hy skryf Sollie as sy hoofkarakter, en liefs nie held nie, in so ’n mate dat dit betrekking het op nuwe gesprekke rondom Afrikaners op die platteland en hul verhoudings tot ander Afrikaanssprekendes in ’n demokratiese Suid-Afrika huidiglik.

Sollie was die kind van die huishulp wat agter in ’n huisie by die Steyns gebly het. Hy praat lateraan Afrikaans nes die huiskinders en begin met hulle speel. Sy Afrikaans klink soos hulle s’n, maar van ’n jong ouderom het hy agtergekom dat hy nie soos hulle is nie. En so ook andersom. Hy bly in die agterhuisie as sy ma die wit kinders help met hul huiswerk smiddae, hy speel met hulle net totdat ander wit maatjies opdaag ... En eendag, toe Wilhelm en sy nuwe maats hom nooi om saam te speel in die agterjaart, nadat hul weet hy vrees die groot Rottweiler, wat hom nog nooit aanvaar het nie, bak hulle hom ’n poets wat lei tot ’n letsel wat hom vir ewig daaraan sal herinner. En dis waar Sollie se pad al begin het met hierdie ingewikkelde speurverhaal wat afspeel  tussen drie Afrikanerfamilies op plase langs mekaar.

Sy permanente seel, ’n onmisbare vlek en brandmerk wat vir ewig sal getuig hy is nooit soos hulle nie, maar hier is hy nou ... op soek na ’n moordenaar tussen mense wat hom steeds skeef aankyk, al is sy Afrikaans baie beter as hulle s’n.

Hierdie debuut het soveel vlees: Sias du Toit, die vooraanstaande dog steroïedverslaafde rugbyster wat toelaat dat sy kindertrauma ’n impak het op sy lewenskeuses, maar ook sy onopgeloste seksualiteitkrisis, bied ’n ander perspektief op die “rugbyheld van die platteland” wat steeds opgehef word in ons huidige tydvak. Daar is ook die vreesaanjaende en uitdagende joernalis Carla Kruger, wat als sal doen vir ’n storie. Selfs haarself onbewustelik offer. En Betheuel Maduna wat weier om van die Wagenaars se grond te trek; ’n besluit wat Onverwacht se welgestelde eienaars frusteer het nadat hulle vir al die werkers ’n goedversorgde splinternuwe woonkompleks gebou het, maar tog word sy teenwoordigheid op die plaas een wat belangrik is vir die dramatiese spanning later in die boek. Hiermee het ek ook gedog Gilroy sal iets omtrent grondhervorming uitlok, wat baie verfrissend sou gewees het, maar hy laat hom nie verlei deur relevansie net ter wille daarvan nie.

Dan is daar ook die hardekwas kaptein Maartin Brummels met sy sigarette, die ewe eienaardige Dassie en Lukas Jacobs, die afgryslike Bart Brinkman wat sy huis altyd as heenkome oop hou vir ieder en elk. En Renate Wagenaar, die matriarg van die Wagenaars, wat getuig van ’n soliede vroukarakter in al haar vlees – ’n tipiese Lady Macbeth oppie platteland, so wil ek glo.

Klikbek se karakters sal my lank nably as dinamiese karakters wat as mense so duidelik in my geestesoog vertoon het. Die pas waarteen die vertelling verloop, is ook maklik en het nie te veel probeer om spanning uit te rek nie. Gilroy gaffel die leser so deeglik dat jy op die uitkyk is vir die volgende keer as die storie ’n anderste wending aanneem.

Nader aan die einde van die boek besef mens dat die saak nog nie opgelos is nie en dus wag jy vir ’n oortuigende slot. En so was dit gewees. Maar op so ’n manier dat jy as leser en ons hoofkaraker, Sollie Methembu, nooit sou kon dink dat sy eerse saak as speurder tot só ’n einde sal kom nie.

Hierdie fiksie sal ek beslis aanbeveel en dit verdien eervolle vermelding as ’n goeie debuut. Daarby het Klikbek ook die potensiaal om as rolprent of dramareeks kykers te boei op die skerms. Wie weet ... dalk eendag. Tot dan, lees eerder die boek en onthou my woorde: Genotvol. Boeiend. Verfrissend.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top