Skrywersonderhoud: Sidney Gilroy oor Middernag

  • 0

Foto van Sidney Gilroy: verskaf

Middernag
Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798180542

’n Boek is ’n gevaarlike ding. Dit trek jou in tussen die bladsye, bind jou sin vir sin vas, verstrengel jou met woorde en speel soms so met jou kop en jou emosies dat jy die boek nie kan neersit nie, al wil jy.

Sidney Gilroy se nuutste krimi, Middernag, is so ’n boek. Dit hou jou angstig gevange, jaag jou in donker, vreesaanjaende hoeke in en wil jou nie laat los nie.

Niemand het hom ooit teen lees gewaarsku nie, sê Sidney vir Emilee Swart.

“As kind was dit nog altyd vir my ’n boeiende gedagte – in boeke gebeur daar baie rowwer dinge as op die plattelandse dorpie waar ek grootgeword het en die grootmense het glad nie omgegee as ek myself daarin verdiep nie.”

Sidney het op twee plattelandse dorpies grootgeword – eers Virginia en later Harrismith – wat dan ook die fokuspunt in Middernag is.

Al werk hy in Pretoria as ’n operasionele bestuurder vir ’n telematiese inligtingstegnologiemaatskappy, sal jy hom altyd aan die buitewyke vind. “Iewers waar die stad na links is, en die veld net agter my bakhand na regs.”

Hy praat van hoenders wat moet kan skrop op sy werf, van katte en honde. Hy skets ’n prentjie van ’n gewone, goeie plattelandse seun wat by die biblioteek geboer het. Hy sê sy geluk is op eenvoud gebaseer en dat hy nie juis ’n moeilike mens is nie.

Tog …

Hoe kan hy dan so maklik in die kop en versteurde siel van moordenaars en psigopate klim, sowel as in die analitiese jaghondbrein van speurders? Het hy ’n donker kant? ’n Neus vir misdaad?

Soos wat een van sy karakters in Middernag sê: “Die Vrystaat het twee gesigte, sersant. Soos yin en yang. Die een is die Hilux-bakkies en die mielielande en Grey-kollege … maar as die klok middernag slaan … weet jy tot wat julle mans in staat is.”

Sidney meen: “Ek sou beide misdadiger en speurder kon wees. Wil ek? Nee. Om een van die twee te wees is om naby aan die swart naaf wat net onder die oppervlak van die mensdom vloei te leef. En dít dink ek is onuithoubaar.

“Soms dink ek kriminele het hulself oorgegee aan die swart en donker en vieslike van wat ’n mens kan wees en ander kere dink ek dié wat hulle wil vang, is op ’n makabere manier gefassineerd deur die einste donker dieptes van die menslike siel.”

Natuurlik het elkeen van ons ’n nagkant, sê Sidney.

“Ons wys dit net op ander maniere vir mekaar en die wêreld. Daar is byvoorbeeld vir my geen verskil tussen massamoordenaars en witboordjiekriminele nie. Nie almal kry die geleentheid om te moor nie en nie almal het die guts om te moor nie, maar dit beteken nie hulle sál nie …”

Alhoewel Sidney hom nie net tot die krimigenre beperk nie (daar is ook jeugverhale en romanzas), is hy aangetrokke tot dié genre oor die karakters en hoe hy met karakterskepping kan speel.

“Die karakter kan doodnormaal of uitspattig vreemd wees, want ’n krimi gaan juis oor die aksies van die karakters wat buite die normale idee van aanvaarbare gedrag is.”

Dan is daar die motief van die karakters. Wat dryf hulle? En wat dryf hulle tot moord?

“Wat my baie boei, is die sake wat klaarblyklik geen antwoord het nie. Geen emosie. Geen motief. Geen noembare gewin uit die oorledene se dood nie. Ek vermoed dáár lê die saad van die monster. En wat my altyd laat terugsteier, is dat die monsters maar mense soos ek en jy is. Dit sê iets oor ons, die samelewing.

“Elke monster was eens aan ’n moeder se bors. Hoekom breek sommiges ander? Wat het hulle gebreek? Dit besorg my slapelose nagte. Ek glo baie sterk daarin dat alle pyn gelyk is en dat haat en geneigdheid tot geweld se oorsprong in onafgehandelde pyn gesetel is. Ek wil hulle almal oplos, want dan kan ek die monster agter die lem of geweerkolf of vuiste verstaan. En daarin lê die oplossing vir ons misdaadvraagstuk in Suid Afrika.”

Volgens Sidney het hy nog nie self die lem van erge geweld gevoel nie. Maar daar was twee mislukte kapings.

“Ek dink ons, as ’n samelewing, het comfortably numb geword wat geweld en misdaad betref. Duisende slagoffers word ’n paar swart letters op ’n skerm of ’n koerantbladsy. Omdat ons dit so baie sien en so baie daarvan hoor, raak ons naderhand blasé daaroor.

“Ek het iewers gelees dat alle misdaad maar deur 5% van enige bevolking gepleeg word. Die ander 95% is as ’t ware uitgelewer aan die siekes, korruptes en geweldenaars.”

Het misdaadfiksie dan ooit ’n plek in hierdie wêreld wat oorloop van misdaad en geweld? Is dit nie te veel nie?

Nee, sê Sidney. Vir hom is misdaadfiksie ’n manier om by te dra tot die waarskuwing: Net omdat dit nie met jou gebeur het nie, beteken dit nié dit gebeur nie.

Dan ook is misdaadfiksie vermaak. ’n Spel van kat en muis tussen die skrywer en leser wat beide geniet. Wie het die moord gepleeg? En waarom? Raai, raai is aan die orde van die dag. Soos met regte moordsake.

“Ek het al na moordsake in die land gekyk en dan weet ek wie die skuldige is. Maar ek byt eerder op my tong en skryf dit in ’n karakter in. Om te weet iemand het iets gedoen en om dit te bewys, is die groot tragedie.”

Maar in ’n boek word die bewyse gevind, die skuldige aangekeer.  En as die skrywer Sidney Gilroy is, word nie net die skuldige se donker kant belig nie.

“Met my eerste krimi, Klikbek, wou ek bitter graag gehad het dat die leser meer as afkeer of walging vir die moordenaar moes voel. Ek wou nie gehad het dat hulle hom of haar moes bejammer nie, maar dat hulle die boek sou kon toemaak en sê: Dis verkeerd wat gedoen is en wat gebeur het, maar ek verstaan waarom.”

Nie dat Sidney self altyd die waarom verstaan nie.

“In enige misdaad word menslikheid van die slagoffer gestroop. Om te vat van iemand sonder inagneming van hulle menslikheid is die definisie van misdaad. Of dit nou hul onskuld, lewe of besittings is – jy eien jouself iets toe wat deur ’n universele wet nie joune is nie. En deur jou aksies word jy self minder as mens. Maar die oortreder moet tog in sy of haar kop daardie besluit neem. Wanneer gee jy jou menslikheid op om ’n ander s’n te misken?  Ek dink dit is iets wat ons van Bybel-tye al af treiter. Ek het nie die antwoord nie. Dalk soek ek daarna deur my verhale.”

Sy verhale is – net soos sy drome (hy droom in kleur met sy verbeelding as die dirigent) – vol helder besonderhede.

“Ek het vir ’n wyle visuele kommunikasie studeer en ek put genot daaruit om te weet dat almal met ’n visuele biblioteek in hul koppe rondloop en dat ek as skrywer sekere beelde en assosiasies met sinne en woorde kan uitlok sodat die leser ’n absolute suiwer beeld in hul geestesoog kan vorm van ’n toneel of karakter. Ek vermoed ek skryf flieks sonder die noodwendige draaiboek.”

Die resultaat is vreesaanjaende karakters wat soos bloed onder jou vingernaels vassit en wat jy nie kan uitwas nie.

Dalk is dit omdat Sidney se karakters vir hom so werklik is dat jy hul asemhaling in jou nek kan voel.

“Soms is die karakter so duidelik geskets dat ek my verbeel ek sien hulle terloops in inkoopsentrums raak of ek voer ’n gesprek met iemand en hulle antwoord van diep in my onderbewussyn af.”

Maar net soos vir die leser, kan die gebeure in die boek vir die skrywer ’n verrassing wees.

“Wanneer ’n karakter se verhaal tot stand kom, is ek nie altyd bewus dat daardie karakter juis die moordenaar is nie. Soms is ek net so verbaas oor wat my karakters aanvang as wat die leser sal wees. Ek volg die naaf tot ek die skuldige beet het.”

In Middernag is die kindermoorde wat beskryf word, onuithoudbaar grusaam. Nie een leser sal ooit weer dieselfde na ’n roomyswaentjie of ’n pop kan kyk nie. Hoekom het die karakter juis sulke walglik-wrede idees in sy oor gefluister?

“Ek het verskeie psigopate nagevors tydens die skryf van Middernag. Hoe dieper ek in die gat afgekyk het, hoe nader het die donkerte onder my eie vel gekruip. Die antagonis het uiteindelik self besluit wat hy of sy gedoen het – ek het dit net verwoord. Vrees, selfs by my as skrywer, was die drywer agter die tonele.

“Die speurder som dit mooi op toe hy op die toneel verskyn: ‘[H]ierdie is nie sy kind nie, moet hy aanhoudend vir homself sê.’ En later: ‘Sy was dalk nie sy kind nie. Sy is nou.’”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top